Gesondheid, wonderkure en die wetenskap

  • 5

Foto van Dawie van Velden: verskaf

Die aard en wese van die wetenskap

Die gesondheidsbewuste publiek word verwar deur die oënskynlik teenstrydige uitsprake oor gesondheid en siektes wat in die openbare media verskyn. Dit veroorsaak dat mense begin twyfel of die mediese wetenskaplikes werklik weet wat reg of verkeerd is.

Dit mag voorkom asof daar verwarring heers tussen mediese wetenskaplikes, dokters, dieetkundiges en voedselwetenskaplikes oor die formulering van die korrekte gesondheidsriglyne. Die onlangse debat oor die voor- of nadele van die hoë-vet-lae-koolhidraat-dieet is ’n baie goeie voorbeeld van hoe moeilik dit is om ontslae te raak van gevestigde konvensies en gebruike.

Die invloedryke United States Food and Drug Administration (FDA) het in 2015 verklaar dat die beginsels van homeopatie teenstrydig is met die beginsels van moderne biologie, chemie en fisika, en dat dekades van wetenskaplike ondersoeke van homeopatiese produkte toon dat daar geen bewyse is dat dit effektief is in die behandeling van siektes anders as die plasebo-effek nie. Die National Health System (NHS) in die Verenigde Koninkryk, asook die Australiese Mediese Navorsingsraad, het gevolg deur die eise vir homeopatiese middels af te keur en mense te waarsku om nie staat te maak op die genesende eienskappe van homeopatie vir die behandeling van ernstige siektes nie.

Dit is nodig dat ons aan die publiek sal verduidelik wat die aard van die wetenskap is en waarom dit soms nodig is om tradisionele gebruike en aanbevelings in heroënskou te neem. Die ondersoekende wetenskaplike ken nie net die antwoorde nie, maar bevraagteken ook bestaande antwoorde, en soek na bewyse waarom konvensionele kennis dalk nie meer geldig is nie. Indien nodig moet gevestigde gebruike op wetenskaplike gronde ongeldig verklaar word. Dit is die wese van die wetenskap dat dit homself kan korrigeer indien nuwe navorsing ou gevestigde opvattings weerlê.

Die internasionale kongres gedurende 2015 in Kaapstad oor die waarde van die hoë-vet-lae-koolhidraat-dieet is ’n belangrike keerpunt in die dieetaanbevelings van vandag. Die publikasie van die boeke deur Tim Noakes oor hierdie onderwerp, The lore of nutrition en Challenging beliefs, het hom landswyd die gramskap van dieetkundiges en dokters op die hals gehaal. Die antwoord wat Noakes op sosiale media gegee het aan ’n borsvoedende moeder se vraag oor wat sy haar baba moet voer nadat sy hom gespeen het, het veroorsaak dat hy deur die dieetkundige vereniging van onetiese gedrag aangekla is by die Geneeskundige Beroepsraad. Sy aanbeveling was in kort dat sy haar baba op ’n hoë-vet-lae-koolhidraat-dieet moet plaas. Die gevolg was ’n drie jaar lange hofsaak ten bedrae van miljoene rande wat geëindig het in ’n oorwinning vir Noakes. Daar is bevind dat hy nie oneties opgetree het nie, en sy verdediging het met oortuigende bewyse gekom dat die huidige dieetriglyne van die VSA, die VK en Suid-Afrika nie op geldige wetenskaplike gronde berus nie. Die voordele van die hoë-vet-lae-koolhidraat-dieet is met oortuiging verdedig. Noakes se integriteit as wetenskaplike was op die spel, en hy het onwrikbaar bly glo in sy bevindings wat gebaseer was op empiriese wetenskaplike navorsing oor die wêreld heen. Dit het onteenseglik aangetoon het dat die lae-vet-hoë-koolhidraat-dieet groot nadele vir die mens se gesondheid kan inhou en nie gebaseer is op betroubare mediese getuienis nie. Hierdie opvatting is hewig teengestaan deur dieetkundiges van die Universiteite van Stellenbosch, Kaapstad en Potchefstroom. Ook verskeie dokters het hulle by hierdie koor van beswaardes gevoeg.

