Gesofistikeerd, intelligent; ’n resensie van City of the dead deur Jonathan Kellerman

  • 0

...
Die roman is nie die tipiese skop-skiet-en-dies-meer-spanningsroman nie; dis gesofistikeerd, intelligent, beweeg teen ’n stadige tempo, maak nie staat op dramatiese aksie soos jaagtonele en bloedige gevegte nie.
...

Titel: City of the dead
Skrywer: Jonathan Kellerman
Uitgewer: Century (Penguin Random House)
ISBN: 9781559125955

Kort voor sonop, in ’n gegoede woonbuurt van Los Angeles, is ’n meubelvervoerwa se twee insittendes in gesprek oor “Money for nothing” van Dire Straits. Alfred LaMotta (Alfie), die passasier, probeer aan die bestuurder, Donnell Backus (Donny) verduidelik waarom die lirieke minagtend teenoor hulle professie geïnterpreteer kan word, toe ’n naakte man skielik vanuit die niet verskyn. ’n Botsing met hulle voertuig is onvermydelik en die yster en staal tree as oorwinnaar teenoor vlees en bloed uit die stryd. Wat aanvanklik na ’n studentepartytjie met ’n tragiese einde gelyk het, word aansienlik meer ingewikkeld toe ’n bemoeisieke en knorrige inwoner by die polisiebeamptes op die toneel kla oor ’n aangrensende huis wat, na sy mening, as ’n bordeel aangewend is en ’n bloedspoor tussen die ongelukkige voetganger en die betrokke huis gevind word. Die oënskynlike ongeluk blyk ’n grusame dubbele moord te wees – die verminkte lyk van die huiseienaar lê in ’n plas bloed.

Luitenant Milo Sturgis van die Los Angeles-polisie word as ondersoekbeampte aangewys en loop hom dadelik teen struikelblokke vas: Die identiteit van die man is onbekend; daar is geen teken van sy klere of enige vorm van identifikasie nie. Sy gesig is onherkenbaar vermink en sy vingerafdrukke verskyn op geen databasis nie. Daar is ook geen teken van ’n moordwapen nie. Toe hy die hulp van sy ou vriend, die sielkundige doktor Alex Delaware, as konsultant inroep, verdiep die raaisel toe Alex besef dat hy die vermoorde huiseienaar herken: Sy was die mooie Cordelia (Cordi) Gannett, ’n internetsensasie wat as kuberleefstylgids en verhoudingspesialis optree, maar aan Alex bekend is as ’n swendelaar wat haarself bedrieglik as ’n gekwalifiseerde terapeut voorgedoen het.

Wanneer Milo en Alex in Cordi se verlede begin krap, tuimel vreemde geraamtes uit die kaste: Haar ma was slegs 17 jaar oud ten tye van Cordi se geboorte en het sedertdien in ’n ware Aspoestertjie ontpop wat die glansryke vrou van ’n skatryk man is; ’n lewe waarin daar nie plek was vir ’n dogter met ’n bedenklike reputasie wat nie eers haar hoërskoolloopbaan voltooi het nie. Haar stiefpa het egter, sonder die medewete van haar ma, gereeld groot bedrae geld aan Cordi oorbetaal – en is baie ontwykend oor die rede daarvoor. Na Cordi se rampspoedige poging om haarself as ’n terapeut voor te doen, is daar boonop twee jaar van haar lewe wat in relatiewe duister gehul is. Daar is gerugte van ’n kort loopbaan as fotografiese model – met of sonder die vermoedelike byvoordele aan die “kliënte”.

Haar vriende sluit ’n paar eksentrieke karakters in: ’n haarstilis wat homself na ’n kruising tussen die Kaspiese See en ’n rare Franse motorfabrikaat herdoop het; ’n sangeres wat na haarself as die Middellandse See verwys; spiertiertweelingbroers wat so naïef en ongekunsteld voorkom dat hulle die indruk skep dat hulle ’n enkele breinsel deel; en ’n glibberige prokureur wat, ironies genoeg, ook onlangs vermoor is.

...
Die stad word self as ’n addisionele karakter geskets.
...

