![]() Foto: Ena Jansen
|
|
Sêgoed van Gerrit Olivier “C Louis Leipoldt se slampamperliedjie is ’n unieke geskenk aan die Afrikaanse leser – ’n bietjie medisyne teen die ‘gemors en verdriet’ waarvan ons harte so vol is.” (“Om oor die natuur te skryf”. Binne+Land, 13 Junie 2026) “As iemand ooit die gier kry om ’n boek oor slaggate te skryf, bied Nietzsche ’n titel: Die ewige Wiederkunft des Gleichen. Die ewige wederkeer van dieselfde. Dis soos om die onkruid in jou tuin te snoei in plaas van uit te trek.” (Uit: “Panyaza Lesufi en Jozi se politiek van skaamte”. Binne+Land, 22 September 2025) Oor Donald Trump: “Trump se alomteenwoordigheid as bullshitter spruit uit ’n onversadigbare behoefte aan erkenning en bewondering. Hoe meer wolhaarstories, hoe meer aandag. Agt oorloë al opgelos, geen inflasie meer nie. Sal ons hom dan ’n fantas noem? Daar is ’n lekker Afrikaanse woord wat sowel die leuenaar as die bullshitter en die grootprater insluit: spekskieter.” (Uit: “Bullshit as politiek”. Binne+Land, 22 Desember 2025) “Nog baie mense gaan deur Koos Prinsloo gestimuleer word. Om in reaksie op of teen hom in te skryf. Ek dink nie jy kan hom lees en dit laat jou koud nie.” (Netwerk24, 22 November 2022) Oor Antjie Krog se Otters in bronslaai in 1981: “Dit is erg genoeg dat Antjie nouliks meer tyd kry om ’n gedig te skryf, maar huiweringwekkend word dit eers wanneer ’n mens dink aan al die huisvroue wat géén uitlaatklep het nie. In haar kreet hoor ’n mens die stemme van al die verdruktes uit die voorstede. Het dit nie tyd geword dat hulle, met Otters in bronslaai onder die arm, na die Uniegebou opruk nie?” Binne+Land, 10 Oktober 2026) “’n Mens leer nie by mense wat met jou saamstem nie; jy leer by die mense wat van jou verskil.” (Uit Willie Burger se huldeblyk aan Gerrit Olivier op LitNet, 16 September 2026) |
Gebore en getoë
Gerrit Olivier is op 13 April 1954 op Burgersdorp in die Oos-Kaap gebore, een van vyf kinders van Vic en Lena Olivier. Op die webwerf Binne+Land het Gerrit vertel dat sy pa ’n selfgemaakte man met baie ondernemingsgees was. “Hy was ’n gesiene man, ’n leier in sy gemeenskap: burgemeester, hoofouderling, voorsitter van die Afrikaanse Sakekamer – maar Goddank nooit ’n Rapportryer of ’n Broederbonder nie, in beginsel nie.”
Sy pa het ook ’n bekende winkel op Burgersdorp gehad wat sy broer Bennie later uitgebrei het na Aliwal-Noord, waar dit nog sake doen (Jean Meiring, Netwerk24, 12 Oktober 2026)
Gerrit het aan die Hoërskool Burgersdorp gematrikuleer.
Verdere studie en werk
Ná skool is Gerrit na die Universiteit Stellenbosch, waar hy sy BA-graad behaal het met Afrikaans-Nederlands en Privaatreg as hoofvakke. In 1977 verwerf hy sy MA-graad in Afrikaans-Nederlands.
In 1978 is hy na Nederland, waar hy sy DLitt in Utrecht voltooi. Sy proefskrif en navorsing het veral gefokus op NP Van Wyk Louw. Hy het sy PhD aan die Universiteit van Witwatersrand behaal.
Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1981 is hy na die Universiteit van die Witwatersrand as dosent in Afrikaans-Nederlands. In 1990 word hy aangestel as hoof van die Departement Afrikaanse en Nederlandse letterkunde tot 1995, toe hy dekaan van die Fakulteit Lettere geword het en in 2000 dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe.
Hierna was hy verantwoordelik vir die stigting van die Departement Kreatiewe Skryfwerk aan Wits. Hy was ook die hoof van hierdie departement. In haar huldeblyk op LitNet aan Gerrit Olivier skryf Ena Jansen dat die begeleiding en hulp wat hy aan baie voornemende skrywers gebied het, wyd geprys is: “Hy het ’n sleutelrol gespeel om skrywers van sowel skeppende as wetenskaplike werk aan te moedig en te ontwikkel.”
In 1976 is die onafhanklike en alternatiewe uitgewery Taurus deur John Miles, Ampie Coetzee en Ernst Lindenberg begin. Die stigters was almal werksaam by die Departement Afrikaans-Nederlandse aan Wits. Hulle het Taurus begin uit reaksie teen die streng sensuur wat gedurende die 1970’s en 1980’s op Afrikaanse boeke toegepas is. Later het Gerrit en Tienie du Plessis, asook Hans Pienaar, hulle by hierdie groep gevoeg.
In die vroeë 1980’s het Gerrit saam met Tienie du Plessis die tydskrif Stet begin. Stet is deur Taurus geborg en Gerrit was die eerste redakteur.
John Miles skryf op LitNet in sy huldeblyk oor Gerrit só oor sy belangrike aandeel in Stet: “Vir bykans 10 jaar het hierdie kwartaalblad onder sy hand geleenthede gebied aan jonger skrywers wat ’n ruimte gesoek het waarin hulle tuis voel. Talle later gevestigde skrywers het op een of ander wyse hier gedebuteer. Die lys is lank, en as ek net twee name op vandag se voorgrond moet uitsonder, is dit Eben Venter en Ingrid Winterbach.
“Ook ouer, meer gevestigde skrywers het bydraes vir Stet gelewer. Nog ’n wins was die geleentheid wat jong skrywers gebied is om hulle ervarings tydens verpligte diensplig te boekstaaf.
“Van tyd tot tyd het Gerrit van gasredakteurs gebruik gemaak, wat ’n verbreding meegebring het. Gerrit se eie bydraes is ook hier te lees. Soos die deeglik beredeneerde antwoord op die sensors se literêre motivering vir die verbod op Looking on darkness.
“Ruimte was daar ook vir die haglike werklikheid van armoede en materiële ellende. Maar boweal was die tydskrif ’n literêr anargistiese verset teen die keurslyf van morele bekrompenheid. Teen versmorende eenvormigheid. Dit was ’n rumoer, ’n burleske, ’n opstand teen politieke dwingelandy. Die gek is geskeer met waardige ampsdraers en akademici se geleerde wollerigheid en hardlywige terminologie.”
Gerrit was ook betrokke by ’n reeks artikels wat hy en Markus de Jong van September 1980 tot Desember 1983 vir Beeld en later ook vir Die Burger onder die skuilnaam LI Bertyn geskryf het. Hierdie stukke is in 1983 deur Taurus uitgegee onder die titel Lekkerkunde met LI Bertyn as die skrywer.