Hierdie hofsaak kan gesien word as ’n oorwinning vir die waarde van die wetenskap wat tot nuwe insigte gekom het op grond van die kritiese evaluering van beskikbare navorsingsverslae. Die dieetriglyne tot op daardie punt is op wetenskaplike basis weerlê, en die bestaande dieet-hart-hipotese is ernstig bevraagteken. Dit is bevind dat die Amerikaanse dieetriglyne wat oor die afgelope 40 jaar slaafs deur die ontwikkelde wêreld nagevolg was, nooit gebaseer was op enige geldige wetenskaplike gronde nie. Die invloedryke Amerikaanse navorser Ancel Keys het in 1953 in sy Seven countries study die verkeerde afleiding gemaak dat hoë cholesterol die oorsaak is van hartaanvalle. Dit het tot die formulering van die lae-vet-hoë-koolhidraat-dieet aanleiding gegee. Daar is aanbeveel dat vette en olies, en veral versadigde vette, uit die dieet gesny moet word. Die gevolglike toename in die inname van koolhidrate was die grootste oorsaak van die toename van vetsug, insulienweerstandigheid, tipe II-DM en hartsiektes in die ontwikkelde lande wat hierdie dieetaanbevelings nagevolg het.

Dit bly ’n raaisel waarom dit so lank geneem het om hierdie wetenskaplike vergissing te herken. Dit sal nie maklik wees om die mediese wêreld tot nuwe insigte te laat kom nie; enige aanbevelings wat strydig is met die konvensionele gebruike word moeilik aanvaar. Die bestaande gesondheidsriglyne sal hersien moet word in die lig van die epidemie van vetsug, tipe II-DM, kardiovaskulêre siektes en ander dieetverwante siektes in Suid-Afrika, trouens ook in die ganse Westerse wêreld.

Opspraakwekkende uitsprake in die wetenskap wat teenstrydig is met konvensionele opvattings word dikwels met groot teenkanting ontvang. Ortodokse opvattings veroorsaak hewige reaksies teen nuwe bevindings wat bestaande dogma bevraagteken. Ons dink maar hier aan enkele voorbeelde soos Galileo se uitspraak in 1632 dat die aarde om die son wentel wat die pous genoop het om hom te dwing om sy bewerings terug te trek. Dieselfde het in 1847 met Ignaz Semmelweis gebeur met die bekendmaking van sy handewasprosedure en antiseptiese teorie in die kraamsale. Dit was vir die mediese gemeenskap van sy tyd nie aanvaarbaar nie. Vandag is daar geen twyfel oor die waarde van antiseptiese tegnieke nie.

Die belangrikste wetenskaplike beginsel is dat daar objektief gekyk moet word na die empiriese bewyse, en indien nuwe bevindings die ou opvattings weerlê, moet hierdie navorsing op verstaanbare wyse bekend gemaak word aan aanverwante dissiplines asook aan die algemene publiek. Dit is die wese van die wetenskaplike proses. Navorsingsbevindings moet onderwerp word aan eweknie-evaluasie en verkieslik deur ander onafhanklike navorsers bevestig word voordat die nuwe hipotese aanvaar word.

Selfs hierdie proses van verifiëring van die feite is egter ook nie waterdig nie, en soms is dit nodig om gepubliseerde artikels in vooraanstaande mediese joernale weer te onttrek wanneer foute ontdek word in die protokol of ontleding van die bevindings wat strydig is met korrekte navorsingsmetodiek.

