Gawe mense, die Groblers (deel II)

  • 2

Foto-erkenning: matuska, https://pixabay.com/photos/car-vehicle-retro-transport-2573038/

My ouma Nicolaas (Niekie) het met haar aantreklike, sjarmante, slim neef Hendrik getrou. Ek dink hy was nogal ’n korrelkop en ’n rokjagter – my tannie het eenmaal op skool ’n kind raakgeloop wat ’n spieëlbeeld van haar was. My ouma was dapper en lankmoedig en hy was vir haar mooi, het sy my vertel. Op sy oudag, toe hy al sieklik was, het hy haar glo aanbid en aan haar vasgeklou. Dit was voor my geboorte.

.........

Hulle was ’n luide, kwerulante gesin. Elke maaltyd was soos ’n teaterproduksie, met tafels wat kreun onder die spyse, hoewel niemand juis oorgewig was nie. Hulle was lief vir stry en sing en lag. Hulle was dwarstrekkerig en warmbloedig.

.........

Hulle was ’n luide, kwerulante gesin. Elke maaltyd was soos ’n teaterproduksie, met tafels wat kreun onder die spyse, hoewel niemand juis oorgewig was nie. Hulle was lief vir stry en sing en lag. Hulle was dwarstrekkerig en warmbloedig.

Ek het vertel van Hans, Hendrik, Sus en Karlien. Wat het van die res van my ouma en oupa se twaalf kinders geword?

Susan was stil en bedeesd met ’n aweregse humorsin. Vir haar was ’n mens moeiteloos lief. Sy is met ’n Engelsman getroud en het verengels en Sue geword. Toe hy jonk en verlief op die plaas kom kuier, het hy probeer Afrikaans praat. Hy wou sê hy is ook ’n Boer, maar toe kom dit krom uit: “Ek boer ook.” Die familie het gelê van die lag en hy het nooit weer ’n woord Afrikaans gepraat nie.

Hulle was al twee posmeesters. Toe ek hom geken het, was hy al oud en kwasterig, verstok en nors. Met ontbyt moes sy kalfsoogeiers perfek wees, of hy stuur dit terug, soos in ’n restaurant. Hy het ’n gunstelingleunstoel gehad. Toe TV uiteindelik na Suid-Afrika kom, was die enigste logiese plek vir die stel sodanig dat hy oor sy skouer moes sit en kyk. Maar skuif aan sy stoel – nooit. Ná sy dood het Sue ’n vol en gelukkige lewe gelei en die land saam met ’n vriendin in ’n karavaan deurkruis. Sy was blinkoog soos ’n krimpvarkie, altyd gereed om te lag, lief vir haar doppie brannas en Coke in die namiddag.

Oor Hermien het ek al hier geskryf. Ek onthou haar altyd uit ’n swart-wit foto waar sy ’n maskerbal as Maria de la Queillerie bygewoon het, met pêrels en wit pels. Sy was so mooi soos ’n hartseer waspop. Haar hart is gebreek deur ’n jong ingenieur. Hulle het op trou gestaan toe sy hom aan haar suster Sarie voorstel, pas terug uit Wene, waar sy operasangeres was. Sarie was die trots van die familie. Hermien se aanstaande se hart het ’n U-draai gemaak en hy en Sarie is getroud. Ek dink nie Hermien was juis verbaas nie – sy was gewoond dat Sarie die kollig steel en ’n sekere tragiese-heldin-slagofferskap het Hermien omgeef.

Sarie het van kleins af ’n lekhart gehad en is opgepiep. Boonop had sy die groot talent. Sy en Toemie het in Australië gaan woon. Daar is sy eendag op straat aan ’n hartaanval oorlede, in haar vroeë dertigs. Toemie en hul seuntjie het teruggekom Suid-Afrika toe. Die kind is reguit kosskool toe, op ongeveer vyf, in ’n vreemde land, moederloos. My ma vertel die bleek krulkoppie het op die speelgrond altyd op haar afgepyl en huilend aan haar bene vasgeklou. Ja, hy was nie veel jonger as my ma nie, want haar ouer susters was omtrent twintig jaar ouer as sy. Die seuntjie het selfs as ou man hartseer en verlore gelyk met sielvolle oë en sagte krulle.