Op die agterblad van Lekkerkunde vind die leser die volgende uitsprake van “ons geleerdes” oor LI Bertyn:
- DCJ Wessels, Onderwyserskollege, Pretoria: “Hierdie letterspel van LI Bertyn dui op die tipies liberaal-humanistiese siening van die revolusionêre ekstremiste in ons land.” (2.12.80)
- EF Kotzé, Universiteit van Zoeloeland: “Die trant van die man se bydrae is so geforseerd dat dit lagwekkend is vir enigiemand wat iets meer van die vak weet as hy.” (22.2.84)
- Ina Gräbe, Unisa: “… ’n literator wat onder die gerieflike beskerming van ’n skuilnaam hom blykbaar tot die massa rig.” (Oktober 1983)
- CJM (Stoffel) Nienaber, Universiteit van Natal (nou UKZN), Pietermaritzburg: “Hy blyk net nie daartoe in staat om onbevange en met genuanseerde oordele die terrein/verhoog van die literêre kritiek te betree nie.” (Oktober 1983)
- Joan Hambidge: “… een stuk vermetelheid en oningeligtheid.” (26.11.83)
- Matrikulant: “Dit is vir my duidelik dat hy beslis nie sou slaag in die begripstoets wat aan matrikulante opgedra is nie.” (15.11.80)
Gerrit en Ena Jansen het in 1986 Praktiese Afrikaans geskryf wat deur Academica uitgegee is. Dit is ’n lesboek wat vir baie lank aan universiteit voorgeskryf is. In die voorwoord is as volg geskryf oor die motivering by die skryf van hierdie boek: “’n Leesvaardigheid in Nederlands kan naamlik nie sonder meer by studente in die kursusse Afrikaans en Nederlands aan Suid-Afrikaanse universiteite veronderstel word nie en dit bemoeilik natuurlik die toeganklikheid tot die Nederlandse letterkunde. […] Dit verklaar dan ook die tweeledige doel van die boek: Dit is naamlik daarop gerig om (a) aan (veral) voorgraadse studente die nodige elementêre kennis van Nederlands te gee en ook om (b) ’n bydrae te lewer tot die behoud van Nederlands aan Suid-Afrikaanse universiteite” (WAM Carstens en LA Szapiro: resensie, SA Tydskrif vir Taalkunde, volume 4, 1986).
Gerrit het in die tagtigerjare gereeld rubrieke vir De Kat geskryf. Hierdie bydraes is in 1987 gebundel onder die titel Ongerymdhede en deur HAUM-Literêr uitgegee.
André P Brink het Ongerymdhede vir Rapport (14 Februarie 1988) bespreek. Hy begin sy resensie só: “Die essay is seker die mees egosentriese van alle prosavorms, of dit nou middelpuntvliedend is, wanneer die organiserende persona van die spreker ’n stuk omliggende wêreld belig met die intensiteit van sy visenteringsvermoë […]; of middelpuntsoekend, wanneer die ‘eksterne’ verkenningsterrein eintlik net voorwendsel – en voorwaarde – word vir die toeligting van ’n boeiende soeker in die sentrum […].
“En dit is een van die blywendste van alle literêre vorme, een van die gewildste. […] In Afrikaans: vanaf die gemaskerde erns van Van Wyk Louw tot die ligte tred van Audrey Blignault. Haas geen maand- of weekblad, selfs dagblad, is deesdae sonder sy essayis nie, of dit nou die skerpte van Gerrit Olivier is of, from the sublime to the ridiculous, die inaniteite van sekere dagblad-rubriekies.
“En die bundeling van sulke essays is seker, vroeër of later, onvermydelik – soos pas gebeur het met Gerrit Olivier se tekste uit De Kat, in ’n mooi uitgawe getitel Ongerymdhede. Die uiteindelike sukses van die essay, gegewe die uitgangspunt wat ek hierbo genoem het, is – naas, vanselfsprekend, taalvirtuositeit – die ruimte of vernuf of skerpte of geslyp- of geslepenheid van daardie persona in die sentrum. En in hoë mate oortuig Olivier se sketse in hierdie opsig. […]
“Mens wil nie sommer, soos die flapteks, praat van ‘onthutsende eerlikheid’ nie […]: Is ‘eerlikheid’ nie dikwels in die essay die pose van die spreker nie? En ‘poses’ – in die beste en minder goeie sinne van die woord – bepaal nogal dikwels Olivier se essays. Soms so iets soos: Hier is die beeldbestormer, bring die beeld. Wat impliseer: Sonder die bestaan van die beeld, godlof, kan ek nie storm nie.
“Enige Marxis sal jou vertel dat die anti-utopiese teks juis utopies is; die anti-romantiese per definisie romanties. Wat hier besonderlik toepasbaar is, want agter die ‘gesonde’ sinisme en rasionaliteit van verskeie tekste loer juis’n wondbare romantikus uit. […]
“Iets van ’n mengelmoes is die bundel: naas haas studentikose stukkies […] is daar ander wat beïndruk deur hul inboor in ’n oënskynlik maklike ‘besprekingspunt’ in om werklik diepsinnige nuwe betekenisse te laat uitspaander […], of wat met hul besonder sensitiewe taalhantering ’n deerniswekkende ontkleedans uitvoer […].
“En dan is daar enkeles, baie min, wat op sigself eintlik die hele bundel regverdig; en seker die fynste en veelsinnigste hiervan is ‘Die verlore tyd’; ’n ontginning, aan die hand van Proust, van mens en tyd, wete en onbewuste, en die ingryp van die verbeelding in mens se eie bestaan, in dié oortuiging: ‘Elke mens het sy lewensverhaal; elke lewe berus op fiksie’ (81). Vir iemand wat so ’n essay kan skryf, vergeef jy dalk sy ander hebbelikhede en poses. Hoewel dit jou ook driftig laat wonder: Hoekom doen hy nie méér hiervan nie? Want, verdomp, hy kán!”
GA Jooste het met André P Brink saamgestem dat die opstel oor Proust en die verlore tyd in die tweede deel die beste is – “al word hierin die individuele dilemma in die agtergrond gehou. Soos Proust se werke is elk van hierdie opstelle, in die tweede deel, in klein omvang ’n deurdringende soeke na ’n singewende patroon. Telkens moet daar egter met bitter voldoening gekonstateer word dat patrone bloot in retrospeksie en abstraksie tot stand kom. Dit is essensieel ook die verskil tussen die lewe en skrywe, hoe hard die skryfdaad ook die gespletenheid van die aardse bestaan beveg.
“Is dit ’n geldige slotsom? Rym bestaan slegs in taal, en al probeer die skrywer hoe hard, in rymende en klinkende taal is die ongerymdhede van die bestaan nie te oorwin nie. Uiteindelik ontwyk die sin selfs die voorbeeldigste sinne.” (Volksblad, 9 April 1988)
Gerrit se doktorale proefskrif is in 1992 deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel NP Van Wyk Louw: literatuur, filosofie, politiek.
