Met die verskyning van Johann de Lange se nuwe digbundel, Die Algebra van Nood, ontstaan 'n lewendige debat op Die Burger se boekeblok (en in die gedrukte media) na aanleiding van Ampie Coetzee se resensie wat verskyn in Die Burger van 20 April 2009 onder die titel "Onnoemenswaardig" en waarin hy skryf dat by uitsondering van die "verskeie fragmente van De Lange se poëtiese bespiegeling oor die ars poetica is die meeste ander gedigte in die bundel onnoemenswaardig" – 'n opinie wat uitgespreek word ten spyte (of as gevolg) daarvan dat Coetzee meestal 'n kursoriese oorsig van die bundel aanbied.
Coetzee se felste kritiek geskied by wyse van sy opinie oor die gedig “Nog eenmaal wil ek in jou mond kom”. Die gedig roep duidelik Van Wyk Louw op, maar in stede daarvan om gedissiplineerd in te fokus op of erns te maak met die intertekstuele gegewens, konkludeer Coetzee sonder meer dat die gedig 'n "verkragting/ontkragting" van Van Wyk Louw is en dat mens jou nie eintlik "te ernstig" aan die gedig behoort te steur nie. Hierna volg die stelling dat die bundel "onnoemenswaardig" is.
Die eerste blog-reaksie op die resensie bejeën dit met speelse minagting en die tweede reaksie wys tereg uit dat Coetzee nie “Nog eenmaal wil ek in jou mond kom” met die nodige literêre sensitiwiteit/sofistikasie benader nie. (In daaropvolgende reaksie wys Joan Hambidge daarop dat die gedig 'n palinode of teensang is, dat Coetzee na die verkeerde Van Wyk Louw-gedig verwys, en dat die gebrek aan erns rondom die lees van die gedig dalk juis te make het met vooroordeel. "Hang hier 'n homofobiese onderrokkie uit?" vra Hambidge retories.)
Boekeredakteur Gerrit Brand tik verdedigend die kritiese reaksie op die Coetzee-resensie oor die vingers en dui aan dat dit 'n resensent se plig is om 'n negatiewe resensie te skryf as dit sy opregte mening is (en by implikasie, natuurlik, die redakteur se plig om die resensie te plaas as hy van mening is dat die resensent sy opregte mening uitgespreek het). Brand hou voet by stuk dat hy nie verskoning vra vir die feit dat hy een van die voorste kenners van die Afrikaanse digkuns (te wete Coetzee) gevra het om een van die mees gerekende Afrikaanse digters se nuwe werk te resenseer nie. Vervolgens vra Brand retories: "Of [die leser/s] saamstem, kan tog nie 'n maatstaf vir die plasing van resensies wees nie, of hoe?"
Ongelukkig is die probleem met Brand se reaksie juis dat hy nie kommunikeer wat dan nou presies sy/die "maatstaf" vir die plasing van resensies is nie (behalwe dat dit geskryf is deur een van die "voorste kenners" van die Afrikaanse digkuns).
Die volgende hoofstuk in hierdie verhaal ontstaan toe die uwe in sy eie reaksie aandui dat hy meen dat mense te maklik glo wat hulle in die gedrukte media lees wanneer dit deur mense met akademiese titels (soos "Ampie Coetzee, emeritus professor") geskryf word. Ironies genoeg het Brand so pas (soos hier bo aangedui) geen ander maatstaf aangebied vir die plasing van resensies behalwe dat dit deur gesagsfigure (kenners, mense met titels) geskryf is nie. Brand verander egter van deuntjie in sy reaksie op die uwe: "Vir my was een van die interessantste ontdekkings toe ek van die akademie na die media geskuif het hoe min gesag 'gewone mense' aan die menings van akademici toedig." Dis nou interessant: Brand bevind dat "gewone mense" min gesag toedig aan die menings van akademici, tog is die implikasie van sy eerste reaksie op die kritiek van die resensie dat hy wel gesag toedig aan die mening van akademici (anders sou hy tog nie vir Coetzee, as "voorste kenner", gevra het nie, of hoe?). Of probeer Brand regtig voorgee dat dit blote toeval is dat die "voorste kenner" ook 'n akademiese titel het? Ek dink nie so nie.
