“Geroepe” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Geroepe
Die Statenbijbel lê groot en gewigtig op die podium waaragter meneer Pannevis staan. Hy tik met sy stokkie op elke woord wat hy lees. So asof hy dit vir homself moet uitwys.
“Zeg het met mij!” beveel hy. “Gelijk een wervelwind voorbijgaat, alzo is de goddeloze niet; maar de rechtvaardige is een eeuwige grondvest. Spreuken tien vers vijfentwintig.”
Kyk nou net hoe vroom trek Willem sy gesig terwyl hy saam met die res van die klas gehoorsaam agter die onderwyser aanpraat. ’n Mens sou sweer hy verstaan elke woord.
Albert snork verontwaardig en skrik toe almal in sy rigting kyk. Meneer Pannevis ruk sy skouers terug en stap met besliste treë op hom af.
“Bezuidenhout! Staan!”
Dit help nie om teë te stribbel nie. Met al die oë afkeurend op hom gerig, staan Albert uit sy bank uit op.
“In hierdie skool word daar van elke jongman verwag om die hoogste agting vir Gods Woord te hê!” dreig Arnoldus Pannevis.
“Ek is jammer, Meneer.”
“Besef jy watter voorreg dit is om onderrig in jou taal te ontvang, Albertus Bezuidenhout?”
Miskien was dit die verligting daarvan dat die onderwyser besluit het om hom nie verder in Hooghollands aan te spreek nie, of dalk die groot teleurstelling in homself dat hy verkeerd by God gehoor het oor sy roeping, maar Albert kon later nie met sekerheid sê wat hom besiel het om die antwoord te gee wat hy gegee het nie.
“Dit is nie my taal nie, Meneer.”
Iemand proes.
Meneer Pannevis se oë word groot, maar dit wat hy Albert wou toesnou, steek op sy tong vas, en die volgende oomblik frons hy asof daar ’n raaisel voor hom staan.
Sy stem is sag wanneer hy uiteindelik weer praat: “Nee, dat is het niet.”
Almal weet hoe vinnig en ywerig die Nederlander geleer het om soos hulle te praat vandat hy verlede jaar hier aangeland het. Dit laat Albert net nog slegter voel.
“Bezuidenhout, verduidelik asseblief hierdie Skrifgedeelte aan ons. In jou taal.”
Die onderwyser staan asof hy wag op die uitslag van ’n eksperiment.
“My taal, Meneer?”
“Jy sê Hollands is nie jou taal nie. So verduidelik dan vir ons in jóú taal. Soos wat jy praat.”
“Ek kan nie, Meneer,” bieg Albert.
“Dat kun je niet.”
“Nee, Meneer. Ek is regtig jammer, Meneer.”
Meneer Pannevis kyk Albert lank en stil aan voordat hy omdraai en stadig terugstap na die podium toe.
Weer agter die Statenbijbel, dwaal sy blik ingedagte oor die seuns voor hom. “Gelijk een wervelwind voorbijgaat, alzo is de goddeloze niet; maar de rechtvaardige is een eeuwige grondvest. Wat beteken dit? Enige iemand?”
Niemand waag dit om op te kyk nie. Albert verskuif sy gewig, onseker of hy weer mag sit of nie.
“Du Toit?” vra meneer Pannevis.
Stephan spring soos ’n soldaat regop. “Ja, Meneer?”
“Jy sal seker vir my kan sê?”
“Ik weet het niet zeker, Meneer. Het is moeilijk.”
“Soos jy praat, Du Toit. Antwoord my in jou spreektaal,” beveel meneer Pannevis.
Die jongman trap ongemaklik rond en herhaal dan sy sin versigtig: “Ek is nie seker nie, Meneer. Dit is moeilik.”
“Ja, dit is,” stem meneer Pannevis saam, “maar probeer.”
Stephan sluk eers ‘n paar keer voordat hy antwoord. “Ek dink hier word gepraat van ’n warrelwind wat die goddeloses wegwaai, Meneer.”
Meneer Pannevis knik. “Naby genoeg. En die regverdiges?”
