Gewelddadige betogings: die vet is in die vuur

  • 1

“Arson is a weapon associated with both anonymity and impunity” (Cooper 2014:593).

Die deelnemers aan die gewilde Survivor-program heg baie waarde aan ’n vuur. Hulle is absoluut afhanklik van vuur vir oorlewing, maar die simboliese waarde daarvan is veral intens wanneer ’n deelnemer uitgestem en sy/haar vuur letterlik en figuurlik geblus word. Die besoekers en waagmoediges by AfrikaBurn in die Tankwa-Karoo heg ’n andersoortige simboliese waarde aan vuur: kreatiewe selfuitdrukking word hier sterk aangemoedig en die verbranding van ’n enorme en duur kunswerk wat maande neem om te voltooi, simboliseer die verganklikheid van alle konkrete dinge op aarde. Watter interessante filosofie is dit om die wêreld vanuit hierdie unieke invalshoek te beskou.

Dit is algemeen bekend dat die rol van vuur en brandstigting selfs al gedurende oorloë in die tydperk van die Griekse en Romeinse Ryke aan die orde van die dag was. Brandstigting is ook destyds beskou as die “wapen van die magteloses” en sodoende het ’n skaduagtige grens tussen misdaad en protes ontstaan wat alreeds destyds moeilik onderskeibaar was. Amerikaanse Indiane het brandstigting gebruik om diere tydens jagtogte uit hul skuilings te jaag. Onder Britse wetgewing gedurende die vroeë 19de eeu was brandstigting met die doel om privaat en kommersiële eiendom asook landbouprodukte te beskadig, met die dood strafbaar.

Die aanwending van die Verskroeide Aarde-beleid tydens die Anglo-Boereoorlog sowel as die spuitbrandmetodes gedurende die Tweede Wêreldoorlog het vernietigende sosio-ekonomiese gevolge gehad. Die diktator Adolf Hitler het volgens verskeie publikasies vir Von Choltitz (die Duitse goewerneur van die besette Parys in 1944) op ’n aggressiewe toon oor die telefoon geskree: “Brennt Paris?” oftewel “Is Parys aan die brand?”

Die Goodnowsaal voor brandstigting. Fotobron: Wellington.co.za 

Die Goodnowsaal na brandstigting. Fotobron: Johann Enslin, Wikimedia Commons 

Die pragtige en historiese Goodnowsaal op Wellington is gedurende 2016 as gevolg van studentebetogings ernstig deur ’n brand beskadig. Kan die vernietiging van hierdie kultuurhistoriese juweel van die Boland as brandstigting beskou word?

Gustav Pienaar is van mening dat indien mense gefrustreerd is oor swak dienslewering, tersiêre onderrig, munisipale dienslewering en treindienste, hulle die reg het om te protesteer, maar dit gee niemand die reg om toerusting en bates deur brandstigting te verwoes nie. Hy voel sterk dat die “epidemie van brandstigting in ons land permanent die nek ingeslaan” moet word.

Die regsbeginsels wat van toepassing is op onroerende en roerende eiendom is nogal kompleks om te verstaan en deeglik van mekaar te onderskei. Verder is daar ook nog die oogmerkopset, die noodwendigheidsbewussyn en die moontlikheidsbewussyn. Miskien is dit beter om glad nie ’n vuur aan te steek nie, want sê nou net ons braai en die vuur se vonke steek ons buurman se rietdak aan die brand. Het ons in hierdie geval intensioneel bedoel dat die rietdak moet vlamvat of het ons dalk per abuis ’n groter vuur gemaak as wat ons beplan het om te maak, of het die vuurmaakhout wat ons gebruik het, toevallig meer vonke as gewoonweg gegee, of was die vonkereën en wind wat skielik opgekom het, ’n gesamentlike oorsaaklike faktor van die brand? Dit moet seker ’n moeilike aangeleentheid wees vir die regsberoep om hierdie “bewussynstoestande” of selfs onbewustelike motiewe op ’n betroubare en geldige wyse te takseer.

’n Australiese aardrykskundige wat ’n kenner is op die gebied van brandstigting in woude, beskryf brandstigting in terme van ’n onbeheerde vuur wat doelbewus deur ’n persoon aangesteek word met die doel om dit te versprei na plante of eiendom wat nie deur hom beheer of besit word. Die brand vind ook sonder die toestemming van die eienaar of sy/haar agent plaas.