Hoe dit ook al sy, die meer interessante vrae wat rondom 'n resensie soos dié van Ampie Coetzee oor De Lange ontstaan, is dit: Wat is die rol van die filosofiese konsep van kritiek in die konteks van 'n resensie? Wanneer word 'n resensie 'n bevooroordeelde aanval op die werk van 'n skrywer en om daardie rede self "onnoemenswaardig"? (Prof Henning Snyman skryf in 'n brief aan Die Burger dat die resensie self onnoemenswaardig is en dat hy daaraan een ster toeken![1]) Wat is die maatstaf by die besluit oor plasing van die resensie? Groot gedeeltes van die antwoord(e) op hierdie vrae word verskaf in 'n kort stelling deur die Amerikaanse akademici Ingram en Mills in 'n artikel getiteld “Reviewing the Book Reviews”:
The ideal reviewer is authoritative in the sense of being recognized by writers and researchers on a given topic as knowledgeable, and skillful in providing informative, balanced criticism. Good reviewers have no hidden or personal agendas in accepting a commission to review, and avoid being excessively laudatory or unfairly critical … the ability to fashion an incisive and witty critique is a significant professional asset. (Ingram en Mills, 629)
Ek laat dit aan die leser om die Coetzee-resensie teen hierdie kriteria te toets. Is die resensent nog gesaghebbend as kollegas van sy of haar eie portuur hulle sterk uitspreek daarteen (vgl prof Hambidge, prof Snyman en ander se positiewe resensies wat intussen verskyn het)? Is die resensie bedrewe met die verskaf van inligting, bevat dit gebalanseerde kritiek? Met ander woorde, is die kritiek wat daarin uitgespreek is, billik?[2]
Die laaste twee vrae hier bo bring ons by die kwessie rondom die rol van die filosofiese begrip kritiek/critique in die resensie. Die Grieks-Britse filosoof Costas Douzinas verduidelik die betekenis van kritiek soos volg:
[W]hat does critique mean today? Starting with etymology, the Greek word diakrinein means to distinguish or separate. As a diacritical model, critique aims to distinguish between the true or just manifestations of a phenomenon and their inauthentic counterparts. Secondly, krinein means literally to cut or cut through, in the way Socrates cut through the common opinion (doxa) of the many and came up with his dialectical-maieutical conclusions. Critique is a cutting force, a process of violent distinction and separation, a severing by means of a knife, dagger or sword. A third meaning associates critique with the concept of crisis. Crisis is a turning point; when we say, the economy, or a patient, is in a critical condition, they are in a serious situation, which may lead to their decay, disintegration or death. A critical situation denotes a grave turn of affairs and may lead to a serious change of direction ... The aim of critique was to introduce a limit attitude, to "dare people to know" beyond the given but also to delineate what ought to remain off limits to knowledge because it does not belong to its kingdom. (Douzinas, 47 en 49).
Indien ons hierdie definisie op die rol van kritiek in die resensie toepas, sou mens 'n paar afleidings kon maak. Kritiek vra die resensent om aan te dui hoe die werk wat geresenseer word, met die vorige werk vergelyk en hoe dit van die vorige werk in die oeuvre verskil (waar dit natuurlik nie 'n debuutwerk is nie). Kritiek vra die resensent om aan te dui of en hoe die werk wat geresenseer word, die grense van die genre verskuif. Kritiek vra die resensent om aan te dui of die werk wat geresenseer word, 'n keerpunt in die skrywer/digter se werk of dalk selfs in die kanon verteenwoordig. Kritiek vra die resensent om aan die leser te kommunikeer of die werk die oeuvre of kanon in 'n krisis dompel. Kritiek vra die resensent om erns te maak met die werk wat hy resenseer, sodat die leser kan besluit of hy/sy erns wil maak met die werk, of hy/sy wil "dare to know", soos Douzinas dit stel. Hierdie is almal moontlike eise wat die konsep van critique aan 'n boekresensent stel. Menige resensie wat vandag in die media verskyn, ignoreer eenvoudig hierdie vrae. Dit maak van daardie resensies blote (soos in naakte) opinies. Natuurlik is woordbeperkings en tydbeperkings 'n werklikheid, maar is dit te veel gevra om van 'n resensent te verwag om so ver moontlik met hierdie beperkings te "onderhandel" ten einde hom/haar in staat te stel om erns te maak met die verantwoordelikheid van resensent-wees?
