FMR-resensie: Noorman deur SD Fourie

  • 0

Titel: Noorman
Skrywer: SD Fourie
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485904175

Hierdie resensie is op 19 Februarie 2020 in Boekkeuse olv Amanda Botha uitgesaai.

SD Fourie se tydperkroman Noorman is 294 bladsye lank en die lettertipe is klein. Daar is dus lekker baie om te lees.

Fourie skryf oor ’n gebied wat sy goed ken: die Strandveld. Plekke soos Napier, Bredasdorp en Gansbaai duik op. Die roman vertel van die lewens van boerefamilies en hulle bruin werknemers en ook dié van sakemanne, bouaannemers, prokureurs en onderwysers, alias tietsers. Dit begin in die jare twintig van die vorige eeu ná die Eerste Wêreldoorlog en loop deur die jare dertig en veertig met die Tweede Wêreldoorlog tot in die beginjare van apartheid ná 1948. Dit sluit egter af in 2018.

Die Skot Robert MacFarlane veg as kaptein in die Eerste Wêreldoorlog en dan oorval geheueverlies hom. Hy het voortdurend ’n stryd om sy verlede te ontsyfer. Hy is in meer as een opsig ’n voortvlugtige wat skuil agter ’n selfgekose Franse naam (Jac Gerard) om aan sy verlede te ontkom, bv ’n onwettige huwelik. Hy sit ’n lewe in Suid-Afrika as gewese seeman voort, ver van die stranddorp Dunbar in die Skotland van sy jeug. Hy sal later bitterlik na Skotland verlang as hy ’n grammofoonplaat van “The Bonnie Banks of Loch Lomond” hoor (102).

In ’n winternag in 1920, ’n ware onheilsnag, word sy lewe as Robert MacFarlane ’n tweede keer beëindig en “begin Jac Gerard se lewe van afsondering en selfverwyt op ’n klein gedeelte van die plaas Vredehoek in die Strandveld” (12). Spoedig raak sy lewe verstrengel met vroue, soos hy dit stel. Hy is ’n intrigant in hulle lewens sonder dat hy dit heeltemal besef of beplan.

Daar is Maria, die boervrou wat getreiter word deur haar uiters patriargale skoonpa omdat sy nie ’n erfgenaam in die wêreld kan bring nie. Is haar man, Jan, dan ’n klophings, hy wat hom ook as boer deur sy pa laat oorheers? Sy is seksueel aangetrokke tot Jac met sy sterk manlikheid en vasberadenheid ... veral sedert hy haar heel naak by die waterval gesien het (49) en toe hy op ’n dag “kaal bolyf met ’n haredos op sy borskas” tussen die waatlemoene haar kop laat duisel het met soene (86). Terselfdertyd kom Maria in opstand teen baie dinge wat Jac doen; hy benadeel hulle. Jac glo dat liefde en haat na aan mekaar is.

Dan is daar Louisa Baadjies, die bruin meisie saam met wie hy baie dinge beleef sedert die keer toe sy sy lewe gered het. Louisa toon duideliker haar liefde vir Jac. Aanvanklik is sy die skynbaar onopvoedbare leerder, sy wat so rof praat. Deur bemiddeling van Jac, die Jodin Sara en haar pa Abram gaan Louisa skool by St Cyprian’s in die Kaap. Louisa word uiteindelik tot ’n bekwame onderwyseres opgelei. Van haar kom ’n verdere naam vir Jac: Noorman. Die reeds genoemde Sara is ook aangetrokke tot Jac, maar hy kan net vriendskap aanbied. Saam versorg hulle vir Louisa.

Die intrige van Noorman vorder soms vinnig, omdat ’n gebeurtenis gou opgesom of verklaar word. Daar is ook heelwat dinge wat net genoem word en nie juis gedramatiseer word nie, veral die gebeurtenisse in die lands- en wêreldpolitiek wat later sorg vir geskiedkundige gebeure. Ja, hier’s goeie beskrywings van die natuur, kookkuns en die destydse boerderymetodes. Erotiek kom voor, sowel as verskeie tonele wat tot ’n mens se emosies spreek. Maar soms steur te veel herhalings en oorbeklemtonings.

Deur die roman heen kry ’n mens ’n beeld van Suid-Afrikaanse rasseverhoudings: wit Afrikaners, bruin werksmense en Jode. Ek onthou hoe ons as uitgewersredakteurs in die jare sewentig tot ná die eeuwending met die skrywers onderhandel het wat raspejoratiewe wou gebruik, veral as daar moontlik ’n goeie inkomste kon wees met voorskrywing op skoolvlak. Ons en die skrywers het die taalgebruik wat moontlik aanstoot kon gee aan mense wat nie wit is nie en hulle ondersteuners weggelaat, versag en omskryf.

Noorman bied ’n oorsig oor rasseverhoudinge oor dekades heen. Hier gebruik die karakters bekende woorde soos plaasvolk, klimmeid, ounôi en baas soos in die daaglikse lewe. En belangrik: Die karakters wat so genoem word, bespreek dit – hoe die woorde hulle verneder; hoe hulle verdoem word as minderwaardige mense; hoe hulle nie raakgesien word nie; en dat hulle van geweet wil wees.

Ek het besware teen die teksversorging. Hoofstukke kry opskrifte: die naam van ’n karakter en ook ’n datum wat die leser dadelik oriënteer binne die geskiedenis. Maar waarom is die hoofstukke soms ’n ek-vertelling en ander nie? Is blote afwisseling genoeg motivering? Narratoloë behoort wins en verlies te kan aantoon.

’n Tweede saak: Hoekom word die bladsynommer op die laaste bladsy van ’n hoofstuk weggelaat? Ná soveel jare in die uitgewersbedryf was dit vir my ’n eerste.

’n Volgende beswaar: ’n Komma word weggelaat in dialoog wanneer iemand of iets aangespreek word, maar ’n bladsy verder verskyn die komma wel.

Paragraafbou. Verskillende karakters se spreekbeurte word in een paragraaf gegee. Of besonderhede sonder duidelike onderlinge verband word as een paragraaf aangebied.

Laastens: Tydsverloop word aangedui met ’n spasie, maar dan ook weer nie.

Met die verloop van die intrige verbeter toestande vir hierdie karakters uitstekend. Op bl 293 is daar dan gunstige toekomsverwagtinge: “As daar genoeg liefde en verstaan oorbly, het tyd ’n manier om die verlede se onregte uit te wis.”

Lees ook:

Resensie: Noorman deur SD Fourie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top