’n Handeling kan natuurlik dogmaties korrek wees, maar dit lê nie noodwendig aan die “hart” van mense nie. Die regsberoep bepaal watter tipe gedrag strafbaar is al dan nie, maar wat behels die persoonlike motivering¹ van die gedrag wat agter die geneigdheid tot brandstigting tydens protesoptogte sit? Wat sou ’n groep mense beweeg om tot sulke uiterste nieverbale demonstrasies van hul standpunte en gepaardgaande emosies oor te gaan? Waar pas emosionele beheer dan in? Die veronderstelling dat ’n persoon wat aan ’n betoging deelneem, outomaties bereid is om brandstigting te pleeg sodat die groep se doelwitte bereik kan word, is natuurlik ook foutief.

’n Betoging behels ’n groep mense wat tot sosiale beweging of aksie oorgaan. Hul motivering is meestal gegrond in die ervaring van magteloosheid en frustrasie. Hierdie mense is oortuig daarvan dat hulle gekortwiek word om hul doelstellings na te streef en te bereik. Daar is dus sprake van doelwitblokkering. Mense wat protesteer, voel normaalweg agtergesteld wat materiële goedere en dienste betref. Hulle kan selfs voel dat hulle sosiaal betekenisloos is. Hulle is meestal oortuig daarvan dat die gemeenskap of breër samelewing spesifieke probleme, kwessies of tekortkominge openbaar. Vir die betoging om suksesvol te wees, moet daar egter genoegsame politieke bewussyn, politieke sterkte en politieke geleenthede bestaan om sukses te behaal. Omraming of vernouing van die waarnemingsveld kom ook voor omdat sekere inhoude dikwels doelbewus uit die waarnemingsveld uitgesluit word, terwyl slegs op sekere griewe gefokus word. Selektiewe waarneming veroorsaak dat baie situasies deur die betogers uitsluitlik op grond van hul eie posisie en/of eie ervaringswêreld geïnterpreteer word.

Die Nederlandse sosiale sielkundige Van Stekelenburg beweer dat groepsgebaseerde woede of aggressie die prototipiese protes-emosie is. Volgens die frustrasie-aggressie-hipotese van Dollard en Miller word beweer dat die ontwikkeling van frustrasie ’n noodsaaklike voorvereiste vir die ontstaan van aggressie is. Teoreties gesproke bestaan daar dus ’n direkte verband tussen frustrasie en aggressie, en dit is ook algemeen bekend dat aggressie ’n belangrike rol in brandstigting speel.

Die etiologie en psigopatologie van brandstigting is ’n uiters komplekse aangeleentheid. ’n Mens sou nie sonder meer kon beweer dat almal wat aan ’n betoging deelneem, tot die brandstigting sal oorgaan nie. Die redes daarvoor is waarskynlik dat die groep gefrustreerde protesteerders onderling kan verskil wat hul verwagtings betref, veral ten opsigte daarvan of die protesaksie wel daarin sal slaag om hul griewe doeltreffend aan te spreek. Individue in die groep kan ook verskil oor of daar beheer uitgeoefen sal word oor die gevolge van die protesoptog. Onsekerheid kan ook daaroor bestaan of die gevolge van die optog in ooreenstemming met hul persoonlike en/of die groep se waardes sal wees. In sy wese beteken ’n protesoptog dus dat individuele griewe, waardes en emosies getransformeer word tot groepgebaseerde griewe, waardes en emosies binne die konteks van sosiale netwerke. Die groep kan dus na regte nie verantwoordelik gehou word vir brandstigting wat deur sekere protesteerdes uitgevoer word nie. ’n Goeie voorbeeld van hierdie soort situasie is toe Laxminarayan Bakharia in die Indiese stad Aurangabad in hegtenis geneem is omdat hy na bewering omkoopgeld ontvang het om tydens ’n betoging in die stad brandstigting te pleeg.

