Futiliteitsdilemmas en die Tweede Wêreldoorlog

  • 1

“Blaf vir die maan” (fotobron: Pixabay)

Die Tweede Wêreldoorlog het net meer as tagtig jaar gelede, op 1 September 1939, uitgebreek.  Handré Brand skryf ’n artikel oor "wat sou gebeur het"- of "sê nou maar"-vrae. Die doel van hierdie artikel is om kortliks te kyk na verskillende betekenisse wat aan die term futiliteit geheg word en om enkele futiliteitsdilemmas te bespreek wat in die konteks van die alledaagse praktykvoering, veral in die mediese en sielkundeberoepe, na vore kom. 

  1. Inleiding

De la Porte (2019:10) skryf onlangs in ’n meningskolom van ’n bekende dagblad: “Ek het al baie gewonder wat die uitkoms van die Tweede Wêreldoorlog sou gewees het en veral hoe die geskiedenis van die groter Europa sou verloop het as Hitler wel na sy generaals geluister het en Rusland nie op 22 Junie 1941 aangeval het nie.” Hoewel daar reeds in die verlede verskeie boeke oor dié onderwerp geskryf is (kyk bv Harris 1992 en Moore 1998), kom die beantwoording van hierdie tipe “wat sou gebeur het as”- of “sê nou maar”-vrae in werklikheid op ’n futiele scenariobeplanningsoefening neer. Daar kan net gespekuleer word oor die moontlike uitkomste van ’n situasie wat nooit werklik kan bestaan of bestaan het nie. Daarom sou die uiteindelike doel van dié soort publikasie deur ’n eksterne waarnemer met reg as ’n futiele oefening bestempel kon word.

Die populêre siening is dat daar tydens ’n futiele handeling spreekwoordelik “vir die maan geblaf” word en daar ook verwag word dat die maan op die geblaf sal reageer. Dit is ’n vrugtelose oefening, ’n poging om die onmoontlike te probeer vermag. Die strewe om ’n sinvolle uitkoms te bewerkstellig is eenvoudig futiel. Aan die ander kant is bogenoemde skrywers en die lesers van hierdie tipe publikasie egter waarskynlik van mening dat dié produkte wel ’n sinvolle bydrae tot fiksieliteratuur lewer. Binne daardie spesifieke konteks word die eindproduk dus nie as ’n futiele poging gesien nie.

Nie alleen is die deeglike omskrywing van die konstruk futiliteit derhalwe belangrik nie, maar dit is ook duidelik dat perseptuele verskille ’n kritieke rol speel by die evaluering van watter aktiwiteit, objek of produk as futiel bestempel word. Verder blyk dit dat die moreel-etiese implikasies wat met ’n aktiwiteit verband hou wat as futiel beskou word, ook van belang is.

’n Persoon kan (volgens Scott 2013) op ’n doelgerigte en sistematiese wyse probeer om deur middel van ’n gegewe aktiwiteit spesifieke verandering te bewerkstelling. ’n Bergklimmer probeer byvoorbeeld om ’n bepaalde bergspits sonder die hulp van toue of tegniese hulpmiddels (die aktiwiteit) in ’n rekordtyd (die verandering) uit te klim. Indien die klimmer onsuksesvol is in sy pogings, dan behoort die aktiwiteit eerder op ’n gegewe tydstip gestaak te word. Daar kan dalk goeie redes wees waarom dit beter is om die handdoek in te gooi eerder as om voort te sukkel. Die persoon weet egter nie sonder meer of dit moreel regverdigbaar is om op te hou nie. Hoe weet ’n persoon of dit moreel reg of verkeerd is om aanhoudend teen die gety te veg? Kan dit as heldhaftig of dapper beskou word in sekere omstandighede om voort te stry indien daar geen kans op sukses is nie? Wanneer word die grens van gesonde uithouvermoë oorskry en word na roekeloosheid, hardkoppigheid, futiliteit of onverantwoordelikheid beweeg? (Kyk Scott 2013.)

Die doel van hierdie artikel is om kortliks te kyk na verskillende betekenisse wat aan die term futiliteit geheg word en om enkele futiliteitsdilemmas te bespreek wat in die konteks van die alledaagse praktykvoering, veral in die mediese en sielkundeberoepe, na vore kom. Die primêre doel is dus eerder om kortliks enkele fasette van ’n komplekse verskynsel uit te lig as om die onderwerp indringend en in terme van alle moontlike raakvlakke te ontleed.

