Gesins- en familienarratiewe

  • 1

Foto: Pixabay

“In the end, we’ll all become stories.” – Margaret Atwood.

........

Jy weet ’n man raak oud wanneer hy begin belangstel in sy stamboom, maak nie saak of die bloedlyn tot in die 1700’s by die VOC se snoepwinkel draai en die genetiese tentakels verder deur Europa vertak nie. Van watter Beeslaars is ek? sal hy wonder. Waar kom ek vandaan?

...........

Jy weet ’n man raak oud wanneer hy begin belangstel in sy stamboom, maak nie saak of die bloedlyn tot in die 1700’s by die VOC se snoepwinkel draai en die genetiese tentakels verder deur Europa vertak nie. Van watter Beeslaars is ek? sal hy wonder. Waar kom ek vandaan? Want dis ’n bewuswording van identiteit en mortaliteit, ’n soeke na kameraderie. Daar is ’n magdom stambome of -registers op die internet beskikbaar: foto’s van voorvaders met hulle befoeterde en arrogante gesigte en lang baarde. Victoriaanse fotografie was nie waffers nie en die gefotografeerdes moes lank stilsit of -staan alvorens die kiekies geneem is, vandaar die bot gesigsuitdrukkings. Gesins- en familienarratiewe is so oud soos die mensdom en kan verskeie gedaantes aanneem. Daar is die genealogiese dokumentasie van ’n familie, die mondelingse vertellings van anekdotes of die persoonlike en pynlike verhale van trauma wat slegs in beraders se spreekkamers gehoor word.

Lank gelede was die Afrikaners die weeskinders van die Anglo-Boereoorlog. Dink aan die talle tragiese verhale van gesinne wat gebore is in gehuggies wat later dorpe sou word – want die vooruitsig op ’n spoorweë as voedingsaar was nog net ’n droom. Voorvaders met byname soos Boeta, Bokka, Tienie, Yster of Pikkie het klippe gekou. Die uitdagings was volop: die verskroeideaardebeleid, twee wêreldoorloë, die Spaanse Griep van 1918, die bloedige mynopstande van die twintigerjare van die vorige eeu en die gevegte tussen die Natte en Sappe … Die woorde “sweet, bloed en trane” word dikwels gebruik om op dramatiese wyse die lyding van voorsate te verwoord. Familieverhale loop bloots en die verbeelding geil: Mense is op strepe dood aan myntering, tifus en TB. Wrywing tussen generasies sal daar altyd wees, byvoorbeeld die Baby Boomers wat Generasie Z betig dat hulle dinge nie “so maklik” gehad het soos die jonger geslag nie. Maar alle boorlinge van hierdie kontinent het swaargekry.

Afrikaner Ekonomiese Bemagtiging (AEB) het vanaf die Depressie van die Dertigerjare ’n geleidelike opbloei getoon – ná die verkiesing van 1924 het die Nasionale Party (NP) die staat se ontwikkelingsagenda gebruik om beskermde werkverskaffing, behuising en onderwys aan (bevoordeelde) wittes te bied. Afrikanernasionaliste het apartheid as polities-wetlike raamwerk ingespan om Afrikaners te mobiliseer en armblankes te bemagtig, ongelukkig ten koste van ander rassegroepe. Die onderdruktes, die Afrikaners, het nou die nuwe onderdrukkers geword – wat ’n bittere ironie. Die historiese narratief het vertak in familienarratiewe. My ma het in 1948 deur Graaff-Reinet se strate gehardloop en geskree: “Jannie is uit! Jannie is uit!” Sy was vier jaar oud. Haar oupa was ’n Sap en die verkiesingsuitslag het ’n groot indruk op haar jong gemoed gemaak.

