Die ongelowiges en veral die ateïste, is geneig om op paradoksale en lasterlike wyse te kenne te gee dat God die "skepper" van sonde, van kwaad, is. Dit is paradoksaal omdat hulle juis ateïste is omdat hulle nie erkenning aan die bestaan van God gee, nie (HY bestaan wel vir hulle as hulle Hom daarmee wil toetakel …) én dit is paradoksaal omdat God, juis God, nie tot sleg in staat is nie, maar net tot Goed (Mattheus 10:16-17).
Dit is omdat die agnostici niks van God en SY dinge (wil) verstaan, nie. As hulle verstaan het, sou hulle nie agnostici wees, nie, maar gelowiges.
Sonde en kwaad is geleë in een enkele aartsonde wat deur die aartssondaar (die satan) begaan is en ook deur die eerste mense (Romeine 5:12) – naamlik ongehoorsaamheid aan God. Daaruit spruit álle kwaad en sonde, voort.
Ongehoorsaamheid aan God is die moeder van álle sonde en kwaad. Dus, daar is geen sonde en kwaad nie, behalwe net ongehoorsaamheid aan God. Enige sonde of kwaad kan met gemak terug herlei word hul oorsprong te hê in die ongehoorsaamheid van een van God se Twee groot Gebooie soos in Mattheus 22:37-40 g.m. Deuteronomium 6:5, 13; 10:20; Eksodus 20:2-17 en Levitikus 19:18 uiteengesit in die volle implikasies daarvan.
Om te ongehoorsaam wees, moet daar ’n hoër gesag, wees, waaraan ongehoorsaamheid betoon kan, word. God is geen skepsel, dat HY aan ’n hoër gesag as Hyself ongehoorsaam kán wees, nie. Daar ís geen hoër gesag as juis die Goddelike gesag van die Godheid, nie. Daarom, omdat God nóóit aan die essensie van Homself ongehoorsaam is nie, is dit ook nie moontlik dat HY die outeur van kwaad, boosheid en sonde is, nie, want kwaad, boosheid en sonde is alleenlik voortspruitend uit ongehoorsaamheid teenoor God. Soos ons deur die Woord geleer word en uit ons eie ervaring met God, is die Goddelike Persoon in die Drie-enige wese van Vader, Seun (Woord) en Heilige Gees, ewig volkome en perfek getrou aan Homself – God is dus nét Goed. Daar is geen sonde en kwaad in die gehoorsaamheid aan God, nie, maar alle ongehoorsaamheid, wél.
Dus, wanneer God die kwaad, die sonde en die draers daarvan, uitdelg, is dit die primêre Goeie Daad, die liefdesdaad, ten aansien van die behoud van die Goeie, die Liefde. Dit is soos om dodelike onkruid uit te skoffel en te verbrand.
Die mens is dus self die outeur van kwaad en sonde, dikwels onder invloed van die satan en sy demone en God het daar niks me te make, nie, want God is en kan nie aan Homself ongehoorsaam wees, nie. Dit is ook dáárom dat die Eerste en Tweede gebooie van sulke kardinale belang is wat daaraan word die sonde van ongehoorsaamheid aan God geken sodat dit vermy kan word. Álle sonde (ook dié van die aartssondaar, die satan) is geleë in die oortreding uit ongehoorsaamheid van die Eerste Gebod, waaruit oortreding van die Tweede Gebod, ook uitspruit.
Gehoorsaamheid aan God, is van die begin af al, as primêre reël deur God ingestel en gewaarsku dat oortreding daar van die dood sal meebring (Genesis 2:16-17; Romeine 6:23). Niks het nog verander, nie (Mattheus 10:27-28).
Dit is ook geen geheim dat ongehoorsaamheid aan God die aartsonde is, nie. Behalwe die Woordverwysings hierbo, is daar natuurlik ook die ander dele van die Woord waar hierdie aspek sonder enige dubbelsinnigheid uitgewys, word – God verg gehoorsaamheid van algar – Deuteronomium 27:26 g.m. Galasiërs 3:10; Psalm 5:5; 50:21; Nahum 1:2; Eksodus 20:5; 34:7; Romeine 1:18; Efesiërs 5:6; Hebreërs 9:27. Sien gerus 1 Samuel 15:22-23; Johannes 4:34; 5:30; 6:38-40 en God word alleenlik gedien en verheerlik deur Sy wil te doen (Johannes 17:4).