JC Kannemeyer het in Augustus 1994 se Tydskrif vir Letterkunde ’n bespreking oor hierdie “verwerking” van Gerrit se proefskrif geskryf.
Die Burger (28 September 1994) het berig dat NP Van Wyk Louw se status as denker in hierdie studie van Gerrit betwyfel word. Kannemeyer het in sy artikel hierdie studie van “wetenskaplike oneerlikheid” beskuldig.
“Kannemeyer bevind dat die ‘tipe ideologiekritiek’ wat Olivier in dié studie bedryf, tot ’n bepaalde ‘soort waansinnige logika’ lei, maar dat agter ‘die skynbaar akademiese en belese promovendus’ in werklikheid ’n ‘sensasiebeluste sluipskrywer’ skuil.
“Ten spyte van Olivier se beskeie inleiding, waarin hy Van Wyk Louw as ’n ‘groot en indrukwekkende mens’ beskryf, is die proefskrif volgens Kannemeyer ‘’n poging om Van Wyk Louw, die belangrikste figuur onder die Dertigers en vir baie mense die hooffiguur van die Afrikaanse literatuur en geesteslewe as sodanig, totaal te vernietig.’”
Kannemeyer het verder geskryf: “Olivier se pogings om Louw tot naïweling te reduseer slaag net daarin om homself as ‘’n vlak en oorhaastige opportunis aan die kaak (te stel). […] Klaarblyklik het Olivier … van Van Wyk Louw verwag om sy intellektuele verbondenheid met sy volk te ontken en openlik met sy mense te breek. Ek vind dit verwaand van ’n persoon om aan iemand anders te dikteer hoe om op te tree.’
“Die geskiedenis het in elk geval Van Wyk Louw reg bewys. Uiteindelik het die bevryding in Suid-Afrika nie gekom na ’n ingryping van buite of ’n absolute rewolusie nie, maar na ernstige selfkritiek by die regerende party en die insig dat ons bestaan in hierdie land nie langer ’n ‘voortbestaan-in-geregtigheid’ is nie, dat ons deur die morele onverdedigbaarheid van ons posisie onsself tot ’n afskuwelikheid en walging gereduseer het.
“Van Wyk Louw se denke het ’n ontsettend groot bydrae gelewer om hierdie insig by ons tuis te bring. Niks wat Olivier kon sê, tas die wesenlike bydrae en betekenis van Van Wyk Louw se denke aan nie.
“In laaste instansie is hierdie geleerde proefskrif ’n demonstrasie van ’n manier van dink wat in sy wese kontraproduktief en futiel is.”
Gerrit het in Tydskrif vir Letterkunde van Februarie/Mei 1996 geskryf dat hy aanvanklik besluit het om nie op Kannemeyer se artikel te antwoord nie omdat dit, volgens hom, “benede peil en Kannemeyer onwaardig is”, maar het toe tog besluit om te reageer, omdat Kannemeyer se skrywe “onnodig skade kan aanrig by mense wat die boek nie ken nie of van wie ’n mens nie kan verwag dat hulle die besonderhede van elke aanklag in (Kannemeyer) se stuk sal nagaan nie.”
Gerrit het geskryf: “Kannemeyer het gedeeltes van my boek óf nie verstaan nie, óf hy was so onthuts deur wat hy vermoed die strekking daarvan is dat hy slegs nog kon raaksien wat hom irriteer. Dit is vir my onaangenaam om te moet konstateer dat Kannemeyer, vir wie ek deur sy boeke en ook as student en kollega, as ’n meestal nougesette leser leer ken het, hom ten aansien van my akademiese skryfwerk aan elementêre vergrype skuldig maak. Wat hy met groot gebaar aanbied as ’n katalogus van akademiese en ook morele misdrywe in my boek, is grotendeels, soos ek sal aantoon, ’n bloemlesing van Kannemeyer se eie foute, van halwe waarhede en gevolgtrekkings wat op alle denkbare oorwegings behalwe die woorde op papier berus. Die inhoud van sy bespreking dwing my om daarop te reageer op ’n ander wyse as wat ek sou verkies het. Ek sou eerder met Kannemeyer in debat wou tree oor die betekenis wat NP Van Wyk Louw, ten spyte van alle kritiek op sy werk, vandag nog het vir die Afrikaanse literatuur, literatuurwetenskap, kultuur en politiek. Maar aangesien Kannemeyer reeds besluit het dat ek Van Wyk Louw wil ‘vernietig’, en aangesien die laaste paragraaf van sy bespreking – in die aanmatigende patriargale toon wat kenmerkend van hom begin word – verdere debat deur ’n reeks saligverklarende uitsprake wil verhoed, is wat hier volg ’n regstelling, vir die rekord.” (Die res van Olivier se reaksie kan gelees word by View of Vol 34 No 1/2 (1996).)
In 2008 verskyn Gerrit se aantekeninge oor Koos Prinsloo by Rapid Access Publishers (Universiteit Stellenbosch). Gerrit was ook aangestel as Koos Prinsloo se literêre eksekuteur sedert Prinsloo se dood in 1994.
In Literator van Augustus 2009 het Marius Crous sy bespreking van aantekeninge by Koos Prinsloo só begin: “Prinsloo, as die subjek-in-proses en uitdager van die magsorde van die letterkunde en die politiek, word nie meer deur ’n moderne generasie gelees of gereken nie. Dit is jammer, want lees ’n mens Olivier se stipleesaantekeninge by die onderskeie bundels en verhale kom jy opnuut tot die besef hoe kundig Prinsloo se tekste gekonstrueer is. Dit is waarom dit soveel te beter is dat Olivier nie die tekste aan die een of ander psigoanalitiese teorie onderwerp het nie, want dit sou die verhale, myns insiens, net nog verder versluier het. Daardie tipe teoretiese metadiskoers vanuit die postmodernisme of aan die hand van Foucault se obsessie met magstrukture kan nog steeds plaasvind noudat Olivier die voorwerk gedoen het. Voorts kan ’n omvattende queer lesing van Prinsloo se werk onderneem word; om nie eens te praat van Kristeva se teorie oor die abjekte nie.”
Crous het sy resensie só afgesluit: “Hopelik gaan die verskyning van hierdie studie en van Prinsloo se versamelde verhale tot ’n herontdekking van sy werk lei. As post-modernis, as queer skrywer in die sekspolitiese sin van die woord en as subjek vir ’n leser as analis bied sy werk heelwat stof tot ontginning. Daar is ook die voortsetting van die gesprek met sy werk in Vreemder as fiksie van Johann de Lange. Wanneer iemand die tekste van die jare 1982–1993 ondersoek, sal hy moet rekening hou met Prinsloo se grensverskuiwende, priemende blik op die wette van al die vaders wat hom probeer inperk het, en op wie hy hom wou wreek. Hopelik sal daar ook meer manlike kritici tot die gesprek toetree, want naas Riana Scheepers is dit Louise Viljoen wat van die deeglikste lesings van Prinsloo se werk onderneem het. Of is manlike kritici na al die jare steeds sku vir wat Charles Malan destyds ‘die bedsake en intieme traumas van Koos die Reële Outeur en sy Reële Pelle’ (no 2, p 103) genoem het?”
