Genoeg is genoeg

  • 3

Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries)

“If it were between countries, we’d call it a war, if it were a disease, we’d call it an epidemic, if it were an oil spill, we’d call it a disaster, but it’s happening to women, and it’s an everyday affair. It is simply domestic violence.” – Michael Kaufmann

Hierdie is ’n aanhaling wat ek op een stadium gereeld gebruik het wanneer ek werkswinkels oor geweld teen vroue aangebied het. Terwyl Kaufmann spesifiek verwys na geweld binne intieme verhoudinge, is hierdie ongelukkig ook waar in die breër samelewing, tussen vreemdelinge. Dit gebeur met vroue, en dis alledaags.

Vra maar enige vrou. Elkeen het ’n uitgewerkte plan vir wat om te doen wanneer sy aangeval word. Pepersproei. Sleutels tussen die vingers vasgeklem. Mik vir die oë. Mik vir die keel. Skree “brand!” Moet om hemelsnaam nie “help!” skree nie, want niemand wil betrokke raak nie.

Ek het Kaufmann se aanhaling gebruik, tot op ’n dag, toe moedeloosheid my oorval. En woede. Want dis net woorde. Woorde bring nie een enkele vermoorde vrou terug nie. Woorde keer nie dat vroue in hul huise aangeval, verkrag en vermoor word nie. Woorde hou nie ’n student veilig wanneer sy net ’n pakkie by die poskantoor wil kry nie. Woorde help nie wanneer die ry name van vroue wie se lewens elke dag aan die hand van mans beëindig word, al langer word nie. Woorde help nie die verskrikking besweer wanneer mens besef dat dit net genade is wat maak dat jou eie naam nie op daai lys is nie. Woorde help niks.

Hierdie naweek is daar by my huis ingebreek – terwyl ek binne was. Terwyl die vier mans die sekuriteitshek probeer oopbreek, het ek wakker geword en die binnedeur oopgepluk. Hulle het nie weggehardloop nie. Hulle het my eerder probeer aanrand deur die hek, maar hulle kon nie by my uitkom nie. Miskien moes ek bang gewees het, maar op daardie oomblik was ek blind van woede. Hoe durf vreemdelinge dink dis in orde om my privaatheid te betree, my te besteel, te beseer, en dis in orde? Hoe durf hulle? Hoe durf die polisie dit afmaak as niks, want hulle het nie ingekom nie, en niks is gesteel nie? Wanneer is dit ernstig genoeg om aandag te verdien? Wanneer dit ’n moord of ’n verkragting is?

Ons het ’n samelewing geword waar geweld en misdaad genormaliseer word. Iewers langs die pad het ons sin vir reg en verkeerd so verwring dat ons nou slagoffers die skuld gee wanneer hulle aangeval word. Word daar ingebreek, is die eerste vraag of daar ’n alarm en diefwering is. Word ’n vrou verkrag, is die eerste vraag gewoonlik hoekom sy so laat uit was, of watter klere sy gedra het.

Bitter selde word daar vrae gevra oor die gedrag van die mans wat hierdie misdade pleeg. Nooit word daar vrae gevra oor ’n samelewing wat die geweld maar net gelate aanvaar nie.

Dan is daar die polisie. Deesdae, let ek op, word daar gereeld gesê dat die polisie net hul werk kan doen as die gemeenskap saamwerk. Skuif die blaam vir misdaad na die slagoffers, instede daarvan om hul werk te doen, met ander woorde.

Misdaad hou aan nie omdat die gemeenskap die oortreders beskerm nie. Dit hou aan omdat die polisie bitter min belangstel daarin om hul werk te doen.

My ervaring hierdie naweek beklemtoon dit. Die polisie het binne tien minute nadat ek die stasie gebel het, opgedaag. Uitstekende reaksie-tyd, het ek gedink. Totdat die een polisieman, nog voordat hulle ’n verklaring geneem het, my probeer oortuig dat dit net ’n mors van tyd is om die klag te lê want dit sal nêrens heen gaan nie. Hulle sal niemand vang nie, en in elk geval sal die saak uit die hof gegooi word. Dit was in soveel woorde vir my gesê.

