
Foto 1: Theuns Eloff, Trust vir Afrikaanse Onderwys, ook oudrektor en dosent, Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, en Neil Jacobs.; foto 2: Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, en Marco Pitcher. (Foto’s: Maryke Roberts)
- Woorde en foto’s: Maryke Roberts
Die “pandemie van middelmatigheid wat stelselmatig wegvreet aan kennis, vaardigheid en geletterdheid” in die huidige Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, het die pasafgelope Saterdag ’n groot groep onderwysers, professore en doktore op Genadendal byeen gebring vir die Genadendal-onderwysberaad wat deur Kaapse Forum aangebied is.
Elke spreker het die swak stand van opvoeding, die regering se dowe oor jeens die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig, en die afwesigheid van ouers in die opvoedingsproses in hul aanbiedinge beklemtoon.
Altesaam 19 sprekers van verskeie dorpe, skole, universiteite en vakgebiede het hul menings oor moontlike oplossings kom gee.

Godfrey Cunningham van die Genadendal Morawiese Kerk en Anthea Adonis, skoolhoof by Emil Weder Hoërskool.
Anthea Adonis, skoolhoof by Emil Weder Hoërskool op die dorp, het gesê dis heel gepas dat hierdie belangrike gesprek oor die huidige – én toekomstige – stand van onderwys juis in Genadendal – die bakermat van opvoeding – plaasvind. Hier vind al vir 287 jaar ononderbroke opvoeding in die dal van genade plaas.
........
Anthea Adonis, skoolhoof by Emil Weder Hoërskool op die dorp, het gesê dis heel gepas dat hierdie belangrike gesprek oor die huidige – én toekomstige – stand van onderwys juis in Genadendal – die bakermat van opvoeding – plaasvind. Hier vind al vir 287 jaar ononderbroke opvoeding in die dal van genade plaas.
.........
“Opvoeding vertel van ons voorvaders se strewe na kennis. In 1738 is die land se eerste binnelandse skool hier deur George Schmidt gestig, waar hy kinders leer lees en skryf en vaardighede soos bou en tuinmaak aanleer. In 1812 kom John Cradock en lord Charles Somerset op die sendingstasie aan. Hulle sien kinders kry les onder ’n boom en gee geld vir ’n skoolgebou. Hier word die Engelse Lancaster-stelsel ingespan om die onderwysfokus van vaardigheid na kennis te skuif.
“In 1828 word die eerste onderwysers hier opgelei en in 1838, terwyl die Groot Trek aan die gang was elders in die land, is die eerste onderwyskollege hier geopen en meer as 300 onderwysers is die volgende meer as 90 jaar hier opgelei – ook Suid-Afrika se eerste swart onderwysers.
“In 1938 word die Genadendal-hoërskool, wat later na Emil Weder vernoem is, geopen.
“Daar word gesê: ’Jy moet weet waar jy vandaan kom om te weet waarheen jy op pad is.’ En miskien is dit die doel van vandag se beraad.”
Sy hou PJ Philander se gedig “Aand op Genadendal” voor:
Oumense kom van die nagwaak en praat
oor enkele lanterns hier en daar nog op straat,
wat swik met elke swaai in die stolpe,
Ja, klein is die liggies en onbeholpe.
Deur die donker Dal uit Baviaanskloof hier
vloei die stroom na die eeu-oue Sondereindrivier,
terwyl Wonderklippe teen die noordewind waak
en die vuurvliegies een-een uitgedoof raak.
Sy sluit haar verwelkoming af met: “Ek hoop die vonke van vandag se gesprekke sal die lanterns wat waak oor opvoeding, aan die brand hou, sodat die vuurvliegies wat aan ons toevertrou is, nie een-een uitgedoof sal word nie.”
Eerwaarde Godfrey Cunningham van die Genadendal Morawiese Kerk het in sy openingsgebed gepleit vir hulp met die uitdagings in skole. “Ons het krag nodig om te gaan opvoed en onderrig en ons vra vir nuwe ywer en nuwe krag om met ons werk voort te gaan.”

Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, en Marco Pitcher.
Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, wat ook bekend is as Meneer Klop van die geselsprogram Kô, lat ons praat, het die inleidende opmerkings gelewer.
Hy het gesê mense se teenwoordigheid dui nie net op hul toegewydheid nie, maar ook (soos ook Kaapse Forum) op hul kommer oor die openbare onderwysstelsel, en dat hulle ’n daadwerklike verskil wil maak in die lewe van elke kind “wat nog gered kan word van die pandemie van dalende vlakke van mense wat omgee en stygende vlakke van mense wat middelmatigheid as die nuwe normaal wil aanvaar”.
“Ons is die oorlewendes van die tragedie van Covid en ons sien in watter toestand ons land is en beleef eerstehands in watter krisis ons onderwysstelsel is. Kom ons wees eerlik: Dit kan nie só aangaan nie.”
........
“Ons is die oorlewendes van die tragedie van Covid en ons sien in watter toestand ons land is en beleef eerstehands in watter krisis ons onderwysstelsel is. Kom ons wees eerlik: Dit kan nie só aangaan nie.”
........
Heindrich het Kaapse Forum se nuwe 7-punt-plan vir behoeftige Afrikaanse skole wat deur Bernard Pieters opgestel is, verduidelik. Die plan sluit veel wyer in as net dit wat op die skoolgrond gebeur: landbou, tegnologie, veiligheid, loopbaanblootstelling, waardigheid en leerling- en onderwysermotivering.
“Kaapse Forum erken onderwys as ’n fundamentele pilaar vir die verbetering van gemeenskappe en daarom het ons besef dat onderwys en veiligheid ons organisasie se kernfokus moet wees.”
Hy het gesê geen projekte sal geslaagd wees as daar nie ’n ontvanklike jong gehoor is wat kan lees en skryf en verstaan nie. “En wat baat dit ook ons doen alles, maar dit is in onveilige omstandighede?
“Ons kan nie langer net soos donkies agter mekaar inval en reëls volg wat deur ’n ideologies gedrewe alwetende staat vir ons gestel word nie. Dis hoekom ons is waar ons is.
“Ons moet teen hierdie broeiende pandemie van die uitroei van uitnemendheid nie net loop en lawaai maak nie. Ons moet planne maak.”

Marco Pitcher stel die sprekers van die eerste sessie aan die woord. Van links is Maryke Bellingan, spesialis: wiskunde en leerderondersteuning, Jeannette Moos, Sunica Janse van Vuuren en Valencia McKenzie.
Twee spraakterapeute, Valencia McKenzie (ook ’n PhD-kandidaat), wat meestal in die Overberg werk, en Sunica Janse van Vuuren, wat in die sub-Wynland-distrik in die Kylemore- en Pniel-woonbuurte werk, het hul ervarings kom deel. Valencia het gesê taal en geletterdheid “is binne gemeenskap van goedere getroud en hulle slyp mekaar mettertyd”.
Baie armer gesinne kan nie kleuterskole bekostig nie; albei ouers is nie teenwoordig nie en oumas of tannies of buurvrouens kyk na die kinders en is dikwels self nie goed opgelei nie. Sy sien in haar werk in graad R en graad 1 dat kinders met ’n agterstand skool toe kom. Sy werk ook in kleuterskole, want sy glo dis waar die meeste werk nodig is. Kinders met kleuterskool agter hulle gaan met baie meer in hul woordeskat en begrip graad R toe. “Die vestiging van taal in graad R is al amper te laat, want kinders se taalvestiging is van een tot ses jaar.
“My grootste passie is ouers, want hulle is só belangrik. Hulle moet kinders van jongs af leer wat hul naam en adres is; wat hul liggaamsdele is; wat vorme en kleure is. Bly weg van die ou naampies – gee hulle hul identiteit.”
