Gerald Clark: "Ek't besef my stem het opgepak."

  • 1

Die bekende Blues-sanger Gerald Clark het onlangs ’n operasie ondergaan wat sy stem in só ’n mate affekteer dat hy vir ’n geruime tyd nie sal kan sing nie. Henry Cloete het hom per e-pos uitgevra oor die situasie.

Hoesit Gerald, hoe voel die stembande vandag?

Dit was effe gevoelig op die tweede dag na die operasie ... seker toe al die pynpille en narkose uitgewerk het. My stembande voel eintlik uitgerus na ses dae van stilswye!

Wat presies is dit wat probleme gee met jou stem? Wanneer het jy dit agtergekom en hoe het dit mettertyd tot die operasie gelei?

Ek kon ewe skielik nie meer pitch nie en ook nie die note raakslat wat ek gewoonlik tref nie ... ’n eksponensiële heesheid het oor my stembande gaan lê soos mis. Ek't aanvanklik gedink dis omdat ek ’n verkoue het en gerook het vir so ’n paar maande. Dit was werklik ’n besige ses maande met baie toere na onder andere die VSA. Min slaap en baie optredes. Ek't ook persoonlike stres gehad vir so ’n maand voor die heesheid. Ek het die 30ste Junie (my verjaardag) opgehou rook en baie water en rooibostee met heuning begin drink. Ek het ook die homeopatiese paadjie gevolg. Ek is toe Grahamstad toe vir drie shows, wat maar ’n stryd was. Ek't besef my stem het opgepak. Ek't ’n afspraak by dr Lood Rabie in Stellenbosch Medi-Clinic gemaak en hy het toe ’n kamera by my keel af gedruk. Hy was baie bekommerd oor wat hy daar gesien het. Dit was nie ’n nodule of ’n poliep nie. Dit het vir hom kwaadaardig gelyk en hy het voorgestel dat ons so gou as moontlik die groeisel verwyder en dit stuur vir ’n patologiese evaluering. Die uitslae het in my guns getel – geen kankerselle in die groeisel nie!


Foto: Yesterfang

Reken jy daar is iets aan jou vocal styl/tegniek wat tot die probleem gelei het? Hoe beskryf jy jou styl en sal jy dit moet aanpas?

 

Om eerlik te wees ... die stemband is ’n spier, nes ’n beenspier. Opwarming word vereis en oefening – dis waar ek gefaal het. Kontemporêre sangers is geneig om nie die regte sangmetodes te volg nie – dit is seker die kategorie waarin ek val. Ek't vir 13 jaar al gesing en die afgelope vier jaar omtrent 12 shows ’n maand gehandhaaf. Verlede jaar net in een maand, Februarie, 29 shows. Ek dink my fout was ’n kombinasie van inkorrekte sangtegniek en ooreising, maar het meer geneig na die ooreising van my stem. Die regte manier vir ’n professionele sanger om te werk te gaan is geen rook, alkohol of hard praat nie. Baie water en rus word vereis. As ’n mens slaap, vermeerder die bloedtoevoer na jou stembande en dit help met die herstel en rus van stembande. ’n Groot toevoeging tot die stembande se ondergang is sooibrand – reflux in Engels. Dit is baie sleg vir die stembande. So-o-o ... ’n Goeie dieet is ook noodsaaklik en as jy sukkel met reflux kan jy ’n voorskrif by die dokter kry.

Ek het ’n vocal trainer op Facebook gevind, Amanda Luyt, wat my gaan help om die regte sangtegniek aan te leer, ensovoorts. Ek dink my stem sal 40% beter wees as ek volkome herstel het, aangesien ek net twee derdes gebruik het op die einde. Dit het seker al twee jaar terug begin om te verswak.

Blues-musikante is soms berug vir ’n harde leefstyl. Sou jy dink jy het ’n verlede en/of ’n hede wat inpas (al is dit losweg) by hierdie persepsie? Kon dit (of dalk die gebrek daaraan) ’n rol gespeel het in die ontwikkeling van die stemprobleem?

Ek lag nou lekker! Die regte blues-manne is almal al dood ... BB King leef nog, dink ek. Hulle het harde lewens gehad, ja, maar dit was as gevolg van slawerny en armoede – en stede soos Chicago, Detroit, Memphis en New Orleans was seker nie ’n kinderkrans nie! Al wat oorgebly het, was ’n spul wit kinders wat blues probeer speel en van hulle het rockmusiek gekies. En baie van hulle se lewenstyle was oorlaai met decadence. Die musiekbedryf is besaai met laat, rowwe aande by ’n bar, by ’n fees of ’n afterparty. Ek't my deel al gedoen op daai front, ja ... en ek dink dit, saam met te veel shows (ooreising), het gelei tot my operasie. Sommige sangers se stembande is meer sensitief as ander, en as ek nou terugdink aan al die lang ure wat ek gesing het en die aantal shows wat ek moes doen om ’n lewe te maak daaruit, kan ek definitief sê my stem het baie goed gehou vir so lank. As ek verlede jaar net vir ’n check-up gegaan het, sou ek ook nie met hierdie probleem gesit het nie. Ek sal definitief van nou af een keer ’n jaar na ’n spesialis gaan vir ’n ondersoek.


Foto: Gillian Coetzee

Jy moes die bekendstelling van jou nuwe album, Black Water, asook die gepaardgaande toer uitstel weens die stemprobleem. Hoe voel jy hieroor? Wanneer sal jy wel die toer kan afskop en waar gaan jy oral aandoen?

