Glip deur die tonnel na nuwe wêrelde

  • 0

Alice het Wonderland ontdek deur in die haas se tonnel af te kruip.

LAPA Uitgewers glo dat ’n jongmens wat leer lees, in Wonderland sal beland en nooit weer sal terugdraai nie. Ons het hierdie filosofie gevolg en RomanzaLiefde geskep. Hoekom? Want dit is een van die beste maniere om jongmense aan boeke bekend te stel.

RomanzaLiefde is lig, dit is soet en dit lees vinnig. Teen net R29,99 per titel is dit boonop uiters bekostigbaar. Elke aankoop het ook ’n bonuskortverhaal by, wat dit nóg lekkerder maak.

Du Toitskloof Wyne borg LitNet se Eerste Slukkie. LAPA is dankbaar daarvoor. Hier klink ons dus ’n glasie op een van hulle rooiwynversnitte. Du Toitskloof Tunnel Sweet Red is een van die beste maniere om mense ouer as agtien aan rooi wyn bekend te stel.

Du Toitskloof Tunnel Sweet Red is sag, dit is soet en daar is baie vrugte op die tong. Dit is boonop uiters bekostigbaar. Mense wat hierdie wyn leer drink, ontwikkel dan geleidelik die smaak om swaarder variëteite te waardeer.

Glip deur die tonnel en laai ’n RomanzaLiefde af op jou foon. ’n Wonderland van lees wag op jou!


Roekelose harte

Marilinda Murray

Koop dit hier: http://bit.ly/2yc7s3J

Net R29,99

Met ’n bonuskortverhaal “Die laaste sê” deur Marilé Cloete

ePub: 978-0-7993-8623-3

Mobi: 978-0-7993-8624-0

EEN

Adéle Dreyer rol haar motorvenster af, maak haar oë toe en asem diep in. “Ruik jy ook die see?”

“Ja!” roep haar vriendin Sonia uitbundig bo die musiek wat in die motor speel. “Hallo, Liedjiesbaai!”

Skielik ruk die kar onder hulle toe die linkerwiel oor die kant van die pad loop. Klein klippertjies slaan teen die bakwerk op.

“Pasop, Sonia! Hou jou oë op die pad.”

Vinnig pluk Sonia aan die stuurwiel en die Volkswagen vind weer die teer. “Jammer! Amper land ons in daardie hospitaal wat ons netnou langs die pad gesien het.”

“Vir die volgende paar weke vergeet jy van hos­pitale, dokter Dreyer,” maan Sonia. Sy klink amper soos Adéle se oorlede ma. “En jy vergeet veral van dáárdie man. Hy is nou uit jou lewe uit. Vir goed!”

Dáárdie man. Marco de Wet. Die ingenieur met wie Adéle drie jaar uitgegaan het. Maar die ver­houding het net mooi nêrens gekom nie. Verlede week nog het hulle weer vasgesit. Dis toe dat sy besluit het dis nou genoeg. Sy was op ’n manier lief vir hom, maar sy gaan nie sy vloerlap wees nie.

“Asseblief, Marco, jy maak dit baie moeilik,” het sy daardie aand in haar meenthuis vir hom gesê. “Ek is al onder genoeg spanning by die werk. Ek kan nie nou nog ’n eindelose stryery ook hanteer nie.”

“Sê maar liewer net jy stel nie belang nie,” het hy haar aangeval. Die groen in sy oë het donker geword.

“Dit voel of dinge buite beheer raak tussen ons. Miskien moet ons mekaar vir ’n ruk nie sien nie en kyk hoe ons dan voel.”

Marco was dadelik op sy voete. “Hokaai net daar, Adéle. Ek ken hierdie praatjies. Wil jy opbreek?”

“Dinge is nie meer dieselfde tussen ons nie.”

“Wat is fout? Ek dink alles is perfek!”

“As jy nie eens kan insien wat fout is nie, is dit beter dat ons elkeen sy eie pad gaan. Vir goed.”

Hy het nog probeer keer, maar sy het haar besluit geneem en haar lewe teruggevat. En nou is sy en Sonia hier, sodat sy van Marco kan vergeet.

