Genoeg is genoeg

  • 2

Musiek, beweer dié wat weet, is die klankbaan van ons lewens. Soms sal die eerste note van ’n liedjie ons terugneem na ’n tyd, ’n herinnering wat betekenisvol was op ’n stadium in ons lewens. Soms spreek die lirieke tot ons wanneer ons nie weet wat om te sê, of hoe om dit te sê nie.

Soms gebeur daar dinge wat ’n absolute woordstilte tot gevolg het, en dan help dit om musiek te gebruik. Hierdie naweek het ek so ’n woordstilte ervaar toe ek twee name leer ken het wat ek waarskynlik onder ander omstandighede nooit van sou geweet het nie.

Thabang Mosiako. Abigail Meyer.

Die enigste rede hoekom ek nou van hulle weet, is dat hulle lewens, in twee verskillende voorvalle in twee verskillende dele van die land, met dié van gewetenlose kriminele elemente gebots het, met tragiese gevolge.

Abigail Meyer het gesterwe nadat daar tydens ’n motorkaping op haar geskiet is.

Thabang Mosiako is in ’n ernstige toestand in die hospitaal nadat hy deur tien mans aangeval was in wat lyk asof dit ’n rasgemotiveerde voorval was.

Vandag is almal hieroor geskok en dit word in mediaberigte in al die afgryslike besonderhede rapporteer. Volgende week is dit ou nuus, want iets nuuts het ons kom skok, iets anders het ons aandag kom trek. Dan is hierdie berig “Yesterday’s paper, telling yesterday’s news.”

Behalwe vir die Meyer-gesin, waar ’n plek aan die tafel leeg is, ’n stem stil kom word het. Behalwe vir die Mosiako-gesin, waar drome van ’n internasionale loopbaan in atletiek tot stilstand gekom het.

Daar is net sóveel wat ons kan skok voor ons aanbeweeg na die volgende skokkende ding. Daar is Zuma, die staatsrede, die EFF, die waterkrisis. Daar is soveel ander dinge wat ons lewens beïnvloed.

Ons het gewoond geraak aan misdaad. Dis ons nuwe normaal, ons alledaagse ervaring. Wat ons nie besef in hierdie nuwe normaal nie, is dat dit meer as besittings is wat gesteel word. Dis meer as lewens wat verlore gaan.

Ons verloor potensiaal. Ons verloor die potensiaal van die individu wat deur misdaad geraak is. Wie weet wat Abigail Meyer kon gedoen het as haar lewe nie so tragies beëindig was nie? Watter lewens kon sy nie beïnvloed het nie, watter hoogtes kon sy nie bereik het nie?

Elke keer as iemand sterf, sterf die potensiaal van ’n nageslag saam met daardie persoon. Elke keer as iemand aan die hand van ’n ander sterf, word die potensiaal van ’n nageslag koelbloedig, wreedaardig, doelbewus ontneem.

Dis onaanvaarbaar. Dit kan nie so voortgaan nie.

Dis nog te vroeg om te weet wat nou met Mosiako se atletiekloopbaan gaan gebeur. Maar wie weet wat dalk volgende maand kon gebeur het wanneer hy aan die Afrika-spele sou deelneem? Of in die toekoms, by ander byeenkomste wat hy nou noodwendig misloop?

Ons word nie net die potensiaal van die individu, of die potensiaal van hul nageslag ontneem nie. Ons verloor ook die potensiaal van ’n land wat tot nuwe hoogtes gelei kan word. Ons verloor die potensiaal van mense wat, oor rassegrense heen, mekaar kan sien sonder agterdog. Ons verloor die potensiaal van ’n ekonomie wat nie gedrewe is deur hoër mure en beter sekuriteitstelsels nie, maar deur langer tafels en gedeelde ervarings.

Ons verloor ons onskuld, keer op keer op keer. Ons verloor ons kapasiteit om empatie te hê. Net die wreedste, mees tragiese voorvalle trek nou nog ons aandag.

Ek het hierdie rubriek begin deur oor musiek te skryf. Bob Dylan se "Blowing in the wind" was een van die heel eerste liedjies wat ek jare gelede op skool op kitaar leer speel het. Hierdie naweek is ek aan die lirieke herinner. Dylan lewer snydende sosiale kommentaar deur ’n aantal vrae te vra en dit dan self te antwoord met die refrein “The answer my friend, is blowing in the wind, the answer is blowing in the wind.”

