FMR-resensie: Toy van Carnarvon deur Stephen le Roux

  • 24

Titel: Toy van Carnarvon
Skrywer: Stephen le Roux
Uitgewer: Naledi
ISBN 9781928518044

Hierdie resensie is op 15 Januarie 2020 in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai.

Ek wil sommer my bespreking van Stephen le Roux se Toy van Carnarvon begin met ’n uitdrukking wat die hoofkarakter Toy dikwels gebruik: Om hierdie ware verhaal te lees, was vir my sommer “vet pret”!

Stephen le Roux, alias Toy, roep vir ons sy skoolloopbaan – van sy voorskoolse tyd tot matriek – in die jare sewentig en tagtig op Carnarvon in die Karoo voor die gees. Sy pa het spoorlyne op afgeleë plekke deur die Karoo help bou, maar was toe reeds oorlede. Ma Kate is die ferm versorger en hou vir Toy, soos die ouer kinders Babs, Willem, Ockie, Ernie en Marietjie, op die regte pad. Hier is ook tonele met die onderwysers en hulle interessante gewoontes en byname soos Jassie, Tieties, Pannetjies, Koos Lyf en Fossiel. Die inwoners van die dorp en van elders tree op. Ook die plaasmense.

Toy beleef avonture saam met sy tjommies, soos Gotie, Tarzan, Pierre, Tjommie-Jan, Theo, Poensie en Pokkels en die hakkelende maar wyse Wilro. Dan kom ons uit by Toy se seksuele ontwaking saam met meisies soos Isabel, Retha en Zelda as hulle hul so vas teen hom aandruk, so wonderlik met hulle tonge kan werk. Ná ’n vryery met Zelda op die grasperk en ook op die rusbank op ’n Saterdagaand glo hy: “Vroumense is genoeg om ’n mens van jou kop af te dryf en beheer te laat verloor” (222).

Die skrywer, Stephen le Roux, gebruik kontrasterings baie goed in die intrige. Toy kon met geld van vakansiewerk en sy hardwerkende ma die begeerlike tweedehandse Honda-motorfiets by oom Frikkie koop. Toy ervaar die vreugde só: “Toe ek ’n paar uur later in die bad lê, voel ek soos die rykste man op aarde” (214). Toy sê vir sy geliefde hond Laska wat hom langs die bad met valkoë dophou: “Wat wil ’n man nou meer hê? ’n Mooi bike en ’n mooi hond, dis seker al? ’n Mooi girl daarby sal seker die cherry op die koek wees.”

(Terloops, hy en Laska ervaar iets heel ongewoons langs die dorpsdam. Oumeneer Hough, “amper negentig en pankop, maar nog kiertsregop en lank soos ’n paal”, daag met sy vroutjie met die grys bolla daar op. Oumeneer doen dan iets onbesonne. Wees op die uitkyk daarvoor teen die einde van die boek!)

Aan die een kant die genietinge. Nou die kontras daarmee (bl 226 tot 228): Die sirkus kom na Carnarvon. Toy gaan kyk na die diere agter tralies. Die ape veg om die toffies wat hy vir hulle voer. Dan oorreed die besonder vriendelike sirkusakrobaat hom om hom na sy groot woonwa te vergesel en hom daar met ’n klein werkie te help in ruil vir toegangskaartjies.

Die akrobaat laat hom eers na Playboy-tydskrifte kyk voor hy eers sy hand op Toy se been sit en toe sy arm om Toy se lyf.

Toy as die ek-verteller vereenselwig hom so met sy jeugervarings dat dit jou absoluut oortuig, laat glimlag of ontroerd laat.

Dit is bv so oortuigend dat die leerders in die laer grade (toe standerds genoem) nog nie té gewaagde uitdrukkings gebruik nie. Maar hoe ouer hulle is, hoe krasser en lekker gekruie raak die uitdrukkings.

Dis ’n boek vir hondeliefhebbers (kyk hoe hy sy honde hanteer; vir Witvoet, Bollie en Laska). Bollie beskryf hy as “die pragtigste, wollerige, goudbruin hondjie” met “lang, sagte ore wat teen die kant van sy gesiggie afhang” en “met die twee mooiste, grootste ligbruin oë” (85). Dis ook ’n boek vir mense wat in stoomtreine belangstel (bv bl 71, 72, 75, 76 en vanaf bl 88), of graag op motorfietse by strande opdaag (bl 156, 157, 163 en 164).