Sunica het bygevoeg dat baie kinders weens sosio-ekonomiese omstandighede ’n agterstand het. Sy sê: “Skermtyd het nou speeltyd vervang. Boonop word moedertaal as taal van onderrig nie noodsaaklik geag nie. Ek sien die impak wat dit op kinders het. Hulle verloor hul identiteit, want tuis praat ons een taal en by die skool moet ek ’n ander taal praat.
“Hul ouers wil ’net die beste vir hulle hê’ en druk hulle dan in meestal Engels in op skool – al kan niemand in die huis behoorlik Engels praat om die kind te ondersteun nie. En hulle word te laat ingeskryf, as ses- of sewejariges wat sonder interaksie grootgeword het, want hulle is blootgestel aan te veel skermtyd en geen sosiale ontwikkeling nie.”
Jeannette Moos, hoof van Klippiekids in Klipheuwel buite Stellenbosch, het vertel dat ouers soms die grootste struikelblok in hul kinders se vooruitgang is. “Ons wil alles vir hulle doen, maar ons moet hulle los om dinge self uit te redeneer. Ons moet ook die hele kind – liggaam, siel en gees – ontwikkel om ’n verantwoordelike volwassene te word.” Sy sê kinders word in konflik groot en leer om hul woede met geweld uit te sorteer. “Hulle leer nie respek vir hulself en ander nie en hulle leer nie om jammer te sê as hulle fouteer nie.”
Maryke Bellingan, spesialis: wiskunde en leerderondersteuning van Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), is ’n kampvegter vir wiskunde en het beklemtoon dat wiskunde en wiskundegeletterdheid, ’n vak wat baie skole eerder aanbied as eersgenoemde) hemelsbreed verskil. “Wiskunde is ’n toffie – maar jy het tande om dit te kou,” was haar boodskap.
Sy het benadruk dat elke kind met ’n bloudruk gebore word en dat wiskunde in elke kind ontwikkel kan word. Sy het by Sunica aangesluit en gesê die belangrikheid van speel word onderskat.
“Wiskunde leer jou om te redeneer, probleme op te los, deursettingsvermoë, en dis ’n taal. Nou word baie kinders nie eers in hul moedertaal onderrig nie, wat nog ’n struikelblok tussen hulle en wiskunde plaas. Probleemoplossing is nie aangebore nie, dit moet geleer word. Dis net soveel makliker as ’n kind in sy moedertaal onderrig word.
“Statistiek wys dat Gen Z vyf tot tien maal van beroep gaan verander in die 15 jaar nadat hulle skool verlaat het. Wil jy hê jou kinders – want alle kinders is jou en my kinders – moet met agterstand en oorbruggingsvakke sukkel in hul twintigs as hulle van loopbaanrigting verander, of wil jy hê hulle moet ’n voorsprong – en wye keuses – hê?
“Ons visie vir ons kinders moet meer as onderskeidings in matriek wees.”

Sunica Janse van Vuuren, spraakterapeut: sub-Wynland-distrik, Gerhard Matthyse van Witsand Primêr, Jeannette Moos, hoof van Klippiekids en Valencia McKenzie, spraakterapeut en PhD-kandidaat.
Leslie Siegelaar van die Departement Publieke Administrasie het ’n kort oorsig kom gee oor die Ithemba-ondersteuningsgroep wat suksesvol geloods is en waar kinders – baie uit skole in hoëmisdaadgebiede – hulpmiddels kry om met die trauma van hul omgewing saam te leef en steeds goed te presteer op skool. “Ons praat met die kind; nie van die kind nie,” het hy vertel. Hy het ook gesê van die swak sosio-ekonomiese omstandighede waarin kinders moet skoolgaan, kan nie verander word nie, “maar ons kan help dat hulle dit beter kan hanteer”.
