Hoewel Johan Murray al lank woorde in hom dra en hy as student destyds op Stellenbosch deur DJ Opperman en ander geskool is (BA Hons in Afrikaans-Nederlands in 1966), verskyn sy debuutbundel, geskoei, eers in sy 73ste jaar.
Sy paaie het wyd geloop: hy het in die redaksies gedien van Die Burger, Tafelberg-Uitgewers, Beeld, Rapport en Insig. Tussendeur was hy onderwyser in Afrikaans aan privaatskole en in 1991 behaal hy ’n MA in kliniese sielkunde aan die destydse RAU (nou JU) en gee daarna klas aan Vista Universiteit (Sebokeng-kampus). Die laaste jare woon hy op Groot-Brakrivier en fasiliteer hy groepsessies in kunsterapie by klinieke op George.
Interessant is dat hy vas oortuig is dat “daar uiteindelik woorde losgekom het” toe hy vir die eerste keer in 2012 die Woordfees op Stellenbosch bywoon. Sy gedig “geloop met woorde” (Woordfees, 5–7 Maart 2012) is barstens toe vol van die blye verlossing:
... word ek woorddronk afgetrek
en sluit hulle my op vir salig mal
dan, agter tralies, verlos en feestelik vry
sal ek smeek, groot ’seblief:
bind my vas, stop koerant in my mond,
druk in my strot
of dis ikabod met my
wat onbeheers loslip uithaak is moerak soek
dié vertraagde wáág aan woorde
van ’n laatblommer...
Murray se gedigte getuig van ’n geleefde lewe met sy insigte wat telkens die innerlike verken. Vriendskap en ’n besinnende omgang met ouer word is sterk temas van die bundel, soos die bundeltitel getuig.
geskoei
Ϯ Werner, Dieter, Dave & Duard
om mee te begin
volg ons
met uitstappies
heel seker
in mekaar se spoor
eerste pieke oor
haal dan algaande nog
die kronkelende kontoerpaadjies
en staar mettertyd
oor verre afstande
vanaf heuwelkruine
gelykstap voorts tevrede
oor veld en vlakte
en nou
langsamerhand
so ryklik ingeoefen
gaan ons een-een
veilig
ewige berge oor
sekuur geskoei
in die sag gebreide stewels
van vriendskap.
Laat wel, kom die bundel, maar feesvierend welkom!
By die bekendstelling van geskoei in die ruim voorkamer van die Manor House op die gasteplaas Stanford Valley was Johan omring deur familie en vriende wat plesierig en dankbaar sy bundel kom vier het.
Die Stanford-fotograaf Annelize Mouton, wat veral bekend is om haar pragfoto’s in die eerstydse tydskrif Village Life, het die geleentheid gedokumenteer. Hier is ’n paar foto’s van gaste by die geleentheid.

Die buite-aansig van Manor House op die gasteplaas Stanford Valley waar Johan Muray se bundel op 18 Oktober bekendgestel is.

Erika Murray-Theron, bekende skrywer, (links) saam met Riana de Villiers en die digter Johan Murray

Johan Murray

Jarelange vriende, Theoniel Potgieter en Johan Murray

Johan Murray lees voor uit sy bundel.

Reinder Nauta, die gasheer, Amanda Botha, wat die bekendstelling behartig het, en die digter Johan Murray

Johan Murray omring deur familie wat sy bekendstelling bygewoon het. Vlnr: Elsabe en Reinder Nauta (op wie se plaas die funksie aangebied is), Andries de Villiers, Riana de Villiers en Cornelia de Villiers