“Hei, luister jy wat ek sê?” vra Sonia hard toe sy die musiek sagter draai. “Ek ken daardie kyk in jou oë. Jy dink weer aan hom. Onthou nou, jy is hier vir ’n vakansie. Jou selfoon moet afgeskakel wees. Jou oë mag vir die volgende twee weke net vir die see kyk – en vir enige vuurwarm man wat toevallig voor jou verbyloop.”

“Vuurwarm man?” Adéle lag kliphard. “Geluk­kig is Marco nie hier nie. Hy sou ’n hartaanval kry as hy jou nou kon hoor.”

“Sy naam word ook hierdie vakansie verban,” sê Sonia en kyk Adéle waarskuwend aan.

“Natuurlik. Geen werk, geen selfoon, en geen Marco de Wet nie. Ek verstaan.”

“En sommer ook geen sleepstert nie,” spot So­nia.

Adéle dink nie daar is iets wat Sonia al ooit on­dergekry het nie. Sy sien nie net silwer randjies om donker wolke nie; sy sien silwer wolke. ’n Harts­mens, deur en deur.

“Sjoe, kyk hoe mooi is die plek,” sê Adéle toe hulle die kusdorpie stadig binnery. Liedjiesbaai het tonne karakter. Klein snuffelwinkels, koffiewin­kels en ’n paar restaurante staan al met die strand langs. Verder op teen die heuwel pryk strandhuise, meestal in wit en blou, amper soos ’n Griekse ei­land met Afrika-flair. Voor dit alles blink die In­diese oseaan met sy geelwit strand. Adéle probeer om dit alles in te neem. “As jy so glimlag?”

“Ek is bly jy het my gedwing om te kom. Anders het ek nou nog sleepstert in my meenthuis gesit en myself jammer gekry. Dankie, Sonia.”

“Enigiets vir jou.” Sonia se stem is warm, ern­stiger as gewoonlik. “Nou moet ons net gou die vakansiehuis se sleutel kry voordat ons behoorlik voete op die tafel kan sit en ontspan.”

“Waar het jy nou weer gesê kry ons dit?”

“By ’n oom Lance. Dis iemand wat my broer ken. Die oom kyk deeltyds na die plek, of iets. Hy sal vir ons voor tant Kittie se winkel wag.”

“Tant Kittie? O, daar is dit, sien jy?” Adéle beduie na die plek met die swartbord by die deur. Kom koop by tant Kittie, staan in vrolike letters op die bord. Hulle parkeer voor die deur en klim uit. Adéle is bly sy kan ’n bietjie bene rek. Dit was ’n lang rit.

“Weet jy hoe die oom lyk?”

“Nee, seker maar soos ’n visserman-omie met vuil hare en ’n baard. Ek weet nie.”

Adéle kyk met die winkelstoep af, maar sy sien nie iemand wat aan daardie beskrywing voldoen nie.

“Hy het gesê hy kry ons drieuur,” voeg Sonia by. “Dis nog vyf minute. Kom ons kyk solank wat in die winkel is.”

Saam stap hulle tannie Kittie se winkel binne. Elkeen kry ’n inkopiemandjie by die deur. Adéle glimlag. Sy is mal oor sulke plekkies met alles en nog wat. Tydskrifte by die deur. Handgemaakte kaartjies, kunstige hout-ornamente en speelgoed. Die geur van varsgebakte brood en gemmerbier hang in die lug. Rak op rak pryk met bottels en in ’n yskas is bak­kies kos wat ewe tuis in ’n deftige deli in die stad sou lyk. Adéle se mond water toe sy die vars ciabattas, quiche en kolwyntjies sien. Sy laai ’n paar van elk in haar mandjie.

Skielik stamp Sonia aan haar. “Wees stil, my fladderende hart, kyk net daardie man!” Sy beduie na die ou wat pas by die deur ingestap het. Netjiese bruin hare en broeiende blou oë. Sterk gebou. “Het jy al ooit so iets in jou lewe gesien?” vra sy byna uitasem.

Adéle kyk net vinnig. Netnou dink die ou hulle staar na hom.