  1. Algemene omskrywings van futiel en futiliteit

Die Nederlandse Ensiklopedie² lys die volgende sinonieme terme vir futiel: gering, nietig, niksseggend, onaansienlik, onbeduidend, onbelangrik, onbenullig, triviaal en beuselagtig.³ Futiliteit is dus ’n woord wat geassosieer word met ’n objek, verskynsel of handeling wat geen wesenlike bydrae lewer tot die sinvolle ordening van ’n groter geheel nie. Die woord futiel is ontleen aan Latyn (fūtilis) wat “sonder belang” of “sonder bodem” beteken. Futiliteit is op beide objekte (dinge) en handelinge (gedrag) van toepassing, soos ook uit verskillende aanlyn woordeboeke blyk.

Macmillan verwys na futiele situasies waar ’n tekort aan doelgerigtheid, belangrikheid of effektiwiteit bestaan. Merriam-Webster definieer futiliteit breedweg as ’n toestand van totale nutteloosheid. Vocabulary.com is meer spesifiek en verwys na futiliteit as ’n kognisie wat ontstaan by ’n waarnemer wat dit onmoontlik vind om die betekenisvolheid van ’n bepaalde aktiwiteit in te sien, selfs nadat doelbewuste pogings aangewend is om die aktiwiteit wel te probeer vertolk en te verstaan. Futiliteit is die insig wat ontstaan dat harde werk nie beloon gaan word nie, gevolglik kan die aktiwiteit net sowel gestaak word. Die kwaliteit van die aktiwiteit wat bedryf word, dui dus daarop dat geen waardevolle effek of impak moontlik is nie.

  1. Aanverwante teoretiese beginsels en perspektiewe

Indien ’n bepaalde situasie as futiel geïnterpreteer sou word, spruit die interpretasie volgens die definisie deur Vocabulary.com hier bo voort uit ’n bepaalde denkpatroon. Denkpatrone of persepsies berus op kognitiewe interpretasies en kan in terme van die prikkelreaksieteorie verklaar word. Wanneer ’n stimulus deur ’n persoon erken of geïnterpreteer word, impliseer dit dat die waarnemer oor ’n bepaalde perseptuele skema beskik. Perseptuele skemas (Passer, Smith, Holt, Bremner, Sutherland en Vliek 2009:205) is kognitiewe template op grond waarvan die identifisering en klassifisering van sensoriese prikkels plaasvind. ’n Persoon interpreteer byvoorbeeld ’n militêre operasie in die Eerste Wêreldoorlog in terme van sy eie skema of denkraamwerk as futiel. Die eindproduk of kognitiewe gevolgtrekking (futiliteit) is dus die gevolg van ’n unieke denkpatroon of -styl van die waarnemer.

’n Verdere kognitiewe faktor is ’n gereedheid of ’n geneigdheid om ’n bepaalde reeks prikkels (perceptual set) op verskillende tye op ’n vasgestelde wyse te interpreteer, en die beginsel van perseptuele konstantheid stel die waarnemer verder ook in staat om ’n bekende reeks prikkels onder verskillende omstandighede te herken en sinvol in terme van die waarnemer se ervaring te vertolk.

Futiliteit word dikwels met denke oor die dood en die sinvolheid van die lewe geassosieer. Naturalisme is ’n opvatting waarin van die standpunt uitgegaan word dat die lewe futiel is, en alles wat ons is en doen op niks uitloop nie. Vir diegene wat naturalisme as die absolute waarheid voorhou, is die lewe dus futiel. Die gewaarwording van futiliteit ontstaan uit ’n diskrepansie tussen die inherente behoeftes van die mens en ’n wêreld sonder God en ’n hiernamaals. ’n Godlose wêreld vervul nie die mens se diepste strewes na en behoeftes aan afhanklikheid nie. Daar bestaan inkongruensie tussen dit wat ons werklik wil hê en die belewenis van ’n totaal “koue en afwesige heelal” wat nie ’n duit vir enigiets en enigiemand omgee nie. Hierdie beskouings vorm dikwels die basis van en dinamika vir die ontstaan van eksistensiële angs.

Die skeptisisme is ’n onderafdeling van die filosofie waarin die belewing van futiliteit ’n belangrike rol speel. In die geval van gewone twyfel (incredulity) is dit mootlik om by wyse van redenering die basiese aannames vir die twyfel uit ’n bepaalde argument te verwyder. In teenstelling hiermee word deur middel van filosofiese skeptisisme probeer om elke individuele voorveronderstelling wat deel uitmaak van ’n bepaalde reeks of klas voorveronderstellings tydens ’n argument, in sy geheel te betwyfel. Een lid van die klas word nie teen die ander opgestel nie. ’n Lewenshouding wat gekenmerk word deur ’n oormaat skeptisisme staan as nihilisme bekend. Alle menslike bestaan word gesien as betekenisloos (futiel) omdat alle waardes sinloos en ongegrond is (Van Schalkwyk, Du Plessis, Lombard, Botha, Rademeyer, Gabriels en Louw 2000).

