Francois van As: "Komedie is die nuwe rock ’n roll"

  • 0

Die musiekkomediant Francois van As tree al lank in verskeie hoedanighede op. Hy beantwoord enkele vrae oor die bedryf, die verlede en die toekoms.

Goeiedag, Francois. Hoe’s dinge?

Bergie maar gelukkig, dankie.

Jy het destyds in die groep Plofmot gespeel en op SoundCloud is jou profiel onder die naam Sondebok. Jy’s ook ’n lid van die komediegroep Gemengde Vrugte. Hoe verskil hierdie name en/of personas van mekaar en in watter gedaante tree jy die graagste op?

Ja jong, Plofmot was my poging tot ’n punk-rock band na skool. Ons het ’n album opgeneem en ’n paar jaar gegig, maar het op die ou end ons paadjies geskei. Dit was vir seker die amateurste, raserigste en beste paar jaar van my lewe.

Sondebok is wat ek my huidige musiekkomedie-soloprojek sal noem as dit ooit so populêr raak dat ek ’n orkes nodig het. Tans tree ek op onder my eie naam.

Gemengde Vrugte was ’n groep Afrikaanse komediante waarvan ek deel was, maar ons het besluit om van die naam weg te beweeg. Ons almal tree nog soms saam op, maar nie meer eksklusief soos in die verlede  nie.

Dit is definitief die lekkerste om saam met ’n groep komediante op te tree. Hoe meer divers, hoe beter. Dis lekker om ’n verhoog te deel met ouens wat jou spesifieke styl van komedie kan komplementeer.

Reeds met die eerste paar luisterslae is dit duidelik dat jy oor die sangstem en musikale vermoëns beskik om die “hoofstroom” te kon betree, sou jy wou. Het jy dit ooit oorweeg? Waar en hoe het die besluit gekom om met komedie te werk te gaan?

Ek sal nooit nee sê vir die hoofstroom nie, maar ek is bietjie skepties oor die musiekbedryf op die oomblik. Daar is definitief meer groei in die komediebedryf en ek het gevoel dat ek ’n beter kans het om vir myself ’n naam te maak as ’n komediant eerder as ’n musikant. Komedie is die nuwe rock ’n roll.

Nes die Afrikaanse musiekmark is die Afrikaanse komediemark nie een waarin deurbrake sommer net gebeur nie. Hoe werk jou skryfproses in terme van materiaal skep wat beide uniek is en ook iets is waarby mense aanklank kan vind?

Die een lekker ding van komedie skryf is dat ’n mens gereeld kan teruggaan na jou materiaal as dit nie werk nie. Ek sit partykeer maande met ’n liedjie in my kop voor ek gereed is om dit op die verhoog te doen en selfs daarna moet ek sekere dele weer oorskryf. Sommige liedjies word net geskrap as ek sien dit werk nie. Verder probeer ek maar aan lawwe onderwerpe dink wat nog nie gedoen is nie. So ek kyk en luister soveel as moontlik nasionale en internasionale komedie.

Jy takel talle onderwerpe in jou musiek – van ’n gemaskerde balsak tot “mantiete” maak ’n verskyning – maar jy lewer ook sterk sosiale kommentaar op byvoorbeeld “My politieke party”. Watter rol speel komediante (musikaal of nie) in “politieke diskoers” en/of hoe mense daaroor dink?

Ek self probeer wegbly van politieke temas, omdat dit half “overdone” is op die Suid-Afrikaanse komedie scene. "My politieke party" is ’n voorbeeld van ’n liedjie wat ek net een keer live gedoen het en toe nooit weer nie. Dit was net nie meer vir my snaaks nadat ek dit geskryf het nie.

Ek dink komediante vereenvoudig politiek vir die massas. Hulle maak dit meer verstaanbaar. Dit kan ’n goeie of ’n slegte ding wees, maar omdat komediante oor die algemeen slim of ingeligte mense is, is dit meestal ’n goeie ding.

Jy is ’n getroude man, wat (tradisioneel) alewige toer en optree ’n bietjie bemoeilik. Waarmee anders as optree en opneem vul jy jou tyd en hoe val dit in by die kunstenaarslewe?

Dit is maar altyd moeilik om die twee by mekaar uit te bring, maar dit is doenbaar. Die belangrikste is om seker te maak om die tyd wat jy wel by die huis is, kwaliteit-tyd te maak. Ek het ’n vierjarige dogtertjie ook by die huis, so sy neem baie van my tyd op. Verder lees ek hope en hope “classic sci-fi”'.

Wat is die snaaksste joke of liriek waarmee jy al vorendag gekom het? Lag jy vir jou eie grappies?

Jissie. Ek weet nie. Al wanneer ek vir my eie goed lag, is op die verhoog wanneer ek die gehoor hoor lag. Dan onthou ek weer hoekom dit snaaks was in die eerste plek. Die liedjie wat ek die meeste geniet om te sing, is een oor ’n seemeeu, maar jy sal maar ’n vertoning moet kom kyk om dit te hoor.

Enige staaltjies om te deel oor al die plekke waar jy en julle al opgetree het? Is daar plekke waar jy nie weer sal optree nie, of uit eie wil of weens ’n dagvaarding van een of ander aard?

Komedie vat ons nogal na eienaardige plekke toe partykeer. Ek dink die plek waar ons sover die ongemaklikste gevoel het, was by die Olyffees by Prins Albert. Pragtige mense, maar net nie ons mark nie. In sulke situasies word ek net agtergrondmusiek en dit is nooit lekker nie.

Daar is baie, baie staaltjies wat ek kan vertel, maar hulle kom gewoonlik eers uit na die derde bier of tweede tequila.

Wat hou die nabye en verre toekoms vir Francois van As in?

Naby: nog ’n musiekvideo, definitief, en ’n live album. Ek het ook onlangs begin Engelse komedie doen en dit gaan fantasties. Hopelik sien julle my in ’n jaar of twee in my eie one-man show. Ek en ’n paar manne is ook besig om ’n Afrikaanse sitkom te skryf.

Wat is die sin van die lewe?

Die sin van die lewe is onsin, maar net op ’n goeie manier. Of so iets. Meer bier asseblief.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top