“Môre, tannie Kittie,” groet hy die vrou by die toonbank. Sy stem is diep en warm, met ’n effense timbre.

“My jitte, Lance, ek het jou lanklaas gesien. Ek het gewonder of jy nog hier bly.”

“Ek weet, Tannie. Ek is nog maar hier rond. Ek gaan draf elke dag. Verder werk ek.”

Lance? Waar kom Sonia aan die beskrywing wat sy netnou gegee het? Adéle waag weer ’n vin­nige kyk, want sy diep stem roer iets in haar. Op daardie oomblik lig hy sy kop en sien haar ook.

“Is jy dalk Sonia?” vra hy vir Adéle. “Ek moet vir jou ’n sleutel bring.”

“Ek is eintlik, Adéle. My vriendin is Sonia.”

“Aa!” sê hy en vis die sleutel uit sy kortbroek se sak. Hy gee dit vir Sonia, maar sy oë bly ’n oomblik op Adéle draal. “Weet julle waar die huis is?”

“Ons het ’n kaart, dankie,” antwoord Adéle.

Hy glimlag. “Ek hoop julle geniet julle vakansie.”

“Ek is seker ons sal, dankie,” sê Sonia. Sy speel met die sleutel tussen haar vingers, stamp Adéle liggies in die sy.

“Alles is reg by die huis. Ek was vanoggend weer daar om te kyk of die skoonmakers vars beddegoed op die beddens gesit het. Daar is ook skoon hand­doeke. Julle moet net self sorg vir kos.”

“Ons doen dit alreeds.” Adéle glimlag en beduie na die mandjie.

Vir ’n oomblik kyk Lance haar net stil aan. Dan knik hy sy kop asof hy diep dink. “Bel my as julle iets anders nodig het. Of as iets breek. Julle het my nommer?”

“Sonia het dit, dankie.”

“Goed dan. Ek loop weer.” Ewe formeel skud hy eers Sonia se hand, dan Adéle s’n. Sy weet nie hoekom nie, maar dis asof ’n skok meteens deur haar lyf gaan.

Dan ruk sy haar reg. Ja, Lance is verskriklik aantreklik, maar vir hom is sy sekerlik net nog ’n vakan­sieganger. Net nog ’n mooi gesiggie tussen die an­der wat jaarliks op Liedjiesbaai kom vakansie hou.

Boonop is sy hier om van Marco te vergeet, nie om ’n plaasvervanger vir hom te kry nie.


Vir ’n oogwink

Bernette Bergenthuin

Koop dit hier: http://bit.ly/2yBtRbF

Net R29,99

Met ’n bonuskortverhaal “Twee boksies tjoklits” deur Joanna Alexander

ePub: 978-0-7993-8621-9

Mobi: 978-0-7993-8622-6

EEN

Die piek van die swierigste tydperk aan die Ou-Kaap

Duetté, ’n plaas versteek net voor die grense van die Paarl en Franschhoek mekaar ontmoet

“Maar is dit iemand wat ons kan vertrou, Van Dijkhorst?”

Die ouer man vryf ingedagte met ’n duim en voorvinger oor sy welige wit baard. “Het ons ’n keuse, Korte? Nee. Ons het nie.” Hy skuif effe nader en neem ’n teug van die konjak uit die kristalkelk voor hom. “Ek en jy moet tot aansien terugkeer. Ons is nou al vir byna sewentien jaar uitgeworpenes. Dié wat ons kon skade berokken, is oorlede en dié wat ons gaan onthou, wel, ons sal onsself in hulle gedagtes moet herskep voordat enige negatiewe herinnering na die oppervlak dryf.”

Karel Korte lyk kwalik oortuig. “Ons het ’n goeie lewe hier. Ons het ’n werkerskorps, ons het elkeen ’n herehuis, stalle, wingerd, ’n kelder. Die wyn doen goed as deel van die Kaapse Wynvereniging se voorraad. Hierdie trots en soeke na erkenning kan ons duur te staan kom.”