Voor ek nog lof gee, moet ek net gou kla dat die teksversorging dikwels onbevredigend is. Hier lees jy vas teen anglisistiese konstruksies en leestekens wat ontbreek of verkeerd gebruik word. Tydspronge word wel soms met ’n wit reël aangedui, maar ’n volgende keer weer nie, sodat ons die gedeelte moet herlees om uit te vind wat gebeur wanneer waar. Vreemdtalige woorde word net soms gekursiveer. Woorde word ongemotiveerd binne dieselfde sin of paragraaf herhaal.

Ek is beïndruk deur Le Roux se vermoë om jou as leser deur ’n toneel te neem en jy dan ’n bietjie later in ’n volgende toneel besef hoe alles eintlik subtiel op ’n klimakssituasie afgestuur het. Ek volstaan met ’n enkele voorbeeld. Juffrou Esterhuizen, of dan die kwaai juffrou Essie met die skerp gesig “soos ’n kwartpond kaas”, raak bekommerd omdat die leerders bang is om Engels te gebruik (60).

Toy word bv vir lesse by tant Sielie gestuur. Dié is ’n stokou, afgetrede Engels-juffrou wat in ’n bouvallige huisie woon. Die leser beleef hoe Toy baie onwillig die kursus volg in die vertrek wat so oud en muf ruik. Tog verbeter sy Engels. Tant Sielie kom ’n rukkie later te sterwe.

Ná heelwat ander gebeurtenisse kry ons op bl 70 die toneel waar Toy in die Engelse kerk moet sing, op die klavier deur die “ronde” sangjuffrou begelei. Sy moed wil-wil hom begewe. Maar aan die einde klap die gehoor vir hulle hande. “Toe ek gaan sit, tik iemand my met ’n stokkerige vinger op die skouer. Toe ek omdraai om te sien wie dit is, kyk ek vas in ons kwaai juffrou Essie wat van oor tot oor glimlag. ‘Mooi gesing, Toy,’ fluister sy toe die pastoor weer begin praat.”

  • Stephen le Roux se Toy van Carnarvon is ’n publikasie van Naledi.
  • 24

Kommentaar

  • Ek stem dat Stephen le Roux se boek Toy van Carnavon, menige lesers ontroerd sal laat. Daar ontstaan 'n gevoel van eerbied en respek vir die skrywer. Toy handhaaf deurgaans onder moeilike omstandighede 'n besonder positiewe verhouding met sy moeder en res van die gesin. Hy stel nooit onrealistiese verwagtings aan haar wat luukshede betref nie. Hy is altyd bereid om innoverend te wees en hard te werk. Hy handhaaf hegte vriendskapsbande en portuurgroepverhoudings. Dit is 'n treffende boek waarin sinvolle lewenswaardes en -beginsels oorgedra word. 'n Eenvoudige resep vir suksesvolle funksionering.

  • Avatar
    Esmarè White

    Ek is so vreeslik trots op my skoolmaat van Sub A tot matriek dat my hart wil bars.
    Toy het dalk n tekort aan luukses gehad, maar hy het beslis n opwindende tyd gehad met ongelooflike vriende in sy lewe.
    Sy mooi verhouding met sy ma staan verseker uit asook sy vaste beginsels en waardes.
    Die boek is beslis die lees werd.
    Toy vandat ek die boek gelees het wonder ek of jy nogsteeds eiers eet en lief is vir tee!

  • Avatar
    Stephen le Roux

    'n Groot dank aan almal vir die positiewe kommentaar oor die boek.
    Goeie herinnering laat 'n mens absoluut twee keer lewe!

    Esmare, ek is nog mal oor tee, veral rooibos, maar eet nie meer eiers nie! Nie omdat ek te veel daarvan gehad het nie maar a.g.v. een ander lang, plantaardige storie vir 'n ander dag!

  • Avatar
    Margareth Steenkam

    Voorwaar ’n “walk down memory lane” saam met ons ou klasmaat. Sy verhouding met sy ma is aangrypend,sy eerlikheid oor homself en sy situasies is ongelooflik en hy skets sy verhaal glashelder. Ons wat al die karakters persoonlik ken, weet dat almal een honderd persent eg uitgebeeld word. Wilro is my gunstelingkarakter. Dankie vir ’n lekker leesboek met tog ’n mooi boodskap. ’n Boodskap van hoop: jy is nooit “te min nie”. Almal het iets mooi en goed in hom wat jy net moet ontdek, soms aangevuur deur ’n goeie onderwyser soos mnr Hurter...

