
Prent: https://pixabay.com/photos/alcohol-bottle-champagne-cork-1238646/
Consumers have a right to know about any serious health harms associated with products they might buy. They can then do their own calculations to determine the amount of risk they are willing to tolerate, just as all people do as part of the many decisions we make every day. (Grummon en Hall 2022:773)
- Agtergrond
Volgens ’n onlangse meningsartikel deur die Amerikaanse dieetkundiges Grummon en Hall (2022) in die hoog aangeskrewe The New England Journal of Medicine kom die getal daaglikse sterftes in die VSA wat direk aan die oormatige gebruik van alkohol toeskryfbaar is, op meer as 380 mense per dag te staan. Die skrywers beweer terselfdertyd dat baie Amerikaners in ’n groot mate onbewus is van die ernstige gesondheidsgevare wat met alkohol geassosieer word. ’n Onlangse nasionale opname dui aan dat ongeveer 70% van die volwasse respondente onbewus is dat alkoholverbruik die risiko vir die ontstaan van kanker verhoog.
...............
Die skrywers beweer terselfdertyd dat baie Amerikaners in ’n groot mate onbewus is van die ernstige gesondheidsgevare wat met alkohol geassosieer word. ’n Onlangse nasionale opname dui aan dat ongeveer 70% van die volwasse respondente onbewus is dat alkoholverbruik die risiko vir die ontstaan van kanker verhoog.
................
Een manier waarop die bewustheid van verbruikers bevorder word, is om gesondheidswaarskuwings op die etikette van alkoholiese produkte aan te bring. Grummon en Hall noem verder dat die verbruiker daarop geregtig is om ingelig te word rakende die moontlike skadelike effekte van die produkte wat hul koop, sodat ingeligte besluite in verband met die verbruik daarvan geneem kan word.
Petticrew, Douglas ea (2015) vind dat gesondheidetikettering nie juis besonder effektief is om alkoholverbruik beduidend te verminder nie, maar stem saam met Grummon en Hall dat ’n bydrae wel gelewer word om die verbruiker meer bewus te maak van gevare en sodoende ingeligte besluitneming in verband met die verbruik van alkohol te bevorder.
Waarskuwingsboodskappe is die effektiefste wanneer dit prominent op die etiket aan die voorkant van die houer vertoon word, die etiket beeldmateriaal soos gekleurde foto’s of grafika bevat, en die inhoud van die boodskap roteer word om te voorkom dat die boodskap afgesaag of oorbekend raak.
Wat Suid-Afrika betref, word gesondheidswaarskuwings op alkoholiese produkte deur die Wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingsmiddels (1972) gereguleer. Die produsent het ’n keuse uit sewe verpligte waarskuwings wat op elke bottel/houer moet verskyn. Vier voorbeelde van hierdie waarskuwings is die volgende: alkohol is verslawend; alkoholmisbruik hou gesondheidsgevare in; alkohol verlaag jou bestuursvermoë – moenie drink en bestuur nie; alkohol is ’n beduidende oorsaak van geweld en misdaad.
Reeds op 12 April 2018 wys die Suid-Afrikaanse Wyn- en Spiritusraad daarop dat die Europese Unie binnekort streng vereistes gaan instel wat die voedingswaarde en bestanddeel-etikettering op alkoholiese produkte betref. Die Ierse openbaregesondheidswet (wat op daardie tydstip voor die parlement gedien het) stel die volgende vereistes: Die publiek moet ingelig word oor die gevare van alkoholverbruik in die algemeen, asook gedurende die periode van swangerskap. Verbruikers moet ingelig word oor die karsinogeniese risiko’s van alkoholverbruik; die hoeveelheid alkohol wat die houer bevat, moet in gram aangetoon word; die hoeveelheid energie, uitgedruk in kilojoules en kilokalorieë, asook die adres van ’n webtuiste wat behoorlik in stand gehou en bygewerk word en wat onlangse en betroubare openbare gesondheidsinligting oor alkoholverbruik bevat, moet vir die verbruiker beskikbaar wees.
Die algemene verwagting is dat die Europese Parlement die verpligte aanbring van gesondheidswaarskuwings op alkoholiese produkte teen die einde van 2023 finaal sal goedkeur.
...........
Die algemene verwagting is dat die Europese Parlement die verpligte aanbring van gesondheidswaarskuwings op alkoholiese produkte teen die einde van 2023 finaal sal goedkeur.
