
Foto: Canva
Fluit
Die konstabel met die brandweerrooi hare se vingers bly ’n oomblik te lank op myne, toe sy die dossier oorhandig. Ek sluk my koffie af, skuif die stoel terug en loop na die ondervragingskamer. Sit voor die beskuldigde. Die dossier bly toe.
By die huis gooi ek die motorsleutels op die kombuistafel. Beursie, selfoon, pistool.
Buite kners die grassnyer. Die tuinier fluit.
Vroulief kom die kombuis binne. Handdoek om haar lyf. Hare nat. Haar gesig verlep toe sy my sien. Ek piksoen haar op die wang. My hande glip oor haar heupe – sy breek weg.
Later skakel ek die bedlamp af. Skuifel nader. Vroulief drink twee kopseerpille en draai haar rug op my.
Voor die alarm skree, is ek op.
In die wasgoedmandjie lê ’n onderbroek wat ek vir die tuinier gekoop het.
Die fluit eggo in my ore.