  • Stephen/Toy, Ek het gister rib gebraai en daarna "Toy van Carnavon" van bl 1 tot 258 vir die tweede keer op die sitkamerbank lê en deurlees. Ek wil in een honderd persent eerlikheid vir jou se dat "Toy van Carnarvon" en "Mr God this is Anna" my twee 'all time' gunsteling boeke is. Dis 'n UITSTEKENDE stuk werk en dis vir my 'n voorreg om die boek vir mense en vriende aan te beveel. Ek hoop jy is al besig met nr 2.

  • Lekkerste wegbreekboek!

    Toy van Carnarvon gaan oor 'n jong seun se grootwordjare in die Groot Karoo gedurende die mid 60's tot vroeg in die 80's. Dit is 'n opwindende nostalgiese reis wat Trompie se stories soos 'n Sondagskooluitstappie laat lyk. Toy en sy trawante het alles gedoen, waaroor enige skoolkind net kon droom ... en weggekom daarmee.

    Geskryf in gemaklike styl, en van bladsy een af word jy onmiddellik ingetrek in die gebeure. Dit is hartseer en skreeusnaaks met tye. Hy neem ons na 'n tyd van stoomlokomotiewe, Valiants, chopperfietse en eerste soene.

    Sy boek het 'n permanente plek op my rak, vir tye wat ek wil wegbreek. Want ek wil dit oor en oor lees.
    Daar is romanse, die noodlot, en groot lag wat vir jou wag.

  • Avatar
    Daniel Krijnauw

    Stephen, ek haal my hoed af vir jou.
    Dit is etlike jare sedert ek laas 'n boek gelees het want dit verveel my gewoonlik. Jou boek is treffend! Ek het dit werklik baie geniet. Jy het daarin geslaag om jou opgroei jare en ‘mens word’ in 'n boek saam te vat wat n uitstekende storie geraak het. Welgedaan!

  • Avatar
    Theo Pellissier

    Veels geluk met die baie besonderse boek en dankie ook dat jy my soms laat ruk het soos ek lag!
    Het Toy van Carnarvon klaar gelees met 'n knop in my keel. Wat n pragtige storie wat elke jong kind moet lees! Ek vereenselwig my met jou jongdae op Carnarvon en haal my hoed af vir jou deursettingsvermoë. Daar is soveel lesse te leer uit jou lewensverhaal en jou boek kan beslis ‘n voorgeskrewe boek word vir Gr 10 of 11.

  • Liefste Toy. Dankie dat jy hierdie ongelooflike mooi en eerlike boek geskryf het. Ek is so trots op jou en weet dat jou ma Kate dieselfde en nog meer sou voel. Die skrywe van hierdie boek straal soveel motivering uit, die kinders van vandag met so min vooruitsigte kan baie daaruit leer. Ek kan nie wag om dit met my kleinkinders te deel nie. Dankie dat jy vir ons ‘n boek gestuur het waar jy as kind rondgeloop het saam met jou ma. Tans lees al wat mens dit hier in die ouetehuis in Carnarvon waar ek bly. Almal giggel en glimlag breed!
    Jou onderhoud op radio Pretoria was uitstekend, baie van ons het geluister - self's daaruit is baie te leer. Kom kuier vir ons. xx

  • Hierdie boek raak jou hart...
    In Toy van Carnarvon vertel die skrywer van sy skooljare as arm kind van ’n spoorwegwerker en roep hy die swaarkry en allerhande komiese insidente, kwajongstreke, avonture en onnutsighede op waardeur hy ervaring opgedoen het, sy talente ontdek en ontwikkel het en geleer het dat swaarkry tot volharding lei, alles wat hom uiteindelik die mens gemaak het wat hy vandag is. In sy woorde: “Yster slyp yster, so slyp die een persoon die ander” wat waarskynlik vandag nog sy motto is.
    Die boek lees gemaklik en ouer lesers sal dit ontsettend geniet en hulle kan vereenselwig met die tipiese sorgvrye plattelandse lewe van die sewentiger- en tagtigerjare. Maar op die ou end is dit nie net ’n gewone lewensverhaal nie; daar is (onbedoeld) lewenslesse in opgesluit, wat die boodskap oordra dat jy is wie jy is, dat jy deur ervarings groei en dat jou omstandighede nie bepaal waar jy eindig nie; dis wat jy met die omstandighede maak wat jou bring waar jy is.
    Beslis ook die lees werd vir seuns (en meisies) van alle ouderdomme.