..............
Wat die Verenigde Koninkryk betref, is die verpligte gesondheidsinligting wat op etikette van alkoholiese produkte moet verskyn, die volgende: die persentasie alkohol per volume, die netto kwantiteit (byvoorbeeld 1 eenheid = 10 ml of 8 g suiwer alkohol) en ’n aanduiding van allergene wat die inhoud bevat (Clarke, Blackwell ea 2021).
Wat die teoretiese begronding van gesondheidswaarskuwings betref, is dit veral die uitgebreide parallelleprosesmodel (Popova 2012) waarna dikwels in die literatuur verwys word. Hiervolgens sal gesondheidsboodskappe wat uitsluitlik dreigende inhoude bevat en terselfdertyd ook nie meehelp om die verbruiker se vaardighede om die bedreiging effektief te hanteer nie, ’n houding van verdediging by die verbruiker in die hand werk. Verdedigingsreaksies sluit in vermyding van waarskuwingsboodskappe en/of teenkanting teen die boodskappe omdat die waarnemer se outonomie bedreig word. Dit kan tot die verwerping van die oorspronklike boodskap lei.
.............
In hierdie teorie word dus beklemtoon dat die menslike bewussynsprosesse uiters kompleks van aard is en dat blote visuele waarneming van die inhoud van teks of ’n groepering van visuele prikkels nie noodwendig tot positiewe wilsbesluite en verlangde gedragsveranderinge aanleiding sal gee nie.
...............
In hierdie teorie word dus beklemtoon dat die menslike bewussynsprosesse uiters kompleks van aard is en dat blote visuele waarneming van die inhoud van teks of ’n groepering van visuele prikkels nie noodwendig tot positiewe wilsbesluite en verlangde gedragsveranderinge aanleiding sal gee nie.
Vrae wat teen hierdie agtergrond ontstaan, is die volgende:
Wat sou ’n ingeligte besluit in verband met die gebruik van alkoholiese produkte presies behels? Hoe betroubaar en geldig sou hierdie besluitnemingproses gemeet kon word? Watter rol speel bewussyn- en perseptuele prosesse in ingeligte besluitneming? Watter tipe teks en/of grafika wat gesondheidswaarskuwings uitbeeld, sal ’n optimale impak op verbruikerbewustheid uitoefen? Behoort die impak van gesondheidswaarskuwings noodwendig gemeet te word in terme van afname in gebruik van alkohol of eerder in terme van toename in die bewustheid van die skadelike effekte van alkohol? Watter tipe navorsing word in hierdie verband onderneem en wat is die kwaliteit daarvan?
Die doel van hierdie artikel sluit aan by die laaste vraag; dit is om kortliks enkele portuurgeëvalueerde artikels wat in akademiese vaktydskrifte verskyn het, te bespreek en gevolgtrekkings op grond van die bevindings te maak. Die ses artikels wat hier bespreek word, is op ’n toevallige wyse geselekteer uit ’n groep van 78 moontlike artikels wat verkry is uit die databasis Ebsco Host deur die volgende vier soekkriteria van toepassing te maak: portuurgeëvalueer, Engelstalig, oop toegang en aanlyn / volteks.
- Enkele navorsingstudies
- Volgens Staub, Fuchs en Siegrist (2022) lewer Europa rofweg 60% van die wêreld se wynproduksie en is die hoë verbruik van wyn, hoë alkoholverwante morbiditeit en mortaliteit kenmerkend van die Europese kultuur. Hulle gebruik 475 deelnemers (Duitssprekende Switsers) in ’n aanlyn studie. ’n Biografiese vraelys is voltooi wat ’n assessering van alkoholverbruikerspatrone ingesluit het. Die deelnemers is aan verskillende eksperimentele omstandighede blootgestel wat afbeeldings van bottels met en sonder gesondheidswaarskuwings ingesluit het. Die deelnemers se waardestelsels, asook hul persepsies van verskeie risiko’s, waargenome behoefte aan waarskuwings en aanvaarding van die waarskuwings is getakseer.
Gesondheidswaarskuwings op wynbottels het oor die algemeen ’n minimale effek op risikopersepsie gehad. Waarskuwings wat kankergrafika bevat, het slegs die persepsie van kankerrisiko beduidend verhoog. Die res van die risiko’s is nie deur die kankergrafika verhoog nie. Grafiese beeld-en-teks-waarskuwings het nie ’n beduidend groter impak as tekswaarskuwings alleen gehad nie. Inteendeel, tekswaarskuwings was meer aanvaarbaar as grafiese beeld-en-teks-waarskuwings. Houers sonder waarskuwings was hoogs aanvaarbaar.