Van Dijkhorst gryns deur sy digte baard. “My vriend, nee, my bróér, jy weet self dat dit nooit genoeg sal wees nie. Voor ek sterf, wil ek weer ’n eerbare, gerespekteerde man in die Kaap en die Bo­land wees. Ek soek terug wat Van der Stel van ons gesteel het, al is dit net vir ’n oogwink.”

Karel draai die konjakglas aan sy steel in die rondte. “Ons moet versigtig wees, Van Dijkhorst. Sodra hulle besef dat ons nie slawe aanhou nie en ons werkers vergoed, is die skrif aan die muur. Jy moet sweer dat jy geduldig sal wees. Versigtig. Jy weet self dat ons in die verlede te maklik vertrou het.”

Van Dijkhorst se gesigsuitdrukking word ern­stig en hy plaas sy hand vir ’n oomblik op sy beste, en dalk enigste, vriend se skouer. “Ek gee jou my woord, Karel. As jy toestem, sal ek my deur jou tydsberekening laat lei.”

Karel Korte dink lank voordat hy antwoord. “Bring Du Pont dan hierheen, oormôre. Ek het tyd nodig om Kassandra voor te berei.”

“Lente, honou, stadiger.” Kassandra Korte trek haar wit Arabier se teuels in. Duetté se werf is ’n miernes van bedrywighede. Die huispersoneel laai goed van waens af en dit lyk asof die totale inhoud van die Korte-woning op die wye stoep uitgepak is. Sy por Lente aan om nader te stap. “En dié, Nooientjie?”

“Jou pa het gebeveel, Kassie. Hierdie huis moet blink. Ons verwag môre ’n besoeker.” Nooientjie beduie dat een van haar seuns Lente se teuels moet kom vashou.

Kassandra spring in een vloeiende beweging flink grond toe. “Ek sal haar koudlei.”

Nooientjie skud haar kop. “Nee, daar is nie van­dag tyd vir manswerk nie. Arend sal dit doen. Ek moet jou in die washuis kry.”

Kassandra voel hoe sy frons. “Wat is aan die gang? En ek kan self was, Nooientjie. Jy het seker genoeg om te doen met die dat Pappa gaste ver­wag.” Wie dit kan wees? Sy lig haar skouers effe. Haar pa en oom Dyk onthaal van tyd tot tyd koop­manne en ou vriende uit die vaderland. Maar die huis is altyd netjies, daar was nog nooit nodigheid om so tekere te gaan nie. Moet dan sekerlik iemand reg uit die Huis van Oranje wees. Sy glimlag skeef. Dit is nogal onwaarskynlik. Pappa sê altyd dat die Huis van Oranje lankal van die VOC en die Hol­landers aan die Kaap vergeet het.Ek weet nie wat aan die gang is nie, Kassie. Moet nou nie vir my moeilikheid gee nie, jou pa is al skuins vandat ek sy koffie vanoggend bedien het.”

Sy tref Karel Korte in die voorhuis aan waar hy tevrede kyk hoe Mien die silwer poets. Hy kyk op toe sy die vertrek binnekom. “Eindelik! Kassandra, daar is iets wat ek met jou moet bespreek, en ek dink nie jy gaan baie daarvan hou nie.”

“Pappa?”

“Sit,” sê hy, besef kennelik dat hy op die enig­ste stoel wat die voorbereidingsessie vrygespring het, sit en gaan haal vir haar ’n stoel op die stoep. “Prinses, jy weet tog teen hierdie tyd dat ons nie ’n normale lewe hier op Duetté lei nie, nè?”

Wat is aan die gang? “Hoe bedoel Pappa? Ons lewe goed, ons het alles wat ons nodig het.”