  • Avatar
    Elizabeth Keenan

    'n Moet lees boek... Vol inspirasie! Oomblikke van pret, hartseer, lag, huil, stout wees, romanse en nog meer. Ek hoop daar gaan nog een wees!

  • Ek het TOY VAN CARNARVON baie geniet omdat die skrywer so onbevange uit sy hart vertel van sy avontuurlike, maar ook gekompliseerde jeugjare op ‘n Karoodorp. Nog voor hy skool toe gaan, sterf die vader van die groot gesin en laat ‘n leemte en hartseer wat sy moeder en haar kroos net hegter bind. Stephen vind troos by sy hond, sy ouer broers en susters, baie vriende en sy dapper ma bied sekuriteit al gaan dit soms broekskeur en lagwekkende episodes beskryf hoe die moederfiguur ten spyte van haar eie weerloosheid haar seuns op die regte pad probeer hou. Die leser wat ook op die platteland grootgeword het, sal kan identifiseer met die gees van welwillendheid wat so kemerkend was op kleiner dorpe waar kinders eintlik deur die hele gemeenskap versorg en opgevoed is. Ek het Stephen se boek twee keer gelees ...

  • Avatar
    Charmaine West

    'Toy van Carnarvon' is 'n besonderse boek, 'n lag met 'n traan. Sy nuuskierige lewenslus as 'n kind kan 'n les vir baie ander wees. Wat 'n pragtige storie vir oud en jonk!

  • Avatar
    Antoinette Pienaar

    Ek is gebore op Carnarvon as een van vyf susters en my hele wese is gevorm op hierdie onbeskryflike Karoo dorp en ek gaan nog gereeld terug op my kinder-voetspore. My verbeelding het wakker geword op Carnarvon en ek het my dae omgedroom by die Damkoppie agter die skool. So groot was my verbasing en my vreugde dat Stephen vir my op so ‘n besonderse wyse kon laat terugloop het, sy lieflike en opregte woorde het my aan my hand gevat en my meegesleur deur die strate van my kindtyd in Carnarvon.

    Ek het saam met Stephen fiets gery terwyl ek dit gelees het en my verlekker aan die kattekwaad wat hy en sy vriende op hierdie droë, dorre dorpie aangevang het. Die onskuld waarin sy woorde toegedraai is, het my my eie onskuld laat onthou. En dis nie net omdat ek op Carnarvon groot geword het dat die boek my so diep geraak het nie, die lewe van 'n kind op enige klein dorpie word hier geverf met woorde op wat vir almal toeganklik is. Stephen se eerlike weergawe van sy lewe het my die bladsye vinnig laat omblaai.

    Baie van die klein Karoo dorpies word al hoe kleiner soos mense stad toe trek, so die tyd wat Stephen onthou is uit vergange se dae en die nostalgie het my doek-saf laat voel aan die binnekant. Ek hoop daar kom nog baie boeke uit Stephen se pennevrug, sodat ons as sy lesers weer saam met hom op reis kan gaan.

    Ek hoop dit gaan voor die wind, Stephen en baie geluk met hierdie lieflike boek. Jy het my hart laat sing terwyl ek dit gelees het!

    Karoogroete en onthou: Kruie Kraai Koning!

  • Avatar
    Anneke Metselaar

    Toy van Carnavon is die spreekwoordelike vars bries in deesdae se leeswêreld vol tegnologie, wetenskapfiksie en geweld. Nostalgies vir die ouer leser wat daarmee kan vereenselwig en openbarend vir die jong leser. Die eerlike en gemaklike skryfstyl maak die lees net ‘n plesier. Een van die min boeke wat ek weer sal wil lees.
    Hierdie is ‘n ideale geleentheid vir ‘n draaiboekskrywer. Kan nie wag om Toy en sy trawante in ‘n televisiereeks te sien nie.

    Welgedaan, Stephen.

  • Avatar
    Stephen le Roux

    Weereens dankie aan almal vir die positiewe kommentaar. Dit laat 'n mens nederig voel en ek wens ek kon julle almal se hand skud! Baie, baie dankie!