 

Ek is teleurgesteld én verlig. Ek't nou ’n noodgedwonge ruskans! Die album launch gaan voort, maar dit gebeur nou op die 19de Augustus en dit word gekombineer met ’n benefit gig wat Luna Paige vir my reël. Drie maande sonder enige inkomste en geen manier om al die skuld te betaal wat ek gemaak het wat gepaard gaan met ’n album release (CD-printing, bemarking, posters, musiekvideo ens) nie, het my hard getref! Maar gelukkig het my vriende in die musiekbedryf besluit om my te help. Valiant Swart, Akkedis en Piet Botha, Karen Zoid, Jon Savage (Casette), The Parlor Vinyls, Ann Jangle, Boulevard Blues Band, Natasha Meister en Lua Union is al bevestig om te speel. Ek beplan om die vrystellingstoer einde Oktober aan te pak. Die bevestigde plekke waar ek sou speel was Bloemfontein (Aasvoëlklub), Welkom (Bekfluitjie Teater), Potch (Memphis Rock), Pretoria (Asbosteater, Railway Café en Café Barcelona), Johannesburg, Nelspruit (Die Stoep Teater), Clarens, Wakkerstroom, Aliwal-Noord, Jeffreysbaai, Knysna en Gordonsbaai. Daar is ook ’n Namibië-toer in November met die afloop van die nasionale toer.

Jy is al van omstreeks 1999 af (professioneel) betrokke by die blues. Dit is meer as 13 jaar – kan jy ’n paar hoogtepunte uitlig? Wat was die laagtepunte?

Blues-musiek het met my gepraat, onder haar vlerk gevat en my die geleentheid gegee om te leer om te kan kitaar speel, sing, komponeer en te kan waardeer wat eg is en die onderskeid te kan tref tussen die waarheid en iets wat aangeplak is. Ek't van 2004 af begin met ander projekte en met musikante werk in verskeie genres. My hoogtepunt is dit ... dat ek met van die land se beste musikante kon werk en speel en dit op baie van die grootste feeste in die land, asook klein, intieme venues wat die musiektoneel so lekker maak vir die fans! Wat ‘n eer! Theo Crouse, Albert Frost, Dan Patlansky, Schalk van der Merwe, Henry Steel, Schalk Joubert, Simon Orange, Adriaan Brand, Dave Ferguson, Willem Moller, Melissa van der Spuy, Piet Botha, Akkedis, Valiant Swart, Gian Groen, Kevin Gibson, Tim Rankin, Boulevard Blues Band, Blues Broers, Luna Paige, Van Coke Kartel, Peter Hoven, Stefan Dixon, Alvin Dyers, Nic Leroux ... en nog baie meer! Jazz, blues, country, rock ... als het my gevorm en geïnspireer om die musikant te wees wat ek nou is. My laagtepunt was dat Delta Blue nie betaal is vir ’n fees in Hermanus nie ... dit was in 2001 of iets! Haha! Ek het toe “Poorman blues” geskryf. Die song is op my Black Water-album.

Ek onthou hoe jy destyds op Stellenbosch met die trapfiets-kar toeriste rondgekarwei het. Hoe hou jy die pot aan die kook as jy nie musiek maak nie? Hoe winsgewend is die musiektoneel (en veral die blues-toneel) deesdae, vergeleke met toe jy begin het?

Ja! Dit was ’n harde dag. Ek't dit net een dag gedoen, as ek reg kan onthou! Snaaks dat jy my per toeval daai dag gesien het. Ek't op daai stadium nog geregistreerde wedrenne getrap – 140 km per wedren. Ek was superfiks. Dit was my laaste “real job” wat ek gehad het. Musiek het my baie lank aan die lewe gehou en die afgelope vier jaar het die pot baie goed gekook! Daar is gelukkig baie werk vir musikante wat by meer as een genre en projek betrokke is en bereid is om baie werk te aanvaar. Finansieel was dit baie goed vir my, maar dit het afbreuk gedoen aan my “brand” wat ek wou bou. Ek was oral! Toooo much of Gerald Clark ...

Jy beskryf die rigting wat jou nuwe musiek ingeslaan het as “country soul”. Vertel ’n bietjie meer? Wat behels dit en hoe verskil dit van jou ouer musiek?

Dis meer volwasse komposisies en daar is baie country-elemente in die song-strukture. My jare se ervaring op die blues-front en my unieke frasering voeg die soul by die country.

Jy is al lank aan die jam – sal jy ooit die kitaar finaal kan neersit? Wat hoop jy om nog te bereik in die tyd wat jy speel?

Hierdie afgelope sewe dae wat ek nie kon sing nie, het ek glad nie die stem by die plan van aksie gehad nie ... dus het ek net kitaar gespeel sonder die inmenging van sang. Ek't amper vier uur per dag gespeel ... en ek oefen nou meer as wat ek nog ooit geoefen het – iets wat ek al lankal moes gedoen het. Ek't nog nooit geoefen nie. Ek wil ’n vlak bereik in my beroep waar ek drie of vier maande ’n jaar kan oorsee speel en die res hier in Suid-Afrika. Ek gaan volgende jaar in die Czech-republiek optree op ’n 14-show-toer en hopelik in Augustus in New York. Ek't ook belangstelling van België aangaande my Afrikaanse komposisies. Daar is nog baie werk, maar ek hoop ek kan dit bereik.

Hoe sien jy jou klank en styl oor die volgende paar jaar ontwikkel?

Ek weet nie ... kom ons kyk. Dis die mees opwindende deel van dit als!!

  • 1

Kommentaar

  • Kan enige iemand miskien raad gee!Ek is al n paar jaar betrokke by my kerk se voorsangspan. Het onlangs agtergekom dat my stem hees raak by lang singsessies! Dis veral die hoë note waar my stem net heeltemal wegslaan! Kan iemand miskien help?!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top