Andries Visagie het aantekeninge by Koos Prinsloo vir Rapport geresenseer: “In die literêre wêreld word al lank gewag op Gerrit Olivier se boek oor Koos Prinsloo. […]
“aantekeninge by Koos Prinsloo is ’n sistematiese bespreking van feitlik elke kortverhaal wat Koos Prinsloo gepubliseer het. Die boek is daarom ’n handige gids vir dosente en studente op soek na verklarende insigte om ’n greep op Prinsloo se werk te kry. Dit sal ook die leeservaring van die gewone leser, wat Prinsloo nou in een band kan koop, verruim.
“Gerrit Olivier het ’n sorgvuldige studie onderneem van die dokumente wat Koos Prinsloo nagelaat het. In die talle interessante voetnote in sy boek beskryf hy byvoorbeeld hoe Prinsloo as student aan die Universiteit van Pretoria geskors is nadat sy kortverhaal Skrot in die studentetydskrif Vlieg verskyn het. Skrot is een van die onskuldigste verhale wat Prinsloo ooit geskryf het en ’n mens is vandag verstom om te lees hoe die UP in die 1970’s die loopbane van Prinsloo en sy talentvolle medestudente Hans Pienaar en Johann de Lange op die spel geplaas het.
“Olivier se navorsing bied ’n tydige waarskuwing aan universiteite om politieke gedienstigheid nooit bo akademiese vryheid te stel nie.
“Prinsloo se komplekse kortverhale stel hoë eise aan sy lesers. Navorsers moet goed vertroud wees met ’n wye spektrum teoretiese begrippe om Prinsloo se werk bevredigend te kan interpreteer. Dit is daarom jammer dat Olivier volstaan met ’n teoreties ontoereikende close reading (stiplees) van Prinsloo se werk. aantekeninge by Koos Prinsloo bevat nie eens ’n behoorlike beskouing van Prinsloo se werk binne die historiese ontwikkeling van die Afrikaanse literatuur nie.”
Visagie het dit ook teen Olivier se “lojaliteit” teenoor Prinsloo, aangesien dit daartoe gelei het dat hy nie Prinsloo se “teenstrydige siening van mag ten volle verken het nie”. Twee voorbeelde van Prinsloo se “misbruik” van sy mag as skrywer was toe hy sy uitgewer by Tafelberg aan die kaak gestel het in die kortverhaal “Die jas” in Weifeling, asook Prinsloo se “verhullende eufemismes vir vigs in Weifeling” wat aantoon dat hy nie die waarheid wou onthul het of kon toepas nie.
Visagie het afgesluit: “Ek respekteer Prinsloo se aandrang op privaatheid, maar Olivier se retoriese voetwerk om Prinsloo konsekwent ter wille te wees ondermyn die gehalte van sy navorsing.
“aantekeninge by Koos Prinsloo open weliswaar belangrike perspektiewe op Prinsloo se werk, maar die laaste woord is nog lank nie oor hierdie briljante kortverhaalskrywer gespreek nie.”
Joan Hambidge het op LitNet geskryf: “Die gebrek aan ’n indeks het die leeswerk beslis nie vergemaklik nie. Ofskoon daar baie belangrike inligting verskaf word, voel die leser ná die voltooiing van die teks soos oor Lindenberg se lesing van ‘Groot Ode’. Is dit waarop ons so lank moes wag? Langverwagte tekste wat dikwels gepaard gaan met beloftes van hier kom ’n deurbrekende grens, is niks anders as ‘belofte maak skuld nie’.
“Vir die skerpsinnige analises van tekste kan ’n mens die hoed afhaal. ’n Diepgrondige verduideliking van die komplekse persona van Prinsloo wat in sy eie terme gelees wou word en à la Barthes sy eie filosofie wou skep waarin hy tuis en veilig sou voel, is hierdie studie helaas nie. Eerder as om die teenstrydighede uit te wys, word dit self ’n teks vol kontradiksies.
“Nawoord:
“Uit die resensie is dit duidelik dat die studie in gebreke bly om Prinsloo se opstand teen die vaders psigoanalities te verhelder. ’n Woede teen die vader – vaderhaat – word telkemale op ander vaderfigure geprojekteer en hierdie konflik, een van ambivalensie teenoor vaderfigure, tref die leser aan in vele verhale. In die verhouding met die skrywer as mentor (Aucamp) en die uitgewer (’n simboliese vader).
“Oedipus het sy vader Laius per ongeluk doodgemaak. By Prinsloo is dit ’n volgehoue, meedoënlose inbeweeg en dan afwysing van die vaderfiguur. ’n Anti-Oedipus dus. ’n Weiering om te oedipaliseer en die gesag van die vader/Vaders te aanvaar op alle vlakke: werklik en letterkundig.”
Hiermee was Gerrit nog nie klaar met Koos Prinsloo nie. In 2022 vertaal hy van Koos Prinsloo se kortverhale in Engels. Place of slaughter and other stories is deur Fourthwall Books gepubliseer.
Olivier het met AJ Opperman gesels oor sy vertaling van hierdie kortverhale: “Dit was om twee redes moeilik om sy werk te vertaal. Jy moet so getrou as moontlik aan die oorspronklike teks bly en jy moet dit só doen dat dit vandag tot mense spreek. En eintlik – dis maar ’n mening – is die verhale nog baie vars. Daar is ’n direktheid en eerlikheid wat ek dink ’n mens vandag nog tref. Nie al die verhale in sy vier kortverhaalbundel is vertaal nie, maar wel al die verhale in Slagplaas.”
Gerrit het ook meer vertel van Koos Prinsloo se kortverhale en sy manier van skryf: “Hy was gedurig besig om te worstel met die vorm van die kortverhale. En hy was in ’n stryd met hoe jy die werklikheid ervaar. Hy het herkenbare figure in sy verhale laat verskyn. Hulle herinner jou aan figure in die werklikheid terwyl hulle ook konstruksies binne die verhaal is. Dit was een van die redes hoekom hy so omstrede was.”
Gerrit was ook van mening dat dit vir hom makliker was om Koos se verhale te vertaal, omdat hy hom persoonlik geken het, en het gereeld gesit en wonder wat Koos sou verkies het hy moet doen: “Slagplaas is ’n ‘roman-in-fragmente’. Ek dink Koos se spesifieke hantering van daai spanning tussen werklikheid en fiksie maak hom besonders – binne enige literêre verband.”
Die ander rede vir sy omstredenheid was sy eksplisiete beskrywings van seks tussen mans. Dit was ongewoon vir sy tyd, en selfs gay mense het destyds aanstoot geneem hieroor.
