Francois van Coke: "Ek is nie deel van enige scene nie"

  • 2

Francois van Coke se nuwe album, Hierdie is die lewe, is pas uitgereik. Hy beantwoord 'n paar vrae oor die musiek, sy solo-loopbaan, die lewe en vaderskap.

Goeiedag, Francois. Hoe's hierdie lewe deesdae?

Hei Henry. Hierdie lewe is donners besig – ek het nou so 'n paar vrystellingvertonings en 'n moerse klomp onderhoude agter die blad die laaste week of so. Ek gaan môre huis toe. Ek gaan my foon vir 'n dag afsit en met my vrou, baba en hond uithang. Dit gaan goed en alles is lekker.

Geluk met jou nuwe album, Hierdie is die lewe, wat pas uitgereik is. Deur Fokof en VCK het jy natuurlik al vele albumvrystellings deurleef, maar HIDL is slegs jou tweede solo-album, en hulle sê mos die sophomore-album is die moeilikste een. Het jy 'n mate van druk gevoel met dié album, ná die groot sukses van die eerste solo-album? Hoe wou en het jy dit anders benader as die vorige een, in terme van die goue drade wat jy deur die songs wou trek? Hoe sou jy jou onlangse musikale evolusie tot by HIDL beskryf, en tot hoe 'n mate was dit instinktief of eerder fyn beplan?

Baie dankie, bro! Ek dink die maak van my eerste album was baie moeiliker. Ek het met verskillende musikante, vervaardigers en in verskillende studio’s gewerk. Die admin met daai eerste album was ongelooflik baie. 

Hierdie keer was alles meer vaartbelyn. Ek en my band, Die Gevaar, het op alles gespeel. Ek het geskryf saam met Jedd, Rudolf en nou en dan Richard. Johnny en Rudolph het die produksie hanteer en dit was definitief my dream team vir die album se produksie, omdat ek weer iets anders wou doen as met my vorige album. Na die sukses van die vorige een was daar druk, veral om 'n groot enkelsnit te produseer soos "Toe vind ek jou". Ek moes 'n besluit neem om dit nie te probeer namaak nie, want dit was 'n eerlike en opregte song en dit is hoekom hy so goed gewerk het. Om dit te herdoen sou nie gewerk het nie. 

Ek het nie regtig gedink aan goue drade deur die songs trek nie, maar het na die album klaar was besef daar is baie. Ouderdom, liefde, Suid-Afrika, die verlede, die hede, die toekoms en die menslike kondisie. Ek het dit nie regtig besef tydens die skryfproses nie. 

Dit is steeds 'n rockalbum. Ek dink die grootste musikale verskil is die invloed wat ouer popmusiek op my gehad het die laaste paar jaar. Ek het baie begin luister na The Beatles, Beach Boys, Traveling Wilburys en Jeff Lynne. Dit het definitief 'n invloed gehad op die melodieë en harmonieë op die album. Ons het ook natuurlik baie gefokus op die skryfproses. 

Dit voel asof introspeksie in lirieke – iets wat jy nog altyd naby gehou het – in 'n hoër rat geplaas word op hierdie album. Veral op tracks soos "Beter mens" en "Ek wens" is dit opmerklik – as jou hart voorheen op jou mou was, is dit nou oor 'n three-piece suit gepleister! Vind jy ná al die jare nog 'n mate van terapie daarin om so openhartig om te gaan met jou musiek en jou fans? Dink jy dis iets wat die luisteraars verwag, amper asof jy dit teen dié tyd aan hulle skuld? Of is dit bloot 'n styl wat oor die jare aanhou ontwikkel het en waarin jy nou gemaklik voel?

Dit is maar hoe ek skryf en ek weet nie regtig hoe om dit anders te doen nie. Die musiek en die songs wat ek skryf, is nog steeds regtig vir my 'n uitlaatklep en ek gebruik dit so. So, dit is steeds terapeuties. Ek hou ook van daardie tipe songs. Twee van my gunsteling-songs van alle tye is so eerlik. Of dit voel ten minste so. Jeff Buckley se "Lover you should've come over" en Thin Lizzy se "I've got to give it up" doen dit vir my op daardie manier.

Ek dink nie ek skuld my fans enigiets nie, maar ek dink hulle waardeer die eerlikheid.

