Folk 101: Klassiek en kontemporêr in een

  • 1

Here Be Dragons (Foto: verskaf)

Die vertoning van Folk 101 wat by die Toyota US Woordfees vanjaar wys, word beskryf as ’n vermenging van klassieke en kontemporêre musiek, ’n “unieke perspektief op die kruispaaie tussen twee baie belangrike style van musiek,” volgens die musikant Jan-Hendrik Harley.

Die groep Here Be Dragons verken folkmusiek wat gedurende die 15de en 16de eeue in en om Middel-Europese kultuursentra gewild was. Die groep wys op opwindende wyse hoe kuns- en folkmusiek mekaar oor en weer beïnvloed het van toe tot nou.

Here Be Dragons bestaan uit Josh Frank (blokfluite), Annien Shaw (barokviool), Mariechen Meyer (kontrabas), John Pringle (handperkussie) en Jan-Hendrik Harley (barokviool/viola/kitaar/mandolien/musiekregie).
Jan-Hendrik vertel meer.

Jan-Hendrik, vertel ons meer oor Folk 101 – wat maak jou opgewonde oor hierdie musiekproduksie?

Here Be Dragons se Folk 101 is ’n produksie waaraan ek al lank werk in konsep. Dit is ’n inleiding tot volksmusiek vir kunsmusiekliefhebbers, soveel as wat dit ’n inleiding tot kunsmusiek is vir volksmusiekaanhangers. Die program ondersoek die invloede wat kuns en volksmusiek op mekaar gehad het (en nog steeds het), en die groep interpreteer dan ook die musiek in verskeie kontekste. Die werke is almal noukeurig gekies om hierdie storielyn aan te vul, en ons speel rond met verskillende interpretasies om ook meer van hierdie invloede uit te wys. Dit is baie spesiaal vir my dat ek met hierdie produksie twee van my groot passies (kunsmusiek en volksmusiek) kan kombineer, en dat ek dit met so ’n talentvolle groep kollegas kan ten toon stel.

Die produksie is ’n vermenging van klassieke en kontemporêre musiek – hoe so?

Een van die hooftemas van die produksie is om die invloede van kuns- en volksmusiek op mekaar te ondersoek. Ons speel vroeë (15e en 16e eeu) asook kontemporêre kuns- en volksmusiek in hierdie produksie, en daarby verskeie interpretasies, op beide vroeë en moderne instrumente. Ek sou dit eerder beskryf as ’n oorbruggingsproduksie: nie werklik “klassiek” of “kontemporêr” nie, maar tog beide. Die beste is om jouself nie te veel te steur aan watter etiket die musiek in val nie en die reis te geniet!

Die produksie verken folkmusiek wat in en om Middel-Europese kultuursentra gedurende die 15de en 16de eeue gewild was – vertel asseblief meer hieroor?

Ek het doelbewus gefokus op Europese kultuur uit daardie tydperk vir die musiek omdat daar geweldig sterk ooreenkomste was tussen kuns- en volksmusiek van daardie tyd: Dit het my uitgangspunt geword vir die projek, en al bring ons verskeie kontemporêre elemente in van die interpretasies in, keer ons telkens terug na hierdie noue wisselwerking. Die feit dat ons nog steeds daarna kan luister en dit geniet 500 jaar later spreek ook tot die musiek se tydloosheid.

Julle speel onder andere musiek uit Skandinawië, die Britse Eilande, Frankryk, Spanje, Italië en Roemenië – reg?

Die program is so uitgelê dat ons geografies ’n sirkelvormige reis aanpak. Dit begin in Skandinawië met die Sweedse polskas, beweeg later oor na die Britse Eilande waar ons onder andere hulde bring aan die folk rock-beweging. Die volgende stop is Frankryk, waar ons die vroegste musiek aandurf, maar in ’n moderne troebadoerstyl wat deesdae opslae maak in daardie geweste. In Spanje dans ons figuurlik die omstrede kanariedans, en in Italië bring ons hulde aan die groot Claudio Monteverdi. Die laaste stop voor ’n terugkeer na Skandinawië is Roemenië: Hier herinterpreteer ons Belá Bartok se Romeense volksdanse (’n ernstige kunsmusiekkomposisie wat gebaseer is op volksmelodieë) as volksmusiek.

Wat is jou rol in die produksie en wie is die ander deelnemers in hierdie produksie – wat is hul rolle?

My rol in hierdie produksie is meestal as fasiliteerder. Ek doen die verwerkings en navorsing, maar die musiek neem eers lewe aan wanneer die groep dit as ’n geheel interpreteer – Here Be Dragons is Josh Frank op blokfluite, Annien Shaw op barokviool, Mariechen Meyer op kontrabas en John Pringle op handperkussie. As instrumentalis speel ek barokviool, barokaltviool, barokkitaar en mandolien.

Waarom sal jy mense aanraai om hierdie produksie te ondersteun?

Ek sou sê daar is twee redes om hierdie produksie te ondersteun. Eerstens is dit ’n unieke perspektief op die kruispaaie tussen twee baie belangrike style van musiek. Die gehoor kan verwag om baie te leer, maar ook om verras te word deur die verskeie interpretasies. Tweedens is dit dat die produksie ’n veilige spasie is vir ’n gehoor om “klassieke” musiek te leer ken en geniet buite die norm. Die dae van deftige pakke dra na ’n konsert van ernstige musiek is verby, en net omdat die musiek deeglik voorberei is en die program akademies nagevors is, beteken dit nie dat jy nie mag hande klap as jy meegevoer word nie. Ek dink altyd terug aan iets wat ek jare gelede gehoor het: "Making music is serious business. Listening to it shouldn't have to be."

Folk 101 is 11 en 12 Maart by die Toyota US Woordfees te sien. Kaartjies is teen R140 beskikbaar by Computicket en kos R160 by die deur.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Etienne Viviers

    Interessante keuse van die terminologie "folkmusiek" in Afrikaans, pleks van die meer gebruiklike volksmusiek. Ek sou graag die redenasie daar agter wou verstaan.

    Die musikoloog Peter van der Merwe se noukeurige boek, Roots of the Classical: the popular origins of Western music, wys (ten minste volgens musikologie se Groot Wyse Oupa, Richard Taruskin -- Music & Letters 88/1) hoe intiem die verskillende registers van folk/volksmusiek en Westerse kunsmusiek met mekaar vervleg was, voordat die puristiese ideale van die modernisme in uitvoerings- en komposisiepraktyk die oorhand gekry het.

    Jan-Hendrik Harley se raad om mens, in hierdie geval, nie te veel aan musieksoorte se etikette te steur nie, maak dus sin. En miskien daarom juis 'n blykend lukrake etiketering van hierdie musiek as "folkmusiek"?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top