Die tweede beampte was heelwat meer professioneel, en het die verklaring geneem. Ek het verdere inligting gevra, wat hy nie kon gee nie. Binne ’n uur daarna het ek ’n SMS gekry met die inligting waarvoor ek gevra het. Van sy persoonlike selfoon gestuur.

En dit is dit. Sedertdien het ek ’n e-pos vir die stasiebevelvoerder gestuur, wat drie dae later nog nie die hoflikheid van ’n reaksie ontlok het nie. Ek het twee geoutomatiseerde SMS’e ontvang, met die saaknommer en die naam van die ondersoekbeampte wat die saak toegewys is. Ek is seker die speurder is ’n lieflike mens. Ek weet nie, want ek het hom na drie dae nog nie met ’n oog gesien nie. Hy antwoord ook nie enige van die vele oproepe wat ek die laaste paar dae gemaak het nie.

Die polisiebeampte wat my meegedeel het om die saak aan te meld is tydmors, was reg. Die enigste manier hoedat daai mans gevang gaan word, is as hulle hulleself gaan oorgee. Dit gaan beslis nie deur polisiewerk gebeur nie.

In die konteks van die grootskaalse misdaad wat ons gemeenskappe ervaar, is my ervaring niks ernstig nie. En dis wat my woedend maak. Dit behoort nooit normaal te wees dat veiligheidshekke oopgebreek word en mense geterroriseer word nie. Dit behoort nooit so laag op ’n speurder se prioriteitslys te wees dat hy drie dae later nog nie eens die moeite gedoen het om na die toneel te kyk nie. Ek hou nie asem op dat daar vingerafdrukke geneem sal word nie.

Ek dink nie die hantering van my saak is uniek nie.

Hoeveel meer traumaties is dit vir ’n vrou wat verkrag was om as net nog ’n statistiek hanteer te word? Hoeveel erger is dit vir die familie van ’n vermoorde om te weet dat hulle geliefde se saak nie veel aandag gaan geniet nie? Hoeveel keer moet slagoffers nog sekondêre trauma ervaar aan die hand van die mense wat veronderstel is om hulle te help?

Intussen loop misdadigers vry rond, rustig in die wete dat daar nie groot gevaar bestaan dat hulle aan die pen gaan ry vir hul dade nie.

Is ek verbaas dat sommige gemeenskappe nie die polisie vertrou nie, en verkies om eerder self geregtigheid toe te pas? Nie meer nie. Is ek verbaas dat misdaad so hoog is? Nee. Keer op keer bewys studies dat swaar strawwe nie dien as afskrikking nie. Uitstekende polisiëring is die mees doeltreffende afskrikmiddel wat daar is.

En dis afwesig. En meesal, meesal, is die slagoffers wat die gevolge dra ons vroue en kinders.

Selfs in 2019 word vroue nog steeds beskou as tweedeklas burgers. Objekte met uitsluitlike doel om manlike begeertes te bevredig, of manlike woede te ontgeld, of manlike minderwaardigheid te besweer.

En solank as wat die teenwig vir die misdadiger, die polisieman, uit presies dieselfde kleed gesny is en dieselfde houdings en waardes openbaar, gaan dit nie verbeter nie. En solank as wat die nie-misdadige mans stilbly, of verskoning soek vir hul maats se gedrag, gaan daai gedrag nie verbeter nie. En solank as wat ma’s hul seuns se streke toesmeer, sal dit aangaan en aangaan.

Dit moet stop.

Uyinene. Leighandre. Lynette. Jesse. Name wat ons nooit moes leer ken het nie. Name wat ons nooit sou leer ken het nie, behalwe vir die wrede wyse waarop hulle lewens beëindig is. Name wat ons ken omdat daar mans is wat dink hulle kan net doen wat hulle wil, en daar sal nie gevolge wees nie.

Dit moet end kry. Die lys name van vroue wat sterf, moet stop. Ons kan nie so aangaan nie. Maar ek weier om moedeloos te raak. Kwaad, ja. Kwaad want dit hoef nie so te wees nie.

Ek weet ons is ’n samelewing wat al baie oorkom het. Ons kan hierdie epidemie ook oorkom. Ek glo dit.

Wat ons nodig het, is om op te hou verskoning soek vir mans se gedrag – of hulle nou in ’n blou of oranje uniform is. Ons moet ophou wegkyk wanneer ons  gesinsgeweld sien. Ons moet aandring daarop dat ons uitstekende diens van ons polisie kry.