Polanski (2008) beskyf ’n hipotetiese “apatie-futiliteitsindroom” wat hy waargeneem het by ’n ontnugterde, fatalistiese en immobiele gemeenskap in die suidelike Appalachiese bergstreke. Die simptomatologie was soos volg: ’n siening dat niks die moeite werd is om te doen nie; emosionele afgestomptheid; isolasie in terme van persoonlike verhoudings; min selfvertroue en swak vaardighede; passief-aggressiwiteit en koppigheid; negativisme; onvermoë om emosies te verbaliseer; verbalisering van futiliteit teenoor hulpverleners.

Abramson en sy medewerkers het aanvanklik (Liu, Kleiman, Nestor en Cheek 2015)  die teorie van hopeloosheid, ’n prominente kognitiewe verklaringsmodel vir kliniese depressie, die lig laat sien. Die hoofoorsaak van hopeloosheidsdepressie is die aanwesigheid van kognisies by die pasiënt soos dat (a) spesifieke positiewe uitkomste onmoontlik is; (b) negatiewe uitkomste onvermydelik is; en (c) geen reaksie in ’n persoon se repertoire van moontlike reaksies sal meehelp om die kanse op negatiewe uitkomste te verminder nie. 

In die teologiese konteks word hoop as die teenoorgestelde pool van futiliteit gekonstateer. Dit is die eerste fase van hoop. Volgens Wright (2007) is die belangrikste hoop wat die Christelike evangelie voorhou, tweërlei van aard, nl: fase 1: hoop op verlossing, opstanding uit die dood en die ewige lewe; fase 2: die ontdekking van hoop binne die huidige wêreld, maw praktiese wyses waarop hoop lewend kan word vir gemeenskappe en individue wat hoop benodig. Die mate waarin die eerste faset omhels word, bevorder die ontwikkeling en instandhouding van die tweede faset van hoop.

  1. Mediese futiliteit

Moderne ontwikkelinge op die gebied van mediese tegnologie en behandelingsprosedures het dit moontlik gemaak dat pasiënte met ongeneeslike siektes langer aan die lewe gehou kan word sonder dat die onderliggende patologie noodwendig tydens die lewensondersteunende proses genees word. Alhoewel die lewe van die pasiënt fisiek dus verleng word, word die kwaliteit van ’n langer lewe nie noodwendig ook terselfdertyd in stand gehou nie (Saettele en Kras 2013).

In die mediese praktyk word na futiliteit verwys wanneer ’n spesifieke mediese ingryping op ’n spesifieke pasiënt toegepas word sonder dat dit enige beduidende voordeel vir die pasiënt inhou (Saettele en Kras 2013). Swetz, Burkle, Berge en Lanier (2014) verfyn hierdie omskrywing en verwys na die gebruik van oormatige mediese ingrypings in terme van getal pogings en die koste van prosedures met min vooruitsig daarop dat die pasiënt se uiteindelike kliniese uitkoms ten goede sal verander. Wat verder duidelik na vore kom, is dat kwantitatiewe besluitneming een benadering is, en kliniese ervaring ’n ander benadering met ’n ander fokus is. Dit word deur die volgende stelling geïllustreer: “Die vorige 100 gevalle dui daarop dat hierdie spesifieke intervensie statisties gesproke nutteloos vir hierdie pasiënt is.” So ’n uitspraak kom neer op kwantitatiewe besluitneming. Aan die ander kant kan die vertrekpunt op fisiologiese mediese futiliteit gebaseer wees. Die klem word dan verskuif na ’n kwalitatiewe vraag: “Sal ’n bepaalde ingryping aan die verwagtinge voldoen in terme van ’n positiewe uitkoms vir ’n spesifieke pasiënt?” Chun (2019) wys daarop dat ’n intervensie wat nie die pasiënt tot voordeel strek nie, maar wel ’n fisiologiese effek het, ook as futiel beskou behoort te word. Die blote terugkeer van bloedsirkulasie (maw ’n fisiologiese effek) sal nie tot voordeel van ’n pasiënt wees indien sy betekenisvolle voortbestaan (meaningful existence) steeds onmoontlik is nie.