Dit kan nie ontken word dat die moderne mediese wetenskap verbluffende vordering gemaak het oor die afgelope eeu in die hantering van akute mediese en chirurgiese noodgevalle nie. Effektiewe antibiotika is ontwikkel teen die meeste infeksies, en bloeddrukverlagende middels het beroertes en hartaanvalle voorkom. Veilige narkosetegnieke maak operasies moontlik wat lewensreddend is in gevalle van ernstige beserings en ander chirurgiese noodgevalle soos gebarste blinderderms, verloskundige noodgevalle en ander akute toestande. Hierdie toestande was tot onlangs nog noodlottig gewees, en kan danksy die moderne mediese wetenskap met sukses behandel word.

Dieselfde kan egter nie gesê word vir die behandeling van die chroniese en degeneratiewe siektes wat gekoppel is aan ongesonde lewenstyl nie. Dokters behoort verlig te wees om te verneem dat hierdie chroniese en degeneratiewe siektes grootliks beheer kan word met lewenstylaanpassings, aangesien hierdie toestande nie effektief genees kan word met geneesmiddels alleen nie. Die beskikbare behandeling van siektes soos diabetes, kardiovaskulêre siektes, osteoporose, en kanker het dikwels ook ernstige newe-effekte en kan baie duur wees. Daar het ’n klemverskuiwing gekom na die voorkoming van hierdie toestande deur toepaslike lewenstylaanpassings.

Verskeie onkonvensionele behandelingsmodelle het na vore gekom wat met reg deur dokters bevraagteken word omdat dit nie altyd gerugsteun word deur betroubare navorsing nie. Die debat oor dieet en ander komplementêre en alternatiewe geneeskundige modelle val in dieselfde kategorie. Gelukkig word daar met nuwe oë gekyk na die effek van oefening, dieetaanpassings, ontspanningstegnieke, emosionele en sosiale welsyn, en les bes, geestelike invloede wat ’n positiewe invloed het op holistiese gesondheid. Dit het aanleiding gegee tot die ontstaan van sogenaamde integrerende geneeskunde, wat bereid was om sekere alternatiewe en komplementêre behandelings met bewese effektiwiteit in konvensionele geneeskunde te integreer. Hierdie metodes het ten doel om die mens se weerstand teen siektes te verhoog, en om gesondheid te bevorder deur die liggaam se inherente genesingspotensiaal te stimuleer. Die menslike liggaam beskik oor die vermoë om homself te genees mits die toestande gunstig is vir genesing.

Ongelukkig bestaan die opvatting dat sogenaamde natuurlike produkte veiliger is as chemies-vervaardigde medisyne. Kruiemiddels en ander natuurlike plantekstrakte soos sint janskruid (Hypericum perforatum) bevat dikwels farmakologies-aktiewe bestanddele wat sinergisties of antagonisties met voorskrifmedisyne kan werk en dus ongewenste nadelige effekte kan veroorsaak. Pasiënte moet hul geneeshere inlig indien hulle enige middels of ander aanvullers neem wat dalk die behandeling mag beïnvloed. Verskeie medikamente word vervaardig van natuurlike plante, soos asetielsalisielsuur (aspirien) wat afkomstig is van die bas van die wilgerboom. Selfs die laedosis-aspirien Ecotrin wat as bloedverdunner ter voorkoming van hartaanvalle gebruik word, kan aanleiding gee tot onbeheerbare bloeding tydens operasies. Verskeie natuurlike produkte wat van bakterieë afkomstig is, soos antraks en botulinum, is uiters giftig vir die mens. Kokaïen is afkomstig van die kokaplant en is as stimulant uiters verslawend. “Natuurlike produkte” beteken dus nie dat dit in alle opsigte veilig is nie.