Soos Afrikaner-welvaart toegeneem het, het ander euwels – ’n neerbuigende klassisme – kop uitgesteek. Die woorde “bodorp en onderdorp”, “aan die verkeerde kant van die spoorlyn”, “hulle is nie ons klas nie”, of “bywoners”, “sukkelende (mynwerkers)”, of “skandekind/hoerkind” spel verwonding en vernedering. Of: “Wat doen jou pa vir ’n lewe?” Dadelik is jy geëtiketteer; gedefinieer bloot in terme van jou pa se beroep. Klassisme onder Afrikaners, met ’n spul ingeboude waardeoordele rakende stand of morele vooroordeel, is deur die Susterkerke aangeblaas en gekondoneer. Daarteenoor was daar die “gesiene” of “vooraanstaande” mense of boere, “voorste families” wat gesit het in kerkbanke met silwer plaatjies, gereserveer met hulle familienaam. Kinders is gemaan om net met die dokter, prokureur of dominee se kinders te speel (dieselfde klas). Dis geen wonder dat Antjie Krog op ’n kol Afrikaners as die mees onverdraagsame spesie onder die son bestempel het nie. Skrywers soos André P Brink, Dalene Matthee en Elsa Joubert het hierdie klasseverskille in hulle romankuns beskryf. Mikro verwys in sy verhale na sekere damesklubs as “eksklusief en snobisties”, die gades van ryk mans wat te veel ledige tyd op hande het. Hierdie ladies of leisure is aangespreek as “Mevrou”, (nie “Tannie” nie), of hulle het hulle mans se name aangeneem: Mevrou Adelhart de Villiers. Mens is dankbaar dat hierdie bedompige en meerderwaardige Afrikaner-mentaliteit ná 1994 geleidelik begin taan het – en dat COVID-19 ironies die nuwe sosiale gelykmaker geword het.

........

Elke familie het waarskynlik ’n oom wat besluit om die familiegeskiedenis te dokumenteer. Kom ons noem hom oom Giepie. Hy tree na vore as die alfaman en neem eienaarskap van jou identiteit en persoonlike inligting. Lidmaatskap is nie vrywillig nie. Nee, as jy jou doopname google, is jy skielik dáár, en as jy vroulik is, is jy en jou susters bloot terloopse sytakkies aan ’n boom, want genealogie is ’n patriargale storie.

..........

Elke familie het waarskynlik ’n oom wat besluit om die familiegeskiedenis te dokumenteer. Kom ons noem hom oom Giepie. Hy tree na vore as die alfaman en neem eienaarskap van jou identiteit en persoonlike inligting. Lidmaatskap is nie vrywillig nie. Nee, as jy jou doopname google, is jy skielik dáár, en as jy vroulik is, is jy en jou susters bloot terloopse sytakkies aan ’n boom, want genealogie is ’n patriargale storie. Al is oom Giepie die grootste slapgat suid van die Sahara word hy die nuwe, selfaangestelde patriarg, bewapen met sy van, wat hom ’n seepkis gee om op te staan. Die woord “stam” is in die kol, behalwe dat dit geen dapperheid of vaardighede verg om agter ’n rekenaar te sit en inligting te versamel nie. Oom Giepie, die nuwe stamhoof, val al wat bloedverwant of onverwant is lastig vir foto’s, staaltjies en ontbrekende inligting. ’n Ou man met ’n stamboom se geesdrif het geen perke nie en by tye grens dit aan delirium. Namedropping en vaderregtelike trots word die nuwe muse. Oom Giepie stal die familietrofeë uit. Hy het veral ’n voorliefde vir familie wat spog in akademia se rooi togas, of die top brass in die weermag of sakeondernemings – enige iets wat ruik na sukses of geld. Die rentmeester van die bloedlyn stig ook WhatsApp-groepe vir die nasate, en skeefgetrekte familienarratiewe ontaard in ’n wrede psigodinamika van skinderstories en fomo. Kortom, familie wil nou nie ’n lekker storie met feite bederf nie, of hoe? Onthou jy nog hoe die welsyn in 1979 by ou Sarie se huis opgedaag het om vir Faantjie weg te vat van daardie feeks? Onthou jy, onthou jy nog ..? Oom Giepie wil terstond ’n boek oor sy familie skryf én ’n webwerf begin.