In Daily Maverick (8 Januarie 2023) het Kobus Moolman só oor Place of slaughter geskryf: “This collection represents a powerful voice that upends the long-held Afrikaner myths of heterosexual male identity, and speaks bravely for alternative identities. […]
“I read all of these stories in a single weekend and I couldn’t help but think of the German Expressionist painters George Grosz or Max Beckmann. Or contemporary artists like Emilio Vedova or Günter Brus, whose graphic and daring work challenged the establishment.
“The analogy with visual art is not far-fetched. Prinsloo writes with a visual artist’s sense of materiality: he is obsessed with the body; that we break and bleed. That we are abject in our longing. This makes him someone I wish I had encountered earlier; someone to read now.”
En toe, op Saterdagaand 12 September 2026, is Gerrit onverwags in die Oos-Kaap aan hartversaking oorlede.
Huldeblyke
- Universiteit van die Witwaterstand: “Professor Olivier's contribution extended well beyond his own scholarship. He played a pivotal role in advancing the recognition of creative work and artistic practice as legitimate forms of research, both at Wits and within the broader South African higher education sector. He was instrumental in conceptualising the Wits Creative Work PhD and in securing its formal recognition by the University, helping to create new possibilities for generations of artists, writers and creative scholars. He also taught and was deeply involved in the Wits Department of Creative Writing, where he nurtured many manuscripts to completion and publication. […]
“As Dean of the Faculty of Humanities, Professor Olivier was a highly respected and loved leader. Colleagues remember him as an intellectual who remained firmly focused on the academic purpose of the University, and as a deeply democratic leader with a strong sense of fairness, powerful integrity and even-handedness. He was also instrumental in integrating the Johannesburg College of Education into Wits University.
“His influence was probably felt most profoundly by the many students, academics, writers and artists whose work he read, questioned, encouraged, critiqued and strengthened over the years. His intellectual rigour was matched by his generosity of spirit, and his insight was valued by those who sought his advice.
“On behalf of Wits University, we extend our deepest condolences to Professor Olivier's family, friends, former colleagues, students, and those who knew him well. His death is a profound loss to the Wits community and to South African scholarship and the arts. May he rest in peace.” (Wits, 14 September 2026)
- Laureen Rossouw van Binne+Land: “Vandag bring ons hulde aan Gerrit Olivier, een van Binne+Land se mees geliefde rubriekskrywers, wat onverwags op 12 September oorlede is. Gerrit se uiteenlopende bydraes is die afgelope jaar amper tweeweekliks as Saterdagbriewe gepubliseer. Ons gaan sy skerp intellek, fyn manier van kyk, wye kennis en heerlike skryfstyl baie mis.
“Ons het ook baie sports gehad. Gerrit was uiters besorg oor taal en grammatika (natuurlik), en kon besonder knorrig raak as iemand aan sy teks peuter of ’n opskrif moes aanpas om by ons styl of aanbieding aan te pas. Ons was te bang om die emeritus professor van Afrikaans aan te vat en het vir Linda Uys, een van ons ewe puntenerige subredakteurs, opgesteek om hom te bel. Tot ons almal se verbasing kliek die twee toe like a house on fire, en geniet dit gate uit om ure lank met mekaar te babbel oor vreemde spellings, koppeltekens en aandagstrepe. Tussenkoppe het hy verpes – uit respek vir hom is daar dus nie ’n enkele een in die huldeblyke hier onder nie.” (Binne+Land, 3 Oktober 2026)
- Kerneels Breytenbach: “Ons is onhandig met die dood. Wanneer dit by jou aanmeld, sal jy nooit weet of dit die een toets is waarvoor jy goeie punte gekry het nie. Jou geliefdes s’n is deel van die stroping wat ’n mens moet aanvaar as jy nog wil meedoen aan die groot lewenskarnaval.
“Enkele weke gelede het Gerrit hier op Binne+Landgeskryf oor ’n gesinsvakansie wat sy ouers met hul kroos vanuit Burgersdorp in die Kaap kom hou het. Dis ’n verhaal wat hy verskeie male sedert ons studentedae aan my vertel het. Elke keer was dit asof hy nuwe elemente van daardie jeugherinnering opgediep het. Die vertelling is gelaai met sy soort humor, die fyn oplet én die kneusingsproses én die vreugdevaart – naas die eerste bewuswording van die gedempte sweepslag van terneergedruktheid. […]
“Dit ís so dat Gerrit ’n donker sy ook gehad het waaraan ek nie wou deelneem nie: Hy was ’n gewikste gholfspeler en het lewenslank sy passie vir die kaartspel brug weekliks uitgeleef. Hy was ook baie lief daarvoor om lang ente te gaan fietsry – en in die Covid-nagmerrie, toe hy in eensaamheid op Keimond vasgekeer is, het lang wandelings hom gehelp om sy positiewe te behou. Dit was ook dié innerlike flâneur wat hom jare gelede in Amsterdam van knelgeestigheid bevry het.
“Nou, met sy stem wat verstil het, wil ek graag hulde bring aan hom as die sonderling, die essayis, denker, letterkundige, en as iemand wat altyd die woorde gevind het wat ander mense ontwyk het. Maar dis asof die etikette nie meer so belangrik is nie, want die mens was soveel groter as die name waarmee ’n mens hom verstaanbaar wil maak.
“Ek blaai deur twee manuskripte met kortkuns wat hy aangestuur het, Nadae en Windstilte. En die vyfde herskrywing van sy trilogie Die avonture van Cornelis en Janneman. Terwyl ek al lesend soek na die tekens van sy eie lewensverhaal, is dit opvallend hoe hy sy eie vereensaming ná sy aftrede antisipeer het.”
- Herman Lategan: “Ons het graag hartseerstories vertel uit boeke of rolprente en gekyk wie eerste kon huil. Dronkverdriet natuurlik, ons was lief vir die melankolie. Maar daar is ook baie gekekkel en gekraai. Die agtergrondmusiek van daardie tyd was Mango Groove, Jennifer Ferguson en Abdullah Ibrahim. Ek het langspeelplate van Lucia Popp en ’n klomp ander operasangers gehad, en ons het ’n speletjie gespeel. Ek sit die plaat op sonder om hom te vertel wie dit is, en hy moes raai. Hy het elkeen reg geraai. Daar was baie. Ek was kontverstom, soos hulle in Namakwaland sê.
“Ek het vir Gerrit ontmoet toe ek 19 was, deur Barend Toerien. In sy woonstel daar in Koningin Victoriastraat. Ons het dadelik oor die weg gekom en Gerrit het my op daardie jong ouderdom aan Virginia Woolf, James Baldwin en ’n horde ander skrywers voorgestel, of blootgestel; dit het my horisonne oneindig verbreed.
“Deur die jare, as Gerrit Kaap toe gekom het, het hy ’n punt daarvan gemaak om vir my en Graham te kontak. Sy vriendskap, sin vir humor, intellek en sagte hart het my lewe verryk, baie. Nadat Gerrit afgetree het, het ek ongelukkig minder van hom gehoor. Ek het vrede daarmee gemaak, want ek het 40 jaar se vriendskap gehad wat hom altyd deel van my gedagtewêreld en my hart se kamers sal maak.
