
Gedaantes en gedoentes – stories oor spoke, sieners en legendes
Daniël Lötter
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485314233
Die wêreld waarin ons leef, bly immer ’n fassinerende plek. Dié stelling is nie gebaseer op die huidige stand van die Suid-Afrikaanse elektrisiteitskrisis of jongste politieke skandaal nie, maar is eerder ’n weerspieëling van my gedagtegang nadat ek Daniël Lötter se Gedaantes en gedoentes – stories oor spoke, sieners en legendes gelees het. Alhoewel Lötter in 2020 met ’n bundel Karooverhale getiteld Die grootpad is ’n grondpad gedebuteer het, is hy veral bekend as skrywer van 17 maal moord (2020), 14 maal moord (2021) en Ware spookverhale van Suid-Afrika (2021). Vroeër vanjaar het Dwars – rare karakters onder ons (2022) verskyn. Sy jongste bundel, Gedaantes en gedoentes – stories oor spoke, sieners en legendes, bevat afdelings wat fokus op legendes, sieners, spoke, dwaalligte en spookontmoetings, asook spookhuise.
Die afdelings “bangmakers en legendes” en “spoke van bekendes, beroemdes en berugtes” bevat van die mees interessante verhale in die teks. Hoeveel Suid-Afrikaners weet dat Antjie Somers ’n iesegrimmige man in ’n vrouerok is en dat daar selfs ’n magisterverhandeling oor Antjie/Andries Somers geskryf is? En wat is die verband tussen die heks van Hexrivier, die Westelike Provinsie-rugbyspan en die rooi Kaapse disa? Die wyse waarop hede en verlede met mekaar vervleg is, is soms amper te goed om waar te wees. Verwysings na figure soos Pinky Pink en Salmaklak, asook die towerring van die hafies van Abdol Malak bring verskeie kulturele vertellings bymekaar en hierdie verhale word rondom spoke, sieners en legendes as deel van ’n multikulturele Suid-Afrikaanse samelewing verken. In dié opsig is die teks goed verteenwoordigend van die breër Suid-Afrikaanse stories oor spoke, sieners en legendes.
Die verhaal oor die spook van die Irannese sjah Reza Pahlavi bied ’n interessante blik op die politieke verhouding tussen Suid-Afrika en Iran tot 1979 wanneer die geskiedkundige gebeure ten opsigte van die sjah se abdikasie in ag geneem word. Verskeie intertekstuele verwysings kom in die teks voor. In “Die spook van die herehuis, die spook van die treinwa – Ernest Montagu White van Fancourt” word verwys na Langenhoven se kortverhaal “Die spookvrou op die En-See-See”. Die Grasveldse legende was immers die inspirasie vir Langenhoven se kortverhaal. Daar steek dus veel meer agter Fancourt in George as ’n luukse hotel en gholfbaan van formaat. So vorm brokkies inligting interessante verhale wat oor landsgrense strek.
Wat opval omtrent Lötter se oeuvre tot op hede, is sy vloeiende en pittige vertelstyl. Alhoewel die feite in sy tekste deeglik nagevors is, word die leser aan veel meer as geskiedkundige feite of oorvertellings blootgestel. Feit en oorvertellings word op kreatiewe wyse verweef om die leser te boei. Diegene wat die verhale van skrywers soos CJ Langenhoven en Herman Charles Bosman geniet, sal aanklank vind by Lötter se skryfstyl. Gesegdes soos “sowaar as wragtig in ’n wafelpan” en “so bang soos die duiwel vir ’n slypsteen” is maar enkele voorbeelde van terloopse opmerkings wat in die vertellings voorkom en bydra tot die genotvolle en oplaas besonder interessante verhale. Lesers wat vertroud is met Zakes Mda se roman The heart of redness (2000), sal byvoorbeeld die storie oor “Nongqwawushe – die bringer van die honger” insiggewend vind. Dit stem die leser tot nadenke en laat jou wonder of die geskiedenis van die Xhosa-nasie dalk anders sou verloop het indien Nongqwawushe se visioene deur koning Sarhili geïgnoreer sou word.
In ’n aparte vertelling vergelyk Lötter Niklaas (Siener) van Rensburg en Johanna Brandt se visioene. Brandt het diep spore in die Suid-Afrikaanse geskiedenis getrap en is veral bekend vir haar dagboekinskrywings tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog (oftewel die Anglo-Boereoorlog). Naas verpleegster was Brandt ook ’n spioen van formaat. Verskeie ooreenkomste tussen Van Rensburg en Brandt se visioene word bespreek, onder andere die verwysing na die “nag van die lang messe” waaroor gereeld in sommige Suid-Afrikaanse kringe bespiegel word.
...........
Vanuit ’n literêre oogpunt is die afdeling oor dwaalligte interessant. Lötter wys daarop dat verwysings na dwaalligte ook in die Afrikaanse letterkunde voorkom.
.............
Vanuit ’n literêre oogpunt is die afdeling oor dwaalligte interessant. Lötter wys daarop dat verwysings na dwaalligte ook in die Afrikaanse letterkunde voorkom. In DJ Opperman se epiese gedig Joernaal van Jorik (1949) word dwaalligte gekoppel aan Bartolomeus Dias se vaart om die Kaap. Ook Wilma Stockenström maak melding van dié verskynsel in haar gedig “By L’Agulhas ’n wandeling” in haar bundel Van vergetelheid en van glans (1976) wanneer die spreker opmerk: “Die glinstervloed / is swaar van plankton, dig van mineraal / en vertellings en vermoedens van wrakke / aan rotse onnaspeurbaar vasgehaak.” Lesers sal moontlik simpatiseer met ene Percy Smith wat waarskynlik die enigste Suid-Afrikaner in die geskiedenis is wat sy werk bedank het omdat ’n spooklig hom gejaag het. Wat hierdie sogenaamde dwaalligte is, sal ons as mense seker nooit weet of verstaan nie. Verdere verhale oor spookhuise, spoke van lady Anne Barnard en Daisy de Melker asook groteske seemonsters van die Kaap sorg vir ’n boeiende leeservaring.
............
Met Gedaantes en gedoentes – stories oor spoke, sieners en legendes lewer Lötter ’n belangrike en toeganklike bydrae tot die bewaring van herinneringe van merkwaardige (en soms opspraakwekkende) figure en gebeure wat met tye in geskiedkundige boeke oor die hoof gesien word.
................
Met Gedaantes en gedoentes – stories oor spoke, sieners en legendes lewer Lötter ’n belangrike en toeganklike bydrae tot die bewaring van herinneringe van merkwaardige (en soms opspraakwekkende) figure en gebeure wat met tye in geskiedkundige boeke oor die hoof gesien word. Sodoende bly verhale soos die legendes van Antjie Somers en die tokkelossie, voorspellings van sieners en verhale van spoke vir toekomstige generasies behoue. In dié opsig is Gedaantes en gedoentes ’n tydkapsule wat die misterie van mense, spoke en legendes oor eeue heen bewaar. Steek gerus die kers aan tydens beurtkrag en geniet Lötter se verkenning van gedaantes en gedoentes.
Lees ook:


Kommentaar
Mal oor die 'onbekende'.
Die spooklig van Witpoort/Bosmansrus naby Wolmaransstad, by die Suurtjies in ou Wes-Transvaal.