’n Verdere argument sou aangevoer kon word dat medici toepaslike en geskikte mediese hulp aan hulle pasiënte behoort te lewer. Gevolglik sou die besluite of mediese intervensies wat toepaslik is al dan nie, uitsluitlik mediese besluite wees. Dokters sou ook kon weier om ontoepaslike intervensies op pasiënte toe te pas. Vroeër was die frase “doctor knows best” (Nair-Collins 2015:555) die onderbou vir mediese paternalisme en aan die orde van die dag. Die meeste pasiënte het dit voorheen so aanvaar. Vanuit ’n sisteemteoretiese invalshoek (interaksie tussen pasiënt, medikus, die samelewing en mediese skemas) het die vraag geleidelik ontstaan watter rol pasiënte en hul betrokke familielede/woordvoerders se behoeftes voortaan in besluitneming oor mediese futiliteit sou kon speel.

Gedurende die periode 1980–1990 het die pendulum vinniger begin swaai (Nair-Collins 2015). Omdat pasiënte en/of hul woordvoerders al hoe meer begin aandring het daarop dat medici intervensies moet gebruik wat deur die mediese beroep as ontoepaslik beskou is, het baie praktisyns onder druk nogtans verplig gevoel om hierdie behandelingsprosedures wat teenstrydig is met hul professionele oordeel toe te pas. Op daardie stadium het die konsep mediese futiliteit vinniger op die voorgrond begin tree.

4.1 Kontroversiële aard van mediese futiliteit

Die konsep mediese futiliteit is uit die aard van die saak om verskeie redes kontroversieel: (a) Onsekerheid bestaan oor presies wat met “geen beduidende voordeel nie” bedoel word. (b) Die mediese wetenskap hou sekere beperkings in, spesifiek wat mediese behandeling betref, en mediese futiliteit behoort teen die agtergrond van daardie beperkings verstaan te word. (c) Daar bestaan wêreldwyd tekorte aan mediese dienste en hulpbronne. Vir baie pasiënte is dit onmoontlik om voordeel uit mediese sorg te trek omrede mediese dienste vir hulle ontoeganklik is. (d) Verskeie sosiokulturele faktore beïnvloed mediese futiliteit, soos aandrang deur familie of die pasiënt self dat ’n bepaalde behandelingsprogram moet voortgaan, terwyl die mediese praktisyn ’n ander mening handhaaf. Volgens Swetz ea (2014) is onrealistiese verwagtinge van familie die enkele beste voorspeller van lang en duur intensiewe noodsorgbehandeling van pasiënte wat waarskynlik nie sal oorleef nie. Hierdie verwagtings gaan dikwels gepaard met persoonlike, kulturele en godsdienstige oortuigings, foutiewe interpretasie van mediese inligting of mediese inligting wat nie duidelik deur praktisyns aan pasiënte/families oorgedra word nie. Saettele en Kras (2013) wys verder daarop dat die persepsie van ’n futiele intervensie kan verskil tussen praktisyn en pasiënt. ’n Intervensie wat duidelik futiel is vanuit ’n fisiologiese vertrekpunt blyk soms van onskatbare waarde vir die familie te wees wanneer hulle nog betyds by die bed van ’n lewende pasiënt kan uitkom. (e) In die geval van terminale pasiënte is die dood per definisie onafwendbaar, met die gevolg dat mediese futiliteit in daardie konteks moeilik interpreteerbaar is, veral die vraag of behandeling gestaak of nie gestaak behoort te word. (f) Die mediese wetenskap is dinamies. Intervensies wat voorheen as futiel beskou is, kan tans as toepaslik gesien word en andersom. Ontwikkeling van dié beroep wat diagnose, behandeling en tegnologie betref, word met ’n leerkurwe geassosieer wat bepaal watter pasiënte by watter intervensies kan baat vind.

Dit blyk ook duidelik dat bio-etiese konsepte soos outonomie, regverdigheid, voordeligheid en skadebeperking voorbeelde van aanverwante kwessies is wat met mediese futiliteit geassosieer word.

4.2 Outonomie

Outonomie verwys na selfbeskikking van ’n persoon. Indien ’n persoon oor die kapasiteit beskik om outonoom op te tree, dan kan selfstandige besluite geneem word sonder die hulp van ander. Die kapasiteit om outonoom op te tree waarborg egter steeds nie dat die persoon wel die volle implikasies van sy besluit besef en dat geen eksterne faktore ’n invloed op die besluit het nie.

Pasiënt-outonomie sluit ook wyer aspekte soos pasiëntgesentreerdheid en -selfbestuur asook gedeelde besluitneming in. Dit word geïllustreer deur die studie van Eassey, Reddel, Ryan en Smith (2018) met 29 asmatiese pasiënte wie se response aandui dat die interpretasie van outonomie wyer strek as blote mediese besluitneming en inligtingsoordrag. In hierdie studie het pasiënt-outonomie ook temas aangeraak soos ’n behoefte aan die behoud van selfidentiteit en die minimalisering van beperkings in die uitvoering van die pasiënte se alledaagse lewensaktiwiteite en hul werksverpligtinge.