Die rol wat kulturele faktore speel in die aanvaarbaarheid van waarskuwings, was duidelik merkbaar in die resultate. Omdat die gebruik van wynprodukte ’n besonder belangrike rol in die Europese kultuur speel, word gesondheidswaarskuwings wat potensiële risiko’s van wynverbruik kommunikeer as ’n bedreiging vir die deelnemers se kulturele waardestelsels ervaar. Dit is dus belangrik om deeglik te bepaal watter soort waarskuwings vir die algemene publiek aanvaarbaar is, asook op watter wyse kulturele oorwegings die verbruikersaanvaarding van hierdie tipe ingrypings beïnvloed.
- In ’n studie waarin die diskrete-keuse-metodologie gebruik is en wat handel oor die alkoholverbruikspatrone van Generasie Y, het Annunziata, Agnoli ea (2019) van 500 respondente wat in Frankryk en Italië woon, gebruik gemaak. Drie alkoholrisiko-opsies was van toepassing, naamlik breinskade (langtermynrisiko), motorongelukke (korttermynrisiko) en ’n “geen risiko”-opsie. Die risiko’s is in terme van vier veranderlikes geëvalueer, naamlik alkoholinhoud van die produk; die bewoording van die waarskuwings, asook die grootte en posisie van die waarskuwings.
Die resultate toon dat Generasie Y relatief min aandag aan etikettering en waarskuwings skenk. By hierdie ouderdomsgroep lewer waarskuwings dus ’n beperkte bydrae om alkoholverbruik wesenlik te verlaag. Generasie Y-respondente soos in hierdie studie gebruik is, gee besliste voorkeur aan die “geen waarskuwing”-opsie op alkoholiese produkte. Die waarskuwings moet ook op ’n klein skaal aangebied en onopvallend op die agterkantste etiket met neutraalbewoorde boodskappe geplaas word.
- Clarke, Blackwell ea (2021) ontwerp ‘n eksperimentele inkopiesentrum om die impak van gesondheidswaarskuwings op verbruikersgedrag te bestudeer. Hul gebruik 399 Britse vrywilligers wat in drie onafhanklike groepe verdeel word. Groep 1 doen vrywilliglik inkopies, maar het slegs toegang tot drankprodukte waarop teksgesondheidswaarskuwings aangebring is. Groep 2 en 3 doen ook vrywilliglik inkopies, maar het slegs toegang tot drankprodukte waarop onderskeidelik grafiese en fotografiese gesondheidswaarskuwings aangebring is. Die instruksies vir die drie groepe was soos volg: “Imagine you are going to do your weekly shopping with your own money, including buying drinks and snacks. Shop how you would usually shop for drinks and snacks, and if there is something that you would not be happy to buy, you do not have to buy it.”
Geen beduidende verskille tussen die groepe wat die proporsie drankprodukte aangekoop betref, is waargeneem nie. Waarskuwingsetikette het dus min of geen impak gehad op verbruikersgedrag wat aankoopvoorkeure van alkoholiese produkte betref nie. Die verbale response van die deelnemers het onder andere die volgende ingesluit: Gesondheidswaarskuwings herinner my aan ’n “kinderoppasser-staat” (nanny state) en dat alkoholgebruik ’n “persoonlike keuse” is. Terminologie soos “onnodig”, “patronisering” en “bangmaakpraatjies” (scaremongering) is gebruik. Bekommernisse oor die negatiewe effek van waarskuwings op verkope in klein Britse kroegies en klein besighede is uitgespreek. Die waarde van alkohol in die samelewing word as ’n belangrike aspek van kultuurerfenis sterk beklemtoon.
