Forensiese linguistiek – spannend en nodig

  • 0

Karien Brits, die uwe

As ’n mens die woorde “forensiese linguistiek” hoor, sien ʼn mens soms die prentjie van bebrilde taalkundiges wat skelms probeer vastrek. Dit klink amper soos die sexy linguistiese weergawe van CSI. Dit is egter nie die prentjie wat jy moet optower as jy “Forensic Linguistics Colloquium” lees nie. Hierdie kollokwium, wat vanjaar op 19 Oktober 2018 by Rhodes-universiteit se Skool vir Tale en Letterkunde gehou is, het veel meer om die lyf as net die metodes om skelms uit te vang.

Zakeer Docrat – passievol oor toegang tot die reg

Die subtema verklap iets van die trant van die dag se referate en gesprekke: “The language of justice: a transformational approach”. Die name van die organiseerders van die kollokwium is ’n verdere leidraad: Russell H Kaschula, wat die SARChI-leerstoel vir die intellektualisering van Afrikatale, meertaligheid en onderwys beklee, en sy kollega Zakeera Docrat.

Russell H Kaschula, NRF SARChI-leerstoel vir die intellektualisering van Afrikatale

Die leitmotif wat deur al die referate geklink het: tale en meertaligheid is van kardinale belang vir gelykheid voor en toegang tot die reg. Die leitmotif as sodanig is nie so nuut nie, maar die verskillende interdissiplinêre prismas waardeur dit bekyk is, was beslis verfrissend. Boonop bied die deelname van en aanbieding deur honneursstudente hoop vir die toekoms wat taalregte van Suid-Afrikaners betref.

Taalregte as deel van sosio-ekonomiese regte

Die gasspreker was nie ’n linguis nie, maar die direkteur van die Legal Resources Centre op Grahamstad, Cameron McConnachie, en sy aanbieding (“Language barriers that limit access to justice in the Eastern Cape”) het my oë as stedeling oopgemaak vir wat in die landelike gebiede gebeur en watter rol taal speel in die toegang, of eerder gebrek aan toegang, tot inligting. Hy het dit aan die hand van drie temas illustreer: grondhervorming, basiese onderwys en veilige drinkwater.

Cameron McConnachie, direkteur, Legal Resources Centre

Daar is grondhervormingsake wat al jare lank draal omdat die beleidsdokumente nie in Xhosa (die grootste taal in die Oos-Kaap) beskikbaar is nie.

Wat die reg op basiese onderwys betref, is daar uiteraard eers aan die heel basiese behoeftes soos banke, stoele, onderwysers en toilette aandag gegee. Die modderskole moes ook toegemaak word en nuwe skole moes in die plek daarvan gebou word. Vanuit ʼn beleidsperspektief was daar norme en standaarde om die bou van skole te reguleer. Ongelukkig was hierdie planne, prosedures en regulasies nie in enige Afrikatale vertaal nie en is die gemeenskappe op grondvlak nie behoorlik hieroor ingelig nie.

Dieselfde taalprobleem is ook met betrekking tot die beskikbaarstelling van veilige drinkwater ‘n faktor. Ongeveer vyf miljoen Suid-Afrikaners het nie toegang tot veilige drinkwater nie. Mense moet daagliks kilometers ver loop om dikwels onveilige water by spruite en fonteine te gaan haal. Ook hierin speel taal ʼn rol, want die geïntegreerde-ontwikkelingsplan was nie in ʼn taal beskikbaar wat die gemeenskappe kan verstaan nie. Die spreker se aanbeveling aan taalaktiviste was dat hulle kragte moet saamspan in hofsake wat oor sosio-ekonomiese regte handel en die taalregtedimensie moet byvoeg.

Taal en die Grondwet van Suid-Afrika

Artikel 6 van die Grondwet van Suid-Afrika verleen aan 11 tale amptelike status en is al telkens in gesprekke oor taalregte aangehaal. Soos die bekende taalregte-aktivis en prokureur Cerneels Lourens dit egter stel, is dit net ’n raamwerk en moet ons as Suid-Afrikaners inhoud daaraan gee. Lourens het die agtergrond geskets van die hofsake wat hy gevoer het om diversiteit in die konteks van artikel 6 te laat realiseer en om daardie taalbepalings van die Grondwet in ander wetgewing – soos die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale – te laat neerslag vind. Dit was in hierdie hofsake vir hom belangrik dat die waardigheid van tale herstel word en dit was sy poging “to decolonise the mind”. Hy en ander sprekers het op die mite gewys dat meertaligheid kwansuis te duur is.

Cerneels Lourens – prokureur en taalaktivis

Volgens artikel 6 van die Grondwet “moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van [inheemse] tale te verhoog en hul gebruik te bevorder”.