“Hulle staan vas, terwyl die goddeloses nie staande kan bly tydens moeilikhede nie. Dit is wat ek dink, Meneer.”
“Jy dink reg, Stephanus. Jy mag maar weer sit,” sê die onderwyser.
Stephan gaan sit hoorbaar verlig. Hy is die oudste in die klas, en die enigste een wat privaat lesse by Arnoldus Pannevis ontvang. Dit sou ’n skande gewees het as hy nie die Skrifgedeelte reg kon interpreteer nie.
“Bid jy dan nie in Hollands nie, Albertus?”
Die vraag vang Albert onkant.
“Ek dink nie hy bid juis nie, Meneer,” kom Willem se stem, en ’n paar ouens lag.
Meneer Pannevis ignoreer die opmerking. “In watter taal bid jy?” vra hy weer.
“In Hollands, Meneer,” jok Albert.
“Goed. Wilt u dan alstublieft afsluiten met een gebed voor ons?” vra die onderwyser.
Albert maak asof hy nie die grynslag op Willem se gesig raaksien nie. Hy knik ewe vroom en maak sy keel saaklik skoon.
Dan versoek hy in sy beste predikantstem: “Buig alstublieft uw hoofd.”
Almal staan eerbiedig op, vou hulle hande en laat sak hulle koppe. Albert se hart wend ’n poging aan om by sy keel uit te bars. Dit is die eerste keer dat hy gevra word om af te sluit. Sy brein werk teen ’n spoed om die woorde agtermekaar te kry uit wat hy onthou van ’n leeftyd se geluister na hoogdrawende gebede.
Iemand hoes ongemaklik, en hy sien hoe Stephan vinnig opkyk en bemoedigend vir hom knik. Willem loer deur een oog na Albert en onderdruk ’n lagbui. Deksels!
“Here,” begin hy, net om iets te sê sodat Willem weer sy oë moet toemaak. “Heer, wij danken U voor deze dag.”
Na ’n lang stilte eindig hy met: “In Christus Jezus’ Naam, Amen.”
“Amen,” koor die res van die klas agterna.
Albert het sy goed bymekaar nog voordat die “n” behoorlik weggesterf het, en dit verg selfbeheersing om nie by die klaskamerdeur uit te storm nie. Hy is egter nie vinnig genoeg nie, want skaars buite word hy hard deur Willem geskouer.
“O! Jammer! Ek het jou nie raakgesien nie,” lag hy.
“Word groot, Willem,” brom Albert.
“Vreeslike lang gebed wat jy daar gebid het, broer. Ek’s trots op jou!”
Hy’t langs Albert ingeval en drafstap saam. “Maar laat my toe om jou nog so ’n paar sinne by te leer op pad huis toe. Jy weet? Vir volgende keer wanneer Pannevis jou op jou plek sit.”
Albert wens hy kan Willem nou takel en dit uitstoei, soos toe hulle klein was. Maar hulle is nie meer klein nie, en sulke gedrag word nie op die Gimnasium se gronde geduld nie.
Hy stop so skielik dat Willem weer in hom vasloop. Hierdie keer regtig per ongeluk.
“Is jy seker jy wil predikant word?” vra Albert.
Willem is dadelik meer ernstig. “Man, jy weet mos. Dis ’n roeping.”
“Ja, en dis waarom ek vra. Hoe weet jy jy’t reg gehoor?” wil Albert weet.
Hy kan sien hoe Willem sukkel om ’n antwoord iewers uit te krap.
“Haai! Ouens! Wag vir my!”
Dis Stephan wat aangedraf kom. In sy hand wapper ’n bladsy.
“Pannevis het gevra ek moet hierdie vir jou gee, Albert. Dis ’n opdrag.”
“Strafwerk omdat jy so voor op die wa was!” lag Willem.
Albert gee hom ’n skuinsklap teen die bors voordat hy die bladsy by Stephan vat. In sy netjiese handskrif het meneer Pannevis die Bybelvers wat alles begin het, boaan die bladsy neergeskryf.
“Nou wat moet ek hiermee doen?” wil Albert vies weet.