- In ’n studie waarin gebruik gemaak is van 87 Australiese universiteitstudente, bestudeer Pham, Rundle-Thiele, Parkinson en Li (2018) die rol van oogbewegings as ’n indikator van die mate waarin aandag aan waarskuwings op alkoholprodukte gegee word. ’n Waarskuwing moet noodwendig oor die kapasiteit beskik om die waarnemer se aandag te trek, voordat dit enigsins potensiaal toon om ’n bydrae te lewer as ’n tegniek om moontlike skade wat met alkoholverbruik in verband staan, te voorkom. Sonder behoorlike aandagfokus is waarskuwingsbewustheid en ’n grondige begrip van alkoholrisiko’s deur verbruikers ‘n onmoontlike saak. Sakkadiese oogbewegings en -fiksasies is gemonitor deur ’n Tobii T120-oogspoorder (eye tracker). Soos verwag, het die kleur- en grootte-veranderlikes die grootste proporsie van die waarnemers doeltreffend op die prikkels laat fikseer. Daar was ’n 37%-toename in aandagtoespitsing en fiksasie wanneer die gesondheidswaarskuwings in rooi grafika en as vergrote teks aangebied is.
- Winstock, Holmes, Ferris en Davies (2020) doen ’n aanlyn opname oor waarskuwings en alkoholverbruik in 29 lande en betrek 75 996 respondente in die proses. Die gemiddelde ouderdom van die steekproef was 27 jaar en 64% was mans. Drinkgewoontes is met die Alcohol Use Disorders Identification Test geassesseer. Vyf-en-veertig persent van die steekproef is as laerisikoverbruikers geklassifiseer en 13,5% as hoërisikoverbruikers. Sewe stellings oor die gevare van alkoholverbruik moes beoordeel word in terme van persoonlike relevansie en of die stellings daartoe kan bydra om die respondent se drinkgewoontes te wysig. Die stelling oor die verband tussen alkoholverbruik en die ontwikkeling van kanker het die grootste persentasie (36%) instemming ontlok as ’n faktor wat drinkgewoontes positief kan wysig. Oor die algemeen is bevind dat vroulike respondente en diegene in die hoërisikoverbruikersgroep meer geneig was om te rapporteer dat die sewe voorgestelde waarskuwings op etikette hul drinkgewoontes ten goede behoort te beïnvloed. Die resultate van die studie bevestig weer eens dat navorsing oor die determinante wat positiewe responspatrone op gesondheidswaarskuwings bepaal, inderdaad ’n komplekse proses is.
- Die doel van Coomber, Mayshak ea (2017) se studie was om die bewustheid ten opsigte van die lang- en korttermyngevolge van alkoholverbruik in ’n steekproef (N=1 061) Australiese volwassenes te ondersoek. Die ouderdomme van die deelnemers het gewissel tussen 18 en 45 jaar, met ’n mediaanouderdom gelyk aan 33,2 jaar. Die deelnemers het ’n navorsingsvraelys aanlyn voltooi, insluitende hul demografiese besonderhede, bewustheid van alkoholwaarskuwings op etikette en hul mate van bewustheid van sewe korttermyn- en 12 langtermyngevolge van alkohol. Die vlakke van bewustheid van gevolge het gewissel van 16% (vir borskanker) tot 69% (vir lae koördinasie en vertraagde reflekse). Geslag, ouderdom, sosio-ekonomiese status en stedelike/plattelandse afkoms was faktore wat ’n beduidende invloed op begrip, insig en bewustheid van die gevolge van alkoholverbruik gehad het. Die navorsers kom tot die gevolgtrekking dat die meeste deelnemers nie die gevolge van alkoholverbruik ten volle verstaan nie. Sekere subgroepe assosieer geensins hul drinkgewoontes met negatiewe gesondheidsimplikasies nie. Die navorsers beveel aan dat gesondheidswaarskuwings op die voorkant van alkoholprodukte aangebring word en dat openbaregesondheids- en opvoedingprogramme van stapel gestuur word.
- Gevolgtrekkings en aanbeveling
Die beperkte getal portuurgeëvalueerde studies wat in hierdie artikel bestudeer is, is ooglopend ’n tekortkoming in die metodologie. Terselfdertyd kan onomwonde gesê word dat die geselekteerde artikels almal getuig van weldeurdagte navorsingsmetodologie, sinvolle teoretiese begronding en betroubare data-ontleding.
Die onderwerp is uiters kompleks, veral omdat ’n wye spektrum veranderlikes deurgaans ’n beduidende invloed op die resultate uitoefen. Veral die invloed van biografiese veranderlikes soos geslag, ouderdom, drinkgewoontes en kultuurverband behoort deeglik gekontroleer te word.
In sekere gemeenskappe kom waarskuwings in verband met alkoholverbruik in botsing met die tradisionele kulturele waardes wat die gedrag van verbruikers ten grondslag lê. Die vraag ontstaan dus wat die mees sinvolle manier sal wees om bewusmakingsprogramme vir diverse kultuurgroepe te ontwikkel, en hoe om dit suksesvol toe te pas.