Twee jaar gelede (BC) het families nog “regte” reünies of saamtrekke gehou. Of hierdie families vandag zoom of teams weet ek nie, behalwe dat ek vermoed dat die gees, die meelewing, sensasie of opregte belangstelling nie virtueel dieselfde effek op ’n sosiale byeenkoms van bloedverwante sal hê nie. Familiebyeenkomste (die kontaksoort) maak my benoud. Daar is te veel mense, te veel name wat ek nie onthou nie, die inlasse van gesigte wat ek nie kan plaas nie. My wangspiere verstyf in ’n gipsglimlag in die groet en ontmoet, groet en ontmoet van familia. Dan volg die ysbreker – gewoonlik die kinders: “Kyk net hoe groot het Pietman geword!” Pietman sal verleë afkyk en rondtrippel oor al die grootmense wat oor hom tierelier. Die voggies begin te vloei en familienarratiewe neem grandiose afmetings aan rondom boereridders of -rebelle. Die narratief swaai na dié van slagofferskap en heldedom. Die aangelapte skoonfamilie betrag my voorkoms suspisieus om vas te stel of ek darem ’n opregte spesieman van hulle bloedlyn is. Mens se bestaan, wat gesneller word deur derduisende moontlike genetiese mutasies, word nou simplisties afgemaak tot die verwantskap met een van/stam. Peutertjie Pietman sal sy plastieklorrie rondstoot en die vroue sal koer, want hy is dan ’n regte Botha, nés Derra, ’n boukontrakteur. Gesprekke oor bloed sal volg – en net hiér kies ek die hasepad. “Bloed” is ’n ontsettend gelaaide woord. Van die Groot Boek met sy baie bloed tot die vergieting van edele Afrikanerbloed tot die wonder van bloedverwante. Wat my ’n gatkramp gee, is wanneer die spul begin spog met hulle Franse of Duitse bloed en een swaap sal iewers uitroep “Deutschland über alles!”, salig onbewus dat dit deel van Nazi-Duitsland se volkslied was. By die aanhoor van ander se mislukkings sal jy dalk ’n simpatieke “ag shame”-geprewel hoor, maar die verbloemde schadenfreude op sommige gesigte wýs.

Tog – nie alle families is so nie. Nee, ons is nie almal so nie. O, en laat ek nie die ideologiese bekgevegte vergeet nie: Heel bo aan die lys is die diskoers van vóór en ná ’94. Vandag sal die vaxxers/antivaxxers mekaar seker in die hare vlieg … en ’n gewisse skeuring in die familie veroorsaak.   

Familienarratiewe kan funksioneel gebruik word om die geleefde ervarings van ons voorsate te organiseer, te verstaan en te voorspel. Dit lei ook tot die oordrag van familie- en kultuurwaardes na die volgende geslagte, wat op sy beurt sorg vir ’n sin van samehorigheid en kohesie binne familieverband. Oor gesonde familienarratiewe sê Tim O’Brien in The things they carried: "And sometimes remembering will lead to a story, which makes it forever. That's what stories are for. Stories are for joining the past to the future. Stories are for those late hours in the night when you can't remember how you got from where you were to where you are. Stories are for eternity, when memory is erased, when there is nothing to remember except the story.”

Ongelukkig is dit so dat heelwat narratiewe, soos dit oorvertel word, ontspoor in toksiese verdraaiing, oordrywing of stereotipering van een of meer familielede. Tolstoi het beweer: "All happy families are alike; each unhappy family is unhappy in its way." Gesinsdisfunksie, of disfunksionele families binne groter verband kom in alle lae van die samelewing voor en dui op die mishandeling of verwaarlosing van kinders, en/of die teenwoordigheid van verslawingstoestande of geestessiektes by van die individue. Gesinsdisfunksie is so oud soos die mensdom self. In die Griekse mitologie het Kronos sy eie kinders geëet. Sprokies wemel van wrede stiefma’s en -susters wat sibbe afknou; en die Bybel het sy kwota broederlike twis, verraad en moord. Die verhale van Kain en Abel, Jakob en Esau, en Josef en sy broers is welbekend. Soos ek hier sit en skryf, wag joernaliste op hete kole vir die volgende hoofstuk in die vete tussen prins Harry en prins William. Waarom? Want disfunksionaliteit binne ’n familieopset is die rugstring van stories – en konflik tussen familielede die dinamo wat gebrokefamiliekronieke aktiveer. Voorbeelde is volop, soos Valsrivier van Dominique Botha, Oranges are not the only fruit deur Jeanette Winterson, Matilda deur Roald Dahl, of The brothers Karamazov van Dostojewski.  