“My skat, ons is geïsoleer. Duetté funksioneer soos ’n klein rykie op sy eie in die Boland. Toe jy moes skool toe, het ons vir Meester laat inwoon. Ons hou ons eie nagmaal. Ons gaan nie Franschhoek, of – behoede my – Stellenbosch toe behalwe as daar nood is nie. Ons voer ons wyn byna anoniem uit na die KWV in die Paarl. Niemand weet dat dit Hans van Dijkhorst en Karel Korte se oeste is nie.” Hy bly ’n oomblik stil. “Ons is uitgeworpenes aan die Kaap, Kassandra. Adriaan van der Stel het gevoel dat ek en oom Dyk hom verraai het, en ons moes vlug vir ons lewens. Eers nadat hy oorlede is, kon ons dit waag om ons hier op Duetté te kom ves­tig, ver van die hoofpad, maar naby genoeg dat ons sekere voordele van die gevestigde gemeenskappe om ons kan benut.” Hy haal diep asem. “Oom Dyk het by ’n betroubare bron gehoor dat die politieke bestel aan’t verkleur is en dat dit veilig is vir ons om ons weer tot die samelewing te wend. Maar . . .” Hy onderbreek sy eie sin met ’n swaar sug. “Maar ons het ’n grande entrée nodig, soos die Fransman sal sê. Ons benodig jou, Kassandra.”

Sy probeer sin maak uit sy woorde, hoe sy in die prentjie pas en kan help, maar die kloutjie kom net nie by die oor nie. “Ek sal enigiets doen om julle te help, Pappa. Pappa behoort dit mos te weet.”

Haar aantreklike, statige pa lyk ineens oud. “Dit is wat ek vrees, my kind. Wat ons van jou vra . . .” Sy stem sterf in ’n snik weg. “Ons vra álles, Kassandra. Jy moet met die nuwe opkomende jong boer, Jan-Werner Mulder trou. As Mulder jou as vrou neem, is dit soos ’n stempel van goedkeuring op jou ganse familie. Dit sal ’n rukkie duur voor die samelewing aan die Kaap en die Boland twee en twee byme­kaarsit. Intussen sal ek en oom Dyk geleentheid hê om weer besigheidsbande te bou. Wanneer Van der Stel se yl gesaaide aanbidders uitvind dat ons in die samelewing hervestig is, gaan dit te laat wees om iets daaraan te doen. Niemand sal dit waag om ’n skewe woord oor ’n gesiene man soos Mulder, se bruid of haar familie te rep nie.” Hy het vir ’n oomblik meegevoer geraak, maar sy gesigsuitdrukking word weer strak. “Hier kom môre ’n dame inwoon om jou touwys te maak, om jou die fynere kunsies van vrouwees te leer, en om jou voor te berei op die taak om hierdie man se hart te wen.”

“Trou? Tróú!” Dit voel vir Kassandra asof haar hart en haar brein en elke ledemaat aan haar lig­gaam gaan stilstaan het. Trou? Met ’n wildvreemde man? Weggaan van Duetté af? Vir Lente en Nooientjie en haar pa en oom Dyk en alles waarvoor sy lief is, agterlaat vir ’n onbekende toekoms? Skielik voel dit asof haar borstrok haar versmoor. Sy staan te vinnig op en raak duiselig. “Ek . . . Ek het lug nodig.”

Buite torring sy aan die linte van haar rok en daarna die gespes van die onderkledingstuk. Tien asemteue later kan sy weer fokus. Sy is byna agt­tien en sy het nog nooit iets meer van die lewe ver­lang as wat Duetté haar bied nie. Sy het seker op ’n manier geweet dat vrouens en mans mekaar lief­kry, trou, kinders kry. Die plaaswerkers woon met hulle gesinne hier. Vir haar was dit nooit ’n moont­likheid nie. Sy, haar pa en oom Dyk was nog altyd ’n gedugte driemanskap. Nou moet sy haar vir altyd verbind aan ’n man wat sy van geen Adam af ken nie? Haar hart breek in daardie oomblik aan sker­we. Sy kan dit nie doen nie. Sy sal nie. Daar moet ’n ander manier wees. Maar haar pa sou haar nooit gevra het as daar ’n ander uitweg was nie, dit weet sy voor haar siel. Hoe kan sy nee sê? Haar pa en oom Dyk se geluk is tog waarom haar wêreld draai. Moet nie dink nie, Kassandra. Dink is vir mense met opsies. Doen net. Sy stap die huis so vinnig in soos wat sy dit verlaat het. “Nou goed, as dit alles is wat julle vra, dan is dit alles wat ek sal gee.”

