Fokusberoep: Akteur en regisseur

  • 11

Wil jy toneel speel? Albert Maritz gesels oor wat dit beteken om ’n akteur of regisseur te wees.

 

Hoekom het jy besluit om ’n regisseur/akteur te word?

Ek’t in ’n huis grootgeword met drama in die vorm van amateurtoneel en professionele teater, en kuns – my pa se sketse, en selfs my pa se fotografie en donkerkamer. Na ek eers ’n kombinasie van taal en wetenskap by die Universiteit van Kaapstad sou doen, het my lang verwydering van my pelle die deurslag gegee en ek het drama met onderwysvakke by Stellenbosch gaan studeer.

Hoe gaan mens te werk om ’n regisseur/akteur te word? Waar kan mens daarvoor studeer?

Sommige mense studeer nie. Beide (regisseur en akteur) is seker ’n vorm van entrepreneurskap. En as jy die talent het, kan jy deur hard aan die doel te werk, nogal by jou doelstellings uitkom. Ek dink die saadjie vir regie is op skool geplant deurdat ek kuns geneem het as vak. My kunsjuffrou was geweldig bevrydend en inspirerend.

Wat is die beste aspek van jou werk?

Ek probeer die teks verstaan, en het oneindige respek vir ’n hardwerkende akteur. So, ons probeer die werk met lekkerkry klaarkry. Ek is gaande oor die ondersoek van ruimte in mense se gees, en in die verhoogruimte. Dit lei seker na die gebruik van vlakke – voor, middel, agter; onder, middel, bo – deur spel, deur die fisiese, deur lig en stelontwerp.

En die slegste?

Ek dink nie te veel van myself nie ...

Oor watter karaktertrekke moet ’n mens beskik om ’n regisseur/akteur te word?

Verskillende mense het verskillende maniere van die werk doen. Ek streef daarna om ’n fasiliteerder van ’n verskeidenheid mense se idees te wees, eerder as ’n persoon wat vir mense sê wat om te doen.

As jy nie ’n regisseur/akteur was nie, wat sou jy graag wou doen?

Ek sou ’n lekker onnie wees en rugby en drama afrig en saamspeel. En argitektuur prikkel my altyd.

Wie het jou geïnspireer om ’n regisseur/akteur te word? Het jy ’n mentor gehad?

Ek dink dis maar die blootstelling aan die wêreld. Ek wou onnie word. Maar toe ek mense in my jaargroep help met hulle oudisies, het ek die oproep van Marius Weyers gekry met ’n aanbod by TRUK. Dit het sekerlik my lewe direk in dié rigting gestuur. Ek het al ’n paar keer probeer ontsnap! Mentor? Te min, te ongereelde goeie advies en goeie voorbeelde. Behalwe die briljante akteurs wat in die Kaap gewerk het en ek gereeld op die verhoog gesien het.

Wat is die een ding wat niemand jou op universiteit vertel het van regisseur/akteur wees nie?

Niemand was voorbereid op die val van die vorige regering en met hoe min ons daarna sou moes klaarkom nie.

Wat is die toekoms van regisseurs/akteurs in Suid-Afrika?

Dié van ons wat dit doen, met enkele uitsonderings, doen dit nie vir die geld nie, omdat ons nie weet hoe nie. Desondanks is daar baie opwindende talent wat die pad oophou vorentoe met formidabele werk.

Het jy enige raad vir jongmense/leerders wat ’n regisseur/akteur wil word?

Dis harde werk. Ek het eers baie laat ’n trots aangeleer vir die werk. Wees bereid om hard te werk, en maak gou genoeg erns daarmee om die trots vroeg te ontwikkel. Een goeie rede daarvoor is: daar is talle mense wat die beroepe beoefen in ons land en hulself op die hoogste peil van voorbereiding kry en hou, en geweldig ontwikkel. Wees onder hulle. Pasop vir agter raak. Werk graag in ensemble eerder as in kompetisie. Stel die werk eerste. Slaan ag op positiewe mentors, en as die werk jou onderkry, verander.

  • 11

Kommentaar

  • Ek het die droom om 'n akteur te word al vandat ek vier jaar oud was ... en ek is goed so kan jy my help asseblief ... ek geniet dit om voor mense my droom uit te leef en selfs anders om.

  • Ek wil graag na skool vir 'n aktrise leer. Wat is die moontlike vakke wat ek moet vat om deur te kom. Op ons skool het ons 'n probleem met vakke.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top