Die gevolgtrekking in hierdie perspektief kom daarop neer dat brandstigting deur protesteerders (wat normaalweg minderheidsgroepe is) gebruik word om hulle onderskeibaarheid te verhoog as ’n unieke sosiale en politieke groepering wat deur gemeenskaplike griewe en frustrasies saamgebind word. Dit vertel ook vir ons iets van die huidige politieke dinamika in Suid-Afrika, naamlik dat demonstrasie van destruktiewe potensiaal goed werk as ’n meganisme om ’n bepaalde boodskap oor te dra. Dit kom neer op aangeleerde, rasionele taktiek wat meehelp om gefrustreerde stemme hoorbaar te maak en om sodoende as ’n betekenisvolle rolspeler in die openbare arena erken te word.

Die reg om te staak is ’n basiese reg is wat deur die Grondwet beskerm word, maar terselfdertyd is brandstigting ’n kriminele daad wat strafbaar is. Wat kan gedoen word wat die voorkoming van veral brandstigting betref? Hoe kan brandstigting van protestering ontkoppel word? Sou die bywoning deur protesteerders van ’n week lange brandstigtingbewusmakingsprogram, of inskakeling by opleiding in frustrasieverdraagsaamheid dalk in hierdie verband ’n positiewe rol kon speel?

Die kern van die kwessie is dat protesteerders op ’n verantwoordelike wyse behoort op te tree, en hul griewe en onderliggende frustrasies deur middel van aanvaarbare en wettige metodes moet oplos, voordat hul emosies in aggressie tot uitbarsting kom en deur middel van verplasing as brandstigting manifesteer.

 

Eindnota

¹ Die doel van hierdie artikel is om kortliks ’n bepaalde perspektief te gee oor faktore wat met die motivering van brandstigting tydens protesoptogte verband hou. Brandstigting wat met protesaksies gepaardgaan, is ’n komplekse en meerdimensionele verskynsel met raakpunte aan verskillende vakdissiplines. Geen aanspraak word daarop gemaak dat alle relevante aspekte rakende betogings en brandstigting in hierdie perspektief ingesluit is nie.

 

Bibliografie

Cooper, E. 2014. Students, arson, and protest politics in Kenya: School fires as political action, African Affairs, 113(453):583–600, https://doi-org.ez.sun.ac.za/10.1093/afraf/adu059.

Gannon, TA en A Pina. 2010. Firesetting: Psychopathology, theory and treatment. Aggression and Violent Behavior, 15:224–38. https://www.kent.ac.uk/psychology/fipmo/documents/firesetting-theory.pdf.

Hoctor, S. 2013. The nature of the crime of arson in South African law. Fundamina, 19(2):321–32 

Kaplan, BJ en VA Sadok. 2003. Synopsis of psychiatry. Behavioral sciences/clinical psychiatry. Londen: Lippincott, Williams & Wilkins.

Kocsis, RN. 2002. Arson: Exploring motives and possible solutions. Australian Institute of Criminology, No 236: Trends and issues in criminal justice. Canberra, Australië.

Kuhlken, R. 1999. Settin’ the foods on fire. The Geographical Review, 89(3):343–63.

My book review. History of Paris, Hitler, World War II. 2013. My French Quest. Blog at Worldpress.com. https://frenchquest.com/2013/09/28/my-book-review-is-paris-burning.

National Programme on Technology and Enhanced Learning. Humanities and Social Sciences. Introduction to Sociology. Module 6 Social protests and social movements.

Pienaar, G. 2018a. Eiendomstories. Straf brandstigting nog swaarder. Die Burger BY, 5 Mei, bl 8.

—. 2018b. Eiendomstories. Die anomalie met brandstigting. Die Burger BY, 12 Mei, bl 8.

Stenning, S. 2015. Destroying cultural heritage: much more than just material damage. British Council. https://www.britishcouncil.org/voices-magazine/destroying-cultural-heritage-more-just-material-damage

Van Stekelenburg, J en B Klandermans. 2010. The social psychology of protest. Sosiopedia.Isa, 1–13. https://pdfs.semanticscholar.org/0941/945789f5eaa8175cdd4551ff7fdd1b01b62b.pdf

“We are not guilty of arson” – Mooi River resident. 2018. Estcourt and Midlands News. https://estcourtnews.co.za/52972/not-guilty-arson-mooi-river-resident.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top