  • Billikheid/regverdigheid

Billikheid of regverdigheid beteken dat aan ander gegee word wat hulle behoort te ontvang. Dit sluit in die billike verspreiding van voordele, risiko’s en koste. Billikheid en gelykheid sluit enige vorm van vooroordeel uit.

In hul navorsing oor die regverdigheid van besluitneming binne die mediese konteks ondersoek Fondacaro, Frogner en Moos (2005) die ervaring en response van 156 individue op vrae wat handel oor die wyse waarop mediese praktisyns en mediese fondse oor ’n 12-maand-periode besluite oor hul gesondheidsorg geneem het. Situasies soos die volgende moes beskryf word: ervarings met betrekking tot die omskakeling van een tipe medikasie na ’n ander; toepassing van diagnostiese prosedures; besluite of ’n operasie uitgevoer kan word al dan nie; en die wyse waarop mediese fondse ’n bepaalde voorskrif vir medikasie, diagnostiese prosedures of voorafgoedkeuring vir operasies hanteer het.

  • Handhawing van voordeel

In die bio-etiek verwys hierdie beginsel na die strewe om goed te doen aan ander, veral wanneer ’n praktisyn onder ’n professionele verpligting staan om hierdie beginsel toe te pas. Dit handel dus oor die morele verpligting om tot die voordeel van ander op te tree. Die aard van ’n spesifieke situasie word normaalweg vooraf deeglik bespreek en oorweeg, veral prosedures om moontlike skade te voorkom of selfs heeltemal uit te skakel (non-maleficence). Moontlike positiewe gevolge word teen moontlike negatiewe opgeweeg. Die volgende gevallestudie deur Kaufman en Jessup (2012:75–6) illustreer hierdie soort etiese dilemma:

'n 38-jarige man word oorweeg vir ’n hartoorplanting of ’n hart-long-oorplanting. Hy toon 'n geskiedenis van chroniese hartsiekte en het op 12-jarige ouderdom sy eerste chirurgiese prosedure ('n Rastelli-prosedure) ondergaan. In Oktober 1999 het hy, as gevolg van komplikasies van sy onderliggende siekte, op 27-jarige ouderdom 'n hart-long-oorplanting ondergaan. Sy preoperatiewe beeld toon die voorkoms van respiratoriese probleme en nierversaking asook langdurige sitovegalovirus- (CMV-) infeksie. Gelukkig het hy herstel en daarna goed gevaar. Hy trou en word 'n vader. Nege jaar na die hart-long-oorplanting (in 2008) is 'n skenkergerigte teenliggaampie (wat vermoedelik uiteindelik lei tot teenliggaampie-bemiddelde verwerping) opgespoor en gedurende die volgende drie jaar het hy progressiewe hartdisfunksie ontwikkel. Teen Januarie 2011 het die linkerventrikulêre pompaksie verminder tot 30% en het hy ernstige arteriopatie gehad, 'n komplikasie na die oorplanting waar die are van die nuwe hart vernou en afgesluit word. Die reaksie hou vermoedelik verband met die aktivering van die immuunstelsel en CMV-infeksie. Op hierdie stadium voldoen die pasiënt aan die New Yorkse Hartvereniging se klas IIIB-simptome van hartversaking wat chroniese infusieterapie met milrinoon benodig om sy hartfunksie en lewensorgane te ondersteun. Hy presenteer met stabiele longfunksie wat in die verwagte reeks vir 'n longoorplantingontvanger val en normale nierfunksie. Op sosiaal-emosionele gebied toon hy geen noemenswaardige kwessies nie. Hy werk voltyds, is getroud en het kinders. Op grond van sy hartfunksie as gevolg van arteriopatie het hy 'n waarskynlike lewensverwagting van tussen ses maande en 'n jaar.

In terme van die beginsel “beste voordeel vir die pasiënt” sou die voor- en nadele van die volgende opsies teen mekaar opgeweeg kon word: Sou ’n gesondheidsorgbestuursprogram vir die pasiënt voldoende wees of behoort hy ’n herhalende hartoorplanting te ontvang?

 4.5 Voorkoming

Aghabarary en Dehghan Nayeri (2016) kom tot die gevolgtrekking dat mediese futiliteit ’n komplekse, teenstrydige, subjektiewe, situasie-spesifieke, waardegelaaide en doelgebonde konsep is en deurgaans met ’n mate van onsekerheid gepaardgaan. Daar bestaan tans geen geldige en objektiewe kriteria om die konstrukgeldigheid daarvan te bepaal nie.