Nodeloos om te sê ken ek aan Ampie Coetzee se resensie van Die Algebra van Nood geen sterre toe nie.
Bronne
Coetzee, A. Resensie: Die Algebra van Nood, deur Johann de Lange. 20 April 2009, beskikbaar by
http://dieburgerblogs.mweb.co.za/ViewComments.aspx?mid=4163
&blogid=78
Die Burger. Praat Saam Boekeblok (April 2009), beskikbaar by http://dieburgerblogs.mweb.co.za/ViewComments.aspx?mid=4163
&blogid=78 .
Douzinas, C. Oubliez Critique (2005) 16. Law and Critique,47-69.
Ingram HM and PB Mills. Reviewing the Book Reviews (1989), 22(3). PS Political Science and Politics 627-36.
Naudé, C-P. Keuse van resensente moet onpartydigheid bo stel. 30 April 2009, beskikbaar by http://dieburgerblogs.mweb.co.za
/ViewComments.aspx?mid=4203&blogid=78
Snyman, H. “Algebra"-resensie literêre mistasting, Die Burger.30 April 2009, 17.
Geagte Redakteur
In Die Burger, 20 April, resenseer Ampie Coetzee die digbundel van Johann de Lange, "Die algebra van nood".
Uit die staanspoor is die toon van die resensie neerhalend. Die aangrypende en artistieke omslagontwerp word effens spottend afgemaak en die bundel word as "onnoemenswaardig" geliasseer. Dit verdien twee sterretjies.
Die resensie het my oor een saak dankbaar laat voel: 'n resensie is altyd maar die eerste indrukke van 'n bepaalde leser.
De Lange se bundel moet as 'n eenheid gelees word. Enige fragmentariese lesing ontken die hegtheid van die bundel as selfgesprek. Die tema, soos vergestalt deur die voorblad en duidelik gesuggereer in die titel, is die poging om orde te skep binne vorme van nood en verslawing. Dit is opreg menslik en ontroerend in die genadelose blootlê van menslike passie, deernis en weerloosheid. Hierdie tematiek bly altyd geldig.
Die resensie neem van hierdie faktore feitlik geen kennis nie. Die rol van die gebruik van die ampersand (&) word afgemaak as 'n teken wat met algebra verband hou. Die feit dat algebra tekentaal is, is die enigste verwysing na die semantiek en filosofie rondom die begrip "algebra", 'n begrip ook reeds bekend in die digkuns. Die "gekrabbel" agterop die omslag word as iets "soos algebra" beskou.
'n Onderskeiding wat in die resensie gemaak word tussen metafore (wat) "intuïtief beelde skep" en ander metafore wat "kognitief" is, is onduidelik en effe verouderd. Moontlik is dit 'n verskrywing in die resensie, maar metafore skep nie beelde nie, hulle IS beelde. Die verwysing na "Tristia" waar dit "Nuwe Verse" moet wees, is seker ook maar 'n verskrywing.
Genoeg om te sê dat na my mening hierdie resensie "onnoemenswaardig" is. Ek ken daaraan een ster toe. Miskien vind dit eendag 'n plek in 'n aweregse versamelbundel van "literêre mistastings".
Henning Snyman
Kaapstad
[2]Sien ook Charl-Pierre Naudé se insiggewende kommentaar na aanleiding van resensies oor André P Brink se ’n Vurk in die Pad / A Fork in the Road (2009) (NB Uitgewers: Kaapstad), C-P Naudé: "Keuse van resensente moet onpartydigheid bo stel", beskikbaar by http://dieburgerblogs.mweb.co.za
/ViewComments.aspx?mid=4203&blogid=78.

