Fonds ter ondersteuning van die Pierneefteater in Pretoria

  • 0

Beste kollegas en ondersteuners van die uitvoerende kunste

Jopie Koen het die Pierneefteater in Maart 2003 begin en dié teater bied sedertdien staanplek vir ’n wye verskeidenheid van musiek, drama en kinderproduksies. Afgesien van die hartlike atmosfeer in die intieme teater, staan die plekkie deur die jare bekend as die ruimte waarin een van die warmste harte vir die kunste op aarde klop – dié van die teater se eienares en bestuurder, Jopie Koen. Jopie was van die middel-negentigerjare as vrywilliger betrokke by Carel Trichardt en Petru Wessels se Teaterhuisie in Sunnyside, Pretoria. Na die sluiting daarvan het sy besluit dat die goeie werk moet voortgaan: Sy het haar loopbaan in die staatsdiens beëindig en die Pierneefteater as ’n unieke tuiste vir die uitvoerende kunste daargestel. Vanweë die meer bekostigbare kostestruktuur vergeleke met groter teaters was by haar teater nog altyd staanplek vir ’n nismark: vir minder-bekende kunstenaars, amateurdrama en -musiek, ’n spesiale week van optredes deur mense met gestremdhede (Ten spyte van noem Jopie die reeks programme), en deesdae ook vir klassieke musiek, danksy Werner Stolze Klaviere wat ’n uitstekende vleuelklavier tot die teater se beskikking gestel het. Jopie se warm hart bemoedig, help dink, gooi wal waar nodig en bemark kunstenaars op elke denkbare manier.

Dit is alom bekend dat die uitvoerende kunste een van die velde is waar die koronavirus se nagevolge geweldig gevoel word, en dit is so dat die Pierneefteater vir ’n geruime tyd geen inkomste sal hê nie. Soos ander teaterbesture is Jopie reeds besig om virtuele konserte te beplan, maar die voortbestaan van die teater word sonder twyfel bedreig. Jopie werk op die oomblik onverpoosd daaraan om hulp van enige oord na te vors en op te volg ten einde die Pierneefteater sowel as haarself deur hierdie uiters moeilike tyd te dra.

Terwyl Jopie vir ’n leërskare kunstenaars omgee en deurentyd alles in haar vermoë gedoen het om vir hulle geleenthede te bied en hulle loopbane te bevorder, glo ek dat daar geen ander kunstenaar is wat soveel gebaat het uit haar omgee en dóén as ek self nie. Om dié rede neem ek die inisiatief – maar danksy Jopie se groothartigheid teenoor soveel kollegas ook die vrymoedigheid – om voor te stel dat ’n ondersteuningsfonds vir die Pierneefteater van stapel gestuur word. Daar is in hierdie uitsonderlike tyd al baie daaroor gesê dat hierdie krisistyd ons almal tot nuwe besinning en selfondersoek bring, en ek staan persoonlik beskaamd daaroor dat ek nie jare gelede besef het dat so ’n fonds benodig word om Jopie te bemagtig nie.

Op hierdie oomblik sal fondse benodig word om virtuele konserte te reël en aan die publiek beskikbaar te stel, om die gees van die Pierneefteater lewend te hou, en om gereed te wees vir daardie oomblik wanneer die teater weer volledig aktief word. Ons moet ook voorsiening maak vir Jopie se eie oorlewing, aangesien die teater haar enigste bron van inkomste is. Sy het geen voltydse werknemers nie, maar daar is ’n aantal individue wat al jare lank op ’n gereelde ad hoc-inkomste van Pierneefteater reken en vanweë die informele diensverhouding waarskynlik nie op werkloosheidsversekering staat sal kan maak nie. Verder sal ’n beskikbare fonds daartoe kan lei dat die teater in die toekoms nog meer effektief in diens van die uitvoerende kunste kan staan. In ’n gesprek met Mathys Roets het hy ’n uiters geldige punt gestel: “As die Pierneefteater nie meer daar is nie, verloor ons ’n wonderlike optreeplek.” Mathys is sedert die opening van die teater ’n nie-amptelke beskermheer, en hy tree van altyd af by elke verjaarsdagviering van die Pierneefteater op. Mathys se stelling geld nie alleen vir kunstenaars nie, maar ook vir ’n waarderende publiek.

Net ter inligting: Jopie is totaal onbewus van hierdie inisiatief, alhoewel dit haar uiteraard binnekort ter ore sal kom. Wees asseblief ook verseker daarvan dat Jopie glad nie weet aan wie almal ek hierdie skrywe rig nie, en dat nóg ons, nóg Jopie enige verwagting het of sal hê dat spesifieke persone behoort by te dra. Ons sal net die grootste waardering hê vir enigiemand wat hulle weg daarvoor oopsien – die omvang van bydraes is ook nie waaroor dit gaan nie.

Die ondersteuningsfonds word onmiddellik geloods en sal binne afsienbare tyd bekendgestel word deur ’n gratis virtuele konsert. Alhoewel hulp van enigiemand natuurlik welkom is, sal ek dit waardeer as jy hierdie plasing sal aanstuur aan kunstenaars/akteurs wat deur die jare by Jopie se teater opgetree het en aan mense wat spesifiek die Pierneefteater sal wil ondersteun

Die ondersteuningsfonds sal gebruik maak van ’n geregistreerde trust met onafhanklike trustees wat alle fondse ooreenkomstig erkende trustbeginsels sal bestuur. Verslae sal ook beskikbaar wees op aanvraag van enige donateur, ten einde te kan bevestig dat die fondse oordeelkundig en in ooreenstemming met die ondersteuningsfonds se doelwitte geadministrateer sal word. Die persone wat aan die stuur staan, is Fanie Marais, hoof van Cordis Trust, wat die Pierneefteater reeds sedert sy ontstaan in 2003 op velerlei wyse ondersteun, en Jopie se broer, Johann Koen, spesialis op die gebied van korporatiewe bestuur, wat Jopie se belange uit die aard van die saak op sy hart dra.

Die rekeningbesonderhede vir enige skenkings is:

Bank: Standard Bank
Rekeningnaam: Cordis Trust (Spaarrekening)
Betalingsverwysing: Pierneef Ondersteuningsfonds
Rekeningnommer : 014304929

Met my beste wense vir hierdie moeilike tyd – dankie vir jou aandag hieraan.

Jannie du Toit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top