Resensie: Noorman deur SD Fourie

  • 0

Titel: Noorman
Skrywer: SD Fourie
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485904175

Die uitgewersnota lees soos volg: “Dit was die meisiekind, Louisa, wat sy lewe red toe hy ná daardie verskriklike deurmekaar nag in die kloof kom skuiling soek. Hier, by die waterval, doop sy hom Noorman, alhoewel hy probeer om sy verlede as skeepskaptein en soldaat tydens die Eerste Wêreldoorlog te vergeet. Ook die twee vroue uit dié donker tyd.

“Louisa en die mense van die omgewing raak onlosmaaklik deel van sy lewe. Op die buurplaas is die boervrou skaamkwaad oor haar eerste ontmoeting met dié fors rooikopman, al het sy haar oog op die stuk grond waar hy woon.

“’n Watertwis ná die depressie en die landswye droogte dryf Noorman se verhouding met sy bure op die spits. Maar wie kon ooit die stortvloed van verandering ná die verkiesing van ’48 vir die mense van die plase om die waterval voorspel?

“SD Fourie blaas met Noorman lewe in die ryk geskiedenis van die Strandveld.”

Dis die derde boek wat ek van dié skrywer lees en hoewel ek heelhartig saamstem dat haar skryfwerk lewe in die Strandveld se geskiedenis blaas, wil ek sê dat sy met hierdie boek ook veel wyer lewe in die geskiedenis blaas.

Dis nou bo en behalwe haar keurige beskrywings en woordgebruik wat jou terugvoer na skemerkombuise met kolestowe en koffie wat heeldag trek.

Die hele gedeelte oor die opboujare voor die Tweede Wêreldoorlog, die rol van die Italiaanse krygsgevangenes in Suid-Afrika, die omstandighede in Suid-Afrika net ná die oorlog in die oploop tot die waterskeidende 1948-verkiesing en hoe dit mense se lewens uitmekaar geskeur het, is insiggewend en hartverskeurend. Soveel is al geskryf oor oorlogsugtige leiers, maar die impak wat hul besluite op een gesin – met wie die leser al etlike hoofstukke saamstap – se lewe gehad het, bring die boodskap baie treffend tuis.

Wat die boek vir my nog meer leesgenot gegee het, is dat die karakter, Robert McFarlane, wat in Die Lanternswaaier en tot ’n mindere mate in Die dooies leef een van die hoofkarakters was, terugkeer met ’n hele donker geskiedenis agter hom, maar in Noorman as’ t ware ’n tweede kans op geluk kry.

Die boek strek van 1920 tot 2018 en van jou geliefde karakters gaan dood en nuwes word gebore.

Daar is Noorman se bure, die vurige Maria en Jan, wat op die oog af na ’n lamsak lyk. En mettertyd leer jy hoe ’n vrou se onbeantwoorde liefde die wêreld ondraaglik kan maak vir dié om haar.

Die skrywer se liefde vir die Strandveld en sy geskiedenis word só mooi in die storie vervleg, dat jy nie eers agterkom hoeveel jy eintlik leer met haar slim geskiedskrywing terwyl jy die intrige van die storie geniet nie.

Ek was ook nog altyd baie lief vir boeke soos Agaat van Marlene van Niekerk, of Elsa Joubert se Die reise van Isobelle, waar die leser saam met die karakters stap terwyl hulle groei en ouer word. En waarin die oorlewingsdrang van die Afrikaner só goed verwoord word dat jy kan verstaan hoe hulle met ossewaens oor die berge kon trek.

Dit bring ook die gedagte tuis dat trots en klas en hardkoppigheid al soveel mense van geluk en vreugde beroof het.

Hierdie boek staan heeltemal goed op sy eie voete en aan leesgenot is daar beslis geen tekort nie, maar ek glo as die skrywer se ander twee boeke vóór Noorman gelees word, dit sal bydra tot een van die lekkerste leestrio’s in ’n baie lang tyd.

Mag SD Fourie se onblusbare energie en navorsing oor die Strandveld en sy mense, die ingrypende verandering op ’n skeepskaptein of matroos se lewe as hul skip teen die Afrika-kus sink, en hoe drenkelinge se geskiedenis met Afrikane vervleg word, nog vele boeke oplewer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top