.............
Daar bestaan wesenlike verskille tussen verskillende generasies wat die persepsie van waarskuwingsboodskappe op alkoholiese produkte betref. Navorsers, praktisyns en die bedryf behoort rekening te hou met hierdie soort meningsverskille.
...............
Daar bestaan wesenlike verskille tussen verskillende generasies wat die persepsie van waarskuwingsboodskappe op alkoholiese produkte betref. Navorsers, praktisyns en die bedryf behoort rekening te hou met hierdie soort meningsverskille.
Dit behoort voorkom te word dat waarskuwingsboodskappe op alkoholiese produkte as “afknougedrag” deur verbruikers geïnterpreteer word. Die bedryf, die staat en organisasies behoort kennis te neem daarvan dat sterk menings onder die algemene publiek bestaan oor die verbruik van alkohol, wat dikwels as ’n private en persoonlike aangeleentheid beskou word. Met ander woorde, maatreëls moenie streng voorskriftelik hanteer en afgedwing word nie.
Dit blyk dat tegniese veranderlikes soos die kleur, grootte en posisie van die waarskuwings op alkoholiese produkte wel faktore is wat ’n besliste rol speel in die kwaliteit van aandagtoespitsing op die visuele prikkels wat die waarskuwingsboodskap bevat. Dit is ook ’n faktor om in gedagte te hou.
Dit word aanbeveel dat ’n omvattende navorsingsprojek (wat die gestratifiseerde aard van die Suid-Afrikaanse bevolking en diverse kultuurgroeperings behoorlik in ag neem) in hierdie verband uitgevoer word.
Bibliografie
Annunziata, A, L Agnoli, R Vecchio, S Charters en A Mariani. 2019. Health warnings on wine labels: a discrete choice analysis of Italian and French Generation Y consumers. Wine Economics and Policy, 8(1):81–90. https://doi.org/10.1016/j.wep.2019.03.001.
Clarke, N, AKM Blackwell, K Deloyde, E Pechey, A Hobson, M Pilling, RW. Morris, TM. Marteau en G J Hollands. 2021. Health warning labels and alcohol selection: a randomised controlled experiment in a naturalistic shopping laboratory. Addiction, 116:3333–45. DOI:10.1111/add.15519.
Coomber, K, R Mayshak, A Curtis, PG Miller. 2017. Awareness and correlates of short-term and long-term consequences of alcohol use among Australian drinkers. Australian and New Zealand Journal of Public Health, 41:237–42. DOI: 10.1111/1753-6405.12634.
Grummon, AH en MG Hall. 2022. Updated health warnings for alcohol – informing consumers and reducing harm. The New England Journal of Medicine, September, ble 772–4. DOI: 10.1056/NEJMp2206494.
Petticrew, M, N Douglas, C Knai, MA Durand, E Eastmure en N Mays. 2015. Health information on alcoholic beverage containers: Has the alcohol industry’s pledge in England to improve labelling been met? Addiction, 111:51–5. DOI: 10.1111/add.13094
Pham, C, S Rundle-Thiele, J Parkinson en S Li. 2018. Alcohol Warning Label Awareness and Attention: A Multi-method Study. Alcohol and Alcoholism, 53(1):39–45. DOI: 10.1093/alcalc/agx087.
Popova, L. 2012. The Extended Parallel Process Model: Illuminating the gaps in research. Health Education & Behavior, 39(4):455–73. DOI: 10.1177/1090198111418108.
Staub, C, C Fuchs en M Siegrist. 2022. Risk perception and acceptance of health warning labels on wine. Food Quality and Preference, 96:104435. https://doi.org/10.1016/j.foodqual.2021.104435.
Winstock, AR, J Holmes, JA Ferris en EL Davies. 2020. Perceptions of alcohol health warning labels in a large international cross-sectional survey of people who drink alcohol. Alcohol and Alcoholism, 55(3):315–22. DOI: 10.1093/alcalc/agz099.


Kommentaar
Weer eens 'n aktuele onderwerp van die skrywer wat beklemtoon dat menslike bewussynsprosesse inderdaad kompleks is en daarom, spesifiek in hierdie konteks, 'n omvattendende navorsingsprojek dringend nodig is.
Hier is ook 'n goed deurdagte artikel oor die oorbeklemtoning van gevare.