Die jong rocker Frank Freeman het al wyd en syd naam gemaak met sy vaardige, meesleurende spel – al is sy debuut-EP eers so onlangs as verlede jaar uitgereik en is hy nog maar hier by die 21 jaar oud. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Frank. Hoe's dinge?
Hei man. Dinge lyk aansienlik meer skoon en normaal as by 'Koppi laasweek, maar dinge lyk goed, dankie.
Geluk met jou heerlike vertoning daar by Oppikoppi se boonste bar. Sover ek verstaan was dit jou debuut by 'Koppi? Hoe het jy die vertoning en die fees in die algemeen ervaar? Watter soort rol speel ’n fees soos dit – en die ander feeste oor die land heen – in die opbou en ook die instandhouding van Suid-Afrikaanse musiek? Enige ander bands of kunstenaars wat jy besonder geniet het?
Dankie. Ek is bly kan uiteindelik die Oppikoppi-naam van die bucket list afhaal, en hopelik was dit die eerste van meer. Ek het ’n killer tyd gehad en die Top Bar stage was seker waar ek die meeste van my tyd by ‘Koppi deurgebring het. Ek is mal oor die vibe daar bo.
Ek was al by ’n hele klomp festivals in die land, maar wat 'Koppi vir my cool maak is die aantal cool acts wat ek gesien het en niks van geweet het voorheen nie. Soos TATRAN van Israel af, wat my gunsteling was, asook Power Solo van LA en ’n hele paar local acts ook. Kuns kort ’n platform om nuwe idees aan mense ten toon te stel en so lank festivals soos Oppikoppi bereid is om die platform te verskaf, is dit ’n goeie ding vir Suid-Afrikaanse musiek.
Jou eerste EP, Art Broken, is verlede jaar vrygestel. Dis ’n bedonnerde versameling van slegs vier songs (mens wil meer hê!) – soms hoor mens Led Zep, soms hoor mens Jack Johnson, strykdeur hoor mens Frank Freeman. Hoe het die opneemproses van die EP verloop, veral in ag genome dat dit jou eerste poging was? Watter soort druk het jy ervaar in die ateljee en ook in jou eie kop? En hoe het die ontvangs van die musiek onder die publiek uiteindelik enige van daardie spanning verlig, of hoe ervaar jy die reaksie(s)?
Ja, dit was my eerste projek waar ek in studio heeltemal 100% in beheer was. Ek het die musiek self geskryf en vervaardig by The Planet, waar Mike Sims die EP ge-engineer het. Ek was nog nooit heeltemal gelukkig met enige van my werk nie, maar ek voel ek kom darem ’n bietjie nader elke keer. Ek is trots op die EP en die proses was baie insiggewend gewees. Ek het baie geleer en ek dink die ontvangs van die musiek is goed. Ek dink wel daar is nog soveel musiek wat ek wil maak saam met soveel mense, en hopelik raak dinge net meer interessant van hier af.
Dis duidelik – in jou shows en op die opname – dat jy geweldig musikaal vaardig is, beide met instrumente en stem. Hoe het jy hierdie vaardighede geslyp oor die jare, om aan te hou beter raak, en hoe slyp jy steeds daaraan?
Ek dink wat in my guns getel het, is dat ek baie shows begin speel het op ’n jong ouderdom. Ek het in graad 2 begin speel in ’n Boereorkes in Bloemfontein en ons het by alles van Senekal se skou tot in Europa gespeel. Voordat ek enige ander musiek gespeel het, was dit my inleiding tot hoe dit is om musiek saam met mense te speel. Daarna het ek begin speel in ’n band en ander musikale projekte.
Die kitaar was aanvanklik die bril waardeur ek musiek gesien het as tiener, maar hoe meer ek begin belangstel het in musiek het ek al hoe meer besef hoe belangrik dit is om te luister terwyl jy speel en die hele musikale situasie in ag te neem. Spasie is belangrik. Ek dink mens se oor leer vir altyd en dan probeer mens dit vir jou hande leer. So gaan dit tot die einde. Ek sal seker nog sien.
Die vaardigheid alleen is ook seker nie genoeg nie: Hoe dink jy oor die liedskryfproses en die skep van treffers (moet ’n mens probeer om treffers te skryf?)? Hoe gebeur ’n liedjie vir jou, van die eerste akkoord neergeskryf is tot die laaste noot opgeneem is?
Om enige idee daar buite te sit vir mense om mee te maak wat hulle wil, bly altyd vir my ’n risiko, maar dit is wat dit is om ’n musikant te wees. Klank is chaos en ek probeer dit rangskik in iets interessant. Ek sal jok as ek sê ek het nog nooit in ag geneem wat mense daarvan sal dink nie. Dis natuurlik, maar ek dink ’n mens doen jou beste werk wanneer jy net op die musiek fokus en hoe dit klink. Dan kom die res daarna.
Ek love dit om in studio te werk. Veral as sessionmusikant en om op ander mense se musiek te speel in geheel, maar dis vir my ’n intense proses om my eie musiek in studio klaar te maak, want ek voel altyd dis nie klaar nie of dit kan beter. Ek geniet wel altyd die studioproses op my eie werk en ander s’n. Dis ’n instrument op sy eie.