Vier onderwysers, André Verhoog van Laerskool Noord-Eind, Gerhard Matthyse van Witsand Primêr, Derek Swart van Paarl Boys High en Benorita Ockhuis van Villiersdorp Sekondêr, het onder die hofie “Prinsipale wat planne maak” gesels. Hul almal se boodskap het een ding gemeen gehad: Die toekoms van goeie onderwys lê nie by die staat nie; ons moet hand in eie boesem steek, en ons kan nie verwag dat alles verniet moet kom nie.
Van die suksesprojekte wat hulle by skole geloods het, is onder meer ’n skoolhoofontbyt waar skole hande vat om mekaar te help wat gegroei het tot gesamentlike sport-, kurrikulum- en kultuurprojekte; ’n groentetuinprojek wat nie alleen vir bykans 1 000 leerlinge daagliks van warm maaltye voorsien nie, maar deel geword het van die skool se leerplan; projekte waar bevoorregte leerders as vrywilligers by minderbevoorregte skole uithelp; en eetprojekte om te sorg dat elke kind voedsame kos kry voor hy sy skooldag aanpak.
Gerhard het ook vertel hoe sy skool nou drie onderrigtale het en hoe leerders in Xhosa, Engels en Afrikaans nou bymekaar tale aanleer en só hulself ook op taalvlak bemagtig.
Gerhard se woorde: “Iemand moet voorvat. Iemand moet uitreik, maar dit gaan nie om uitdeel nie. Wat doen u eerste wat mense sal lok om deel te word?” het die diepste getref.

Michael le Cordeur, voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans en ook oudprofessor en outeur, en Seymour Bothman, dosent in Afrikaanse taalkunde.
Die drie hoofsprekers van die dag was Michael le Cordeur, voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), Theuns Eloff, Trust vir Afrikaanse Onderwys, en Seymour Bothman, dosent in Afrikaanse taalkunde.
Le Cordeur het gesê “die landskap van taal is besig om te verander in hierdie land en die onderwysers moet maak werk in skole.” Hy verwys na Saldanha, “waar dieselfde gebeur wat in 1652 in Kaapstad onder Jan van Riebeeck gebeur het: Mense van oral heen kom hierheen vir werk. Daar is nou skielik Portugese, Chinese, Zoeloe- en Pedi-kinders in een klas. Daardie kinders leer onderlangs by mekaar. Ons taalprentjie is besig om te verander in ’n veeltalige land.”
Hy sê ook dat Afrika vasgevang is in sy koloniale verlede. Die grootste deel van die vasteland se kinders moet in Engels of Vlaams of Frans onderrig word, maar dis nie hul moedertaal nie.
Hy sê: “Ons kinders is nie dom nie, hulle kan net nie lees en skryf en verstaan nie. As hy nie kan lees nie, kan hy geen vak leer nie – ook nie wiskunde nie. Jul kinders moet lees. Nou blameer ouers die skole en onderwysers.
“Mammie en Pappie, die fout lê by julle. Sit af daardie TV, vertel slaaptydstories.”
........
“Mammie en Pappie, die fout lê by julle. Sit af daardie TV, vertel slaaptydstories.”
........
Hy sê verder: “Moedertaalonderrig is in ’n krisis. Dis die beste manier van onderrig, maar ons sukkel om ons weg te vind, want ons politici het nie ’n wil vir moedertaalonderrig nie.”
Hy wys ’n skyfie om te illustreer dat kinders in die Grondslagfase in hul moedertaal onderrig word. “Dan gaan hulle aan die einde van die jaar op vakansie met daardie kennis, maar op dag een in graad 4 kom hulle terug en iemand dink Kersvader het vir daardie kind Engels as Kersgeskenk gegee. Onderwyskundiges dink so. Daardie kind moet nou instap en wiskunde doen in Engels. Engels wat hy waar kry? En dan vaar ons kinders swak in internasionale toetse, want ons as land skep ’n ongunstige leeromgewing vir kinders en niks laat jou so onwelkom voel as taal nie.”
Hy sê slegs 21% van ons leerders kry moedertaalonderrig. Navorsing toon dat ’n kind met moedertaalonderrig op universiteit arriveer met 20 000 meer woorde as ’n kind wat nie skoolgaan in sy moedertaal nie.
Hy sluit af deur te sê daar is ’n “stink houding” oor moedertaalonderrig in hierdie land – “Ons doen sonde in ons skole.”

Theuns Eloff, Trust vir Afrikaanse Onderwys, ook oudrektor en dosent, Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, en Neil Jacobs.
Theuns Eloff het gesê Afrikaanse mense het nie moedertaalonderrig uitgedink om Engels of Xhosa uit te sluit nie. Dit word internasionaal erken dat kinders wat in hul moedertaal onderrig word, die beste basis het. Hulle presteer die beste en kan makliker ’n tweede of derde taal aanleer as hulle selfstandig in hul moedertaal is. Unesco-navorsing staaf dit wêreldwyd.
“Ek stem heelhartig saam met al die sprekers wat sê ons het nie ’n wiskundeprobleem nie, ons het ’n taalprobleem.”
........
“Ek stem heelhartig saam met al die sprekers wat sê ons het nie ’n wiskundeprobleem nie, ons het ’n taalprobleem.”
........
Hy gebruik sy eie lewe as voorbeeld en hoe hy weens die feit dat hy graad 2 misgeloop het, vandag nog steeds ’n agterstand het. Wiskunde is inderdaad soos ’n gebou, en ’n swak onderwyser, of krake wat iewers begin, gee jou probleme in graad 10 tot 12.
Hy sê ouers gee hul opvoedingstaak oor aan skole, en dis nie reg nie. “Ouers het ’n aandeel in hul kinders se opvoeding. Moedertaalonderrig alleen is nie genoeg nie. Dit is ’n noodsaaklike, maar nie ’n voldoende voorwaarde vir gehalte-onderwys nie. Dit help nie jy praat Afrikaans of Engels of Xhosa maar daar is swak onderwys, swak dissipline of ’n swak leerplan nie.”
Hy het ook gesê dat ouers – naas die regering – die grootste probleem in ons skolestelsel se swak stand is.
Eloff is bekommerd dat ons land na 30 jaar van demokrasie weer begin terugbeweeg na die staatskoolkonsep van apartheid, waar die staat alles bepaal wat in skole onderrig en verander kan word. Daar is hard baklei om weg te kom van dié bestuurstruktuur en openbare skole te vestig waar ouerbeheerliggame inspraak het en betrokke is, en “ons moet steeds daarteen baklei,” het hy gesê.
Hy het statistieke aangehaal dat derduisende kinders deur die staat verplig word om onderrig in Engels te ontvang al is dit nie eers hul tweede of derde taal nie. Ongeveer 50% van kinders wat in Engels onderrig word in hierdie land, het Engels as derde of selfs vierde taal. Dis tragies. Soos Max du Preez gesê het: Die regering se onderwysbeleid is ’n “misdaad teen die mensdom”.
“En dan het hulle die vermetelheid om te sê: ’Julle Afrikaanse sprekers ...’ terwyl hulle 50% van hierdie land se kinders met Engels uitsluit. Ek wonder hoekom is niemand wrewelrig oor die koloniale verlede van Engels nie. Ons eet dit vir soetkoek op. Die Engelse word vergewe vir alles wat hulle gedoen het.
“Ons is ’n veeltalige land en kinders moet aan ander Afrika-tale blootgestel word, soos ons reeds in die negentigs voorgestel het. ’n Afrika-taal moet deel van die kurrikulum wees om nasiebou te verseker.”
Bothman het ’n studie saam met die ATKV in al nege provinsies gaan doen oor hoekom sommige Afrikaanse skole swak vaar en ander nie, en gesê mense praat van “agtergeblewe”, maar dis eerder “agtergestelde”. Hy sê mense dink omdat hulle in hul moedertaal onderrig word, moet hulle mos goed vaar – veral in histories bruin skole.
