Goed-geskryfde familiedrama, ’n resensie van Uit die donker deur Santie van der Merwe

  • 0

Titel: Uit die donker
Skrywer: Santie van der Merwe
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776351930

Santie van der Merwe is ’n skrywer van liefdesromans en het onder meer Vandat jy weg is, Ver in die wêreld Kittie, Die einde van die storie en ’n Goeie jaar vir rose geskryf.

Haar jongste boek Uit die donker gaan oor verborge dinge waarop lig geskyn word wat dit openbaar maak. As ’n man twee gesinne in een stad onderhou, is dit onafwendbaar dat die waarheid eendag sal uitkom.

Die karakter Ian Strydom het lank daarmee weggekom. Hy is lief vir middeljarige Madelein wat vir hom die oulike driejarige Liam gegee het. Hy moet egter tyd steel om by hulle te wees en beweer dan aan sy vrou, Henriette, dat hy laat werk of gholf speel. Sy jarelange huwelik met Henriette het drie kinders opgelewer: Talia, Anien en Jacques. Hoewel Ian baie goed vir almal sorg – hy is immers ’n suksesvolle en vermoënde sakeman – is die huwelik nie werklik gelukkig nie. Daarby is hy aantreklik, met turkoois oë, donkerblonde hare, songebrand, lank en lenig. Die toonbeeld van ’n liefdesverhaalheld, amper te goed om waar te wees. Die man kan nog kook ook en sy hande staan blykbaar vir niks verkeerd nie.

Madelein ontmoet Ian toe haar vriendin haar na ’n luukse Bosveld-hotel en spa in haar plek stuur, alles reeds betaal. Madelein en Ian loop in mekaar vas en stort wyn oor mekaar uit. Sy leer dat dié hotel een is waarin Ian ’n leeueaandeel het. Van saam eet, mekaar se geselskap geniet, en fisieke aantrekking tussen hulle, kom liefde maak. En die gevolge daarvan, naamlik swangerskap. Hy het erken dat hy getroud is en sy maak geen aansprake nie. Dan vind hy uit en tree hy tot hulle lewe toe, die meesal afwesige maar liefdevolle en vrygewige pa. Die verhouding tussen Madelein en Ian bly nie platonies nie, maar verdiep tot ware liefde.

Madelein kom egter op ’n punt waar sy dink “dat sy nie veel langer so wil leef nie”. Een of ander tyd gaan sy hom dwing om te kies. Sy stel dit egter nog uit. Intussen is sy “dankbaar vir elke minuut wat hy vir haar en Liam afknyp”. Talia, sy jongste dogter by Henriette, is nou klaar met matriek en beplan om universiteit toe te gaan. Hy wou haar kwansuis nie ontwrig deur te bieg oor die ander vrou nie. Al is Liam nog klein begin hy ook nou ongemaklike vrae vra en goed kwytraak.

...
Santie van der Merwe slaag uitstekend daarin om mense se emosies te ontleed. Sy het ’n goeie begrip van hoe oud en jonk dink en optree. Sy verstaan hoe ’n tiener se kop werk.
...

Madelein is ’n minder vitterige en gekompliseerde karakter as Henriette, die perfeksionis wie se enigste ambisie nog altyd was om te trou en kinders te kry en na die beste van haar vermoë haar huishouding te bestuur. ’n Tuisteskepper par excellence. Haar enigste “claim to fame” erken sy self, is dat sy ’n welgestelde man, mooi huis en drie lieflike kinders het. Eintlik is sy ’n beheervraat en nie regtig ’n karakter waarvan ’n mens sommer kan hou nie. Sy gaan kuier gereeld vir haar pa wat demensie het en roem haarself daarop dat sy darem met een ding goed is, en dit is om vir mense te sorg. Ander belangstellings het sy nie.

Ian voel ook iets aan. Madelein tree vreemd op en hy vermoed hulle borrel van geluk kan bars. Sy huwelik met Henriette is vol krake en sy het hom al meer as een keer verlaat, maar elke keer weer teruggekeer na die gerief van sy geld. Sy wil nie eens toelaat dat hy met haar liefde maak nie. Hulle het blykbaar ook te jonk getrou. Nou eis sy dubbele lewe, waar hy warmte en liefde by ’n ander vrou soek, ’n tol.

Henriette is geensins intellektueel nie, terwyl Madelein geleerdheid het, aan projekte werk en boeke lees. Sy is finansieel onafhanklik, ’n beroepsvrou wat vryskut werk. Iemand wat ook oorsee gestudeer het en aan ’n universiteit klasgegee het.

Die borrel bars as Talia haar pa by ’n vreemde vrou en seuntjie by ’n restaurant gewaar. Die skok is groot. Sy wil nie glo dat haar pa haar ma kan verneuk nie. Sy weet egter ook dat haar ma haar pa wou los toe sy in graad 8 was en dat dit sy hart gebreek het. Talia wil verskonings soek, maar sy raak kwaad, verwytend en bitter. Sy sien ook raak dat haar pa baie hard moet werk om vir hulle ’n goeie lewe te bekostig en dat haar ma spandabelrig is. Al sien sy die mankheid van haar ouers se huwelik, verkwalik sy hom nogtans vir sy afvalligheid.

Talia is die een wat vir haar pa sê hy moet dinge tussen hom en Henriette regmaak, en hy besef sy weet van sy dubbele lewe. Sy vertel dit vir haar broer en suster. Nou word almal stelselmatig by dié netelige situasie betrek. Henriette vermoed haar man het ’n verhouding, maar Madelein wéét van Ian se vrou en kinders.

Ian sal moet kies.

Santie van der Merwe slaag uitstekend daarin om mense se emosies te ontleed. Sy het ’n goeie begrip van hoe oud en jonk dink en optree. Sy verstaan hoe ’n tiener se kop werk. Die intriges van die roman, wat ’n goeie spanningslyn het, boei die leser.

Dit is nie ’n literêre werk wat ontleding vereis nie, maar bloot ’n goed-geskryfde familiedrama, wat blykbaar dié skrywer se forte is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top