Sou die voorkoms van mediese futiliteit enigsins voorkom of beperk kon word? In hierdie verband stel Swetz ea (2014) enkele basiese praktiese maatreëls voor teen die agtergrond waarvan potensiële mediesefutiliteitsituasies benader behoort te word:

  • Die benutting van mediese sorg wat gebaseer is op die resultate van uitkomsgebaseerde navorsing behoort deurgaans aangemoedig te word.

  • Mediese praktisyns behoort ruimte te laat en begrip te toon vir individuele pasiëntvariabiliteit.

  • Medici behoort te fokus op effektiewe dokter-pasiënt-kommunikasiemetodes. Die doelwitte van intervensie(s) moet duidelik uitgespel en oorgedra word. Die dokter se rol as die fasiliteerder van aanbevelings in oorleg met die pasiënt se behoeftes moet herbeklemtoon word. Beperk deurgaans die moontlikheid vir konflik tussen pasiëntoutonomie en praktisynoutonomie.

Saettele en Kras (2013:213) som die huidige situasie korrek op deur te sê: “The end goal to this line of research would be to determine if there are areas in which education and improved communication could decrease the amount of futile care being delivered.” 

  1. Psigoterapie

Wat sou die aard van futiliteit in die sielkundeberoep wees, en op watter wyse sou dit in die praktyk na vore kom?

  • Reikwydte en impak van dienslewering

Volgens George Albee (1999) doen professionele psigoterapeute te min te laat en bereik dit te min mense. Die doel van psigoterapie is verder om kliënte te laat konformeer tot middelklaswaardes asook om hulle positief oor hulself te laat voel. Psigoterapie in die Westerse kultuur is gewortel in ’n individualistiese etiek en het ontwikkel uit die Calvinistiese klasgebaseerde model. Dit is ’n variant van Sosiale Darwinisme en sluit die oë vir die lotgevalle van die armes, die magteloses, die gestremdes en diegene wat deur die stelsel uitgebuit word. Die futilisme van psigoterapie is dus daarin geleë dat professionele sielkundige dienste nie vir die massas toeganklik is nie, eerder relatief gesproke vir enkele bevoorregtes. Albee stel primêre voorkoming voor as die enigste strategie wat tot sosiale verandering en tot verlaging in die voorkoms van psigopatologie aanleiding kan gee.

Hierdie argument sluit aan by punt 4.1 (c) hier bo.

  • Uitbranding

Wat die terminering van psigoterapie betref, beveel die Beroepsraad vir Sielkunde (kyk bl 17 van die Gedragsreëls vir Sielkundiges) aan dat die psigoterapeutiese proses afgehandel moet word wanneer dit redelik duidelik blyk dat die kliënt nie baat vind by die behandeling nie, of dat skade aangerig word deur voortsetting van die behandelingsprogram. Die fokus is dus volgens hierdie gedragsreëls hoofsaaklik op non-maleficence, maw die voorkoming van skadelikheid van die terapeutiese proses.

Indien die kliënt gedurende die behandelingsprogram enige vorm van skade sou opdoen, dan voldoen die behandelingsprogram nie aan die terapeutiese doelstellings nie. Die proses kan daarom as futiel bestempel word. Dit is moontlik dat die risiko vir skadeveroorsaking primêr by die kliënt of by die terapeut of by ’n interaksie van die twee geleë kan wees. Dit is algemeen bekend dat uitbranding by psigoterapeute kan voorkom (Beaumont, Durkin, Hollins Martin en Carson 2015). Uitbranding oefen meestal ’n negatiewe effek uit op die terapeutiese verhouding tussen kliënt en terapeut en behoort dus ten alle koste voorkom te word.

Navorsing deur Truax en Carchuff oor die noodsaaklike en genoegsame elemente in die psigoterapeutiese verhouding wat as die terapeutiese triade bekend staan, dui daarop dat psigiatriese pasiënte agteruitgaan weens hul blootstelling aan lae vlakke van kongruensie, onvoorwaardelike positiewe agting en akkurate empatiese begrip soos deur die terapeut gedemonstreer. Dit illustreer die punt dat ’n psigoterapeutiese proses (veral wanneer uitbranding by die terapeut voorkom) futiel of selfs skadelik vir die kliënt kan wees.

  • Ervaring en opleiding

Ander faktore wat veroorsaak dat die psigoterapeutiese proses nie aan sy doelstellings kan voldoen nie, het met opleiding en ervaring te make. Die blootstelling van betreklik onervare internsielkundiges en junior sielkundiges aan komplekse gevallewerk (veral indien effektiewe toesighouding of begeleiding nie beskikbaar is nie) kan as ’n voorbeeld dien, asook onsekerheid oor terminering wat tot onnodige verlenging van die behandelingsperiode lei. Daarom speel voortgesette onderrig en persoonlike mentorskappe so ’n belangrike rol om sulke situasies te voorkom en skadelike impak te beperk.