“Seker honderd keer uitskryf, ouboet,” reken Willem.
“Nee, net een keer. Maar soos wat jy praat,” antwoord Stephan.
“Ekskuus?”
“Meneer Pannevis het gevra dat jy hierdie vers moet oorskryf soos wat jy praat.”
“Vir wat?”
Om hom verder te verneder? Te wys hoe ondergeskik sy spreektaal aan Hooghollands is?
“Ek dink hy wil dit gebruik in sy navorsing,” antwoord Stephan.
Willem vind dit baie snaaks, maar Albert is nou behoorlik omgekrap. “Hy wil my gebruik vir navorsing?”
“Nee, jy verstaan verkeerd, Albert. Die man is op ’n missie,” paai Stephan.
“Watter tipe missie?” wil Albert weet.
Skielik laat sak Stephan sy stem. “Julle moet sweer julle sal nie oorvertel wat ek nou gaan sê nie.”
“Ons sweer!” antwoord Willem ywerig.
“Meneer Pannevis wil bewys dat ons ons eie taal praat.”
Albert kan nie juis iets hierop terugsê nie. Dit was immers hy wat so ewe braaf genoem het dat Hollands nié sy taal is nie.
“Hy sê jy’t hom net weer laat besef dat ’n Bybel in Afrikaans-Hollands nodig is, Albert.”
“Afrikaans-Hollands?”
“Ja, dis wat hy sê ons praat,” verduidelik Stephan.
“Afrikaans-Hollands,” herhaal Willem sag.
’n Heilige stilte daal oor die drie seuns neer. Rondom hulle word die naam gefluister. In die geritsel van die blare bokant hulle koppe, verby die veldgras oor die koppie, en tot waar die berge in die verte dit majestueus terug-eggo.
“Maar voordat dit kan gebeur, moet daar eers bevestig word dat Afrikaans-Hollands wel ’n taal op sy eie is. Verstaan julle?”
“En hoe is ek nou veronderstel om in Afrikaans-Hollands te skryf?” wil Albert weet.
Tog is daar ’n effense opgewondenheid wat aan sy siel kom pluk. Amper soos wanneer ’n kind aan die soom van sy ma se voorskoot pluk om haar aandag te probeer kry.
“Ek dink meneer Pannevis hoop stilweg dat jy sal weet hoe,” is al wat Stephan sê voordat hy groet en wegstap.
Albert staar hom agterna.
“Nou’t jy moeilikheid,” grinnik Willem.
“Ek sal dit maar moet probeer uitpluis,” trek Albert sy skouers op.
Hy voel iemand se oë op hom en draai terug na waar Arnoldus Pannevis by die klaskamervenster staan en uitkyk.
Albert lig die bladsy en knik sy kop uit erkenning van die opdrag wat die onderwyser aan hom gegee het. Meneer Pannevis knik terug, en Albert verbeel hom daar is ’n blinkigheid in sy oë voordat hy vinnig wegdraai.
“Ons beter seker by die huis kom sodat jy kan begin, Albertus Bezuidenhout,” snorklag Willem.
Hy begin aanstap, maar stop dan in sy spore en draai met ’n frons terug. “Wag. Waarom wou jy netnou by my weet of ek regtig predikant wil word? Twyfel jy in jou roeping?”
Albert antwoord nie dadelik nie. Hy kyk na die berge van waar hy nog die naam hoor terug-eggo. "Afrikaans-Hollands. Afrikaans.@
“Weet jy, Willem, ek dink die Here roep op baie verskillende maniere,” sê hy uiteindelik.
“So, jy twyfel nie?” maak Willem seker.
“Glad nie meer nie,” antwoord Albert.
Hy bêre meneer Pannevis se opdrag in sy boekesak – versigtig dat dit nie moet vou nie – en glimlag by homself. Hy’t nog altyd gewonder hoe dit moet voel om aan die rand van iets merkwaardig te staan.
Mens weet nooit. Miskien skryf hy wat Albert is, vandag nog die heel eerste Bybelvers in Afrikaans neer.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie