Dit was ’n vreemde fliekjaar – ek het 45 vollengtefilms gesien, heelwat minder as laas jaar se 73. Gewoonlik bestaan die aanbod op ons kringloop uit flieks wat ek definitief gaan kyk, flieks (genres) wat ek glad nie kyk nie, en tussenin die ligter flieks (ek sal gaan kyk as ek tyd het, anders dit later op DVD kry). Vanjaar het die laaste kategorie ontbreek – die flieks was óf baie goed óf op my VERMY-lysie.
’n Verblydende ontwikkeling is dat ek soveel goeie Suid-Afrikaanse flieks gesien het, waarvan vier my toptienlys haal.
Ek het darem ook twee blockbusters gesien wat ek baie geniet het: The Hunger Games: Mockingjay Part 1 en The Hobbit: Battle of the Five Armies. Laasgenoemde by die nuwe Imax in Cape Gate was werklik ’n belewenis – alle toegewyde fliekvlooie moet beslis die Imax gaan uittoets.
1. The Great Beauty
Vanjaar se Oscar-wenner vir beste buitelandse film val in ’n klas van sy eie: óf jy gaan mal wees daaroor óf jy gaan sê “Wat’s die punt?” en uitloop. Dit begin by die 65ste verjaardag van Jep Gambardella, die numero uno van Rome se dekadente, skatryk elite, en kronkel voort deur die sosiale en emosionele doolhowe van die moderne lewe. Die uitspattige hedonisme is net op die oppervlak, ónder dit is beleënheid.
2. Mr Pip
’n Besonder treffende uitbeelding van die kollektiewe waansin van oorlog te midde van die ekonomiese kapitalisme van die laat twintigste eeu. Die teenhanger daarvan – verbeelding, boeke, stories – is soos die enkele kersvlammetjie wat probeer standhou teen die duisternis.
3. Calvary
Daar was lanklaas ’n film wat só diep kyk na die kompleksiteit van godsdiens en geloof. Brendan Gleeson lewer ’n kragtoer as die priester wat tydens die bieg deur een van sy gemeentelede ingelig word dat hy hom oor ’n week gaan vermoor.
4. Ek, Afrikaner
Hierdie dokumentêr deur Annalet Steenkamp het my winduit geslaan. Dit sê op ’n indirekte manier al die ongesêde dinge oor Afrikaners in Afrika. Gaan kyk dit net – dis in Maart 2015 te sien by die Woordfees op Stellenbosch – of kry die DVD in die hande.
5. Four Corners
Die beste Suid-Afrikaanse fliek wat ek in jare gesien het. Regisseur Ian Gabriel maak dit vir die kyker moontlik om die Kaapse bendewêreld van bínne te sien: Pollsmoor, Manenberg, Mitchells Plain. Brendon Daniels en die jong Jezriel Skei skitter in die hoofrolle.
6. Fading Gigolo
’n Héérlike fliek deur John Turturro, wat ook die hoofrol speel as die boekwinkelassistent wat deur sy ondernemende Joodse vriend (die nimlike Woody Allen) ’n nuwe – en besonder winsgewende – beroep as gigolo begin.
7. Philomena
Die soort hartverwarmende fliek wat só nodig is om die hoop te behou in hierdie wye en droewe wêreld. Judi Dench is weergaloos as die bejaarde Ierse vrou wat haar seun gaan soek wat by geboorte van haar weggeneem is in ’n Katolieke tehuis vir ongehude moeders.
8. Captain Philip
Tom Hanks blink uit in hierdie seerowerdrama waarin die spanning snaarstyf span. En die kyker kry insig in die hedendaagse verskynsel van seerowery.
9. 204: Getting Away with Murder
Nog ’n uitstekende Suid-Afrikaanse dokumentêr (met Miners Shot Down net ’n kortkoppie agter). Die werklike verloop van die Brett Kebble-moordsage is só vergesog dat indien dit as intrige vir ’n speurverhaal gebruik sou word, ’n uitgewer dit heel moontlik sou afkeur as te onwaarskynlik. ’n Comedy of errors as daar ooit een was!
10. Konfetti
Ek glo vas dat komedie die Afrikaanse filmbedryf se forté is. Konfetti het die ou tema van die troue waarop alles verkeerd loop, maar daar is niks formuleagtig aan Louw Venter se draaiboek nie. En dis vrek snaaks, net die ding om jou Krismis mee op te kikker.