Selfs ervare terapeute kan in onbenydenswaardige situasies beland waar die kliënt met depressie of gemaskeerde depressie presenteer en selfdood pleeg tydens ’n behandelingsprogram. Die terapeut verkeer gevolglik in ’n baie moeilike situasie en dit is bloot natuurlik indien selfondersoek sou plaasvind oor die moontlike futiliteit van sodanige behandelingsproses.

  1. Samevattende gevolgtrekking

Mediese futilisme is ’n konsep wat reeds oor dekades (Grant, Modi en Singer 2014) lank in besonderhede gedebatteer word. Dit spruit voort uit eertydse konflikte tussen pasiëntoutonomie en mediese paternalisme. Dit gebeur egter selde, indien ooit, dat ’n bepaalde behandelingsprogram van die begin af tot futiliteit gedoem is. Die realiteit is dat in die meeste hulpverleningsprofessies sekere tegnologiese, fisiologiese en sielkundige faktore ’n kritieke rol kan speel wat voorkom dat die aanvanklike doelwitte van ’n bepaalde behandelingsprogram suksesvol bereik word. Die gevolg is dat die proses as futiel beskou word en des te meer indien dieselfde intervensie herhaaldelik toegepas word (Walter 2005). Die kwessie van futiliteit kan ook as ’n delikate praktisyn-pasiënt/kliënt-kommunikasievraagstuk in die hulpverleningsprofessies gesien word. Een moontlike benadering om hierdie netelige kwessie hok te slaan sou wees om die aard en implikasies van futiliteit deeglik in modules oor die etiese aspekte van praktykvoering in opleidingsprogramme te bespreek.

  1. Aanbeveling

Dit kan oorweeg word om ’n omvattende studie uit te voer oor die aard, voorkoms en impak van futilisme op ’n breë spektrum hulpverleningsprofessies in Suid-Afrika.

Eindnotas

¹ Die artikel is ’n verkennende studie en geen aanspraak word daarop gemaak dat alle aspekte rakende die konstruk futiliteit in die teks ingesluit is nie. Die inhoud weerspieël ook nie die standpunte van LitNet oor die onderwerp nie.

² In hierdie artikel is van ’n kombinasie van hiperskakels en bronverwysings in die teks gebruik gemaak. Die bronverwysings soos op die hiperskakels beskikbaar gestel word, is nie weer in die bibliografie opgeneem nie, om duplikasie te voorkom.

³ In die regswetenskap beteken die de minimis beginsel (de minimis non curat lex) dat die regte hom nie met beuselagtighede besig hou nie. ’n Effek is dus so minimaal of futiel dat die reg hom nie daaroor hoef uit te spreek nie. Uit ’n ander hoek gesien kan ’n weglaatbare effek wat op ’n bepaalde tydstip presenteer, op lang termyn in ’n noemenswaardige of selfs ’n traumatiese effek ontwikkel. ’n Aanvanklike “beuselagtige” oortreding (en wat dus as futiel beskou word), kan hom byvoorbeeld egter met verloop van tyd in ’n ander gedaante herhaal en ’n groter omvang aanneem. Die diefstal van ’n pen word byvoorbeeld opgevolg deur winkeldiefstal en later motordiefstal.

Bibliografie

Abramson, LY, GI Metalsky, LB Alloy. 1989. Hopelessness depression: A theory-based subtype of depression. Psychological Review, 96:358–72. doi:10.1037/0033-295X.96.2.358. 

https://pdfs.semanticscholar.org/22b6/5eebec33b89ec912054b4c4ec3d963960ab0.pdf

Aghabarary, M en N Dehghan Nayeri. 2016. Medical futility and its challenges: a review study. Journal of Medical Ethics and History of Medicine, 9:11–5.

Albee, GW. 1999. Prevention, not treatment, is the only hope. Counselling Psychology Quarterly, 12(2):133-46. http://web.a.ebscohost.com.ez.sun.ac.za/ehost/pdfviewer/pdfviewer?vid=13&sid=758fec65-afa7-4d55-974c-90f5d039f2ce%40sdc-v-sessmgr03.

Beaumont, E, D Mark, CJ Hollins Martin en J Carson. 2015. Measuring relationships between self-compassion, compassion fatigue, burnout and well-being in student counsellors and student cognitive behavioural psychotherapists: a quantitative survey. Counselling and Psychotherapy Research, 16(1): 15–23.

