Freda die sigeunerin

  • 4

Kom ek vertel jou van my tannie Freda. Sy het nogal getrek op Frida Kahlo en was amper ewe kleurvol. Sy was die tiende van elf kinders. My ma was die elfde. Freda het onthou dat die ouer susters (hulle was agt susters) skaamkwaad was oor hul ma se laaste swangerskap. Die oudste sussie het al op trou gestaan, met ’n predikant nogal. “Kan Mammie haar nie inhou nie?” het hulle gevra, met die terloopse seksisme van daardie tyd. Pappie is glad nie geblameer nie en niemand het daaraan gedink dat arme Mammie moontlik al deeglik sat was van kleintjies nie.

Soos dit maar gaan, het my ma met hope selfvertroue uit die stryd getree. Sy was die jongste, oulikste; vol sjarme, met ’n reusegevoel van eiewaarde en ’n supersterk wil. Die tweedelaaste suster het ongelukkig nie so goed daarvan afgekom nie. Freda was slim en vol opinies, kwerulant en taktloos. Sy was blas met ’n overbite, het bril gedra en was geneig tot woede-uitbarstings en neusbloedings. Sy het soms flou geval. Sy het seuns geïntimideer en was nie gewild soos my ma nie. Sy was ’n snipperige kind; beterweterig, soos hulle gesê het, vol draadwerk.

..........

Freda was slim en vol opinies, kwerulant en taktloos. Sy was blas met ’n overbite, het bril gedra en was geneig tot woede-uitbarstings en neusbloedings. Sy het soms flou geval.

..........

Freda het my klein-klein herken en geëien as haar kind. Sy het net twee seuns gehad. Sy was die soort grootmens wat met jou praat soos met ’n gelyke en vir jou as kind uiters waardevolle insigte oor jouself geskenk maak, soos: “Mense verstaan nie jou humorsin nie. En partykeer werk dit nie. Jy sal in dit ingroei.”

Freda het haarself lewenslank in die voet geskiet. Dit was asof sy nie die afwagting dat iets sleg met haar mag gebeur kon uitstaan nie, en dit sommer self laat gebeur het – kry dit verby. Sy het goed gevaar op skool, maar kort voor die matriekeindeksamen weggeloop. Miskien was dit eksamenangs, vrees vir mislukking. Sy het dus nie gaan studeer nie, maar het my vertel sy was die bekendste non-student op die Stellenbosch-kampus.

Sy het klokslag die oog van ouer uitlanders gevang met haar Mediterreense voorkoms. Haar astrante houding het hulle meer aangestaan as vir Afrikanerseuns. Hulle was egter nie troumateriaal nie, het sy geglo. Haar man, Gert, was een van daardie mense met die aura van ’n rolprentster of beroemde skrywer, al was hy ’n bosbouer. Hy was ’n sjarmante rokjagter en het haar uiteindelik gelos vir ’n ouer vrou. Daaroor kon sy moeilik kom.

In die dae toe joga, karate en meditasie nog as duiwels beskou is, het sy haar verdiep in Oosterse filosofie, die diereriem bestudeer en die tarot gelees. Sy het astraal gereis en drome uitgelê. Sy was lief vir wierook, kerse, kristalle – alles wat my ma (destyds) as New Age en boos bestempel het. Ná haar egskeiding het sy dramaties in ’n Pinksterkerk tot bekering gekom en haar boeke en kaarte verbrand.

Sy was ’n knap boekhouer wat dikwels van werk verwissel het. “Ek bly net totdat ek my baas alles geleer het wat ek weet,” het sy gesê. Ek onthou die tyd toe sy tussen werke en blyplekke was en vir maande by ons gekuier het. So ironies is die lewe: Toe hulle jonk was, volgens my ma, het Freda gesê sy wil eendag skatryk wees en ’n reusehuis hê. Nee, het my ma, oulik soos altyd, geantwoord, sy wil ’n klein huisie hê sodat haar man altyd naby haar kan wees. Dis seker nie nodig om vir jou te vertel wie toe uiteindelik die reusehuis gekry het nie. En ’n man wat by haar bly.