Zakeera Docrat en Russel Kaschula het by hierdie punt in die artikel stilgestaan toe hulle oor die taal van rekordhouding in Suid-Afrikaanse howe gepraat het. In Docrat se woorde: “How do we elevate our African languages if English is the sole language of record?” Engels is nie die dominante taal in die howe nie. Daar moet regters deur die stelsel kom wat meertalig is. Engels as die enigste taal van rekordhouding in die howe gaan nie transformasie in die hand werk nie, maar neokoloniale elitisme.

Taal is nie hulpbron en nie ʼn probleem nie.

Monwabisi Ralarala van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie

Volgens artikel 35 van die Grondwet het elke beskuldige persoon die reg om verhoor te word in die taal wat hy of sy verstaan. Jy mag op ’n tolk aandring. Dit is ook belangrik dat jy reeds wanneer jy ’n saak by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanmeld, jou verklaring in jou eie taal aflê, omdat jy daarop kruisverhoor kan word. Dit is dan ook die saak waarby Monwabisi Ralarala stilgestaan het. Sy deeglike navorsing het uitgewys hoe verklarings in Xhosa deur polisiebeamptes in Engels vertaal word en hoe sake op grond van hierdie gebrekkige verklarings ’n verkeerde loop neem. Hy bepleit ’n tegnologiese stelsel wat mense in staat stel om hulle verklarings in hulle moedertale af te lê.

Annelise de Vries van AfriForum

Annelise de Vries se bevindinge uit haar longitudinale studie oor taalhoudings van regspraktisyns was baie insiggewend. Prokureurs voel hulle moet Engels gebruik, maar hulle ken nie hulle kliënte se taalbehoeftes of swak begrip van Engels nie. Daar is ’n behoefte aan ’n boodskap van die waarde van meertaligheid vir hierdie regspraktisyns wat ’n kardinale rol speel in die toegang tot reg en geregtigheid.

Jong navorsers daag uit: neo-apartheid, taalkaping, taal van korrupsie, taalregte of tolkingsregte

My persoonlike hoogtepunt was egter om na die honneursstudente in die nuwe Afrikataalmodule “Language and law” te luister. Sandisiwe Mafalala het gevra of apartheid ’n nuwe naam gekry het – naamlik “demokrasie”. Sy het in haar aanbieding na die Lovedale TVET College se Engelse eentalige taalbeleid verwys. Hierdie taalbeleid verwys na die Afrikatale as “ander tale” en Xhosa kan as “addisionele taal” gebruik word om materiaal te verduidelik. En dit by ’n kollege waar 98% van die studente moedertaalsprekers van Xhosa is.

Ntombizethu Nyakambi het in haar aanbieding, “The utilisation of the English language in traditional courts and its encroachment on the rights of indigenous languages” na “linguistic capture” oftewel taalkaping verwys. Die woordspeling met “state capture”/“staatskaping” illustreer die negatiewe gevolge van eentaligheid. Hoofregter Mogoeng Mogoeng se aankondiging oor Engels as die enigste taal van rekordhouding benadeel al die ander amptelike tale in Suid-Afrika en dit het ’n negatiewe uitwerking op die gewoontereg en die tradisionele leiers se gesag.

Zikho Dana en Tholly Thwala het in aanbiedings gewys hoeveel daar as gevolg van taalversperrings verlore gaan. Thwala verwys daarna as “language of corruption”. Mense het nie taalregte nie, maar tolkingsregte. Daar is sake waar die oortreders wegkom op grond van swak vertalings uit die Afrikatale en onkundigheid oor eufemismes in die Afrikatale. Dana pleit vir meertaligheid in die howe om eenheid in verskeidenheid en versoening te help verseker. Die insluiting van Afrikatale in die howe sal die herintegrasie van die Afrikataalsprekers help verseker – transformasie in die ware sin van die woord.

Die honneursstudente het aktief deelgeneem

Goeie teorie is prakties

Miguel da Costa het die resultate van ’n aanlyn taalaanleerdersprogram (Uthini) vir mediese studente wat Zoeloe as deel van hulle kursus moet leer, gedeel. Dit is hartsverblydend dat daar jong entrepreneurs is wat taal as ‘n hulpbron en nie as ’n struikelblok sien nie.

Ek het in my eie aanbieding gekyk na die rol wat nieregeringsorganisasies (NGO’s) en organisasies sonder winsbejag (NPO’s) – soos die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) – speel om taalregte te bevorder. Die opneem van taalregte en die bevordering van meertaligheid is in die hande van die burgerlike samelewing.

Hierdie kort verslag is ’n poging om iets van die kollokwium weer te gee. Daar is soveel belangrike punte en opmerkings wat in die slag gebly het en ek vra sommer by voorbaat al verskoning! Ek kan net die hoop uitspreek dat hierdie kollokwium ’n jaarlikse instelling by Rhodes-universiteit sal word.

Kollokwiumgangers

 

Forensiese linguis analiseer anonieme artikel oor die Trump-administrasie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top