“Ja, ou Gerrit, met my wensbeentjievingers sal ek die sweet van my voorkop afkrap, die jare het weggebrand – en as ’n veel ouer man wat destyds so kordaat op daardie foto gestaan het, waai ek nou vir die twee jong somermans wat daar so stip na die kamera kyk. Kliek! Die sluiter gaan toe. See you on the other side.” (Binne+Land, 3 Oktober 2026)
- Joan Hambidge:
Doeblet
Vir Gerrit Olivier
Jy het graag in die messelaai vertoef:
aserbies, op die punt af, fyn stilis …
dít sou mens alles van jou kon sê.
In die laaste rubrieke in Binne+Land
keer jy terug na jou komvandaan:
’n afskeid van die ruimtelike jeug.
Roerend skryf jy oor jou ou pa:
’n dubbelloop-portret, ’n stet?
Jungiaans, gelees, ek hoor jou lag,
besig met ’n afskeid én vertrek.
Verlies vir algar aan ’n polemis,
’n woordskerpskutter, ’n kritikus.
Op die deurpad na anderkant,
sal ons deurentyd, veral die uwe,
deurdronge kritieke nie verbrand.” (Binne+Land, 3 Oktober 20–26)
- Willie Burger: “Gerrit Olivier was een van die groot letterkundiges in Afrikaans sedert die 1980’s. Vir jare was hy hoof van die Departement Afrikaans by Wits. En hy was ook vir baie jare lank die dekaan van die Lettere Fakulteit by Wits. Hy was een van die min Afrikaanse letterkundiges wat werklik ’n groot impak op die wyer Suid-Afrikaanse literêre terrein gemaak het. As letterkundige en as dekaan het hy baie wyd, oor skeidslyne van tale en vakdissiplines, respek en lof gekry.
“Hy was ’n besondere akademikus en het met sy proefskrif (en later boek) oor Van Wyk Louw se opstelle ’n knuppel in die Afrikaanse hoenderhok gegooi. Veral omdat dit vanuit ’n krities-teoretiese standpunt Louw se blindekolle blootgelê het – wat baie mense nie graag wou hoor nie. Later het hy ook, in sy NP Van Wyk Louw-gedenklesing, op ’n wonderlike wyse getoon hoedat Louw se poësie veel verder gereik het as sy prosa, dat die kuns dit moontlik maak om die kunstenaar se beperktheid ver te oorskry. Gerrit het in die 1980’s ook onder die skuilnaam LI Bertyn rubrieke oor die letterkunde geskryf. Dikwels tong in die kies, snydend, sarkasties, selfs snedig, maar altyd insiggewend. […]
“Eintlik het my belangstelling in literatuurgeskiedenis by hom begin – by ’n stukkie in Stet waarin hy Kannemeyer se literatuurgeskiedenis gekritiseer het. Sy uitreiking na my nadat ek na RAU geskuif het, uitnodigings na sy huis vir etes, lang gesprekke oor kuns en literatuur en musiek wat my onbelese en traag van begrip laat voel het, sal ek altyd koester.
“Die laaste drie dekades van die vorige eeu was ’n opwindende tyd vir letterkunde. Dit was ’n tyd toe skrywers en digters en letterkundiges soos Gerrit ’n groot invloed gehad het, ook in die breër intellektuele lewe. Dit is droewig om te ervaar hoedat die Grotes van daardie tyd een-een wegraak, en hoe daardie opwindende tyd daarmee saam verlore raak.” (LitNet, 16 September 2026)
- John Miles: Gerrit Olivier is nie meer by ons nie. In waardering vir ’n baie veelsydige mens staan ek saam met ander vriende hoed in die hand by ’n afskeid. Gerrit met sy skerp kop, kritiese ingesteldheid en fyn literêre aanvoeling.
“Ek moet ver strek om by ons ontmoeting en tyd van noue samewerking uit te kom. In die jare tagtig van die vorige eeu, ná ’n studietyd in Nederland, word hy deel van die Departement Afrikaans en Nederlands by Wits. In die Suid-Afrika waarheen hy terugkeer, was literêre sensuur deur die staat, veral ná die verbod op André P Brink se Kennis van die aand in 1974, ’n ernstige besprekingspunt. En agter hierdie Staatsbeheer van die letterkunde was ’n kragdadige Afrikaner-nasionalisme. Vir die jong Gerrit was so ’n opset ver van ideaal vir die rol van die vrye boek binne ’n gemeenskap. Teen hierdie sensuur het hy standpunt ingeneem en kon gou inskakel by sy nuwe kollegas se alternatiewe maniere om riskante werk self uit te gee en te versprei en sodoende gewone beheerkanale te vermy.
“Ons vriendskap was spontaan. Gerrit het by die Miles-gesin huisvriend geword. So ook by die Lindenbergs en by die Ampie Coetzees. Ek onthou, onder veel vrolikheid, Gerrit se aanhalings uit die aforismes van Stanislaw Lec en sy voorliefde vir die werk van Thomas Bernhard. In die vroeë jare het ons ook saam vakansie gehou. So hoor ons toevallig een aand in 1982 oor die radio by Kosibaai se mere dat Breyten onverwags vrygelaat is. Nie een van ons was in die voorafgaande sewe jaar toegelaat om enigsins met hom kontak te hê nie. […]
“Wat ’n voorreg was dit om Gerrit as gespreksgenoot te kon hê. My medelye gaan veral uit na die Lloyd-Olivier-familie.” (LitNet, 16 September 2026)
- Ena Jansen:
Oor Ena Jansen en Gerrit se verblyf saam in Nederland: “Ek en Gerrit het mekaar enkele jare later in Utrecht veel beter leer ken. Ek was al besig met ’n doktoraal in teoretiese literatuurwetenskap toe hy Nederlandse letterkunde aan die oorkant van die Ramstraat by Instituut de Vooijs kom studeer het. […] So gou ons kon, het ons albei Amsterdam toe verhuis, waar ek op die Keizersgracht en hy op die Herengracht gebly het, in die agterhuis van ’n man wat Jamaika se erekonsul en rum-importeur was; ook het Gerrit tydelik die flambojante Neerlandikus Ton Anbeek se appartement bewoon.
“Hier het ons mekaar deur dik en dun meegemaak; die komplikasies gedeel van verliefdhede, selfs vlugtig op mekaar. Saam met Marlene van Niekerk, wat filosofie en antropologie studeer het, en Marius en Irene Vermaak, het ons ’n tyd lank elke middag in die Vondelpark gaan draf, baie oor en weer gekook. Ook uitgebreide Kersetes. Baie gerook, baie wyn gedrink. Sy eksemplaar van Kook en geniet wat sy ma nog vir hom gegee het, het hy later vir my gegee. Voorin is ’n hele rits inskripsies oor en weer.