Toemie is later in Suidwes met ’n streng Duitse vrou getroud. Die huwelik was ongelukkig en hy het weer uitgereik na Hermien, maar sy was nie geneë nie, want sy wou nie haar geluk op ’n ander se ongeluk bou nie. Haar geluk het nooit opgedaag nie. Ek onthou haar as ’n gees wat wandel, steeds mooi met ’n wasbleek gelaat sonder rimpel, met hoë voorkop, vol mond en droewige oë wat staar. Sy het later swaar op susmiddels geleun en soms was dit asof die ligte aan is met niemand tuis nie. Sy is alleen dood en het ’n ligblou Volkswagen kewer agtergelaat.

.........

Sy is alleen dood en het ’n ligblou Volkswagen kewer agtergelaat.

........

En ’n garderobe. Sy was ’n modepop en haar skoondogter het ná haar dood vir my ma van haar uitrustings gebring. Ek was die enigste wat opgemerk het dat die klere verpak was in ’n kartondoos met die logo GHOST POPS.

Ek weet nie wat om oor Rina te sê nie. Sy was ’n platjie, rissiepit en vuurvreter. Sy was bitterlik godsdienstig en preuts. Ek was nog klein toe sy my die enigste seksvoorligting gee wat ek ooit ontvang het, en dit het my getraumatiseer. Ek onthou lelike beelde en duister waarskuwings. Ten slotte was die boodskap: As jy nie skoon en rein en ’n maagd is nie, gaan jy nie ’n man kry nie. Ek was nie seker wat ’n maagd is nie.

Haar man het geboer en voor my heugenis het hy straf gedrink. Sy was ’n vuurvreter en het hom van die bottel gespeen – daarna was hy ’n geheelonthouer. Hy het die eerste combover gehad wat ek ooit gesien het, styf gespuit met haarsprei. Hy het na tandepasta geruik en ewig geglimlag, was die ene hartlikheid en verkleinwoorde – dit was asof daar iets Amerikaans omtrent hom was. Hul vier kinders was effe senuagtig en baie voorbeeldig. Hul dogter Nicola is op sewentig plus steeds ’n tydlose skoonheid en ’n vrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie.

Was dit Sue of Hermien wat eendag op straat van haar handsak beroof is? Toe sit sy die grypdief agterna, hardloop hom in, duik hom plat en vat haar handsak terug, want die poskantoor se sleutels was daarin. Hulle was al twee kort en fyn gebou, maar vasberade, vreesloos en pligsgetrou.

Ná Rina was Niklaas, ouma Niekie se oogappel – uiteindelik weer ’n seun. Oor hom het ek ook al hier geskryf, hoe aantreklik en vol selfvertroue hy was. Hoe ek as kind gedink het my pa is maar vaal teen my ma se dashing broer, tot ek besef het dis ’n kwessie van smaak. My pa het homself nooit voorgestoot nie, maar ook nooit minderwaardig gevoel nie. Hy het veel in sy lewe bereik. Niklaas was ’n sjarmante sukkelaar.

.......

Ná Niklaas was daar Freda die eksentrieke wat op aarde nooit ingepas het nie en ’n kuns daarvan gemaak het. Oor haar het ek ook hier geskryf, oor haar gebrek aan selfvertroue, haar vrees vir sukses en haar sigeunerrompe.

........

Ná Niklaas was daar Freda die eksentrieke wat op aarde nooit ingepas het nie en ’n kuns daarvan gemaak het. Oor haar het ek ook hier geskryf, oor haar gebrek aan selfvertroue, haar vrees vir sukses en haar sigeunerrompe.

Die enigste wat nog leef, is my ma, Dingi. Haar naam is Helena, maar omdat sy die baba was, het hulle haar “dingetjie” genoem. In Freda se kindermond het dit Dingi geword. Dingi het haar deur niks laat onderkry nie en vir haarself ’n formidabele selfbeeld geskep. Sy het almal gesjarmeer en is ’n briljante strateeg wat weet presies hoe om haar sin te kry. In haar fleur het sy al wat man is ontsenu met haar borsgleuf.

Haar ouers het nog in Swaziland gewoon en het my pa eers op my ouers se troudag ontmoet, maar haar pa het gesê hy het absolute vrede oor haar keuse, want: “Dingi sal altyd ’n wenperd opsaal.” Sy was mooi, soos hulle almal, en kon, soos al die kinders, soos ’n engel sing, het ’n uitsonderlike geheue en is ’n onversadigbare leser. Vir my was dit moeilik om te ontsnap uit die wentelbaan van ’n moeder met ’n persoonlikheid so groot soos ’n planeet. Eendag sal ek meer oor haar skryf.

Rus sag, my rustelose voorsate.

  • 2

Kommentaar

  • Ismail Losper

    Afrikaans bly nog steeds relevant. Ek geniet altyd goeie skrywe en, bowenal, 'n boeiende storie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top