Een van die belangrikste omgewingsaanpassings wat gemaak kan word, is op die gebied van voeding. Hippokrates, die Griekse filosoof wat allerweë beskou word as die vader van die moderne geneeskunde, het reeds 2 000 jaar gelede groot klem gelê op dieet en oefening vir die handhawing van gesondheid. Ons keer weer terug na sy doktrines, wat insluit dieet, oefening, musiek en meditasie. Daar was ’n ongekende toename in die voorkoms van vetsug, insulienweerstandigheid, kardiovaskulêre siektes en ander dieetverwante toestande. Wetenskaplikes het met reg die huidige dieetriglyne begin bevraagteken. Hierdie riglyne was gebaseer op die aanname dat hoë cholesterol die oorsaak van hartaanvalle is, en dat versadigde vette in die dieet beperk moet word. Nuwe navorsing het egter begin bewys dat cholesterol slegs geassosieer is met hartsiektes, en nie noodwendig die oorsaak daarvan is nie. Die cholesterolverlagende middels wat tans een van die algemeenste voorskrifmedisynes ter wêreld is, is nou in die spervuur aangesien dit ernstige newe-effekte mag hê, soos spierskade, en selfs tot Alzheimer se siekte aanleiding kan gee.

Die groot inname van suiker, sigaretrook en die gebrek aan sinvolle oefening in geneties vatbare persone word eerder aan hierdie verwante siektetoestande as aan die hoë-vet-dieet gekoppel.

Ontsluiting van die menslike genoom (genetiese aspekte)

Mediese deurbrake soos die ontsluiting van die menslike genoom deur die Amerikaanse wetenskaplikes John Craig Venter en Francis Collins in 2003 het verreikende gevolge gehad. Mediese wetenskaplikes kan nou steun op die invloed wat die ontluikende wetenskappe van nutrigenetika en farmakogenetika, en faktore soos voedsel en sosiale aspekte, op die genetiese profiel het en andersom.

Elke mens het ’n unieke genetiese samestelling. Dit is die rede waarom mense verskillend reageer op behandelings en ander omgewingsinvloede. Oorerwingsfaktore lê opgesluit in die genetiese materiaal in die selkern. Dit word gekodifiseer in deoksiribonukleïensuur (DNS) wat soos ’n dubbele heliksstruktuur opmekaar gekrul lê in die selkern. Dit beteken teoreties dat daar vir elke pasiënt ’n persoonlike behandelingsplan uitgewerk kan word wat hulle unieke genetiese samestelling en vatbaarheid vir siektes in ag neem. Oorerflike siektes het genetiese merkers wat opgespoor kan word voordat die siekte simptome begin toon.

Een van die foutiewe aannames wat ons in die verlede gemaak het, was dat alle mense dieselfde sal reageer op enige ingryping soos medisyne of dieetaanbevelings. Sedert die menslike genoom volledig ontrafel is, verstaan ons beter waarom sekere mense meer vatbaar is vir siektes of anders reageer op spesifieke behandelings. Die rede hiervoor is dat elke individu ’n spesifieke genetiese bloudruk het wat deels bepaal hoe hy of sy op omgewingsfaktore sal reageer.

Oorerflike subtipes van komplekse siektes soos diabetes en sekere kankers kan vroegtydig opgespoor word met genetiese toetse. Dit stel dokters in staat om voorkomend op te tree deur aandag te skenk aan die aanleidende faktore soos vetsug en onaktiwiteit vir diabetes of estrogeenterapie in die geval van borskanker.

Hierdie kennis van genomiese geneeskunde het verreikende gevolge vir die mediese beroep. Die genetiese profiel kan bepaal word deur ’n bloedtoets of mondsmeer te doen. Met behulp van die genetiese profiel kan dokters bepaal vir watter siektes die pasiënt vatbaar is, en ook of die pasiënt op die behandeling sal reageer al dan nie. In die verlede kon ons net na die familiegeskiedenis kyk om sekere tendense in gesinne vas te stel, maar tans kan spesifieke genetiese toetse dokters help om ’n persoonlike behandelingsprofiel vir elke pasiënt op te stel. Die genetiese merkers is egter nog nie vir alle siektes beskikbaar nie.