Celesté du Pont is ’n fyn, klein vroutjie wat haar­self duidelik nie enige weelde ontsê nie. Kassandra het nog nooit so iets, of eerder iemand, gesien nie. Dalk effe oordadig? Eksentriek? Maar Kassandra hou onmiddellik van die dame met haar reguit blik en fyn glimlaggie.

“Mijnhere Korte en Van Dijkhorst, wat ’n won­derlike weersiens.” Haar stem klink soos fyn klok­kies, haar houding is innemend, maar tog nie te uitnodigend nie. Sy draai na Kassandra. “En hier het ons die hoop vir die toekoms. Aangename ken­nis, Mejuffrouw.”

Kassandra eggo die klein buiginkie soos haar pa haar geleer het. “Dit is vir my net so ’n voorreg, mejuffrouw Du Pont.” Haar pa het haar vanoggend ingelig dat Celesté du Pont ’n jeugvriendin van oom Dyk is wat nooit getroud is nie. Sy was ’n keer of wat by ’n geselligheid aan oom Dyk se sy toe Kassandra se moeder nog geleef het en hulle naby Groot Constantia geboer het.

“Ons waardeer u bereidwilligheid om te help, mejuffrouw Du Pont,” begin Karel Korte.

Celesté du Pont val hom met ’n klein handbe­weginkie in die rede. “Ons is dan ou vriende, Mijnheer. Noem my asseblief Celesté. Ek sal dieselfde vrymoedigheid neem as ek mag.”

Karel Korte glimlag effe en knik. “Natuurlik, Ce­lesté. Jou bagasie sal na jou kamer geneem word. Sofia sal graag na jou omsien terwyl jy hier by ons op Duetté kuier.”

“Dankie, Karel.” Celesté du Pont draai na Kas­sandra. “Sal jy by my aansluit vir middagtee so­dat ons jou program kan bespreek? Ons het twee weke om van jou die bes opgevoede dame in die Boland te maak.”

Kassandra voel hoe haar bors weer toetrek, maar bedwing die angs met mening. Sy sluk. “Waarom net twee weke?” Sy kyk na die twee mans wat half bedremmeld afkyk. “Pappa?”

“Jan-Werner Mulder het al die wynboere ge­nooi vir ’n bal op Muldersbosch. Die bal is oor twee weke,” antwoord oom Dyk.

Kassandra voel hoe sy frons. “Maar ek is tog nie ’n boer nie? Ek is ook nie ’n boer se vrou nie. Waarom sal ek by die uitnodiging ingesluit wees?”

Die drie ouer mense kyk vir ’n oomblik na me­kaar. “Prinses, volgens Celesté is die eintlike doel om Mulder se kontakte en netwerk te versterk. En hy is nie ongeneë om dit deur ’n huwelik te doen nie. Die uitnodiging is aan families gerig. Alle kinders, seuns én dogters, van hubare ouderdom is daarby ingesluit.” Hy glimlag skeef. “Die man was darem nie so blatant om nét dogters van ’n hubare ouderdom te nooi nie.”

“En dit is nou waar ek sy hart moet wen? Want ek kan nie dink dat Duetté alleen vir hom genoeg sal wees nie. Pappa het dan self gesê dat ons afge­sonder is, ’n klein rykie op ons eie.” Sy kyk onder­soekend van haar pa na oom Dyk wat nou albei bra skuldig lyk.

“Duetté verskaf meer as dertig persent van die wyndruiwe, Kassandra,” sê oom Dyk ongemaklik. “Hulle weet dit net nie.”

“Hoe bedoel Oom hulle weet dit nie? Wie is ‘hulle’?” vra sy agterdogtig, maar tog gefassineer.

“Wel . . . e . . . ons verskaf onder ’n paar handelsname. Celesté tree indirek as ’n agent op. Meer as dit hoef jy nie te weet nie, dit is nooit goed om te veel te weet nie. En hulle, wel, dit is eintlik almal behalwe ons drie, nou ons vier.”

Kassandra skud haar kop. “Julle vra van my om my aan ’n man te bind sodat julle pad terug na die beskawing geplavei kan wees. Ek het reeds gesê dat ek bereid is om dit te doen, maar dan wil ek alles weet.” Sy kyk vasberade van oom Dyk na Ce­lesté du Pont en eindelik na haar pa. “Alles.”