Daai tien mans wat Mosiako aangerand het, het nie ewe skielik besluit nou slaan hulle ’n swart man bewusteloos nie. Daar was tekens, daar was ander voorvalle, daar was goed gesê en gedoen wat iemand, iewers moes gewaarsku het dat hierdie dag sou kom. Ons het geleer om te maak asof ons nie sien wat aangaan nie. Wilful ignorance. Om hulle as studente te beskryf is belaglik. Dis ’n bende kriminele wat ’n misdaad gepleeg het en agter tralies hoort.

Die mans wat Meyer en haar kollega se voertuig geteiken het, het nie ewe skielik besluit nou gaan hulle ’n kar steel nie. Iewers het iemand aan hulle vuurwapens verkoop. Iewers het iemand gesien hier word ’n kar geparkeer wat nie behoort aan die mense wat die kar ry nie. Maar niks word gesê of gedoen nie. Wilful ignorance. Om historiese armoede die skuld te gee is onaanvaarbaar. Misdaad het ’n winsgewende besigheid geword. Dis ’n bende kriminele wat ’n misdaad gepleeg het en agter tralies hoort.

“How many times can a man turn his head, pretending he just doesn’t see?”

Te veel mense is gedood, vermink, beseer. Te veel mense loop met sielkundige letsels waarvan ons niks weet nie.

Wanneer gaan ons keelvol genoeg word om iets daadwerkliks te doen?

“How many deaths will it take till he knows that too many people have died?”

Ons kan nie wag vir die staat om iets te doen nie. Ons kan nie wag vir die polisie om te besef hulle het ’n plig nie. Ons kan nie wag vir politici om hulle magsspeletjies te laat staan en ons te help nie. Elkeen van ons het ’n keuse. Ons kan aanhou aanvaar dat dit nou maar is hoe dinge in Suid-Afrika is, of ons kan kies om in ons klein hoekie van die land ’n daadwerklike, positiewe verskil te maak.

“There’s only us, there’s only this. No other road, no other way, no day but today.”

Iewers moet ons ’n streep in die sand trek. Iewers moet ons besef die enigste persone wat ons samelewing kan verander, is ons. Ons is dit verskuldig aan die lang lyn slagoffers van misdaad. Meer as dit, ons is dit verskuldig aan onsself.

“If you’ve had your fill, get the check, pay the bill you can do it ... enough is enough is enough.”

Ons kan dit doen deur bitter te raak, of ons kan dit doen deur beter te raak en op te tree op ’n manier wat ander rondom ons help om beter te raak.

Vandag kies ek beter, en ek hoop jy kies dit met my.

  • Behalwe Bob Dylan se "Blowing in the wind", waarna ek direk verwys, het ek ook aanhalings gebruik uit Ralph McTell se "Streets of London", Jonathan Larson se "No day but today" uit die musiekblyspel Rent, en "No more tears (Enough is enough)” gesing deur Donna Summers en Barbra Streisand.
  • 2

Kommentaar

  • Chris Marnewick SC

    Wat jy nie noem nie, Bettina, is wat die onbeheerste geweld aan ons gemeenskaplike psige doen. Ons leef in vrees - wit en swart - in ons huise. Ons ry in vrees in ons motors. Ons slaap met rewolwers onder die kussing en ry met 'n pistool op ons skoot deur die aandverkeer. En dan skiet ons alte maklik wanneer ons dink daar is 'n rower by ons Mercedes se venster of wanneer ons 'n geluid in ons badkamer hoor.

    Nog slagoffers.

    Ons politici ry nie verniet met tot-die-tande-bewapen lyfwagte rond nie. Ons regters het nie verniet spesiale sekuriteit-apparaat (op ons onkoste) by hulle huise nie. Die mense wat ons moet bekerm weet maar alte goed hoe ons in vrees lewe.

  • Dis nie die eerste keer dat iemand sê of skryf "genoeg is genoeg" nie. Die versugting is oral: "iemand" moet iets doen. Maar 'n persoon moet eers 'n wet oortree voordat hy/sy aangekla kan word. Ons het almal soveel regte dat elkeen weerloos is teenoor die ander. Dink net hoeveel woorde nou al verbode is en hoeveel waarhede reeds nie uitgespreek mag word nie omdat dit deur iemand as beledigend ervaar word. Hoe op aarde gaan dit moontlik wees om 'n misdaad te keer nog voordat dit gebeur het sonder dat jy die misdadiger beledig of van een of ander reg ontneem? Ons moet almal gelyk wees en daarom moet almal aanvaar dat misdaad deel is van ons gedeelde swakheid. Enige protes sal iemand "seermaak" of "te na kom".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top