Genomiese geneeskunde is gebaseer op die kennis dat feitlik enige mediese toestand, vatbaarheid vir siekte of die reaksie op behandeling, veroorsaak, gereguleer en beïnvloed kan word deur oorerflikheidsfaktore (gene of DNS). Kennis van die wisselwerking tussen die menslike gene en die omgewing stel dokters in staat om die risiko vir siektes te bepaal en ingrypings te beplan deur die omgewingsinvloede te verander of uit te skakel om sodoende te voorkom dat die siektes klinies sal manifesteer. So kan daar vir elke pasiënt ’n risikoprofiel opgestel word van siektes waarvoor hy of sy dalk vatbaar kan wees wat ons die geleentheid bied vir voorkomende behandeling en doelgerigte hantering.

Die terapeutiese implikasies van genetiese siektes kom veral op twee terreine na vore:

  • Ons kan genetiese mutasies identifiseer in mense wat die risiko loop om byvoorbeeld kolon- en borskanker te ontwikkel. Chirurgiese intervensies kan gedoen word wat die risiko om hierdie tipe kankers te ontwikkel aansienlik sal verminder.
  • Genetiese toetsing kan ook bepaal watter tipe behandeling vir kanker, soos chemoterapie, aangedui is in ’n spesifieke pasiënt of nie. Dit kan beteken dat pasiënte die drastiese behandeling soos chemoterapie gespaar kan bly indien hulle tipe kanker nie by hierdie soort behandeling sou baat nie. Hier word die genetiese profiel van die tumor gebruik vir kliniese besluitneming nadat die histopatologiese kenmerke in ag geneem is.

Kennis van die genetiese vatbaarheid vir siektes is egter nie sonder etiese probleme nie. Eerstens moet mense besef dat klein genetiese mutasies wat aanleiding kan gee tot siektes nie noodwendig sal realiseer nie. Dit staan bekend as lae-penetrasie genetiese afwykings. Dié genetiese afwykings word nie altyd uitgedruk nie. Omgewingsfaktore kan hierdie gene aan- of afskakel. Hierdie onsekerheid mag dalk onnodige spanning veroorsaak indien die individu nie ’n familiegeskiedenis, kliniese simptome of ander risikofaktore relevant tot die gene wat getoets word het nie.

Ten spyte van byna twee dekades van ondervinding in genomiese geneeskunde is daar nog baie leemtes in die toepassing van genetiese toetse in kliniese geneeskunde. Daar is aanvanklik gereken dat daar “een geen vir een siekte” sal wees, maar die genetiese aspekte van die nie-oordraagbare siektes word gekompliseer deur die feit dat sommige genetiese afwykings in verskeie gene wat geassosieer is met die siektes, nie altyd klinies uitgedruk word nie. Dit hang af van verskeie biologiese, fisiese en sosiale faktore wat toenemend in ag geneem moet word wanneer die genetiese komponent van komplekse siektes ondersoek word. Hierdie abnormale gene word dus as’t ware aangeskakel deur uitwendige omgewingsfaktore soos dieet of ander lewenstylgewoontes wat deur die pasiënt aangepas kan word ter voorkoming of beter beheer van die siekte. Meer as een klein genetiese afwyking is dikwels teenwoordig wat nie noodwendig die siekte sal veroorsaak indien die omgewingsfaktore wat betrokke is, uitgeskakel kan word nie. Die uitdaging is dus om uit te vind watter omgewingsfaktore hierdie genetiese geneigdheid tot siekte kan aanskakel. Dit is ’n baie goeie voorbeeld van voorkomende geneeskunde.

Die genetiese merkers vir siektes het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van ’n nuwe pasiëntgesentreerde diagnostiese en behandelingsmodel wat baie belofte inhou. Vir elke individuele pasiënt kan ’n behandelingsplan uitgewerk word wat gebaseer is op sy of haar genomiese bloudruk wat binne ’n kliniese konteks interpreteer word. Terselfdertyd word daar meer klem gelê op die algemene voorkoming van siektes en bevordering van gesondheid en welsyn deur positiewe leefstylveranderinge soos oefening, gesonde dieet en die gebruik van noodsaaklike aanvullings. ’n Volledige genoomontleding kan vandag uitgevoer word in ’n enkele toets om die hele spektrum van genetiese variasie vas te stel vir akkurate genetiese diagnose, risikobepaling en behandeling van chroniese siektes.