Celesté du Pont glimlag fyn. “’n Ware dame vra nooit so baie vrae nie, my liewe Kassandra. Ek twyfel of ons jou ooit in ’n opgepiepte jong vrou sal kan omskep, maar ten minste het jy die ver­stand om die rol oortuigend te speel.” Sy kyk na die mans. “Ek gaan opfris en ’n oomblik rus. Vertel julle haar solank.”

Die staanhorlosie in die Korte-huis se informele sitkamer het twee uur omgetik terwyl haar pa en oom Dyk die storie ver gaan haal het. Dit voel vir Kassandra asof haar kop in die rondte tol. “Maar waarom het julle toegelaat dat Simon van der Stel julle opbrengste vir hom neem?”

Oom Dyk trek sy skouers op. “Dit is maar hoe dit gewerk het, Kassie. Hy het goed vir die burgers gesorg. Ons was daarvan oortuig dat ons aan die VOC verskaf en bydra tot die groei van die handel­stasie. En toe raak Simon té gierig. Hy is oorlede voordat hy uitgevang kon word, maar hy het ge­weet ons weet.”

“Wie was ons nou almal?” wil Kassandra weet.

Haar pa lyk bedroef. “Op die ou end het die meeste burgers waarskynlik snuf in die neus ge­had, maar hulle was te bang, of te gemaklik, om te praat. Die duiwel sorg mos maar vir sy kinders. Hoe dit ook al sy, ek en oom Dyk en so tien ander manne het begin kapsie maak. Ons saak voorberei om in Amsterdam te gaan voorlê. Voordat ons ge­reed was met ons ontmaskering, het Van der Stel daarvan uitgevind en die ander tien . . . Hulle is ver­moor. Ek en oom Dyk moes vir ons lewens vlug.”

“Maar Pappa, sou dit nie veiliger wees om terug te gaan Nederland toe nie? Ons speel mos nou met die leeu se snorbaarde!”

Oom Dyk kyk vinnig na haar pa. “Kassie, die brand waarin jou moeder oorlede is, wel, ons het ’n sterk vermoede dat dit in opdrag van Simon van der Stel was dat die opstal aan die brand gesteek is. Jou moeder was my suster, soos jy weet, en ek en jou pa het besluit om nie landuit te vlug nie. Ons het gebly en met Celesté se hulp kon ons hierdie grond aan die einde van die wêreld soos Van der Stel hom ken, bekom. Ons het gewag totdat ons sterk genoeg is om die kulspul van binne te infil­treer en te ontmasker. Jou ma . . .” Oom Dyk se stem 14 breek en dit neem ’n rukkie voordat hy weer reg is om te praat. “Jou ma was ’n juweel, Kassandra. Sy het die skoonheid van ’n klein bokkie gehad, maar die moed van ’n leeu. Haar dood sal gewreek word. En wraak smaak vorentoe as dit koud is.”

Haar pa maak keelskoon. “En die tyd is nou.”

Oom Dyk glimlag wrang. “Willem Adriaan van der Stel is nóg gieriger as sy ou pa, en Celesté se kontakte is oortuig daarvan dat sy lot byna beklink is.”

Kassandra knik net. Haar gedagtes is ’n tapis­serie van kleure, herinneringe, reuke. Dit is byna asof sy vir die eerste keer in haar byna agttien jaar verstaan waar sy in die wêreld inpas. Die gemis aan haar moeder, die liefde en koestering hier op Duetté wat maar net nie die gemis aan maatjies van haar eie ouderdom kon uitwis nie, die byna aanbiddende ywer waarmee die werkers haar pa en oom Dyk dien, alles maak nou sin. Sy lig haar ken. “Ek sal sorg dat ek die vrou van Muldersbosch word, Pappa. Sodra ek aan die Mulder-kêrel se sy is, sal die weg gebaan wees om julle ware kleure te wys. Die Van der Stels het baie van ons geneem, maar dit is tyd vir boetedoening.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top