Op net oor die 21 jaar oud is jy nog vrek jonk. Jy is al van jou skooldae af betrokke in bands wat vinnig naam gemaak het, onder meer Colour Blind van Bloem. Hoe natuurlik was die proses vir jou om jouself pens en pootjies in die musiektoneel te begeef? Hoe ervaar jy dit as ’n loopbaankeuse, of word daar nog geswot en beplan om ’n rekenmeester of iets te word? Jy het ook afgetrek Kaap toe om in die stad se musiektoneel tuis te raak – hoe het jy dié skuif ervaar en wat dink jy van die Kaapse gehore? Leef rock ‘n roll nog?
Wel, ek het redelik vroeg besluit ek is nie lus om enigiets anders te doen nie. Musiek is maar net vir my te cool om dit nie vir ’n loopbaan te probeer doen nie. Daar is nog baie werk om te doen, maar so far so good.
My loopbaan is in twee dele gedeel. Ek is ’n sessionmusikant – waar ek vir verskeie kunstenaars speel en aan verskillende musiek werk – en dan is daar my soloprojek, waar ek my eie musiek en band het waarmee ek speel. En dit hou dinge interessant. Ek het in die afgelope maand of so aan Francois van Coke, Inge Beckmann, Louise Day en ander shows gewerk en gespeel. Dit hou dinge darem vars, maar om aan een projek vir lank te werk het sy eie “kick” wat ek daaruit kry.
Die Kaap is ’n ongelooflike plek. Almal weet dit. Vir die meeste voltydse musikante is dit maar die Kaap of Joburg/Pretoria en ek het die mooi plek gekies, tot dusver. En ek is bly ek het. Dit het soos enige plek sy voor- en nadele, maar dit voel asof mens so bietjie meer kreatiewe vryheid in die Kaap het in vergelyking met ander plekke in die land. Kaapstad se mense is ook baie moeiliker om geïnteresseerd te hou (hulle hou daarvan om so te dink ook), maar dalk is dit ’n goeie ding. Dit hou mens aan die dink. Ek's lief vir die Kaap, man.
Volgens die biografie op jou Facebook-blad het jy reeds as musikant internasionaal getoer toe jy slegs 14 jaar oud was ... Nou, ’n paar jaar later, wonder ’n mens of jy mikpunte het om jou voet in die internasionale toneel te kry? Hoe beskou jy dit – is daar plafonne in die Suid-Afrikaanse toneel wat ’n mens nie sal kan oorkom nie, of is dit juis goed vir jou om hier aan te hou skep en uitvoer? Wat is vir jou kief aan die toneel in Suid-Afrika, en wat daarvan suig?
Daar is definitief ’n plafon vir ’n klomp musiekstyle in Suid-Afrika – die mark is maar net só groot. Veral as mens iets anders as popmusiek maak. Ek is definitief geïnteresseerd daarin om my voete in internasionale waters te sit en soveel te reis en te speel as wat ek kan, maar vir nou is daar eers heelwat werk om hier te doen. Ek's heel happy om dit te doen. Solank daar vir my musiek is om aan te werk, is ek gelukkig. Goeie musiek, verkieslik. Musiek is op ’n interessante stadium waar musiek teen die spoed van lig vervaardig en vrygestel word en om iets te doen wat aandag trek, is moeilik, maar daar is soveel meer musikale “tools” om mee te werk, en dis opwindend. Die waarde van musiek is wel laer en ons is besig om aan te pas. Wie weet wat om die draai wag.
Jy is dalk nog aan die jong kant, maar soos gemeld, tree jy al jare lank in bands en op jou eie op. Enige spesifieke hoogtepunte wat in jou herinneringe opduik as jy nou terugkyk? Enige vreemde stories van agter die skerms waarvan ons nie weet nie, of enige oomblikke of plekke wat jy dalk eerder sal wil vergeet?
Wel, elke keer as ek saam met iemand soos Arno Carstens, Francois van Coke of Inge Beckmann werk, is dit vir my ’n hoogtepunt. Dis ’n goeie gevoel om saam met iemand te werk wie se werk jy waardeer en van hou. As solokunstenaar is daar vir my heelwat festival-hoogtepunte, van Oppikoppi tot Splashy Fen en ander feeste, maar die toekoms is wat my meer nuuskierig en opgewonde maak.
Daar is altyd vreemde stories in die musiekkringe, maar dalk is hierdie nie die platform vir die meeste van hulle nie. Van die keer toe ons ’n ou oom die laaste ou in ’n bar in Clarens sien bliksem het terwyl hy in sy undies is, tot stories van Boereorkes-gigs by aftree-oorde ... die lys is lank. As iemand wel wil stories hoor, kom drink ’n paar drinks in Kloofstraat in die Kaap. Dan sal ek meer as bereid wees om in meer besonderhede te gaan.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Frank Freeman, in so verre jy dit kan beheer?
Ek werk tans aan heelwat nuwe musiek en beplan om met ’n klomp verskillende mense te werk in die naby en ver toekoms. Daar is heelwat shows op pad met my band oor die land heen, en ek doen in Oktober weer ’n paar Francois van Coke shows asook heelwat ander sessionwerk tussenin. Ek het ook pas kitare klaargemaak in studio vir nuwe Louise Day-musiek, wat iets heeltemal anders is, en ek en Sheldon Yoko (Die Heuwels en Francois van Coke) is besig om aan ’n nuwe projek te werk wat iets buite die boks gaan wees.
Wat is die sin van die lewe?
Is daar ’n regte antwoord?