Chun, TL. 2019. Questionnaire survey on medical futility and termination of resuscitation in cardiac arrest patients among emergency physicians in Hong Kong. Hong Kong Academy of Medicine. https://www.researchgate.net/publication/333456335.

De la Porte, K. 2019. Wat as Hitler na generaals luister? Die Burger: Praat Saam, 10 Junie.

Eassey, D, HK Reddel, K Ryan en L Smith. 2018. The impact of severe asthma on patients’ autonomy: A qualitative study. Health Expectations, 22:528–36. DOI: 10.1111/hex.12879. http://web.b.ebscohost.com.ez.sun.ac.za/ehost/pdfviewer/pdfviewer?vid=4&sid=2dbe0b46-cfcc-41b1-8f76-81cb36592f90%40pdc-v-sessmgr01.

Fondacaro, M, B Frogner en R Moos. 2005. Justice in Health Care Decision-Making: Patients’ Appraisals of Health Care Providers and Health Plan. Social Justice Research, 18(1): 63-81. DOI: 10.1007/s11211-005-3393-3.

Grant, SB, PK Modi en EA Singer. 2014. Futility and the care of surgical patients: ethical dilemmas. World Journal of Surgery, 38(7):1631–7. DOI:10.1007/s00268-014-2592-1

https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC5176346.

Harris, R. 1992. Fatherland. Hutchinson: Londen. https://www.goodreads.com/book/show/56842.Fatherland.

Kaufman, BD en M Jessup. 2012. Adult and pediatric perspectives on heart retransplant. Proceedings of Symposium on Ethical Challenges of Congenital Heart Disease. World Journal for Pediatric and Congenital Heart Surgery, 4(1):75–9. DOI: 10.1177/2150135112469972.

https://journals-sagepub-com.ez.sun.ac.za/doi/pdf/10.1177/2150135112469972.

Liu, RT, EM Kleiman, BA Nestor en SM Cheek. 2015. The hopelessness theory of depression: a quarter century in review. Clinical Psychology, 22(4):345–65. DOI:10.1111/cpsp.12125.

Moore, PN. 1998. What if Hitler won the war? (Where would we be today?). Ramshead: Boronia, Australië.

https://www.amazon.com/Hitler-Where-Would-Philip-Paperback/dp/B00YTJK1A2.

Nair-Collins, M. 2015. Laying futility to rest. Journal of Medicine and Philosophy, 40:554–83. DOI:10.1093/jmp/jhv019. file:///F:/Futiliteit%20Lying%20Med%20Futility%20to%20rest.pdf.

Passer, M, R Smith, N Holt, A Bremmer, E Sutherland en MLW Vliek. 2009. Psychology: the science of mind and behaviour. Londen: McGraw-Hill.

Polanski, NA. 2008. Integrated ego psychology. New Brunswick: Aldine. https://books.google.co.za/books?id=-zeOxxGXffMC&pg=PA114&dq=apathy+and+futility&hl=en&sa=X&ved=0ahUKEwif6PuIzsrjAhWBqaQKHSr-BksQ6AEIPjAD#v=onepage&q=apathy%20and%20futility&f=false.

Saettele, A en J Kras. 2013. Current attitudes of anesthesiologists towards medically futile care. Open Journal of Anesthesiology, 3:207–13 http://dx.doi.org/10.4236/ojanes.2013.34048 Published Online June 2013 (http://www.scirp.org/journal/ojanes)

https://www.scirp.org/pdf/OJAnes_2013060414570953.pdf.

Scott, A. 2013. The power of language: philosophy and society. The concept of futility. Philosophy Readers. Blogspot. http://philosophyreaders.blogspot.com/2013/04/some-thoughts-about-concept-of-futility.html?m=1.

Swetz, KM, CM Burkle, KH Berge en WL Lanier. 2014. Ten common questions (and their answers) on medical futility. Life Matters Media, 8 Mei. https://www.lifemattersmedia.org/2014/05/ten-common-questions-answers-medical-futility.

Walter, JJ. 2005. Medical futility. An ethical issue for clinicians and patients. Practical Bioethics, 1(3):1–8. http://www.practicalbioethics.org/files/members/documents/PB_1,3.pdf.

Wright, T. 2007. Surprised by hope. Londen: SPCK.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Hans Richardt

    Lang omslagtige artikel. Wat as Nazis nie op Pervitin was nie, sou hul nog hul Blitzkrieg kon deurvoer?
    Wat as Hitler nie ook op dwelms was nie, sou hy nog so uitstaande "charismatiese persoonlikheid" gehad het, soos wat sommige sielkundige boeke en skrywers hom voorhou?
    Sou redelikheid dan die botoon bo onredelike roekeloosheid gevoer het?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top