.........

Een van die pynlikste posisies (of rolle) binne gesinsdisfunksie is waarskynlik dié van die sondebok – die slagoffer van scapegoating. Die moeder of vader projekteer al die skuld en geheime van die gesin of familie op een individu. Hierdie kind, wat gewoonlik “onskuldig” is, word op genadelose wyse in die narratief ingeskryf as die skuldige een.

...........

Een van die pynlikste posisies (of rolle) binne gesinsdisfunksie is waarskynlik dié van die sondebok – die slagoffer van scapegoating. Die moeder of vader projekteer al die skuld en geheime van die gesin of familie op een individu. Hierdie kind, wat gewoonlik “onskuldig” is, word op genadelose wyse in die narratief ingeskryf as die skuldige een. Die begrip sondebok is ontleen uit Levitikus, waar Aäron die skuld van die Israeliete op ’n (sonde)bok moes pak en dié arme dier dan die woestyn moes indryf. Die mensdom het nog altyd ’n behoefte aan ’n sondebok gehad. Binne familieverband beskerm die sondebok, as figuurlike banneling of gebrandmerkte, die reputasie van die familie. Só bly donker familiegeheime ook intak: Daar is nou ’n “skuldige” party wat die ander verontskuldig. Gemeenskappe, volkere en families, kortom, enige sosiale kollektief kies ’n sondebok om hulle skuld te dra. Christus kan gesien word as die uiteindelike sondebok wat die skuld namens die hele mensdom moes dra. Ongelukkig kan mens nie die sondebokke binne gesins- of familiedisfunksie verromantiseer nie – verhale van verwonding en buitestanderskap, aangevuur deur oningeligte familie, word slegs in sielkundiges se binnekamers aangehoor. Narsistiese ouers is waarskynlik die grootste oorsaak van hierdie emosionele mishandeling. Slagoffers van disfunksionele moeders stig byvoorbeeld groepe op sosiale media om mekaar te ondersteun. Die Facebook-blad The Sisterhood: Daughters of narcissistic and abusive mothers het 62 000 lede – psigologiese mishandeling kom meer algemeen voor as wat mens dink. Onder Afrikaners is dit nie gewild om te praat oor jou disfunksionele ma of pa nie. Nee, Afrikaners hou van die stabiliteit van die gesin, die bevestiging van gesonde gesinswaardes of dalk die “eer jou vader en jou moeder”-gebod. As jy nou op Vadersdag op Facebook gaan uitbasuin wat se dronklap jou pa is, sal dit nie goed ontvang word nie. Nié cool nie, nee. Daar is baie mense wat op Vaders- en Moedersdag eerder verlangend sit en roofkyk na die foto’s van ánder gelukkige gesinne.

.........

Maar hoe ontkom ’n mens aan die familienarratief as dit jou in ’n onwaar/ongunstige lig stel, of wanneer jy die sondebok is? Skryf. Skryf jou storie.

...........

Maar hoe ontkom ’n mens aan die familienarratief as dit jou in ’n onwaar/ongunstige lig stel, of wanneer jy die sondebok is? Skryf. Skryf jou storie. Die familienarratief gaan oor die familie se identiteit; boekstaaf nou jóúne. Benader jou storie met empatie, nie met beheer, soos jou voorgangers met jou gedoen het nie. Want familielede is op hulle beurt weer die slagoffers van intergeneratiewe trauma wat geneties en deur middel van familienarratiewe oorgedra is. Stel grense. Dis jou storie en jou waarheid en geen familielid het die reg om aan jou persoonlike verhaal te verander nie. “When we deny the story, it defines us. When we own the story, we can write a brave new ending,” skryf Brene Brown.

 

  • 1

Kommentaar

  • Rina Cascione

    Baie dankie vir hierdie interessante artikel wat die spyker oor familieverhoudinge so op die kop slaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top