Floreer
Ilse Salzwedel
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796322685
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Floreer is ’n tipiese selfhelpboek. Daar het seker al duisende sulke boeke oor die jare verskyn. Sommige mense vind hierdie soort boeke baie nuttig, terwyl ander geen sin daarin vind nie. Ek dink ek is iewers in die middel op hierdie spektrum, en vind dié tipe boeke tog gewoonlik interessant en selfs nuttig om te lees. Dit is ook altyd so dat daar nuwe ontwikkelinge in die sielkunde is, wat daartoe lei dat ’n mens darem nie elke keer oor en oor presies dieselfde dinge te lese kry nie. Maar dat daar herhaling is, is egter wel die geval. En mens vind ook dat die boeke op mekaar bou en selfs na mekaar verwys. Salzwedel verwys byvoorbeeld in hierdie boek na die legendariese Viktor Frankl se Man’s search for meaning. Is laasgenoemde nie dalk die oervoorouer van hierdie hele genre nie? Ek wonder …
Dit is nie diep filosofie nie. Die titel van die boek maak dit duidelik waaroor dit gaan: om te floreer. Mens sou tog miskien kon vra wat die definisie van sukses is wat hier ter sprake is. Dit is moontlik ’n vraag waaroor nie almal sal saamstem nie. ’n Mens kan egter aanneem dat die boek sukses definieer volgens die wet van gemiddeldes, of volgens wat die deursneemens as sukses sou beskou. Jy kry egter duidelik die indruk dat die boek so geskryf is dat dit wel in verskillende kontekste sal kan “werk”. Die skrywer gaan uit haar pad uit om enige hipernorme te vermy en te weerlê. Elke saak het ’n eie konteks. Dit is iets wat te alle tye in gedagte gehou moet word.
Ek het veral gehou van die groot klem wat daar geplaas word op die kwessie van dankbaarheid. ’n Lewe van dankbaarheid is iets waarvan mens tog so graag meer sou wou sien in die wêreld waarin ons leef. Die boek is so geskryf dat dit eenvoudig ’n plesier is om te lees. Gestroop van ingewikkelde woorde en konsepte en teorieë. Onpretensieus. En dis grootliks ook geskryf vanuit die eie perspektief. Die skrywer skryf vanaf die subjektiewe eie in die rigting van die algemene universele tema van die versugting na ’n sinvolle en suksesvolle bestaan. En omdat daar so baie geput word uit eie ervaringe, staan die argumente in die boek deurlopend op baie stewige fondamente. Natuurlik sal nie alles met almal resoneer nie, maar die kanse is goed dat die lesers hulleself iewers in die bladsye sal inlees.
Wat veral interessant was, en dit op sigself maak die boek die lees werd, was die bespreking oor sosiale netwerke. Ek gesels so ’n tydjie gelede met iemand oor iets wat ek op ’n sosiale netwerk gelees het, toe die persoon droogweg opmerk: “Ek begin soms dink dat sosiale netwerke dalk ’n reusefout was …” Die opmerking het my nogal baie aan die dink gesit. Dit laat ’n mens ook onwillekeurig terugdink aan die “kinderjare” van die internet, toe menige mens nog oortuig was dat die rekenaar die meeste van ons probleme op aarde sal oplos. Dit was dan veral ook gedurende die COVID-19-pandemie dat mens soms verstom was oor hoe hewig die debatte op sosiale netwerke geword het. Dit was soms verstommend om te sien hoe ou vriende oornag in vyande verander, en daarop uit is om gedurig met mekaar ’n byltjie te slyp. Salzwedel is uiters krities oor veral Facebook, en verklaar dat sy al jare lank nie meer ’n persoonlik profiel by dié netwerk het nie. Ironies genoeg meld die skrywer dan die televisie as ’n belangrike bron van inligting, wat voorgehou word as ’n veel gesonder alternatief as sosiale media. Hoe het die wêreld darem nie verander nie! Dertig jaar gelede was die einste televisiestel die gedurige teiken van kritiek deur menige psigoloog en populêre-artikelskrywer. Vandag vertoon die TV soos ’n vulletjie teen die monsters genaamd sosiale media en die internet!
Soos reeds aangedui, verskaf die boek raad aan individue oor hoe om te floreer, hoewel daar nie juis ’n filosofiese besinning oor sukses is of oor wat presies dit behels om te floreer nie. Ek wil dink dat die definisie van sukses verskil in verskillende gemeenskappe. Elke kultuur en veral subkultuur het waarskynlik ander norme oor wat as sukses beskou word. Op een plek verwys die skrywer byvoorbeeld na die eenvoudige genot van bordspeletjies in ’n tyd toe die familie byvoorbeeld nie die luuksheid van satelliettelevisie kon bekostig nie, en die spesiale herinneringe wat daaraan gekoppel word. Daar is dus nie in hierdie boek sprake van ’n dolle gejaag na fortuine nie. Dit gaan oor hoe om balans te vind, hoe om gelukkig en welaangepas te wees, en hoe om ’n lewe te leef waar mens nie net oorleef nie, maar floreer.
Daar is inligting wat voor die hand liggend is, en wat tipiese stapelkos van selfhelpboeke is, soos die klem op genoegsame slaap of die waarskuwing teen mense wat net op negatiwiteit ingesteld is. Maar die sentrale konsep waarna die skrywer telkens terugkeer, en wat uniek is aan Floreer, is wat beskryf word as veerkragtigheid. Die boek lê baie klem op die konsep van veerkragtigheid en probeer om dit deeglik uiteen te sit en deur te trap. ’n Welkome aspek van die boek en van die bespreking van veerkragtigheid is die ruim geestelike perspektief op mislukking. Mislukking, as ek die boek reg verstaan, is eintlik ’n noodsaaklike deel van die menslike bestaan, omdat mislukking ons help om in die lewe die kaf van die koring te skei. Veerkragtigheid word gevolglik deurlopend bespreek en gekoppel aan pynlike ervaringe soos egskeiding, verslawing, siekte en die dood van geliefdes.



Kommentaar
Baie dankie vir die resensie, Barend. Jy slaan die spyker op die kop dat dit nie bedoel is om oor die najaag van fortuine te gaan nie, maar oor 'n ander tipe "floreer".
Ek sal graag die boek wil koop.