Gesnaarde gedigte by Aardklop: ’n onderhoud met Hilandi du Toit

  • 0

June van Merch en Hilandi du Toit

Hilandi du Toit en June van Merch se bekroonde produksie Gesnaarde gedigte is vanjaar by Aardklop te sien. Met gedigte uit die pen van onder andere Eugène Marais, Lina Spies, Peter Snyders en ook van Du Toit en Van Merch self, belowe dié produksie om gehore te laat lag, ’n traan te laat pink oor die onregverdigheid van die lewe en opnuut trots te maak om Afrikaans én Suid-Afrikaans te wees

Du Toit en Van Merch skroom ook nie weg van relevante onderwerpe soos rassisme en selfdegeslagverhoudings nie. Gesnaarde gedigte spreek dié kwessies aan en laat jou hunker daarna om jou hand oor alle grense van “leef” uit te steek. Marius Boonzaier gesels met Hilandi du Toit.

Gesnaarde gedigte, wat ’n WoordTROfee by vanjaar se Woordfees verower het, is die opvolgproduksie van jul WoordTROfee- en kykNET Fiësta-benoemde 2017-produksie Gedig, my snaar. Hoe verskil Gesnaarde gedigte van die vorige een, wat is anders daaraan, en hoe het julle die proses dié keer benader?

Ek sal begin deur jou laaste vraag eerste te beantwoord. Ek self het die teks en musiek vir beide Gedig, my snaar en Gesnaarde gedigte geskryf en saamgestel. Ek het vir June raak gekuier by ’n gemeenskaplike vriendin. Ons het dadelik sommer lekker gekuier, so asof ons ou vriendinne is, en ek het net daar besluit om ’n produksie te skep waarvan sy deel is. Gedigte was nog altyd ’n groot liefde van my. Al die liedjies wat ek skryf, is maar net ’n voortvloeisel van skrywes wat meestal begin as ’n gedig en dan volg die toonsetting. Partymaal spring die woorde sommer so saam met die melodie in my hart.

Na vele kuiers tussen ons twee het daar ’n paar temas opgeduik waaroor ons albei geweldig sterk voel in die lewe en ek het daaruit die eerste samestelling aan June voorgelê. Sy was dadelik mal daaroor. Ek het haar gevra of sy nie dalk ook ’n liedjie wil sing nie en sy het toe hoogs opgewonde en propvol inspirasie ’n gediggie aangebring wat sy jare tevore geskryf het. Ons het dit getoonset en dit was behoorlik pret om dié lawwe liedjie, waarin sy haar liefde vir haar scooter besing, uit te voer! 

Terug by die temas. In Gedig, my snaar is die liefde in vele vorme en in verskillende style besing en vertolk – liefde vir jou medemens, die natuur, liefde oor rasgrense, en ek het selfs my hand gewaag op papier oor die liefdelose besluit van die NG Kerk om selfdegeslagverhoudings te verdoem. Gesnaarde gedigte fokus weer op relevante, aktuele onderwerpe soos gendergelykheid, rassisme en homofobie.

Die samestelling van Gesnaarde gedigte het ook naatloos gevloei, soos water. Ek het vir June musiek en teks voorgestel en ons het weer ’n liedjie van haar ingesluit. Beide produksies bestaan uit ou Afrikaanse gedigte wat June briljant vertolk, nuwe Afrikaanse gedigte wat ek self geskryf het, en natuurlik my oorspronklike liedjies.

Gesnaarde gedigte word beskryf as ’n reis deur bekende Afrikaanse gedigte. Wat is van dié gedigte en hoe besluit julle watter gedigte om te toonset? 

Van die bekende gedigte is “’n Paternoster vir Suid-Afrika” van Lina Spies, “Ek wonder of jy soms” van ID du Plessis en “Die dans van die reën” van Eugène Marais. Alle toonsettings en lirieke is my oorspronklike werk. En June vertolk dit fantasties met haar voorlesings.

Hilandi, watter boodskap wil julle met dié produksie aan gehore oordra? Is daar spesifieke temas en kwessies wat julle met Gesnaarde gedigte wil aanraak? Jy het hier bo reeds ’n paar genoem – dalk wil jy daarop uitbrei?

Definitief ja! Gendergelykheid, rassisme en homofobie is ongelukkig só deel van ons samelewing dat ons blind raak daarvoor, verál omdat ons dit daagliks aanhoor en daaroor lees in die media. Hierdie produksie / die kuns / die verhoog is ’n baie kragtige medium om hierdie onderwerpe aan te raak, te vervloek en te versoen met ons medemens.

Watter van die gedigte spreek dié kwessies aan en hoekom het julle op dié gedigte besluit?

Die gedigte wat hierdie onderwerpe aanspreek, is oa “Roer Boetie, roer” van Mathews Phosa, “Ons kom vandaan” van Diana Ferrus, “Ek is oek important” van Peter Snyders, en dan het June ’n gedig geskryf wat sy in die produksie sing en ek het ’n paar gedigte en liedjies geskryf spesifiek om die produksie se temas uit te lig.

Wat kan gehore verwag en waarna kan hulle uitsien tydens jul optredes by Aardklop?

Dit is altyd wonderlik om die gehore se meelewing te voel wanneer ons besig is met die opvoering. Mense lag (want June is só fantasties en vrek snaaks); hulle huil oor die onregverdigheid van die lewe; en hulle word opnuut trots om Afrikaans en Suid-Afrikaans te wees. Hierdie produksie spreek huidige probleme aan en bied ’n bietjie humor en laat jou selfs daarna hunker om jou trots in jou sak te steek en jou hand uit te reik oor alle grense van leef.

Gesnaarde gedigte sal op 2 en 3 Oktober om 14:00, 4 Oktober om 17:00 en 5 Oktober om 14:30 by die Roots Intieme Teater opgevoer word. Kaartjies is beskikbaar by Ticketpro.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top