Fracking

  • 1

Shell se beplande fracking van die Karoo het die DA “gefrack” en gevolglik word dié party gedwing om tussen sy wit en gekleurde ondersteuners te kies.
Die pyn van die fracking is glo vir die DA so erg dat die anti-fracking gevoelens afgeneem het ten gunste van fracking – die moontlike ontginning van skaliegas deur hidrouliese breking.

Helen Zille se party is so verdeeld oor dié kwessie dat niemand binne die party weet of dit teen of vir fracking is nie. Die oorsprong van dié verwarring het sy oorsprong by die party se federale kongres verlede maand, waar konsensus oor dié omstrede kwessie nie bereik kon word nie. Alle voorstelle is gevolglik deur afgevaardigdes verwerp.

Die DA sit nou sonder ’n beleid oor dié verdelende omgewings- en ontwikkelingskwessie. Op dié kongres het die Wes-Kaapse DA hulle ten gunste van fracking uitgespreek, omdat skaliegas ’n goedkoop energiebron is wat die moontlikheid het om 300 000 werksgeleenthede vir armes in die Karoo te skep. Dit strook glo met die DA se ekonomiese beleid, wat werkskepping vooropstel as die sleutel tot armoedeverligting.

Verder sluit dit aan by die ANC en ander progressiewe groepe se standpunt dat die ontginning van skaliegas duisende werksgeleenthede en ‘n inkomste vir veral werkloses en armes in die Karoo kan beteken.

Die DA in die Kamdeboo-munisipaliteit (Graaff-Reinet, Aberdeen en Nieu-Bethesda) is heftig teen fracking gekant, veral weens kommer aan ’n gebrek aan voldoende navorsing oor onder meer die moontlike invloed op die watertafel en die Karooakwifeer.

Vroeër het die DA ’n koukusbesluit teen fracking geneem, maar di kongres het dié besluit verwerp.

Nou staan die DA by ’n kruispad. Dié party se tradisionele “gegoede” ondersteuners – byvoorbeeld bewaringsgroepe, die landbousektor, sakekamers, omgewingsbewustes, die hoofstroommedia en veral sommige wit mense – is sterk gekant teen fracking.

Vir duisende arm en werklose swartes en bruines bied fracking miskien die kans om uit hul haglike Karoo-omstandighede uit te styg. Reeds daarom pleit hulle dat fracking ten minste ’n kans gegee moet word.

Nou moet die DA kies.

Tussen wit en gekleurd? Tussen bevoorregtes en verontregtes? Die groot vraag: Gaan dié party die rubikon oorsteek of nie?
Die DA weet dat, om enige politieke bedreiging vir die ANC by die stembus te bied, hy veral in swart gebiede beduidende steun en groei moet toon. Aan die ander kant kan geen politieke party bekostig om sy tradisionele ondersteuners – in die DA se geval wit kiesers – te vervreem nie.

As dít gebeur, loop die DA die gevaar om op die lang duur te disintegreer en sodoende heeltemal van die politieke toneel te verdwyn.
In die afwesigheid van ’n volledige omgewingsimpakstudie heers kommer dat fracking die Karoo se hele waterbron kan vernietig. Daarom is veral boere se vrese vir die bedreiging van lewe nie totaal ongegrond nie. Armes se hunkering na broodnodige ekonomiese geleenthede moet egter ook gerespekteer word. Net deeglike navorsing sal duidelikheid gee.

Studies toon dat steenkool oor 30 jaar uitgeput sal wees in Mpumalanga, en kragstasies sal sluit. ’n Watertekort bedreig kragstasies se voortbestaan landswyd.
Skaliegas (ook kernkrag) lyk na ’n oplossing. Wat sê die DA?


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.
 

  • 1

Kommentaar

  • Die Karoo is by uitstek geskik vir kragopwekking deur sonenergie. Planne moet nou beraam word om hierdie onuitputlike energiebron aktief te benut.
    As die Karoo, en ander dele van die land, onbewoonbaar word vanweë fracking, is dit vir almal ’n ramp.

    Wat veral skrikwekkend is aan hierdie proses, is dat al hoe meer grondwater vergiftig word soos wat die tyd aanstap. Kyk gerus hierdie video, wat  die vervaardiger van die Gasland-fliek gemaak het:

    http://www.causes.com/causes/799563-artists-against-fracking/actions/1706798

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top