Aan produksiekant klink dit of jy en Die Gevaar lekker rondgespeel het: synth-werk op "My hart", tjello op "Beter mens", hip-hop-invloede op "Weet jy wat ek bedoel", en dan die meer gestroopte klanke van onder meer "Klein prys" en "Dit raak beter". Hoe het die proses van liedjies fine-tune vir hierdie album gewerk tussen jou, die band en die vervaardigers? Is daar spesifiek nuwe tegnieke of idees wat jy self wou inspan (byvoorbeeld die ouskool-rock-inspirasies wat genoem word in een van jou persverklarings), en hoe wou jy dit balanseer met jou oorspronklike, organiese styl?

Ons het lekker rondgespeel, ja. Rudolph het 'n synth gekoop gedurende die opneemproses en hy is ingespan van tyd tot tyd, want daai ding het net so goed geklink. Ons het 'n fantastiese tjellospeler, Anjulie Nock, gekry om te speel op twee van die songs. Dit was vir my belangrik om regte tjello op te neem en om dit nie te programmeer nie. Dit was belangrik om daardie ouskool-invloede te gebruik in 'n moderne styl. Sodat dit oud en nuut kan klink op dieselfde tyd.

Die produksie is ook redelik vriendelik en is soos popmusiek hanteer. Daar is baie spasie en nie te veel elemente wat op dieselfde tyd aan die gang is nie. Die finale besluite oor die produksie is geneem deur my en die twee vervaardigers, maar almal in die band het 'n invloed gehad in die studio.

"Klein prys" is jou ode aan die Fokofpolisiekar-dae, en die jongste musiekvideo van die album, vir "Dit raak beter", bevat heelwat videomateriaal uit jou kinderdae, en veral hoe jou verhouding met musiek en instrumente ontwikkel het. Hoe belangrik en/of waardevol is hierdie herontmoetings met die verlede vir jou deesdae? Wat dink jy sou daai laerskool-laaitie vandag vir jou sê, met als wat jy al gedoen en bereik het in jou musiekloopbaan? Wat sou jy vir hóm sê? Is daar dinge wat jy anders sou doen, of dinge wat jy wens jy't vroeër besef is oukei?

Dit is vreemd. Ek het ook eers na die tyd besef daar is twee songs oor die verlede op die album. Ek dink dit is belangrik, net om te heroorweeg waar ek op die oomblik is. Vandat ek musiek begin maak het, het ek gehoop ek kan dit voltyds en vir 'n lewe doen. Ek voel baie bevoorreg dat dit vir my moontlik is en ek is baie dankbaar dat daar genoeg mense is wat belangstel, sodat dit moontlik is.

Vir my jonger self sou ek net sê: "Moenie worry nie, dit raak beter." Dit het. Ek sou ook niks anders doen nie. Alles het bygedra tot wat ek vandag is. Ek is ook baie trots dat ek deel is van Fokofpolisiekar en dit was 'n fantastiese manier om te begin.

"Toe vind ek jou" op die vorige solo-album was 'n moerse sukses – dis nou 'n understatement! Dit het beslis bygedra tot jou groter gewildheid onder gehore wat nie voorheen veel lus vir Fokof, VCK en so aan gehad het nie. Daarmee saam kom ook 'n bietjie bitterheid onder sommige die-hard fans – ek't in 'n stadium gesien 'n paar mense praat van "Francois van Skouspel" op social media. Pla dit jou as mense só reageer? Veral in Suid-Afrika is daar 'n persepsie dat mens óf aan die pop-kant óf aan die alternatiewe kant is, met niks tussenin nie ... Hoe beskou jy die veranderinge in die plaaslike toneel en bedryf in hierdie opsig oor die afgelope paar jaar, en hoe beskou jy jou plek daarin? Hoe voorspel jy gaan dit nog verander in die nabye toekoms, en hoe sal jy wil hê moet aanhangers uit alle oorde dié evolusie saam beleef?

Ek dink nie dit is die die-hards nie. Ek dink dit is die easy-comes. Dit is nie mense wat my hele loopbaan en my musiek al die pad gevolg het nie. Die mense wat my al lank ondersteun, waardeer groei en verandering. "Toe vind ek jou" het alles verander en vir die eerste keer was daar kinders, ouers en grootouers wat na my musiek kon luister op dieselfde tyd. Ek het ook van die begin af gesê ek sal op enige plek speel vir soveel mense as wat ek moontlik kan. Dit is hoekom ek begin musiek maak het. Saam met my vriende in 'n kamer, om dit eendag vir mense te speel. Nou het ek die geleentheid en ek gaan dit vir soveel as moontlik mense speel as wat ek kan.

