Gemaskerde grysaards

  • 3

Fotobron: Canva

Die koronavirus laat my dink aan ’n gesegde van my ouma: “Die Here sit hoog, my kind, maar hy siet laag”. Soos NP van Wyk Louw se groot, grys ape wat uit die hoë bome afkom en by jou oë inloer, tuur korona tot onder in jou fondamente en soek al die spore wat die letsels van die tyd in jou sterflike karkas gekerf het. Soos ’n Darwinistiese Inkwisisie kom soek hy die vlekke van die sondes van die verlede, en as hy hulle kry, dan steek hy daardie stekelbaard van hom in en begin verniel.

Die dokters praat sommer so in een asem oor mense wat so oud is soos ek (tagtig by die volgende verjaardag) en mense met sogenaamde onderliggende kondisies is besonders blootgestel aan die virus se vernielsug. So asof ouderdom op sigself “’n onderliggende kondisie” is. Ek het oudword al sedert my geboorte onder lede en soos die jare aanstap, raak dit net al erger. As dit so aangaan kan dit later miskien my dood beteken.   

Die geluk by die ongeluk is die vindingrykheid van die mediese industrie. Die mediese industrie is daarop ingestel om metodes te vind wat verhoed dat mense sondermeer weens natuurlike oorsake die emmer skop. Tot die aangebore weerstand wat ons bied om goedsmoeds toe te laat dat Charon ons vir ’n uitstappie oor die Styx roei, voeg mediese tegnologie nog ’n verskeidenheid snykundige, farmakologiese en ander merkwaardighede by om die dag des sterwens uit te stel. Toe Chris Barnard gevra is wat hy dink die beste manier is om selfmoord te pleeg, was sy antwoord: “Hou maar net op om jou voorskrifpille te drink!”

Goed en wel. Maar nou kom die stekelbaardvirus en stel al die kwale wat die dokters met hulle pille en grille suksesvol onder die mat kan invee, ook aan die kaak. Jou kanker is onder bedwang, want jy drink jou pille en kry gereeld bestraling. Jou hartomleiding was geslaagd, maar moet net nie vergeet om jou bloeddruk met pille onder beheer te hou nie. Drink jou Statins, anders slik als weer toe onder die cholesterol wat deur jou ongesonde eetgewoontes veroorsaak is, of wat jou oersate soos die sondes van die vaders in jou gene geplant het.

Maar Ta korona lyk nie of hy hom danig steur aan hierdie skanse wat die pille vir ons opstel nie. Dit lyk eerder asof hy hulle gebruik as ’n bloedspoor wat hy kan volg tot by die gekweste bok wat in sy pil-nes lê en hyg.

So, omgord jou lende. Fluit in die donker en spoeg teen die wind. Prewel ’n paar sinne uit Invictus.

En moenie vergeet om jou hande te was nie.

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Jannie, ek is 'n bietjie ouer as jy. Ons het as't ware saam die doodsvallei betree. In my jeug het ek dikwels die teksvers aangehoor dat die lewe 'n gestadigde dood is. Francois Mitterrand (1916-1996) was die president van Frankryk (1981-1995). Hy het letterlik sy selfdood bewerkstellig deur doelbewus nie meer sy voorgeskrewe medisyne te gebruik nie.

  • Dit stap aan. Maar ek onthou steeds die eerste keer wat ek die woord "epistemologie" gehoor het. By jou. "Moenie terugkom totdat jy dit verstaan nie," het jy gesê. Ek werk nog daaraan. Amper 50 jaar lank. En drink vir nou nog die Statins en Enzyme Inhibitors. En lig hierdie glas Rooi in jou rigting.

  • Dankie vir die glimlag (net effens, maar darem) wat jy besorg in hierdie kroniese eensame gevangenis. Ek sit steeds in die noorde en sien uit na die dag wat ek weer by jou kan kuier en luister en lag. Ek lig die rooie hoog. Op jou.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top