“Maar die realiteit is dat die onderwysstelsel hulle in die steek laat. Die kind swem nie; hy verdrink. Hulle verdwyn. Jy kan sien hoe die ongelykhede van apartheid steeds in ons armer gemeenskappe voortleef. Die nuwe Suid-Afrika het in baie dorpe in hierdie land nog nie aangebreek nie – niks het verander nie.”
Hy het gesê ons leef in ’n kultuur van stilte – ons maak nie ons stemme dik teen wat in ons skole gebeur nie.
Ook hy kla die ouers aan, want hy sê die mense onder onderwysers moet ook hul deel doen. “Dissipline begin by die huis, maar dit blyk dat dit nie daar gebeur nie. Ouers laat goed by die huis toe wat nie by die skool toegelaat kan word nie. Ouers versterk nie onderwysers se hand nie.
“Hy sê dinge moet op skool-, provinsiale en nasionale vlak verbeter. Kom ons kyk eers wat onderwysers en leerder by skole moet verduur; en hou op om ons pak te gee.”
Marlene le Roux, die uitvoerende hoof van Kunstekaap, het in haar toespraak die belangrikheid van musiek en die kunste in die kurrikulum uitgelig. Ook wiskunde as vak is vir haar ononderhandelbaar: Musiek is meer as liedjies en note; dis ’n taal, en musiek is wiskunde.
“As ons kinders nie kan lees en skryf en somme maak nie, kan hulle ook nie musiek lees en maak nie.
“Ons moet ophou met ons beheptheid met sport. Sport is kompetisie. Die kunste is mededeelsaam; dit leer dissipline, selfvertroue en respek, en dit bou karakter. Op die verhoog is daar nie kleur nie; net kuns.”

Samuel Baadjies, onderwyser by die Genadendal Sendingmuseum aan die woord.
Samuel Baadjies, onderwyser by die Genadendal Sendingmuseum, het ook vir pitkos gesorg. “Museumonderwys is nie ’n bysaak nie; dit moet ’n formele been van die kurrikulum wees. Dit maak ’n hele nuwe wêreld vir ’n leerder oop, en die belangrikste hiervan is identiteitsvorming, wat hulle ook kritiese denke leer.”
Die laaste spreker van die dag was die programdirekteur en self onderwyser, Marco Pitcher. Hy het besef dat die tradisionele onderrigmetodes vir wiskunde nie sy graad 4- en graad 6-leerders bereik nie. “Maar kinders raak groot met selfone en is op Tik-Tok en leer binne enkele minute nuwe liedjies se woorde en ritme. Ek het gaan dink oor wat ek kan doen om moeilike konsepte eenvoudiger te verduidelik.
“Nou span ek sosiale media in om my klasse deur herhaling, rym en saamwerk te gee. En dit bereik leerlinge en ouers tot so ver as Namibië.”
Hy het die gehoor met dié woorde gelaat: “Ons as onderwysers moet aanpas by veranderende tye.”

Die sprekers onder die hofie “Prinsipale wat planne maak” is van links André Verhoog van Laerskool Noord-Eind, Gerhard Matthyse van Witsand Primêr, Derek Swart van Paarl Boys High en Benorita Ockhuis van Villiersdorp Sekondêr.
Die dag is afgesluit met die aankondiging van twee “Kaapse kampioene” – mense wat spesiaal moeite doen om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak: Benorita Ockhuis van Villiersdorp Sekondêr en Chane Arendse van Arend se Nessie Dagsorg op Bredasdorp.

Twee “Kaapse kampioene” is tydens die beraad aangewys. Dis mense wat spesiaal moeite doen om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak. Van links is Heindrich Wyngaard, Chane Arendse van Arend se Nessie Dagsorg op Bredasdorp wat as onderwyser kwalifiseer het en haar eie dagsorg geopen het, Elizma Arendse van Kaapse Forum. en Benorita Ockhuis van Villiersdorp Sekondêr – dié skool het etlike maande gelede afgebrand en deur haar leierskap vlieg hulle weer.
Lees ook:

