
Tuin van Digters, alom bekend as die Tuiste van Afrikaanse Digkuns, is vanjaar vir die 15de keer aangebied. Dit is van 11 tot 12 September 2026 by die Breytenbach Sentrum op Wellington aangebied – en nie eens reënweer op die Saterdag kon deelnemers en besoekers se meelewing vir die Afrikaanse digkuns keer nie. Hier is die Nederlandse digter Mustafa Stitou saam met Danie Marais: Foto Engela Duvenage

Digter en draaiboekskrywer Bibi Slippers was vanjaar vir die eerstes keer die feeskurator. Foto: Engela Duvenage

Die 2026-fees is rondom die tema “Menswaardig” aangebied. Feeskurator Bibi Slippers wou met die keuse daarvan Tuin van Digters “as ’n mens-sentriese fees posisioneer in ’n tyd waarin baie van die samelewing se intellektuele (en letterlike!) energie in masjiene gestort word”. Digter en kortverhaalskrywer Gaireyah Fredericks het met die intrapslag die feesprogram, wat deur Daniël du Plessis ontwerp is, fyn bestudeer. Foto: Engela Duvenage

Joan Hambidge is by die Tuin van Digters gehuldig – ’n geleentheid wat saamgeval het met haar 70ste verjaarsdag, en die bekendstelling van die versamelbundel Amberkamer: gedigte uit die 21ste eeu. Hier deel sy met André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum (links) en Louis Duvenage, voorsitter van die Breytenbach direksie, ’n grappie in aanloop tot die aand se verrigtinge. Foto: Engela Duvenage
Meer as 20 programitems en twee feesuitstallings was deel van vanjaar se fees, wat van 11 tot 12 September 2026 gestrek het.

Hennie Nortjé lees sy gedig voor wat in Onthou is die dag wat breek verskyn. Daarin bring mededigters hulde aan Lina Spies deur inspirasie uit van haar gedigte te put. Foto: Abraham Jantjies

Die bundel is saamgestel deur Alwyn Roux en Neil Cochrane, en het Spies se hande, soos geteken deur kunstenaar Henk Serfontein, op die voorblad. Bibi Slippers het met Roux en Cochrane daaroor gesels. Van Spies se gedigte is ook voorgelees. Foto: Abraham Jantjies

Carin Bester, visuelekunstekurator van die Suidoosterfees, en beeldhouer Kobus le Grange, by die opening van die feesuitstalling “Die vlam van vertel”. Die titel is ontleen uit ’n Breyten Breytenbach-aanhaling, “om die holtes te vul met die vlam van vertel”. Foto: Abraham Jantjies

Alfred Schaffer van die Universiteit Stellenbosch in gesprek met die besoekende Nederlandse digter Mustafa Stitou. Foto: Engela Duvenage

Broers Daniel Hugo en Pieter Hugo in gesprek met Amanda Marais van die Universiteit Stellenbosch. Daniel was gedurende die fees in gesprek oor sy nuwe bundel, Vers en kapittel III, en Pieter oor sy tweede bundel, Vryval. Foto: Abraham Jantjies

Karen de Wet (links) van die Universiteit van Johannesburg het die huldigingsrede vir Joan Hambidge gelewer. Sy is ook die samesteller van die versamelbundel Amberkamer: gedigte uit die 21ste eeu. Dié huldigingsprogram, op Hambidge se 70ste verjaarsdag, het ook voorlesings deur Nina Swart en twee nuwe toonsettings deur Laurinda Hofmeyr ingesluit. Hofmeyr is begelei deur baskitaarspeler Schalk Joubert en tromspeler Kevin Gibson. Foto: Abraham Jantjies
Laurinda Hofmeyr het nuwe toonsettings van gedigte ingesluit in die program “Gewone woorde”, waarin sy begelei is deur Kevin Gibson en Schalk Joubert. Nina Swart het ook op een van Hofmeyr se ouer toonsettings saamgesing.

’n Oorsig oor die fees sal binnekort op die kykNET-program Fiësta te sien wees. Hier is die span in die Cloete-gemeenskapsgalery, waar Willem Mulder se foto-uitstalling, “Woordsketsers”, van bekendes in die Suid-Afrikaanse kuns- en vermaakbedryf, hang. Foto: Engela Duvenage

Eiendomsekonoom Erwin Rode, wat in onlangse jare dikwels vir Die Burger oor eiendomsake geskryf het, het pas op 82-jarige leeftyd gedebuteer met sy bundel Om ’n Melkweg te skep. Foto: Engela Duvenage (NOTA AAN UITLEGSPAN: Melkweg is met ’n hoofletter)

Johan Coetzee van Naledi lees voor uit ’n nuwe kopie wat hy tydens die fees gemaak het. Foto: Engela Duvenage

Die folkgroep Buurvrou het met hul energie ’n tent vol nuwe aanhangers bygekry toe hulle vir die laaste item op Vrydagaand se program gesorg het. Hulle het hul eie liedjies vermeng met voorlesings uit van hul gunstelinggedigte. Die groep bestaan uit Luca Geldenhuys, Carla Smith, Nienke Geldenhuys en Beer Adriaanse, en Luca Geldenhuys. Foto: Abraham Jantjies

Antjie Krog saam met Wim Gericke, ’n pediater van die Paarl, wat in sy vrye tyd besonderse houtwerk doen. Foto: Engela Duvenage

Jongmense van vier hoërskole in Wellington (Weltevrede, Hugenote, Bergrivier en Wellington) het Saterdagoggend kans gehad om hul gedigte voor te lees. “Meer digdink is nodig” is aangebied onder leiding van Lindsey Bruintjies, ’n leerkrag van Weltevrede Sekondêr op Wellington. Foto: Engela Duvenage

Hannes Visser het in “Die vryval tussen asem” voorgelees uit sy tweede bundel, Tussen asem. Hy het die bank gedeel met Pieter Hugo (Vryval). Hulle was in gesprek met Amanda Marais. Foto: Engela Duvenage

Met “Die stoel langsaan” het die Mengelmoesdigters aan hul mentor, wyle Diana Ferrus, hulde gebring. Die groep het in die vroeë 2010’s hul ontstaan by die Breytenbach Sentrum gehad. Hier is Theresa Carstens, Sophia Oliphant, Gaireya Fredericks, Fiona Fertyn en Merle Danhause op die verhoog. Foto: Engela Duvenage

Aktrise en skrywer Miché van Wyk, met voorlesings, en Magé Troskie, die 2025 ATKV Taalgenoot Ruk-en-Rym-wenner, het in “Mense-mense” kragte saamgespan (en hoe!) om stories en musiek te verweef. Foto: Engela Duvenage

Hertzogpryswenner Tom Dreyer (Brief op 4 000 voet), Danie Marais (Ek is nie Danie) en die Nederlandse digter Mustafa Stitou (Waar is het lam?) was in “Hoogtes en hier-wees” in gesprek met Louise Viljoen.

Pieter Odendaal (staande), Veronique Jepthas, Bibi Slippers en Shane van den Hoven het met Bibi Burger gesels oor hul poësie gesels in die PEN Afrikaans “Ek’t ons’t”-paneelbespreking. Foto: Engela Duvenage

Veronique Jepthas lees van haar onlangse gedigte voor tydens die Pen Afrikaans-paneelbespreking. Foto: Engela Duvenage

Die Open Mic-item Saterdagmiddag was soos gewoonlik ’n gewilde item, met jonk en oud wat die kans gebruik het om hul gedigte aan ’n waarderende gehoor te bring. Foto: Engela Duvenage

Seremoniemeester Danie Marais (regs), in gesprek met Tom Dreyer. Foto: Engela Duvenage

Dreyer was ook die gespreksleier van “Ek weet dit want”, waartydens hy vir Carina van der Walt (Dagboek van ’n Frankofiel) en Jennifer Pape (Waar eens ’n see was) oor hul onderskeie bundels uitgevra het. Foto: Engela Duvenage

Die Open Mic-sessie is gelei deur sanger Deon Meiring. As Wellingtonner het hy nie ver gehad om te reis vir dié geleentheid nie. Foto: Engela Duvenage

Amanda Swart, voorsitter van die Breytenbach Trust, in gesprek met Johan Conradie, een van die stigterslede van die Breytenbach Sentrum, die kultuurhart van Wellington. Dit was Conradie se idee om ’n parkeerarea langs die Greyvillias-gebou in ’n tuin gevul met gedigte te omskep.

Johan Myburg was in gesprek oor sy bundel Steierwerk met Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg. Hy het ook die feesgroepsuitstalling “Die vlam van vertel” geopen.

Joan Hambidge, wat vanjaar by die Tuin van Digters as digter gehuldig is, en Sarah Uheida, wenner van vanjaar se Ingrid Jonker-prys, tydens Uheida se voorlesings uit haar debuutbundel Not this tender.

Digter Charl-Pierre Naude (regs), van wie ’n bundel gedigte pas in Duits verskyn het, was een van die gasdigters wat saam met die groep Orwellington opgetree het. Van links is Riaan Oppelt, Christie Botha, Tania Erasmus en Louis Duvenage. Foto: Engela Duvenage

Shane van der Hoven, wenner van die 2026 UJ-debuutprys vir Afrikaans met Kruiper-Crawler en Fourie Botha, met Kolam, het met Bibi Burger van die Universiteit van Kaapstad oor hul onderskeie bundels gepraat. Foto: Engela Duvenage

Skrywer Sjaka S September is een van die gereelde bydraers tot Ons Klyntji wat van sy gedigte voorgedra het tydens “Ons Klyntji – 130 jaar”. Hier is hy saam met Willem Mulder, wie se foto-uitstalling “Woordsketsers” in die Cloete-gemeenskapsgalery geopen het. Foto: Engela Duvenage

Die alternatiewe zine Ons Klyntji is vanjaar 130 jaar oud. Redakteurs Erns Grundling en Toast Coetzer het ’n oorsig gegee oor die ontstaanjare, die Koos Kombuis-era van die 1990’s en die ontwikkeling daarvan oor die afgelope dekades. Vanjaar se uitgawe bevat 115 mense se bydraes. Dit sluit gedigte, foto’s, sketse en kortverhale insluit. Foto: Engela Duvenage

Ons Klyntji is eers in onlangse jare as ’n gatsakgrootte publikasie uitgelê toe daar begin is om dit by die destydse Oppikoppi-musiekfees in Northam uit te deel, het redakteur Toast Coetzer verduidelik. Foto: Engela Duvenage

Digter en skrywer Donker Jonker in die Breytenbach Galery, waar die feesuitstalling “Die vlam van vertel” nog enkele weke te sien sal wees. Digter en kunsjoernalis Johan Myburg het die openingsrede gelewer. Foto: Engela Duvenage

Churchil Naudé was een van die digters wat deelgeneem het aan “Oopmond + oopkop”, waartydens digters en musikante nuwe gedigte en musiek binne minute geskep het. Die ander digters was Danie Marais, Toast Coetzer, Anna-Bet Stemmet en Andries de Beer. Foto: Engela Duvenage

Hanru Niemand van “Die Kaalkop Waarheid” was tesame met Deon Meiring die musikante wat tydens “Oopmond + oopkop” uitgedaag is om binne minute nuwe musiek te skryf op grond van digters se nuwe gedigte. Evert Esterhuizen het twee kunswerke geskep na aanleiding van die onderwerpe wat gedek is, terwyl Henry Cloete as skeidsregter opgetree het. Foto: Engela Duvenage

Andries de Beer (Aalmoes vir die bootman) en Anna-Bet Stemmet (Goed wat gebeur het met mense op plekke) was ook in die “Oopmond”-geledere. Foto: Engela Duvenage
Die fees is soos gebruiklik geëindig met laatnagmusiek. Dis vanjaar aangebied deur Nick Turner, Jannie “Hanepoot” van Tonder en kie.

