Ekonomiese ongelykheid: belangrik in debat rondom eienaarskap van kulturele etnisiteit
Franz Kafka, ’n Duitssprekende Joodse boorling van Praag, laat sy ongepubliseerde werke na aan sy vriend en uitgewer, Max Brod, met die opdrag om alles na sy dood te vernietig. Brod ignoreer dit en publiseer van Kafka se werk tot sy dood in 1968. Hy laat die ongepubliseerde werke na aan sy sekretaresse, Ester Hoffe, wie se dogters dit by haar erf. In 2008 begin die Staat Israel ’n hofgeding en eis die nalatenskap. Die susters staan dit teë as hulle persoonlike eiendom, maar in 2012 verklaar die hof in Tel Aviv Franz Kafka se werk as kultuurbates van Israel en las dat dit aan die Nasionale Biblioteek oorhandig word.
Die moeilike onderwerp van eienaarskap van kopiereg, steeds opspraakwekkend.
Met ’n onlangse bespreking tydens die afgelope Silwerskermfees lewer ’n deftige vrou, met gemeenskapsleiers aan haar sy, ’n siedende pleidooi oor die uitbeelding van die volksmoeder Krotoa in die gelyknamige film. Sy het dit oa teen die vrye gebruik en kopiereg van intellektuele eiendom wat hulle as Khoi-afstammelinge toekom. ’n Voorgeskiedenis as eiendom – iets wat verkoop kan word – geld behoort te genereer.
Heel begryplik, maar hoe? Wie besit die intellektuele eiendom van ’n etniese erfenis? Om iets konkreet soos manuskripte op te eis of om die reg te verkoop om ’n plant te propageer is maklik – iets tasbaar word verkoop, waarde toegevoeg en weer verkoop. Maar as ’n internasionale modehuis inspirasie vind in tradisionele Lesotho-ontwerpe, is daar moeilik iets tasbaars om voor te betaal – en boonop aan wie?
Die sistemiese turksvy kan moeilik ignoreer word, want ’n goeie film laat haar nie ignoreer nie. Die boek Dis ek, Anna is al vir jare ’n voorgeskrewe werk, maar toe dit as ’n rolprent verskyn, snak sedebewakers na hulle asems en die Publikasieraad vereis ’n ouderdomsbeperking van 16. ’n Boek oor ’n vergete volksheld verskyn en almal is verheug ons leer meer oor mekaar, maar was dit ’n film, was die reaksie waarskynlik: Hoe durf jy?
Die antwoord, meen ek, is in die aard van film en juis die rede hoekom rolprente so ’n duur en uitgerekte proses is vergeleke met byvoorbeeld televisie. Televisiekyk gebeur gemaklik tuis, koppie tee in die hand, die kyker se lewe ongestoord. Vir ’n nuwe speelfilm moet kykers die besluit neem om teater toe te gaan, regmaak daarvoor en daarheen ry, ’n kaartjie koop en die donker vir 90 minute met vreemdelinge deel. Die soort toewyding wat deur die aard en struktuur van film bewimpel word.
In sy meesterlike boek Story skryf Robert McKee: “Fictional worlds are not daydreams but sweatshops where we labour in search of material to tailor a film. [Its structure] is a selection of events from the character’s life stories composed into strategic sequences to arouse specific emotions and to express a specific view of life.” Gebeure ontvou in ’n vasgestelde struktuur om die kyker in te trek en deel te maak van die karakters en hulle storiewêreld. Die formele vereistes van ’n goeie storie, steeds geldig sedert Aristotle, 23 eeue gelede.
Die diepe gevoelservaring, gestimuleer deur ’n geslaagde rolprent, gebeur nie toevallig nie. Dit verg ’n baie duur, lang en ingewikkelde proses van teksontwikkeling, skryf, oorskryf en herskryf, regie, verfilming, vervaardiging en bemarking. Selfs ’n doodgewone plaaslike film kos nagenoeg R6 miljoen en kan drie tot 10 of meer jaar neem om te maak. Dit ontketen ’n vorm van sistemiese uitsluiting, iets waaraan baie hard gewerk word om reg te stel. As dit verpolitiseer word, kan dit die dood in die pot beteken.
Pen en papier of ’n rekenaar is ’n geduldige en goedkoop medium om aan eie stories gestalte te gee. Tot gedagtes, oorlewering, vertellings word konkreet waarde toegevoeg in die geskrewe woord.
’n Aansoek om ontwikkelingsbefondsing van ’n teks waaraan ek reeds drie jaar werk is vroeër dié week vir die vierde keer vir staatsbefondsing afgekeur. Die dag nadat ek die nuus ontvang het, kontak ’n vriendin my. Háár aansoek ook. Sy werk al twee jaar voltyds aan die filmteks en is platsak – het ek ’n geldjie om aan haar te leen tot die einde van die maand om haar kind op skool te hou? Intussen het kykNET/MNet ’n bedrag vir teksontwikkeling van my storie bewillig. Haar storie is in Xhosa en speel af in Umtata en sal waarskynlik nie kwalifiseer as deursnee-kykNET-materiaal nie.
Afrikaans skaal af en verdwyn van tersiêre instellings en daarmee gaan nog deure toe vir veral gemarginaliseerde en nie-Afrikaanssprekers om deur Afrikaans bemagtig en skryfvaardig te word en ’n bydrae te lewer tot die bewaring van ons unieke Suid-Afrikaanse storieskatkis.
Die gesprek oor Krotoa by die Silwerskermfees laat mens van voor af nadink oor kultuurerfenis en -nalatenskap.
Om kulturele nalatenskap as eiegoed en nie as deelgoed te sien nie – bewustelik of onbewustelik – herinner aan wat Elisabeth Eybers bestempel het as “voortdurende en stelselmatige eksploitasie van die kudde-instink” (uit Kannemeyer se biografie van Jan Rabie). Steeds toepaslik in die huidige debat en polemiek in die opeising van kultuurerfenis in die skone kunste, die geskrewe woord of die silwerdoek, en nie net plaaslik nie, maar ook op internasionale vlak.