Ek kan al die tersaaklike Woord soos aangedui, nie hier aanhaal, nie – algar het tog Bybels, verál die ateïste hier rond het blykbaar elke weergawe wat beskikbaar, is. Op ’n stadium in die verlede het Chris gesê hy’t syne vir drinkgeld verkoop (die koper het uiteraard besef hy kry véél meer wysheid en waarde as wat Chris verkry het met die geld) maar lyk my hy het tóg intussen weer ’n klompie eksemplare bekom. Dus, lees die gedeeltes gerus weer na.
"Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg." – Prediker 12:13-14.
Agnostiese mense, soos Chris, se uiters, uiters lasterlike en ongegronde "argumente" teen God tuimel dus maar net weereens ineen.
Waar kom sulke argumente vandaan? Behalwe dat die satan die aanhitser daarvan is en dié arme mense die volle prooi is van daardie werklike boosdoener en kwaaddoener terwyl hulle dit nie eens besef, nie, ook van een, Chris, wat nie die geringste kennis en insig oor sake Gods het, nie. Hulle lees die woorde van die Bybel, maar begryp daar niks van, nie (Mattheus 13:13-15).
Arme Chris (arm, ja, want hy bring vir hom só ’n oordeel oor homself waarvan net die Genade van God, Wie hy so belaster, hom kan red), het vir hom ’n hele konstruk saamgeflans, gebaseer op sy ongegronde en uiters lasterlike aanname dat God die oorsprong van kwaad en sonde is en daarmee ook sommer vir God (Wie, hy wat Chris is, net met die ander asem weer sê, kwansuis nie bestaan, nie) veroordeel en geoordeel het om by sy arrogante agnostiese gemaksone in te pas sodat hy homself teen alle feite en Waarheid in, kan wysmaak dat hy God nie hoef te eer, respekteer en dien, nie. Ook hy en dié wat soos hy dink en redeneer, nes Eva van ouds, val die satan ten prooi terwyl hulle die prooi en gevallenes is, probeer hulle ander bespot. Die satan is na alles die vader van die leuen, bedrog en fisiese en spirituele moord – en ook die oorsaak dat mense onder sy invloed, nie in staat is om die Waarheid te aanvaar en aan te neem, nie (Johannes 8:44-47). Presies só sien ons dit gebeur.
God kan ongehoorsaamheid aan Hom nie verduur nie, want dit is geheel en al teen SY Goddelike wese en aard. Dit is rebellie teen God. Kyk gerus weer na my paragraaf hierbo waar ek vermeld dat die primêre weldaad van God, juis die uitroei van kwaad en sonde is – omdat dit geheel en al onversoenbaar met SY Goddelike aard, is. Gehoorsaamheid aan God is die sentrale boodskap van die Christus evangelie – dít is waarin die Goddelike Liefde gesetel, is. Die HERE Jesus Christus, stel dit só:
“EK is die ware wynstok, en My Vader is die Landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. Julle is alreeds rein deur die Woord wat Ek tot julle gespreek het. Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. As julle in My bly en My woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry. Hierin is My Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal My dissipels wees. Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle My gebooie bewaar, sal julle in My liefde bly, net soos Ek die gebooie van My Vader bewaar en in Sy liefde bly. Dit het Ek vir julle gesê, dat My blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.” – Johannes 15:1-11.
Groete,
Kobus de Klerk


Kommentaar
Kosie, volg jou eie skakel hierbo, want dit wat jy hierbo saamgegorrel het sit nie eens die pot mis nie, dit doen dit sommer direk op die vloer.
Jy het ’n keuse: óf jou God is 'n knoeier, óf hy het boosheid as deel van sy wese.
Tyd om te kies!
Die karakter God in die Bybel sê self: "Ek maak die lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en skep rampspoed."
In Engelse Bybel sê God: " I form the light, and create darkness: I make peace, and create evil: I the LORD do all these things."
Maar ek stem saam. Boosheid, en die Satan is eintlik, streng gesproke, skeppinge van die menslike verbeelding, want God is skepping van die verbeelding.
Kobus, in jou verwaandheid ken jy nou selfs ’n onmag aan God toe. In jou infernale intellektualisasie boog jy: "...God is en kan nie aan Homself ongehoorsaam wees, nie." Dis eenvoudig ’n duidelike en direkte gevolg van jou volgehoue spirituele waansin waarin jy ons ALMAGTIGE Lewende Skepper met jou siek ou verstandjie probeer deurgrond en so aan jou huiskerksekte in pag wil voorhou. Mag God ons almal genadig wees. Cornelius
Middag Kobus, gehoorsaamheid kan net gebeur as daar liefde is, jou standpunte is korrek, maar dit word uit ’n hoogmoedige neerkyk-metode gedoen en doen meer kwaad as goed.
Dus die God wat ek dien het my kom aanraak toe die wêreld my uitgesuig en vermink gelos het, en ek moes toe die keuse maak gaan ek sy hand van liefde aan neem en toelaat dat hy hierdie gebreekte mens kom herstel of gaan ek voort ploeter.
Dankie dat HY my ’n sovereine wil gegee het om Hom ’n kans tegee, asook verantwoordelikheid vir my keuses te vat.
Ek is nou in ’n liefdes verhouding met Hom en leer daagliks wat, liefde, verantwoordelikheid en gehoorsaamheid is
Sterke
likidis, baie dankie dat jy jou verlossing deur die HERE met ons deel. Dit is baie bemoedigend en inderdaad wonderlike nuus, verál te midde van vlaag op vlaag aantygings van agnostici dat ons HERE nie werklik bestaan nie en dan in die ander asem, dat HY verantwoordelik is vir alle kwaad.
Ek neem jou kritiek ter harte, maar moet ook vir jou uitwys dat daar dalk aspekte is wat vir jou as nuweling op hierdie stadium nie so duidelik is omtrent wat hier gebeur, nie – dit is dinge wat al ’n baie lang pad, kom. Dalk is jy in jou opinie beïnvloed deur ander, soos Cornelius, wat in die Naam van die HERE skrywe en só die indruk skep dat hy ’n gelowige is, maar die HERE se kosbare, Heilige Naam in die verlede en tot baie onlangs, ontsaglik skade berokken met wat hy aan die Naam van die HERE koppel en dat hy geen geleentheid laat verbygaan waar hy, omdat hy die ware dienaars van die HERE met ’n passie haat uit ’n diepe afguns, in die proses deurentyd liefdeloos, hatig en venynig teenoor ware gelowiges (ek is nie die enigste een nie) optree, tot die mate dat hy nou hoofsaaklik geïgnoreer, word omdat sy niksseggende, kwaadbesmette toetrede tot enige gesprek, die gesprek onmiddellik versuur. Dit sal tragies wees as jy jou deur kwaadwillige mense sal laat mislei net omdat hulle die Naam van die HERE gebruik (eintlik misbruik).
Dus, deel van daardie liefde wat die HERE vir jou leer, is dat jy jou mede gelowiges nie sommer ligweg sal oordeel, nie …
Ons HERE sal ook vir jou leer dat die Liefde ook behels hoe om ander te vergewe en nie net by hulle vir die oorsaak van die kwaad, te soek, nie.
Baie sterkte en Vrede vir jou vorentoe.
Nou vir die res van die kommentaar.
Die enigste kommentaar wat hoegenaamd iets bevat waarmee mens kan verder gaan, is Angus se aanmerking met verwysing na Jesaja 45:7 dat die Woord, met ander woorde, God, Self sê dat “Ek maak die lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en skep rampspoed” en daarmee seker uiters lasterlik wil insinueer saam met Chris, dat God die kwansuis skepper van kwaad, sou wees en ook die mens geskep het om dus ook kwaad tot doen – wat hoegenaamd nié die geval is, nie.
Maar wat dié Woord in Jesaja eintlik beteken, is dat, buiten God se oorkoepelende Almag, daar geen normatiewe en moraliteitsisteem as waardesisteem is, nie (sien die voorafgaande verse 5 en 6). Wat dit dus beteken, is dat God en God alléén, sal bepaal en reeds bepaal het, wat heil en onheil is, wat goed en kwaad is, wat heiligheid en sonde is, en wat voorspoed bring en teëspoed – want die Hebreeuse woord wat vir rampspoed/calamity/evil gebruik word, is die woord ‘rah’, wat al hierdie betekenisse omvat.