    Ek was die naweek van 21 Februarie in Carnarvon en het ongelooflik lekker gekuier saam met Riana en haar skoonma, Kabouter Nel (sommer ma Kabouter vir my). Wat 'n vreugde was dit nie om tot laatnag om die kampvuur te sit en oor jou grootwordjare te praat en alle bekendes weer te herroep wat amper al vergete is. Dit is een van die grootste voorregte wat 'n mens kan hê en dit is om vir 18 jaar van jou lewe saam met wonderlike vriende groot te word en wortels te skiet in ‘n Karoodorp, en 35 jaar later, nog steeds sit en skater van die lag oor alles asof die tyd botstil gestaan het …

    Toe ek saam met ma Kabouter die volgende dag deur die ouetehuis se gange wandel, was daar ‘n paar bekende gesigte in die sonkamer, gesigte wat mooi en oud geraak het in die warm Karoo son. Met deernis het ek gekyk na fotos van kleinkinders wat ek van geen kant af ken en toe dit later tyd raak om te ry, kon ek nie help om oor my ou Karoodorp en sy wonderlike mense ‘n traan te stort en my hart vir nog ‘n keer daar agter te laat…

  • Avatar
    Louis Jordaan

    Goeiedag Stephen. Die paar maande saam met jou op Lerala myn was vir my baie spesiaal. Ek sien uit daarna om jou boek te lees!

  • Wat ’n voorreg was dit nie om vir drie jaar skoolhoof te kon wees van HS Carnarvon en my pad ook met dié van Stephen kon kruis! In daardie tyd kon ek al sien hy het al die potensiaal om ’n sukses van sy lewe te maak.
    Die tyd in Carnarvon was van my mooiste jare in die onderwys. Ons het pragtige kinders in die skool gehad en dit was ook ’n besondere gemeenskap. Die mense was op mekaar aangewese en die een se lief of leed was ook die ander se lief of leed. Ons het ook goeie vriende in die drie jaar gemaak en dit was altyd lekker om van hulle weer te sien as ons op Carnarvon kom of elders raak te loop. Met die lees van die boek het daar weer talle mooi herinneringe teruggekom en ek wil Stephen geluk wens met ’n baie goeie stuk werk! Dit was ook vir my ’n wonderlike geleentheid om saam met Stephen die bekendstelling van sy boek te kon beleef – nogmaals dankie daarvoor, Stephen. Ek is trots op Stephen en dit wat hy bereik het! Dit is altyd goed as ek kan sien en hoor hoe van my oud-leerlinge bo hul omstandighede uitstyg en ’n sukses van hul loopbane maak. Dankie Stephen, met Toy van Carnarvon het jy mooi herinneringe teruggebring en die ou Chinese spreek weer waar gemaak: “Hy wat mooi herinneringe het leef twee keer” – ek het by die lees van jou boek weer twee keer geleef!

  • Avatar
    Louis Jordaan

    Dankie baie Toy, ek meen Stephen, vir ’n ware verhaal so uit die binneste van jou gemoed! Die feit dat ek so bevoorreg was om jou persoonlik te kon leer ken, het die boek net soveel meer spesiaal gemaak. Wat van ’n opvolg wat die universiteitsperiode 1984 en verder beskryf?

  • Avatar
    Sophia jordaan

    Baie dankie vir die meesterlike vertelling van jou jeugjare. Dit was heerlik om alles te kon beleef. Ek was in die boek deel van die Klein Karoo. Ek hoop daar sal nog ’n storie uit hierdie pen kom.

  • Avatar
    Pieter Bester

    Hi Stephen
    Ek lees so deur die week aan die boek.
    Dis so goed geskryf dit laat my feitlik in my gedagtes terug gaan!
    'n Mens het net soveel twak aangevang en deur 'trial en error' geleer van die lewe!
    Amper of 'n ou se lewe net so was want ek het ook op platteland groot geword.
    As ek lees kan ek amper nie ophou nie en ek sal beslis vir oud en jonk aanbeveel.
    Baie dankie, jy vat 'n mens ver terug met 'n uitstekende boek!
    Groete, Pieter

  • Avatar
    Pieter Bester

    Laat my asseblief toe om by te voeg wat ek voorheen gesê het: Met die intrap moet ek sê elke enkelma behoort die boek te lees, elke persoon wat deur ‘n enkelma grootgemaak is behoort die boek te lees. Nie die ma of haar kinders behoort aan 'n slagoffersindroom te ly nie. Iemand het gese: “the kite of success rises against the wind of adversity”.
    En dan het ons Afrikaners 'n manier van uithou en weet nie wanneer om op te hou nie, soos iemand gese het: “always outnumbered but never outclassed!”

