Gaan haal daai ou boeke. Stof hulle af.

  • 4

...
’n Verlede lê in ons goeters opgesluit.
...

Sidney Gilroy skryf op Facebook na aanleiding van Kerneels Breytenbach se resensie:

Wat Kerneels so mooi hier sê, is wat my naweke in museums en in pawn shops laat uithang. Boeke is soos jou ou foto’s, jou beddegoed en die klere in jou kas. Wanneer jy sterf, hou hulle nie ook op met leef nie. Daar is steeds gebruik in hulle oor, en wysheid ook. ’n Verlede lê in ons goeters opgesluit. Maar té gereeld, is dit wat eerste op die lorrie weggery word om na wie-weet-waar te verdwyn. Afrikaans is dieselfde.

Ek is in die hemel as ek deur bokse, rakke en pakkamers vol stowwerige Afrikaanse boeke kan soek. Ons taal is ’n skatkis. Die mense wat haar op hul penpunt aangedra het, nog meer só. Dit is hartseer dat hul lewenswerk, en daarmee saam die kern van Afrikaans, nou soos grassade op die wind gaan verdwyn. Dít terwyl biblioteke, soos die res van die land, ineenstort.

Die grootste geskenk wat hierdie Afrikaanse generasie vir die nageslag kan nalaat, is om juis dit te doen wat in hierdie artikel gevra word: Gaan haal daai ou boeke. Stof hulle af. Digitaliseer hulle. Maak die hart van Afrikaans onsterflik.

Ek sal met graagte die eerste beskeie versameling beskikbaar stel vir die organisasie wat hierdie taak sal aanpak of alreeds begin het:

  • Die dwaling van Frederik Oppel deur Jan Scannell,
  • Die Hemeltuin deur Carel Schoeman,
  • Kruispad en Kromburg deur CM vd Heever,
  • Na vaste gange deur MER,
  • In die somer van ’36 deur Klaas Steytler,
  • Anselm en die Jut deur Dan Sleigh,
  • Sout van die aarde deur Uys Krige,
  • Agter my ’n albatros deur Anna M Louw,
  • Stad en land deur Boerneef,
  • Op die eensame veld deur W Fouche

Jóú werk moet wees om jou oë oop te hou vir vergete skatte van Afrikaans in jou ouma, oupa, tantes en ooms se huise en weggooigoed.

Lees ook:

Petra Müller: Die skerpgevylde oomblik, ’n huldiging onder redaksie van Karen de Wet – ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 4

Kommentaar

  • Jacques Wessels

    Goeie Môre Sidney en alle boekliefhebbers.
    Ek het begin om oorskotboeke van tweede handse winkels op te tel deur te soek en die grootste gedeelte is maar in Engels. Ek vind altyd 'n paar wat in my versameling land. Die oorskot ry ek dan na die versamelplekke van die die arm gemeenskappe waar dit met oop arms ontvang word. Al probleem is die min Afrikaanse boeke, wat die meerderheid soek, so daar is meer as 44 sprekers.

    As net een persoon per dorp die Dierebeskermingsvereniging en biblioteek se oorskiet- / uitgooiboeke so versprei, kan ons 'n amper kostelose, werklilke verskil maak aan Afrikaans en aan gemeenskapsontwikkeling!

  • Kokkie Duminy

    Ek is 'n gekwalifiseerde bibliotekaris en het in Africana gespesialiseer. Sal enige tyd help met sortering of uitken van skatte.

  • Goeidag, medelesers. Ek het jare terug 'n liefdesverhaal gelees wat afgespeel het op die wildsplaas Chamanzi in die Lousburg/Magudu-distrik. Ek sou baie graag weer hom wou lees, want nou bly ek nie ver van die oorspronklike plaas af nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top