“Gerrit was groot sports, maar ook wys, op ’n manier ouer as sy jare. Hy was tegelyk kalm, altyd radikaal en uitdagend, nie net slim nie, maar ’n denker. Op ’n stadium het ons ’n Wittgenstein-groepie op die been gebring; Andries Gouws uit Utrecht het dit kom versterk. Gerrit het ’n vriendin gehad, Leonoor Oversteegen, wat my studieleier, Jaap Oversteegen, se dogter was. Ek onthou hoe lief Jaap en Suna vir Gerrit was. Ek en Gerrit het vir die Piete, soos ons Peanuts Swanepoel en Pieter Fourie genoem het, in Antwerpen gaan kuier. Ons is na Bob Dylan se konsert in die Feyenoord-stadion in Rotterdam. Hoe ons orals rondgerits het, kan ek nie onthou nie. Met die trein en fietse. Wel was daar ook ’n hele paar Volksies tussen ons vir verder ry.”
Oor Johannesburg: “Gerrit is van ons klomp die eerste terug Suid-Afrika toe, Wits toe. Sy afstudeerpartytjie onthou ek tot vandag. ‘Broken English’ van Marianne Faithfull was net uit en is voortdurend gedraai. Ons was jonk, maar ‘The ballad of Lucy Jordan’ het ons byna desperaat saamgesing.
“Ek het destyds 10 jaar lank in Nederland gebly; wou vanweë die politiek nie teruggaan Suid-Afrika toe nie. Vroeg in 1984 is Anita Lindenberg oorlede en is ek gevra om so gou moontlik te kom. Ek dink Gerrit het baie hiermee te doen gehad. Ek is oorreed om na die wildvreemde Johannesburg te gaan, waar ek in Julie 1984 beland het, vasbeslote om net vir ’n halfjaar te bly. […]
“Wanneer ek Willie Burger se In memoriam-stuk op LitNet lees, besef ek hoe arrogant ons dalk was, dat ons onsself as uitverkore, die beste, beskou het. Daaroor was immers geen twyfel moontlik nie! Ernst Lindenberg was hoof van die departement. John Miles, Ampie Coetzee en Gerrit was die ander letterkundiges; ook John Kannemeyer was daar vir ’n ruk. Later het Marlene van Niekerk bygekom, ook Wilhelm Liebenberg. Edith Raidt was professor in taalkunde. Daar was ook Mari Lätti, Anna Coetzee, Fred Pheiffer vir ’n ruk.
“Met teësin, en byna asof ons Troje of Dingaanstat moes betree, het ons ons soms oor die boereworsgordyn Pretoria toe begewe. Alles suid van die Vaal het ons ook met agterdog bejeën, en tog uitstekende samewerking met party kollegas oraloor gehad. By Wits het ek 16 baie gelukkige jare deurgebring; Gerrit het sy hele lewe aan Wits gewy.
“Gerrit was my lojale vriend, maar ook my kollega, jonger as ek en reeds meer senior toe ek by Wits aankom. Wie dosent en wie student was, het nooit tussen ons saak gemaak nie.
“Toe Ernst Lindenberg aftree, het Gerrit oorgeneem as jong professor. Vir sy werksonderhoud het ons in Hyde Park vir hom ’n donkerblou Hylton Weiner-pak gaan koop. Deur die jare moes hy steeds meer formele dinge doen en het ek dikwels dasse vir hom gekoop.
“Gerrit kon verstrooid wees, maar veral was hy gefokus, selfs stadig. En dit, dink ek, is hoekom hy so baie gedoen gekry het, waarom mense sy aandag vir hulle en hulle tekste so direk ervaar en waardeer het. Ek onthou sy klein, effe bewerige handskrif. Sonder om ooit ’n afkorting te gebruik, nogal omslagtig het ek soms gedink, sou hy presies en puntenerig kommentaar lewer op jou werk. Slow scholarship, slow thinking – dit alles was deel van sy manier van doen. Toe al. Terwyl hy ook blitsvinnig kon tik, met daardie effe krom wysvingers. Veral onthou ek hoe hy Taurus se setmasjien in die agterkamerkantoor op sy erf in Mayfair kon hamer. […]
“Ek onthou ook hoe hy sy arms kon vou, ’n bietjie opgekrul sit, dink en dan eers begin praat terwyl hy jou stip aankyk, met effens wasige oë. Ja, Gerrit het ’n baie spesifieke lyftaal gehad, wat ek sonder ’n oomblik se aarseling kan oproep, wat ek sal mis. Selfs al het ek hom die afgelope jare min gesien, en daarom ’n tyd lank al begin mis het. Hy was wys, rustig maar ook ongedurig; radikaal maar deurdag; grappig – niemand kon grappe vertel soos hy nie. Hy was uitdagend, ’n ware intellektueel. […]
“Ja, Gerrit was my vriend, my kollega en ondersteuner deur dik en dun.
“Ons laaste gesprek was toe hy plek help soek het vir ’n Kaapse vriendin wat Johannesburg toe sou trek. Sy laaste woorde was ‘Dankie Ena’ nadat ek hom per WhatsApp op 13 April met sy 72ste verjaardag geluk gewens het.
“Sy lewe het tot ’n abrupte einde gekom. Nooit weer sal hy ’n grap vertel of op sy effe verleë manier lag nie. Sy arm om my skouer sal ek altyd onthou. Sy gelate én sy uitgelate lag. Gerrit was my vriend.” (LitNet, 22 September 2026)
Oor Gerrit se jare ná sy aftrede skryf Ena Jansen in haar huldeblyk op LitNet: “Die afgelope jare, ná sy aftrede by Wits, het Gerrit in die belewing van baie van sy vriende stiller geword, meer afwesig en op ingekeerde paaie waar steeds minder vriende toegelaat is.
“Hy was met sy eie dinge besig, skryfwerk wat hy met min mense gedeel het. Gerrit het wel gereeld bydraes gelewer tot Binne+Land, waarin hy dikwels oor persoonlike herinneringe geskryf het, onder meer oor ’n vakansie van die gesin van vyf kinders wat in ’n volgepakte Pontiac Parisienne en wiegende karavaan afgery het Kaap toe. Die Kaapse vakansie was vir sy pa ‘’n donker nag van die siel waarvan hy nooit herstel het nie; […] die kordate en energieke man […] is vervang deur ’n vrome, bedagsame burger.’
“’n Mens kan nie anders nie as vermoed dat Gerrit se eie skeppende skryfwerk deur sy onverwagte dood gefnuik is.”
