Gerald Clark se Follow the River: buite die blues-boks

  • 0

Gerald Clark se jongste album, Follow the River, behoort die klankbaan vir ’n somerromanse te wees. Die liedjies maak dat jy in die kar wil spring en ry tot jy die horison tref. Dit herinner jou aan laat aande op die strand en luilekker middae onder 'n boom, saam met jou nooi ...

Met hierdie album wil Gerald jou nie op sy perd saal en op 'n lekker stowwerige ride vat nie. Gerald steek die kerse aan, want dié cowboy wil 'n spesiale meisie bekoor. Dis pure romance en hy is nie bang om 'n besonderse weerloosheid te ontbloot nie. Tog getuig die lirieke van 'n man wat weet wat hy wil hê. Die mellow kitare staan terug vir Gerald se stem en dis mooi.

Follow the River
is minder blues en meer country soul. Dis 'n samestelling van liedjies uit Gerald se pen wat nie in die blues-boks pas nie. Dis nie die tipe album wat jy in 'n rokerige kroeg sal teëkom nie, want Gerald wys vir ons 'n ander, sagter kant van sy musikale talente.

En ten einde kry hy reg wat hy van die begin af wou bereik met die finale snit, waar die ridder op sy perd 'n ring aan die nooi se vinger sit met "Marry me". Gerald, ek sê 100 keer ja.

Foto: Adriaan Louw

Chrizane van Zyl en Gerald Clark gesels ...

Hi Gerald. Daar is reeds Kersfeesversierings op Checkers se rakke, kan jy dit glo? 2013 was nogals 'n besonderse jaar vir jou, of hoe?

Hi, ja inderdaad! Ek het begin met die nuwe album, Follow the River, se opname en ’n hele aantal optredes wat vir my gepeak het by die Kleinmond Blues Festival. En toe is ek oor na Czech Republic vir ’n maand lange toer om my blues-album Black Water te bemark. Ek het 20 shows in 20 dae gespeel, dit was ongelooflik! Verder het ek op en af getoer en my show saam met Luna Paige het ook baie goed gegaan. Ek is nou uiteindelik weer tuis ... en dit vir ’n hele maand by my huis op die plaas in Stellenbosch! Baie gelukkig en geseënd.

Jy het verlede jaar 'n stemoperasie ondergaan. Hoe voel die stembande deesdae? En hoe gaan dit met die vocal training?

Gaan goed dankie. Ek doen darem my opwarm-oefeninge. Daar was onlangs so baie optredes dat ek so effe afgekoel het met die daaglikse stemoefeninge. Beste ding vir stem is rus.

Lees Henry Cloete se onderhoud met Gerald oor sy stemoperasie.

Voor ons oor jou nuwe album gesels, ek sien jy is betrokke by die Fast Forward Fund vir kinders met fetale alkoholsindroom. Vertel ons meer en waarom het jy gekies om hierdie projek te ondersteun?

Ek ry al perd deur die wynland vir ’n geruime tyd. Tesame met my betrokkenheid by Beyerskloof se Faith Fund het ek gesien watter effek fetale alkoholsindroom op onskuldige mense se lewens het. Perde het my persoonlik ook al deur moeilike tye gedra en so het dit my stelselmatig na die idee toe gelei.

Ek het toe besluit om saam met Susan Louw en Magda Malan van Jade & Velvet-klereboetiek die Fast Forward Fund te stig om geld in te samel vir kinders met fetale alkoholsindroom.

Ek wil ’n verskeidenheid konserte doen saam met ’n paar ander musikante om genoeg geld in te samel en dan sodoende ’n paar kinders wat gehelp en gerehabiliteer kan word deur die Equitots program te sit vir ’n tydperk van ’n jaar. Die program behels perdrylesse wat FAS-lyers help deur te fokus op hulle fisieke en kognitiewe ontwikkeling.

Jou nuwe album het 'n effens anderse "feel/sound" as die vorige een, Black Water. Of het ek verkeerd geluister?

Dis ’n fyn waarneming! [Glimlag] Jy is reg. Follow the River het ’n effe meer country soul-klankie aan hom. Black Water sal ek bestempel as ’n blues-album. Hierdie nuwe album het baie meer radiovriendelike deuntjies wat nou al die hele land vol speel. Ek is baie tevrede dat my musiek ook nou aan ’n groter gehoor bekendgestel word. Dit was liedjies wat ek oor ’n paar jaar versamel, asook nuwes wat nie die blues mould gepas het nie.

Ek sien perde in meer as een van jou musiekvideo’s, en met albumtitels soos Black Water en Follow the River kan ek nie anders as om te wonder nie: Waaroor gaan die connection met water en perde vir jou?

Twee sterk siele wat nie geforseer kan word nie, veral as jy die hoogtes wil bereik wat hulle versinnebeeld.

Sommige van die songs is ouer liedjies wat jy nou eers op 'n album vasgevang het, en ander is spesiaal vir die album geskryf. Hoe het jy te werk gegaan en wat was jou bedoelinge met Follow the River?

Follow the River is ’n versameling van liedjies wat ek nie in my blues-loopbaan kon inpas nie. Met die opname van die album het die liedjies hulle eie rigting gevind – ek voel die album is baie divers en elke song staan sterk uit op sy eie met sy eie eienskappe en gevoel.

Wat was die grootste uitdaging om hierdie album die lig te laat sien?

Alles het gelukkig sag en mooi en glad saamgevloei.

Wanneer gaan jy ’n paar nuwe Afrikaanse nommertjies skryf?

Definitief volgende jaar! Ek is reeds aan die skryf aan ’n nuwe Afrikaanse album. Baie bly jy vra my.

Wanneer gaan jy jou Kersboom opslaan en waar gaan jy die somervakansie deurbring?

Ek het ’n groot boom buite my cottage waar ek woon op die plaas buite Stellenbosch. Sal maar ’n paar liggies daar span. My somervakansie begin eers in Januarie – ek gaan op toer wees langs die kus tot en met dan.

Waar kan mens jou albums in die hande kry?

Al my albums kan deur my reklameagent, Ice Carstens, bestel word by icecarstens@gmail.com. Dis ook beskikbaar by Classix on CD in Stellenbosch. En aanlyn kan dit bestel word deur iTunes.

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top