#GelykeKanse-persverklaring: Reaksie op die US se nuwe taalbeleid

  • 3

Persverklaring deur die Gelyke Kanse-veldtog

Gelyke Kanse neem met groot teleurstelling kennis van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) se goedkeuring van ’n nuwe taalbeleid, wat spoedig in nog groter mate as tevore tot die reeds gevorderde erosie van Afrikaans as onderrigtaal aan die universiteit sal bydra.

Opvallend is die besluit geneem op dieselfde dag dat twee ander universiteite, Pretoria en Unisa, ook besluit het om tot volkome verengelsing oor te gaan. Dit verg nie veel verbeelding om te raai van waar die druk hiervoor gekom het nie, nadat die Vrystaatse Universiteit eweneens pas ‘n soortgelyke rigting ingeslaan het. Daarom dat daar Woensdag dadelik van ’n “swart dag vir Afrikaans” berig is, tot nadeel van die meer as 100 000 Afrikaanse studente aan Suid-Afrikaanse universiteite.

Hoewel die US-Raad sy nuwe beleid as “onomwonde steun” vir meertaligheid bestempel, is die teenoorgestelde waar.  Kritiese ontleding van die nuwe taalbeleid maak dit vinnig duidelik dat die implementering van hierdie beleid die bevoordeling van Engels op feitlik alle terreine ten koste van Afrikaans en ander inheemse tale in die hand sal werk. Die nuwe beleid plaas die US doelbewus en onafwendbaar op ’n vinnige glybaan na algehele verengelsing.

Die Raad se besluit is met 17-9 stemme aanvaar. Dit kan aanvaar word dat die US-personeel wat op die Raad sitting het, onder wie die bestuurspan wat reeds verlede November ‘n algehele verengelsingsbeleid afgekondig het wat toe gerepudieer is, sal stem vir die beleid wat hulle opgestel het. Behalwe die groep US-amptenare is daar onder die buite-belanghebbendes die voorsitter en ondervoorsitter wat afwysend en bevooroordeeld teenoor gelyke beregtiging vir Afrikaans staan. Dit is dus onverstaanbaar dat die voorsitter nou sy steun vir Afrikaans (via die nuwe beleid) probeer verklaar, maar tog teen gelyke status vir Afrikaans gekant is.

Die afwenteling na fakulteite van besluite oor taal, die aanstellingsbeleid en inname van studente (wat oor die afgelope dekade tot ’n dramaties versnelde toename van Engelssprekende studente by US aanleiding gegee het)  beteken dat US binne ‘n paar  jaar  ’n volkome Engelstalige universiteit kan wees. Die verklaring van die US-Raad se voorsitter wek  dus ’n valse indruk.

Die veelseggende protes-bedanking uit die US-Raad van die rektor van die Paul Roos Gimnasium, die skool wat as‘t ware as US se junior vennoot beskou kan word, is ‘n voorspel tot die konsekwensies wat die afgradering van Afrikaans aan tersiêre instellings vir alle Afrikaanse skole inhou. In die Wes-Kaap gebeur dit in die besonder ten koste van die oorwegend Afrikaanse taalgemeenskap waarin die US hom bevind .

Die holderstebolder deurdruk van die nuwe taalbeleid is ooglopend ’n oorhaastige poging tot wettiging van die wederregtelike afwykings van die vorige taalbeleid wat reeds deur die universiteit in hofstukke toegegee is, met die erkende verengelsing in 268 modules in sewe fakulteite. Klaarblyklik is kwalik kennis geneem van meer as 400 voorleggings waarin besware teen die nuwe konsepbeleid uitgespreek is.

Die nuwe beleid bots regstreeks met die onlangse beleidsverklaring van die US-Raad waarvolgens die Afrikaanse aanbod as onderrigtaal nie verminder mag word nie. Dit is juis wat hierdie nuwe beleid doen. Implementering vanaf Januarie 2017 beteken ook troubreuk teenoor studente wat hulle in die afgelope drie jaar aan die US ingeskryf het met die veronderstelling dat hulle in Afrikaans onderrig sal word. Implementering behoort dus met minstens vier jaar uitgestel te word.

Die Gelyke Kanse-veldtog sal hom verder beywer vir die gelyke beregtiging van Afrikaans en Engels op die US-kampus. Gelyke Kanse glo sterk in die menslike en ontwikkelingsaspekte van moedertaalonderrig in ’n multikulturele land soos Suid-Afrika. Vir Gelyke Kanse skep hierdie ontwikkelinge – hoe ontstellend kortsigtig dit ook al is – nuwe moontlikhede vir die kreatiewe bevordering van ons missie.

 

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

 

  • 3

Kommentaar

  • Gelyke kanse vir Afrikaans en Engels is 'n billike en geregverdigde versoek en sluit niemand uit nie. Meertaligheid is 'n bate wat aktief bevorder moet word. Engelse eentaligheid lei tot verarming van die universiteitsgemeenskap.

  • Henriette Jacobs

    Wysheid en seën op julle grootse poging word julle daagliks toegebid. As oud-Afrikaansonderwyseres is Afrikaans my passie, ook vir my kinders en kleinkinders. My dogter is tans besig met haar MA-verhandeling in die Afrikaanse letterkunde by Potch en haar droom is 'n tersiêre pos. Mag julle van krag tot krag gaan!

  • Ek was in 1979 ’n eerstejaarstudent aan Kovsies, en hoewel die dosente Afrikaans gepraat het, was byna al ons boeke in Engels. Engels soos van Amerika! Engels is lankal deel van ons akademiese instansies. Afrikaanse studente het nie gekla nie en hulleself verbeter deur die tweede taal se bronne as enigste bron te gebruik en baat te vind by tweetaligheid.
    Engelssprekendes in ons area het hulle kinders spesiaal na Stellenbosch gestuur weens die stabiliteit, ordelikheid, behoudendheid, gedissiplineerdheid van die Afrikaanse kultuur.
    Dis vir my onverstaanbaar dat dinge skielik so verander en gehoor gegee word aan druk van buite. Die instansie self verloor baie meer as net hulle taal van onderrig!
    My hart is seer vir AFRIKAANS! en vir als wat verloor word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top