Ek dink ek sit weer op 'n plek dat ek nie regtig inpas in die alternatiewe óf pop-kant nie en ek is baie gelukkig daar. Ek is nie deel van enige scene nie en wil nie wees nie. My aanhangers moet net na my musiek luister as hulle wil. Ek dink nie dit is nodig dat ek hul hoef te lei nie. Hul sal self besluit.

Jy het onlangs vir die eerste keer pa geword – baie geluk! Dis natuurlik 'n groot lewensaanpassing vir enigiemand, maar seker veral vir iemand wat gewoond is aan baie toer en laat nagte as deel van die bestaanmaak. Is dit vir jou moeilik om 'n roetine te behou met die nuwe gesinsdinamiek, of hoe benader jy dit? Veral Fokof was bekend vir tussengenerasie-woede ... Hoe het daardie uitwoed-en-verkenningstog jou blik op vaderskap beïnvloed, en hoe moeilik is dit om die teorie en die praktyk te balanseer? En benewens wat jy vir jou dogter kan leer, wat leer jy by jou dogter?

Baie dankie. Dit is die grootste voorreg om pa te wees. Ek is heeltemal verlief op ons dogtertjie, Alex. Ek was die meeste van haar eerste kort drie-maande-bestaan by die huis en dit was baie lekker. Ek toer nou weer en is op die pad vir baie van Februarie en Maart. Ek gaan probeer om elke oomblik wat ek saam met my gesin het, myself heeltemal aan hul te gee, want ons tyd saam gaan minder wees. Dit is 'n groot aanpassing, maar ek dink ek het darem baie ervaring van min slaap en laat nagte, soos dinge in 'n huis is met 'n nuwe baba.

Ek dink ek het baie meer respek vir my ouers gekry in hierdie eerste drie maande van ouerskap. Dit is 'n opoffering en ek besef dit nou.

Ek het by my dogter geleer om nie net aan myself te dink nie. En ook dat as jy moet poep, dan moet jy maar poep.

Op 'n ligter noot ... Die eerste musiekvideo vanaf die nuwe album was vir "Mensdom", waarin jou band ook die eerste keer bekendgestel is aan die wêreld. Tog is dit musikante met wie jy reeds 'n lang pad stap. Waar het die behoefte vandaan gekom om die band as't ware te doop? En – as jy my 'n cliché-vraag sal gun – waar kom die band se naam vandaan?

Ek wou graag die band aan die land voorstel. Almal wat na ons shows toe kom, ken hulle teen dié tyd, maar die meerderheid ken hul nie en hulle is 'n fantastiese span musikante. Ek het ook gatvol geraak omdat ek nie geweet het wat om hul te noem op die verhoog nie. Die ouens, die manne, die kêrels, die dudes, my band en ek het toe besluit hul naam is Die Gevaar.

Hulle is gevaarlik op die jol. As daar regtig 'n rede moet wees. Gevaarliker as ek.


Foto: Allister Christie

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Francois van Coke, in so verre jy dit kan beheer?

In die nabye toekoms gaan ek die land deur toer, my album vrystel en die beste optredes gee wat ek moontlik kan. Ek wil ook die beste pa wees wat ek moontlik kan wees en ek gaan hard daaraan werk. In die verre toekoms wil ek graag nog musiek maak en goeie albums maak wat mense wil luister.

Dié vraag het ek jou al voorheen gevra, maar met al die bogenoemde in ag genome en ook die verklarings op "Dit raak beter": Wat is die sin van hierdie lewe?

Ek dink hierdie album was soos 'n bietjie van 'n eksistensiële krisis vir my. Dinge het baie verander vir my die laaste tyd. Dalk is die vraag nie meer wat is die sin van die lewe nie, maar wat gee my lewe sin? Ek is besig om te besef wat dit is.

  • 2

Kommentaar

  • Lindley Heynes

    Baie solid interview. Goeie vrae deur Henry en baie goeie insights vanaf Francois. Mens voel jy het iets geleer deur dit te lees, DIS mos wat interviews moet doen. Well done.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top