Dit sluit dus perfek aan by wat in die artikel hierbo geopenbaar is – naamlik dat God besluit het en bepaal dat HY gehoorsaamheid aan Hom verg en dat alle ongehoorsaamheid aan Hom, dus, kwaad en sonde is en uiteindelik gestraf sal word – dit wil sê, rampspoed en onheil oor die pleger daarvan, sal bring en dat God, Wie regverdig en geregtig is en aan SY Eie Woord getrou, daardie onheil en rampspoed sal toelaat teen die pleger van die sonde en kwaad, tensy die pleger van sonde en kwaad herroep en bekeer (Esegiël 18:21-23).
Dit is ook God Wie bepaal dat die gehoorsame, uiteindelik voorspoed en seën sal ontvang.
Groete,
Kobus de Klerk
Kobus,
Ongelowige en ateïs se betekenis is tog presies dieselfde, d.w.s. die terme is sinonieme. Nou hoekom die onderskeid tref? Jy verwys na "ongelowiges en veral die ateïste". Kan jy asseblief ’n enkele voorbeeld gee van ’n ongelowige wat nie ’n ateïs is nie of van ’n ateïs wat nie ongelowig is nie? Hou dit maar baie kort as jy kan of gaan sommer maar verby as jy nie kan nie.
Groete
Panda
Panda,
Nee, jy is nie reg, nie. Jy sal weereens reggehelp moet word. Die onderskeid lê hoofsaaklik in die rede vir die ongeloof.
Daar is heelwat mense wat wil glo, maar verkeerd glo – soos boeddhiste, byvoorbeeld. Daar is ook diegene wat wil glo, maar nog nie weet hoe om te kies, nie. Dan is daar diegene, soos jy en jou maters hier, wat nie wil glo, nie, en ook dus verkeerd glo (ateïsme met die evolusieleer is mos ook ’n religie).
In billikheid teenoor die ander ongelowiges wat nog in transisie is en wat nog soekend is, omdat hulle werklik wil glo maar net nog nie by die regte Weg gekom het om te glo, nie, tref ons daardie onderskeid tussen hulle en julle – die ouens wat oral waar jul gaan alles op ’n skinkbord kry, soos Trienie tereg sê, maar vir die redes wat al verskeie male geopper is (daardie selfopgelegde selfdesepsie en die gevolge daarvan), die sielevoedsel opsetlik van die skinkbord afstamp – dit is natuurlik julle.
Kobus de Klerk
Panda,
Ek sal Kobus hier te hulp snel. ’n Christen is ’n gelowige, maar as dit kom by Zeus, is hy ook ’n ateïs.
Dus: ’n gelowige ateïs.
Groete
Angus
Kobus,
Dankie vir die ‘reghelp’, Kobus. Jodiste, Hindoes, Boeddhiste, Shinto’s, Sikhiste en aanhangers van die Bahaise geloof en Jainiste (verskoning, maar ek is nie te seker van al die spellings nie) en al die hordes ander, is dus volgens jou uitleg almal ongelowiges omdat hulle verkeerd glo.
En nog so bietjie hulp asseblief – Hoekom maak jy van tyd tot tyd aanspraak daarop dat die Christendom die grootste geloof in die wêreld is as die res dan almal ongelowiges en ateïste is? Dan is die Christendom mos die enigste geloof in die wêreld. Of gaan ons nou hoor van gelowiges; ware gelowiges; ongelowiges en ateïste?
Panda
Verskeie opnames en ondersoeke het al aangetoon dat die Christendom die grootste Godsdiens is op aarde en globaal steeds konsekwent uitbrei.
Geloof in die eng sin, kan net geloof in die ware God beteken. Dit is uiteindelik alle spirituele mense se begeerte – om so te glo. Probleem is dat dit vir sommige ’n redelike lang pad, is – maar hulle sal daar kom. Daar is selfs ateïste wat uiteindelik daar uitkom.
Maar moet tog nie so afleibaar wees dat jy telkens van die onderwerp afdwaal nie, Panda.
Nog iets – niemand gee regtig om of julle klompie kliphartiges saamstem, nie ... dit is die harde feit.
Kobus de Klerk