Freda was ’n nomade wat dikwels van woning en provinsie verander het. Oral het sy goeie vriende gemaak, veral onder jonger gay mans. Sy was hartstogtelik lief vir teater en klassieke musiek. Sy het gedigte geskryf. Sy was ’n pottebakker en geïnspireerde kok wat iets uit niets kon optower. Sy het in haar kombuis in Piet Retief, onthou ek, ’n sandbak met slakke aangehou wat sy skoon blare gevoer en uiteindelik opgedis het. Wanneer ’n mens as kind daar kuier, het jy soms betraand en moedeloos geword. Die kos was nie op die tafel voor tienuur saans nie en in haar kombuis was daar niks so banaal soos brood en grondboonbotter nie. Of melk en kaas nie.

..........

Ewenwel, een van die tye toe sy lank by ons gekuier het, was sy pas geskei en bekeer en het sy ’n profesie ontvang dat God vir haar ’n tweede stel tande gaan laat groei.

..........

Ewenwel, een van die tye toe sy lank by ons gekuier het, was sy pas geskei en bekeer en het sy ’n profesie ontvang dat God vir haar ’n tweede stel tande gaan laat groei. Sy het êrens gelees van so ’n wonderwerk in Amerika. Soos vele mense van haar geslag het sy jonk-jonk valstande gekry omdat haar eie tande volgens haar skeef was. Om haar geloof te demonstreer, het sy haar kunsgebit met ’n hamer stukkend gekap en tandeloos om ons heen rondgehang. My pa kon dit later nie hou nie. Dit was vir hom veral verstommend om te sien hoe sy tandeloos weglê aan roosterbrood, ja, selfs steak, het hy geskok gesê.

My pa bied op ’n dag aan om haar te borg vir ’n nuwe stel tande. Sy was onthuts. Sy het te velde getrek: Dit het haar laat dink aan ’n program wat sy op TV gesien het, van ’n slopingsbal wat ’n muur platslaan. Toe die eerste baksteen uitgeslaan is, val die muur, seg sy. My pa se aanbod was die slopingsbal wat die eerste baksteen wil uitslaan sodat die hele muur van haar geloof verkrummel.

Ek dink hy het uiteindelik vir haar nuwe gebit betaal, maande later. Maar nie voordat die volgende insident hom afgespeel het nie: Eendag is sy in die gastekamer besig om ’n rokpatroon uit te knip. Sy het haar eie klere ontwerp en gemaak, met die hand wanneer daar nie ’n naaimasjien beskikbaar was nie. Sy roep toe kombuis se kant toe, heel triomfantelik, met ’n mond vol spelde seker: “Ek het my eerste pand gesny!” En ek, wat ses onmoontlike goed voor ontbyt kan glo, storm na my ouers toe en skree: “Tannie Freda het haar eerste tand gesny!” Ek onthou die verbasing op my pa se gesig.

Later het sy ’n bietjie soos Evita Bezuidenhout gelyk en sy was ewe dramaties. Sy was om en by sestig toe sy dood is, aan pankreaskanker. Haar laaste siekbed was weer eens in ons huis. Aan die einde, uitgeteer met hoë wangbene en diep oë, het sy soos Glenn Close gelyk. Steeds mooi, op ’n dramatiese, eksotiese manier. Ek het ’n gedig oor haar geskryf, in Engels, soos alles wat ek geskryf het toe ek baie jonk was. Ek het dit op OuLitNet gaan soek:

Freda

Freda sat at night on a rooftop in Bloemfontein 
watched her ghostly washing dance in the wind 
she saw grime, a glass building, acres of roses 
My aunt was an ugly child 
prone to nose bleeds and fainting spells 
My aunt was a problem child 
prone to self-mutilation and poetry 
My aunt was dark-skinned in school 
only later perceived to be exotic 
my aunt was a spiteful child 
with acne, glasses and opinions 
later she danced with foreigners 
Italian bankers, a Russian painter 
My aunt remained obnoxious 
crisis-managing her mad life 
shaming relatives at every turn 
later my aunt grew tired of the bohemian life 
of shoe-string stews and blemished potatoes 
at sixty my aunt decided to die 
it took the better part of a year 
wasted and yellow on the hospice pillows 
she whispered that it was not so easy to let go 
and that God had a lot to answer for 
my aunt left behind boxes of angry poetry 
some gypsy skirts for dancing 
and a landscape in my head

  • 4

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top