Funny Girl – The Musical by die Fugard-teater: ’n resensie

  • 0

Funny Girl – The Musical: Gee jy ’n gewilde semibiografiese musiekblyspel oor ’n bekende Broadway-ster en aktrise oor aan ’n bekwame, vernuwende span plaaslike teatermakers, kry jy hul pragtige vertolking van die oorsese wegholsuksesstorie van Fanny Brice in Funny Girl – The Musical.

Eric Abraham en Daniel Galloway het die storie hul eie gemaak en in die intieme Fugard-teater voel dit regtig vir ’n paar uur of jy in ’n teater op Broadway in New York sit en beleef hoe ’n jong, vaal meisie se loopbaan sukkelend begin.

Dit vertel die storie van Fania Borach wat die verhoognaam Fanny Brice gebruik, ’n Brooklyn-sangeres uit die werkersklas wat haar visier op Broadway stel, maar vir wie dinge net nie wil regloop nie. Haar pad kruis dié van die flambojante dobbelaar Nick Arnstein, wat haar wel aan die regte mense voorstel, maar op die ou einde meer hartseer in haar lewe bring.

Die musiekblyspel het op 26 Maart 1964 op Broadway geopen en uitverkoopte vertonings geniet en ’n onlangse speelvak by die West End en Savoy Theatre het weer die gehore laat terugkeer.

Die oorspronklike boek oor Fanny Brice is deur Isobel Lennart geskryf en die musiek deur Jule Styne komponeer en die lirieke deur Bob Merrill geskryf.

Die blyspel was Barbara Streisand se deurbraak toe sy die hoofrol vertolk het in die oorspronklike produksie, wat vir agt Tony-toekennings benoem is, en die filmaanpassing is in 1968 vrygestel waarin Streisand ook die hoofrol vertolk het. Vir hierdie rol het sy die Academy-toekenning vir beste aktrise en die Golden Globe ingepalm.

Fanny Brice, gespeel deur ’n formidabele Ashleigh Harvey, is aan die begin daardie vaal muis wat nêrens hoort nie, aan wie die klere soos sakke hang en sonder die kurwes wat só baie van die ander sterre het.

Sy sing op ’n stadium dat sy die grootste ster is, maar niemand weet dit nie en hierdie deursettingsvermoë en geloof in haar eie vermoëns blyk die deurslaggewende rol te wees in haar sukses.

Hoewel Nick se ingryping in haar loopbaan haar op die suksesweg help, moet sy later erken dat sy beter op die verhoog is as “in die pouses” en sy besef dat haar lewe op die verhoog haar regte lewe is en sy as gesinsvrou en eggenoot heeltemal misluk. Maar daardie mislukking lê vierkantig voor haar man se voete, wat nooit regtig die verantwoordelikheid van die grootmenslewe ernstig opgeneem het nie.

Mens kan vroeg reeds die onheil sien broei as Fanny as jong verliefde vir haar ma sing dat ’n heer enige plek inpas en haar ma haar korrigeer dat ’n spons enige plek inpas.

Toe haar huwelik begin wankel, is dit weer haar ma en haar vriendinne wat wysneusig sê dat Fanny dalk minder lief vir Nick moes wees en eerder meer hulp moes aanbied. Sy is sterk en slim en weet hoe om met geld te werk; alles eienskappe wat by Nick jammerlik ontbreek.

Ashleigh se ontluiking in die ster wat haar naamrol dekades gelede was, is pragtig en onverbeterlik hanteer. Die stel is baie getrou aan die era gebou; en die aandag aan die fynere besonderhede soos die swanenek-lampie op haar aantrektafeltjie, die outydse parfuumbottels en die klein skulpliggies op die verhoog wys daar is ’n span wat hulself heeltemal in die storie gedompel het. Die ander aspek wat melding verdien, is die kostuums onder leiding van Birrie le Roux. Een na die ander pragkostuum kom op die verhoog uit en bring die swier van die ‘20’s en ‘30’s na vore.

Die vertoning is nie op die skaal van groter vertonings soos Priscilla Queen of the Desert wat 1 000 teatergangers per vertoning verstom het nie, maar dis juis die intiemheid van die teater, die ryk kleure en oordaad van die era wat hierdie vertoning ’n moet-sien maak.

Jy kan jou oorgee aan die musiek, met bekende liedjies soos “People” en “Don’t rain on my parade” en die romantiek van ’n eeu gelede en saam die oorwinning en nederlae ervaar. Die stuk is eg en herinner mens net weer dat die lewe nie regverdig is nie, maar dat daar geleenthede en skoonheid om elke hoek vir jou wag – jy moet net geduldig wees en daarna soek.

Funny Girl – The Musical

Met oa: Ashleigh Harvey, Clyde Berning, Kate Normington, Diane Wilson, Michele Maxwell, Mike Huff, Cameron Botha, Grant Towers en Lucy Tops
Deur: Isobel Lennart
Vervaardigers: Eric Abraham en Daniel Galloway
Regie: Matthew Wild
Musiek: Jule Styne
Kostuums: Birrie le Roux

Die Fugard-teater
18 April tot 11 Junie 2017

Kaartjies deur Computicket en die kaartjieskantoor, 021-461 4554

Foto's: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top