Flikker: The First Grader: Veelvlakkig en boeiend

  • 0


The First Grader
Regisseur: Justin Chadwick
Kamerawerk: Rob Hardy
Rolverdeling: Oliver Litondo, Naomie Harris, Vusi Kunene, Tony Kgoroge

Hierdiefilm is gegrond op die lewe van die Keniaan Kimani Maruge (oorlede in 2009). Toe die Keniaanse regering aankondig dat skoolonderrig voortaan gratis gebied sal word aan almal wat ’n geboortesertifikaat kan toon, besluit die 84-jarige Maruge om vir die eerste keer skool toe te gaan. As kind had hy nooit die geleentheid om te leer lees nie, en hy bewaar al jare lank ’n brief aan hom geadresseer.

Aanvanklik kry die ou man (voortreflik vertolk deur Oliver Litondo) net teenstand, maar hy aanvaar eenvoudig nie nee vir ’n antwoord nie. Uiteindelik kry Jane Obinchu (Naomie Harris), die hoof van die driemanskooltjie, hom jammer en laat hom toe in die primêre klas. Daar sit Maruge in sy skoolklere tussen al die kleintjies en leer die ABC.

Sy verhaal ontvou mettertyd deur middel van terugflitse: hoe hy in die 1950’s as lid van die Kikuyu-stam aan die Mau-Mau-opstand teen die Britse koloniale regering deelgeneem het en ’n bitter prys daarvoor betaal het. Ná al die jare is hy in werklikheid steeds getraumatiseer deur wat in die Britse strafkampe met hom gebeur het. Wanneer die storie van die bejaarde leerder die media bereik, raak Maruge die gesig van ’n nuwe geletterdheidsveldtog, maar dis ook wanneer Afrika se “politics of envy” inskop, om die skrywer Peter Godwin se term te gebruik.   

Hierdie veelvlakkige film (gemaak met heelwat Suid-Afrikaanse insette) belig ’n boeiende deel van Afrika se koloniale geskiedenis en is beslis die kyk werd.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top