Geldige belange en aansprake moet soms op pynlike maniere teen mekaar afgeweeg word

  • 0

Regstellende aksie ("affirmative action") is ’n term wat in die VSA ontstaan het as die versamelnaam van die beleid en reg wat gelyke geleenthede vir lede van minderheidsgroepe wou bewerkstellig. Die diskoers oor regstellende aksie word oorheers deur literatuur afkomstig vanuit Amerika, ondanks die feit dat dit reeds uitgekring het na verskeie ander gedeeltes van die wêreld. Ek noteer hierdie gegewe eenvoudig om aan te stip dat regstellende aksie, waar dit ook al plaasvind, altyd ’n konteks het – en enige konteks het ’n verlede. In Suid-Afrika het regstellende aksie, afgesien van die groter konteks, ’n uniek Suid-Afrikaanse konteks. Hierdie konteks toon een belangrike verskil met die term se oorspronklik Amerikaanse konteks: in Suid-Afrika is regstellende aksie gebore as ’n remediërende strategie wat in hoofsaak die wettige historiese uitsluiting van die meerderheid wil aanspreek. Die verlede van die konteks waarin regstellende aksie in Suid-Afrika plaasvind is apartheid – ’n verlede van onbillike diskriminasie hoofsaaklik op grond van ras. Anders gestel, regstellende aksie spreek ’n ongeregtige, ongelyke verlede aan as deel van die versoeningsproses en in die naam van ’n demokratiese, vreedsame toekoms vir alle Suid-Afrikaners.

Die oorsprong van regstellende aksie in ons konteks is artikel 9 van die Grondwet. Artikel 9(1) bepaal dat elkeen gelyk is voor die reg en geregtig is op gelyke beskerming en voordeel van die reg. Hierdie subartikel verteenwoordig die formele komponent van gelykheid. Artikel 9(2) word egter ingegee deur die (korrekte) opvatting dat gelykheid ook ’n substantiewe dimensie het. Met “substantiewe dimensie” bedoel ek die feit van ongelyke geleenthede, aansprake en toegang tot voordele in ’n samelewing. Artikel 9(2) erken dat die substantiewe ongelykheid in ons samelewing ’n gevolg is van ons apartheid-verlede. Dit bepaal voorts dat wetgewende en ander maatreëls getref kan word ten einde die strewe na (substantiewe) gelykheid te bevorder. Met ander woorde, die artikel veroorloof wetgewing wat daarop gerig is om persone teen wie onbillik gediskrimineer is in die verlede, te beskerm en te bevorder. Artikels 9(3) en 9(4) bepaal dat die staat en ander persone (wat regspersone insluit) nie onbillik teen iemand mag diskrimineer op grond van die sogenaamde “gelysde gronde” nie. Hierdie gronde sluit ras en gestremdheid in. Artikel 9(5) skep die weerlegbare vermoede dat diskriminasie op grond van een of enige van die gelyste gronde outomaties onbillik is.

Die wyse waarop artikel 9 geformuleer is, erken implisiet dat apartheidsbeleid (hoewel dit hoofsaaklik ’n beleid van rassesegregasie was) regstreeks of onregstreeks ook onbillik teen byvoorbeeld vroue, gays en gestremdes gediskrimineer het. Die geïdealiseerde en bevoordeelde regsubjek van apartheid-nasionalisme was immers die wit, niegestremde, heteroseksuele, getroude, Christelike, verkieslik Afrikaanse man. Artikel 9 van die Grondwet kondig aan dat daardie essensialistiese begrip van regsubjektiwiteit tot die verlede behoort en dat die regstelling van die ongelykheid wat dit in ons samelewing veroorsaak het, ’n taak van die nuwe Suid-Afrika is. Die gelyste gronde van artikel 9 staan egter nie in ’n hiërargiese orde teenoor mekaar nie. Formeel is ras, byvoorbeeld, nie ’n “belangriker” grond vir onbillike diskriminasie as gestremdheid nie. Formeel gesproke is Wilhelm van Deventer se aanspraak gelyk aan enige ander aanspraak op grond van ras of geslag. Wat is die substantiewe konteks? Wilhelm van Deventer is ’n wit, gesiggestremde man. As sodanig is hy ’n lid van meer as een minderheidsgroep in Suid-Afrika. Maar hy is ook deel van ’n histories bevoordeelde groep. Hoewel regstellende aksie in Suid-Afrika ontstaan het om hoofsaaklik rassesegregasie van die meerderheid as ontstaansbron van ongelykheid aan te spreek, kan dit nie ontken word dat artikel 9 ook grondwetlike beskerming aan minderhede bied nie. Dit is in die aard van ’n liberale, grondwetlike, transformatiewe demokrasie dat geldige belange en aansprake soms op pynlike maniere teen mekaar afgeweeg sal word.
 

      • Jaco Barnard-Naudé is medeprofessor in regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad.

          

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top