Genetiese identifikasie van siektevatbaarheid is nog maar in sy kinderskoene, en dokters maak nog baie staat op die familiesiektegeskiedenis en sekere patologiese bloedtoetse om hulle te lei na watter toepaslike genetiese toetse aangevra kan word.

Slotsom

Die media het ’n verpligting om die wetenskap op ’n verstaanbare wyse aan die publiek te verduidelik. Navorsingsartikels wat in mediese wetenskaplike joernale gepubliseer word, is dikwels onverstaanbaar vir Jan Alleman, en selfs dokters het soms probleme om ingewikkelde navorsingsverslae te interpreteer. Dit is nodig dat die media die sluier sal lig oor hierdie onsekerheid, en dat mense ingelig sal word oor watter keuses hulle moet maak ten opsigte van die boustene van gesondheid.

’n Paar dinge is egter seker: ons kan gerus daardie soettand uittrek, nooit begin om te rook nie, en ernstig kyk na ons dieet. Trek die stapskoene aan, eet maar gerus ’n bietjie botter en drink volroommelk in jou koffie, tesame met ’n glasie rooiwyn. Alles in matigheid. Dit sal ’n bonus wees indien ons daardie ekstra kilogram of twee sal kan afskud, en so ons hart aan die klop kan hou.

Wetenskaplikes het ’n etiese verpligting om navorsing verstaanbaar oor te dra aan mense sodat hulle ingeligte keuses sal kan maak wat hulle gesondheid aanbetref. Die media het ook ’n verantwoordelikheid om die aard en wese van die wetenskap te verduidelik aan die leserspubliek deur die publikasie van artikels en boeke in hierdie verband. Gelukkig is daar in Suid-Afrika verskeie geloofwaardige publikasies beskikbaar wat deur wetenskapverslaggewers saamgestel is. Liggelowige lesers moet beskerm word teen pseudowetenskaplike stellings wat mense mislei met wanvoorstellings van “wonderkure” vir allerlei kwinte en kwale wat nie op grondige wetenskaplike bevindings gebaseer is nie.

Dawie van Velden

MB ChB (Stel), MPraxMed (Pret), MPhil (Joernalistiek) (Stel)

Lore of nutrition – Challenging conventional dietary beliefs deur Tim Noakes en Marika Sboros: ’n resensie

Wanneer perdedrolle vir vye verkoop word

  • 5

Kommentaar

  • Adriaan Reinecke

    Raak gevat om ook die individuele uniekheid van elkeen te belig wanneer dit kom by behandeling. Die media se rol om die breë publiek reg in te lig is belangriker as wat deur huidige dekking weerspieël word. Dankie vir 'n insiggewende bydrae.

  • Onthou, die klagte teen Tim Noakes by die Geneeskundige Beroepsraad se aanvoerder was die nimlike prof Wim de Villiers, nou rektor van Stellenbosch Universiteit.

  • Puik artikel. Hanteer die wese (siel) van die wetenskap. Hoekom ons moet weet en nie moet glo nie.

  • Ja dis waar, maar ek verkies my kruiemiddels.. Ek gebruik tissue salts, dit bring kwale eers uit jou liggaam en genees dan, ek’t selfs ervaar met my kind wat asma gekry het. Die pompe en medikasie daarby het haar erg hartkloppings gegee en haar oë het soos pierings gelyk, toe kom ek by die mense uit wat tissue salts verkoop en ons het dit probeer. Sy’t eers baie sieker geword maar daarna so mooi herstel. Sy het nog steeds haar pompe gebruik, maar baie minder omdat die tissue salts haar liggaam beter gemaak het. Mens moet versigtig wees, medikasies bots maar met mekaar.

  • Hannes le Grange

    Dit is baie interessant en ek sal graag meer inligting oor die onderwerp wil bekom. Word dit aanbeveel om n DNS toets te laat doen?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top