Maar die belangrikste? Ons moet mans verantwoordelik hou vir hul dade.

Genoeg is genoeg.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Suid-Afrikaanse Varkerasie Nasie

    Geagte Me. Wyngaard,

    Ons as burgers van die Suid-Afrikaanse varkerasie nasie is diep ontnugter en teleurgesteld in ons mede Suid-Afrikaanse soogdiere, die Homo sapiens sapiens as nasie. Geen verdere kommentaar nie.

    WERKLOOSHEID lei tot armoede, hongerte, verlies aan hoop, teleurstelling in politici en in die medemens, erge kriminaliteit ter oorlewing en uit frustrasies, verlies van vaderwaardigheid, huismoles, kapitalisering op die vakuum van vrotsige leierskap en ‘n gebrek aan ‘n nasievisie, verlies aan respek vir leierskap en andere se besittings en lewens. En so kan mens met die lys aangaan. En voeg daarby ongebreidelde bevolkingsaanwas!

    Vraag aan Me. Wyngaard: “Gaan die ANC se beoogde South African National Democratic Society, gebaseer op ‘n sosialisties-kommunistiese ideologie, die nuwe utopia vir ALLE Suid-Afrikaners wees? Indien wel, op grond waarvan?”

    Oorweeg asseblief om in die nabye toekoms werkswinkels aan te bied oor “Selfaktualisering as werknemer of eienaar van ‘n ekonomies wêreld kompeterende besigheid.”

    Mooi naweek aan alle Suid-Afrikaanse soogdiere. Mag almal kreatiewe en opbouende eerbare bydraes maak vir ‘n grootse mooie nalatenskap vir alle Suid-Afrikaanse soogdiere se nageslagte. En vergeet nie die bewaring van ons omgewing en natuurlewe nie.

  • In hierdie land is my man een oggend voor werk (ja op ons plaas) so gemartel dat ons vir sy lewe gevrees het. Hy was so dapper want hy het geweier om hierdie mense by die huis in te laat (ek het twee seuns). My oudste seun het net nadat hy sy bestuurslisensie gekry het een aand 'n geweer teen die kop gekry toe hy plekaanwysings soek en hulle't al sy klere uitgetrek sy skoene was vir hulle die belangrikste. Met sy onderbroek het hy na die naaste mense geloop en ons was geweldig geskok. Die name wat hulle ons op ons plaas al toegesnou het - ons is al hoeveel kere aangeval sou nie geduld gewees het as ons dit gebesig het nie. My jongse SEUN is die oggend toe my man gemartel is, toe ek hom nie kon vashou nie, deur die staalhek deur sy pyjamabroek geskiet sonder dat die dumbdumb hom geraak het (dis wat die polisie gese het dit was) My seuns moes al laer in die leer af toe hulle universiteit toe is om medies te studeer. Toe is vir hulle gese Ag miskien moet julle dalk 'n wetenskapsgraad loop dan word julle eerder gekies. Wel 'n susterskind het dit wel gedoen deur 'n biochemiegraad gegaan met lof en hulle't absoluut hulle aan hom afgesmeer toe hy se hier is ek met my graad, ek wil 'n spesialis word. Hy uit heeltemal uitge-quota. SEUNS. My seuns het 'n jong man se lewe gered nadat hulle hom een aand op 'n straat gekry het - 'n swart outjie wat deur 'n mob toegetakel is en laat le is vir dood. Suid-afrika het DIE distopie geword waarvan Hollywood alewig praat. Dis gemors wat 'n vrou slaan en verkrag - moenie dit by ons goedgunstige mans kom gooi nie. Elke necklacing wat ek destyds gesien het was 'n jong man.

  • Avatar
    René Hanekom

    Dankie Bettina, alles wat jy sê is die waarheid, die reine waarheid. Die slagoffer word baie keer bevraagteken.
    EN, dit het niks met armoede uit te waai nie, baie lande is veel armoediger as Suid- Afrika maar het nie die onsinnige geweld nie.
    In hierdie land het vroue geen vryheid, jy moet gedurig op jou pasoppens wees. Soos jy tereg sê, one almal het 'n plan vir ingeval...wat 'n manier om te lewe. Ek is so jammer oor wat met jou gebeur het, sterkte Bettina.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top