Fokusberoep: Juweliersontwerper en –vervaardiger

  • 1

Is jy kreatief en kunstig – en wil jy ’n juwele ontwerp en vervaardig? Phia Mans vertel wat dit beteken.

Vertel ons lesers asseblief wat jou werk behels.

Ek doen ontwerpe en vervaardiging van juweliersware op aanvraag van kliënte. Ek soek en verskaf ook die nodige diamante, edelstene of halfedelstene na gelang van kliënte se behoeftes en voorkeure. Ek kan ook waardasies doen op bestaande juweliersware van kliënte vir versekeringsdoeleindes.

Hoekom het jy besluit om 'n ?juweliersontwerper? te word?

Ek wou graag 'n beroep beoefen waar ek daagliks skeppend en kreatief kon wees. Ek het nog altyd 'n voorliefde vir stene en veral edelstene gehad.

Hoe gaan mens te werk om 'n juweliersontwerper? te word? Waar kan mens ?dit studeer?

Ek het by die Universiteit Stellenbosch die vierjaarkursus BA Beeldende Kunste met Juweelontwerp en Metaaltegniek voltooi. Dis 'n keuringskursus waarvoor jy 'n portefeulje met vereiste werke moet voltooi en ingee om in aanmerking vir keuring te kom.

Jy kan ook by Pretoria Tech en Kaapse Tech gaan studeer. Die kursusse verskil van instansie tot instansie?, en word van tyd tot tyd aangepas en verander om in pas te bly met die ontwikkeling en behoeftes.?

Die universiteitskursus fokus primêr op die ontwerpsaspek, terwyl die technikon meer praktiese oefeninge doen. Daar is voor- en nadele in beide. 

?Kontak die instansies en maak seker van hulle huidige kursusinhoude om dit teen mekaar op te weeg. ?

Wat is die beste aspek van jou werk?

Omdat elke kliënt uniek is, is elke juweelstuk ook anders as die voriges. Elke stuk handvervaardigde juweelstuk is besonders op sy eie manier. Daar is heerlike werksbevrediging daarin om in iemand se hande 'n juweelstuk te plaas wat hulle oë laat blink.

En die slegste?

Soms het kliënte nie begrip daarvoor dat sekere idees nie altyd prakties uitvoerbaar is nie. Juweliersware is soos miniatuurbeeldhouwerke, maar dit moet ook prakties en sterk genoeg wees om gedra te kan word sonder dat dit seerkry en beskadig word.

Oor watter karaktertrekke moet 'n mens beskik om 'n juweliersontwerper en vervaardiger? te word? 

Bo en behalwe dat jy kreatief moet wees om ontwerpe te kan doen, moet jy vaardig met jou hande wees om op fyn skaal presisiewerk te kan doen. Jy moet geduldig wees met jouself. In die vervaardigingsproses moet mens soms iets eerder stadig doen en reg doen as wat jy dit moet oordoen omdat jy te haastig was. En jy moet goeie luistervaardighede hê om 'n kliënt se behoeftes te begryp, sodat jy 'n produk aan hom of haar kan gee wat hul verwagtinge oortref. 

As jy nie 'n juweliersontwerper? was nie, wat sou jy graag wou doen?

Ek sou graag binnenshuise versiering of argitektuur wou doen.

Wie het jou geïnspireer om 'n juweliersontwerper? te word? Het jy 'n mentor gehad?

My pa het my aangespoor om dit te gaan studeer. Ek was gelukkig dat ek wel keuring gekry het vir die kursus, want op daardie stadium was daar nie iets anders waarin ek belang gestel het nie. Ek het nog altyd baie bewondering gehad vir die ongelooflike juweliersware wat Tiffany & Co skep.

Wat is die een ding wat niemand vir jou op universiteit vertel het van die juweliersbedryf nie?

Ongelukkig is ons nie voorberei op wat die besigheidsaspekte van die juweliersbedryf is nie. Daar is oa baie streng regulasies tov die goudbedryf in Suid-Afrika, maar met dié alles het ek eers te doene gekry nadat ek klaar studeer het.

Wat is die toekoms van juweliersontwerp? in Suid-Afrika?

Ongelukkig is daar nie baie werk in die Suid-Afrikaanse juweliersbedryf nie. Maar daar is die geleentheid om vir jouself werk te skep sodra jy genoeg werksondervinding opgedoen het. Die Suid-Afrikaanse juweliersontwerpers vaar baie goed in internasionale kompetisies en ons vakmanskap word hoog aangeskryf.

Die opleidingsinstansies stel studente deesdae bloot aan rekenaarontwerp soos Rhino en CAD, wat baie nuwe moontlikhede in vervaardiging en ontwerp skep. In die toekoms sal baie van die ontwerp en vervaardiging met die hand daarmee vervang word.

Het jy enige raad vir jongmense/leerders wat 'n juweliersontwerper wil word?

Daar is ongelukkig geen kortpad na sukses nie. Jy sal van onder af moet begin en met deursettingsvermoë en baie harde werk jouself moet opwerk tot daar waar jy wil wees. Maar die werksbevrediging wat mens kry deur na iets pragtigs te kan kyk wat jy self geskep het, is baie hoog en heerlik. Daar is baie verskillende vertakkings in die juweliersbedryf en jy kan jou eie paadjie skep. 

Alle sketse/ontwerpe en foto's deur Phia Mans.

http://www.phia.co.za/
 

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Louisa Janse van Rensburg

    Ek het 'n borsspeld wat oor die honderd jaar oud is. Het klein rooi stene met een groot rooi steen in die middel. Wil graag weet wat dit werd is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top