Kerneels Breytenbach het sy huldeblyk van Gerrit Olivier afgesluit met die slotparagrawe uit Gerrit se ongepubliseerde bundel Nadae in die laaste stuk, “Fenomenologie van die alleenstaande”. Hierdie is vir Breytenbach ’n “merkwaardige blik op Gerrit se gees”: “Mense wat die daagliksheid van ’n huis met mekaar deel, weet dat daar weke kan verbygaan sonder ’n opsienbarende gebeurtenis; hulle weet dat die lewe grotendeels uit beuselagtighede bestaan. Hulle het geduld; hulle kan wag – en hulle kyk skeef op as die alleenstaande lostrek om elke oomblik vol te praat. Vir hierdie samesyn het hy voorsiening gemaak in sy druk program, en alles wat in hom vergaar het, wil hy oordra – vreeslik mededeelsaam, maar miskien ewe onverdraagsaam teenoor diegene wat nie nodig het om alles op te spaar nie. Die intense kommunikasie waarna hy verlang, is waarskynlik net in boeke te vinde, nié om die vuurherd nie. Maar boeke, so weet ons uit ervaring, hou jou net tydelik soet; as jy hulle klaar gelees het, ontstaan daar ’n behoefte om jou gedagtes met iemand te deel.
"Ek het gehoop om die een of ander slotsom te bereik, maar nou skiet niks my meer te binne nie." (Binne+Land, 3 Oktober 2026)
Publikasies
|
Publikasie |
Praktiese Nederlands. Saam met Ena Jansen |
|
Publikasiedatum |
1986 |
|
ISBN |
0868742368 (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
|
Literêre vorm |
Taalkunde |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Ongerymdhede |
|
Publikasiedatum |
1987 |
|
ISBN |
9780798623643 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
|
Literêre vorm |
Sketse |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
NP Van Wyk Louw: literatuur, filosofie, politiek |
|
Publikasiedatum |
1992 |
|
ISBN |
9780798130691 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Letterkunde |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
1993 Recht Malan-prys vir Nie-fiksie |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
aantekeninge by Koos Prinsloo |
|
Publikasiedatum |
2008 |
|
ISBN |
9781919985312 (sb) |
|
Uitgewer |
Stellenbosch: Rapid Access Publishers |
|
Literêre vorm |
Bespreking van Koos Prinsloo se kortverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Gerrit Olivier as LI Bertyn
|
Publikasie |
Lekkerkunde. Saam met Markus de Jong |
|
Publikasiedatum |
1983 |
|
ISBN |
0620077220 (sb) |
|
Uitgewer |
Emmarentia: Minotaurus |
|
Literêre vorm |
Rubrieke |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
Gerrit Olivier as redakteur
|
Publikasie |
Penny Siopis: Time and again |
|
Publikasiedatum |
2014 |
|
ISBN |
9781868146956 (hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Wits University Press |
|
Literêre vorm |
Memoir |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
2017 finalist of the Creative Collections category at the Humanities and Social Sciences Book Awards |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Gerrit Olivier as vertaler
|
Publikasie |
Place of slaughter and other stories: Koos Prinsloo |
|
Publikasiedatum |
2022 |
|
ISBN |
9780639837208 (sb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Fourthwall Books |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Artikels oor en deur Gerrit Olivier
- Award for Afrikaans research. Bron onbekend, September–Oktober 1994
- Breytenbach, Kerneels: Die verhaal van ’n alleenstaner. Binne+Land, 3 Oktober 2026 (slegs vir lede)
- Burger, Willie: Gerrit Olivier: ’n persoonlike huldeblyk. LitNet, 16 September 2026
- The death of Emeritus Professor Gerrit Olivier. University of the Witwatersrand, 14 September 2026
- Durr, J-L: Ope brief aan Meneer Kattekwaad: Gerrit Olivier. De Kat, Desember 1985 – Januarie 1986
- Hambidge, Joan: Doebel [gedig]. Binne+Land, 3 Oktober 2026 (slegs vir lede)
- Jansen, Ena: Gerrit Olivier 1954–2026. LitNet, 22 September 2026
- Kannemeyer, JC: Antwoord aan Gerrit Olivier. Tydskrif vir Letterkunde, Februarie/Mei 1996
- Lategan, Herman: “Sy sagte hart het my lewe verryk”. Binne+Land, 3 Oktober 2026 (slegs vir lede)
- Lion-Cachet, Francois: Gerrit Olivier oor sy vertaling van Koos Prinsloo se skryfwerk. Klyntji, 14 Desember 2022
- Meiring, Jean: Gerrit Olivier verrys uit die verhale van sy jare lange vriende. Netwerk24, 12 Oktober 2026
- Miles, John: Gerrit Olivier is nie meer by ons nie. LitNet, 16 September 2026
- Olivier, Gerrit:
-
- Afrikaans and South African literature. Journal of Literary Studies, 1995
- Begroet die lanterfanter (naas ’n Dilemma). Binne+Land (slegs vir lede)
- Blaarslaai en blouseep [resensie van Antjie Krog se Otters in bronslaai]. Binne+Land, 10 Oktober 2026 (slegs vir lede)
- Bullshit as politiek. Binne+Land (slegs vir lede)
- By die lees van JC Kannemeyer. Tydskrif vir Letterkunde, Februarie/Mei 1996
- Die filosofie van fietsry. De Kat, Desember 1985 – Januarie 1986
- Die laaste viering van somersheid. Binne+Land, 10 Oktober 2026 (slegs vir lede)
- Die voortbestaan van die boer. De Kat, September 1985
- Does imagination have a place in the Academy? [toespraak]
- “Eindelik dood en stil het hulle gedink ek is”: ’n huldeblyk aan Ryk Hattingh. LitNet, 19 Oktober 2017
- Koos Prinsloo’s “New World”. Journal of Literary Studies, 2019
- LitNet Akademies-resensie-essay: Soos familie deur Ena Jansen. LitNet, 11 Mei 2016
- Maak die klip klipperig. Binne+Land (slegs vir lede)
- Noodtoestande [rubriek]. Die Kat, Februarie 1986
- Nooitgedacht en die enkele foto. Binne+Land (slegs vir lede)
- Om hulde te bring aan Koos Prinsloo. LitNet, 2 April 2008
- Om oor die natuur te skryf. Binne+Land (slegs vir lede)
- Ondeursigtige deursigtigheid. Binne+Land (slegs vir lede)
- Oor pa, en daardie Kaapse vakansie. Binne+Land (slegs vir lede)
- Panyaza Lesufi en Jozi se politiek van skaamte (+ ’n Dilemma). Binne+Land (slegs vir lede)
- ’n Requiem vir Gaza + ’n (on)ware Dilemma. Binne+Land (slegs vir lede)
- The Dertigers and the plaasroman: two brief perspectives on Afrikaans literature. Cambridge University Press, 28 Januarie 2012
- Weg is julle! (+ Dinsdag se verdwaalde dilemma). Binne+Land (slegs vir lede)
-
- Pople, Laetitia: Letterkundedosent en kritikus Gerrit Olivier sterf. Netwerk24, 14 September 2026
- Van Rooyen, Morné: Op hierdie dag. Facebook, 13 September 2026
Gerrit Olivier se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2026-10-27 gepubliseer.
Bron:
- Knipselversameling van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel (Wyno Simes en Annelien Diedericks) vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