Die twee hoofkarakters, Milo en Alex, is self glad nie die stereotiepe moordondersoekers nie. Milo word beskryf as fisiek besonder groot, ’n beer van ’n man, wat permanent honger is en vreemde modesmaak het. Een van sy gunstelinguitrustings is ’n kakiekleurige broek, ’n oranje das en stewels met flaminkpienk sole. Hy is ’n introvert met ’n donker sin vir humor en ver verwyderd van die tradisionele siniese, aggressiewe, substansafhanklike ondersoeker. Alex is reeds sedert 1985 die hoofkarakter in die skrywer se gelyknamige reeks, waarvan hierdie roman nommer 37 is. In die eerste daarvan, When the bough breaks / Shrunken heads was hy 33 jaar oud, wat hom in hierdie roman dus ongeveer 70 jaar oud maak. In ooreenstemming met sy ouderdom, ondervinding en beroep is hy gelykmatig van karakter, sensitief, empaties en bedagsaam. Hy voldoen aan die vereistes van die sogenaamde postmoderne speurder: Hy is ’n onopgeleide amateur met alternatiewe bedrewenheid en dra by tot die speurraaisel deur delikate, professionele waarneming eerder as tradisionele speurwerk. In hierdie roman woon hy saam met Robin Castagna, ’n bouer en restoureerder van snaarinstrumente, en hulle Franse bulhond, Blanche. Die tonele waarin hy figureer, word uit sy oogpunt in die eerstepersoonnarratief aangebied.

Die roman is nie die tipiese skop-skiet-en-dies-meer-spanningsroman nie; dis gesofistikeerd, intelligent, beweeg teen ’n stadige tempo, maak nie staat op dramatiese aksie soos jaagtonele en bloedige gevegte nie; fokus op ’n intrinsieke komplot en sluit dikwels bykans oordrewe beskrywings in. Die omgewing waardeur die hoofkarakters ry, word byvoorbeeld geskets asof die leser ’n toeris is wat die reis virtueel meemaak, en die kos word evokatief en kleurvol beskryf. Hierdie tegniek komplementeer die titel van die roman: Die stad word self as ’n addisionele karakter geskets.

Alhoewel Alex se tonele in die eerste persoon geskryf is, word die leser nooit toegelaat om sy denkprosesse en emosies ten volle te deel nie. Milo is selfs meer van ’n enigma, en die leser moet afleidings oor hom maak gebaseer op sy dialoog en optrede. Dit beeld hom as ’n onpeilbare karakter uit, maar dis frustrerend vir ’n leser wat groter betrokkenheid by die ondersoekproses verkies. Die ontknoping sal, juis om hierdie rede, waarskynlik onbevredigend vir die leunstoelspeurder wees – die oplossing word toevallig ontdek en is nie die gevolg van besonder knap speurwerk nie.

Die ongewone afkortings het vir ’n paar kopkrapoomblikke gesorg: LT en Loot vir “luitenant” en D vir “speurder” (“detective”). Die subtiele humor was deurgaans ’n bron van genot. Daar word byvoorbeeld na ’n hondjie verwys as ’n bolletjie wol met bene; Milo beskuldig Alex daarvan dat sy emosionele oond laag gestel is; en daar word sardonies na die pannekoekaanslag tot ouerskap verwys: Raak ontslae van die eerste mislukte poging en probeer weer.

Wanneer ’n reeks reeds meer as drie dekades dek, is die vraag of die latere inhoud by die veranderde tye aanpas, onvermydelik. Die antwoord in die geval van hierdie roman is ’n onomwonde “ja”. Moderne tegnologie soos die internet, sosiale media, Instagram en Facebook in die besonder, die gebruik van Uber en die verskynsel van kuberoplossings vir bykans elke uitdaging word vernuftig by die storielyn ingevleg.

Die roman kan suksesvol alleenstaande geniet word. Kennis oor die voorafgaande 36 romans is ’n bonus, maar nie noodsaaklik nie. Die roman is uitgegee deur Century en word versprei deur Penguin Random House.

Hier is jou naaste tak van Bargain Books

As jy nie die boek sien nie, vra gerus die personeel om dit te bestel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top