    So kan ek ook sê van die enkelma’s, dit is asof God hulle 'n sekere instink gegee het om hul eie lewe op “hold” te sit en alles te doen om hul kinders op te voed. Baie van ons was al middelveerrtig, die lus van die lewe het jou dan nog nie gelos nie maar jy onderdruk alles ter wille van jou kinders en sonder om te bedel of slagoffer te speel bring jy hulle bo uit.

    Dit was vir my ‘God sent’ om die boek op 67 te lees, soms trane en 'n knop in die keel gehad want dit het soveel opgeroep en weer groot dankbaarheid opgeroep, 'n rykdom wat jy nie met geld kan koop nie. 'n Opvoeding wat jou leer van val en opstaan, waarvoor jou Skepper en jou ma die erkenning moet kry en ook groot dankbaarheid dat hy jou in die hande van so 'n persoon geplaas het, 'n mens wat val en opstaan met feitlik niks soos al ons voorouers. Weereens baie dankie vir die voorreg om 'n eksemplaar van die boek te kon ontvang en om van die eerstes te wees om dit te lees.

    Het oor die naweek jou boek klaar gelees, dit was moeilik om neer te sit want my eie jong lewe het voor my afgespeel want dit roep die herinneringe van jou kinder- en skoollewe op. Maar al die twak wat mens aangevang het, maats, kettie en windbuks, kleilat, honde, kaskenades en poetse in die klas, deurloop onder boelies of spot van rykes en gesienes. Ek onthou hoe my ma dieselfde bekommernisse gehad het as jou ma en mense moes my dikwels vang dat sy my kon voeter en dan preek. Dieselfde as jou ma die magteloosheid en vrees gesien wat sy ervaar dat jy ten spyte van al haar harde werk en opofferings vir die verderf groot gemaak is en dan uiteindelik kom die klimaks en blydskap dat jy matriek geslaag het en jy wat Stephen is doen dit nog met onderskeiding en slaan 'n beurs los! Ek, soos jy, het net groot dankbaarheid wat my ma vir my gedoen het. Ek kan egter sien dat jy gretig is om ander te laat verstaan watter vooregte 'n mens tog het te midde van teenstand in die lewe en dat dit 'n mens aanspoor om sukses te bereik nes 'n luiperd of leeuwyfie wat haar kleintjies leer jag en oorleef…

  • Stephen
    Baie dankie vir die voorreg om jou boek te kon lees, dit voel vir my dis van mense wat ek persoonlik ken! Ek het my so ingeleef daarin dat ek dit nie kon neersit nie! Ek is mal oor die Karoo – ons het in die sestiger jare in Beaufort Wes gebly en my droom is om weer eendag daar te gaan bly…
    Sal graag wou weet wat van jou ma geword het, Retha en al die karakters in jou boek – hoop jy het nog kontak met van hulle? Jy het darem ’n interessante lewe gehad met al jou karaktervolle vriende – almal was lief vir jou. Dalk moet jy ‘n opvolg skryf oor jou lewe tot nou?
    Baie dankie weer vir ’n lieflike boek. Ek wens jou BAIE BAIE goeie en gesonde jare met net die HEEL BESTE toe – baie besigheid en baie GELUK!
    Karen Bergh

  • Avatar
    Johan Ferriera

    Dagsê Toy
    Ek het so 'n rukkie terug jou boek klaar gelees . Baie dankie, ek het dit baie geniet! Jy het beslis die gawe om woorde so te rangskik dat mens eintlik in plaas van woorde, 'n prentjie in sy kop sien. As kind wat ook in die Karoo (Colesberg) grootgeword het, kon ek met die meeste van die gebeure in jou verhaal identifiseer. Ek kom ook uit 'n gesin waar die pa jonk dood is, en 'n vrou met ses kinders agtergelaat het. My pa was 35 toe hy verongeluk het en my ma was 33 met die oudste kind 10 en was nog verwagtend met die jongste een. Soos ek uit jou verhaal aflei, het julle ook met die heel minste grootgeword, maar tog nie daardeur onder gehou is nie. Ek het groot bewondering en eerbied vir sulke mense soos julle.

    Sterkte vorentoe
    Johan Ferreira

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top