Finansiële besluitneming, irrasionaliteit en selfinsig

  • 0

Illustrasie: essentia-analytics.com

Today, the pioneers of behaviourism in finance are no longer called heretics, but visionaries. (Keller en Pastusiak 2016:421)

1. Inleiding1

Na aanleiding van ’n onlangse artikel, “Ken jou perke” (Louw 2019:17) wat in Finweek verskyn het, het die vraag by my ontstaan of sielkundige faktore enigsins ’n betekenisvolle rol kan speel by finansiële besluitneming. Dié vraag sluit aan by die volgende aanhaling uit bogenoemde artikel:

Vir die een bestuurder maak dit nie saak hoe ander aandele presteer nie. Hy het ’n spesifieke strategie waarvan hy nie afwyk nie, en hy glo dat hy in staat is om beleggers veilig na hul beleggingsbestemmings te bring. Vir die tweede fondsbestuurder is dit belangrik om binne die beperkings van iets soos die FTSE/JSE indeks vir alle aandele te bly, en hy korreleer sy opbrengste baie meer met die opbrengste wat die indeks self lewer.

Indien ’n verdere tree gewaag word: Waarom sou ’n belegger oortuig daarvan wees dat hy in volkome beheer van sake is en sy eie vernuf eerder as markkragte sy beleggingsprestasie laat bepaal? Waarom sou ’n persoon geneig wees om nooit weer aandele te koop waarop hy ’n verlies gemaak het nie? Wat is hedoniese omraming en hoe geldig is die aansprake wat op grond van hierdie en ander vooroordele gemaak word? Watter persoonlike perke is ter sprake by finansiële besluitneming waarvan die belegger bewus behoort te wees?

In hierdie verband verwys onder andere die kenners Keller en Pastusiak (2016) en Nofsinger (2011) na die begrip behavioral finance. Vir die doeleindes van hierdie bespreking word menslike gedrag omskryf as meetbare, overte (waarneembare) reaksies op prikkels, sowel as koverte (niewaarneembare) bewussynsinhoude en fisiologies-neurologiese prosesse. Menslike gedrag is dus dinamies en geïntegreerd. Menslike gedrag word gevolglik in hierdie artikel as ’n wyer konstruk gesien as bloot die uitgangspunte van die klassieke behaviorisme en neobehaviorisme. Omdat behaviorisme in die sielkunde hoofsaaklik op waarneembare gedrag fokus, kan die gebruik van terme soos behavioural finance en behaviourism in finance vir sommige lesers met ’n finansiële agtergrond moontlik ’n mate van verwarring skep.

Volgens die aanlyn Finansiële Woordeboek verwys die term investering na die skep van meer geld deur die aanwending van kapitaal (https://financial-dictionary.thefreedictionary.com/Investing). Die begrip word dus wyd omskryf. Ter wille van eenvoud word beide menslike gedrag en investering in hierdie bespreking in ’n wye algemene verband gebruik.

Wiener (2005) beklemtoon dat die sielkunde van investering ’n snel groeiende navorsingsterrein is en dit verteenwoordig spreekwoordelik die sogenaamde innerlike spel van finansiële besluitneming. Dit sluit areas in soos die impak van oortuigings, waardes, houdings, verwagtings en doelwitte op finansiële besluitneming. Hierdie “innerlike spel” fokus op die redes waarom beleggers geld (soms) op riskante wyses hanteer; hoe om rasionele finansiële besluitneming en finansiële sukses te bevorder; asook op metodes om die individu se interaksie met sy geldsake te bevorder.

Dit bly ’n moeilike kwessie om steeds rasioneel op te tree wanneer onsekerheid in die markte aan die orde van die dag is. Watter rol speel intuïsiegedrewe sydigheid en omraming (“framing”), maw die spesifieke manier waarop finansiële inligting vir die investeerder aangebied word. Wat is die impak van attribusie wanneer gunstige resultate aan eie vernuf en kundigheid toegeskryf word, en swak resultate gerieflikheidsonthalwe aan die rol van eksterne faktore.

Doellman, Itzkowitz, Itzkowitz en Sardarli (2019) toon aan dat die alfabetiese volgorde waarin die titels van vasgestelde bydraefondse (gelys deur Brightscope, Inc) aan ’n groep investeerders beskikbaar gestel word, ’n betekenisvolle invloed op hul beleggingsbesluite uitoefen. Dié verskynsel staan as alfabetiese sydigheid bekend. Jacobs en Hillert (2016) toon aan dat Amerikaanse aandele wat nader aan die bokant van ’n alfabetiese lys van aandele verskyn, 5–15% meer handelsaktiwiteit en likwiditeit toon as dié aandele wat nader na die onderkant van die lys verskyn.

Nofsinger (2011) gaan verder en sê dat die grondslae van kwessies rakende die rol van sielkundige faktore in finansiële besluitneming voortspruit uit denkfoute, vooroordele, sydighede en gebrek aan emosionele beheer by sommige beleggers. Hierdie faktore het in die verlede in tradisionele finansiële bestuurleerplanne betreklik min aandag ontvang, veral omdat spesifieke aannames destyds gegeld het.

Die volgende dien as voorbeelde van hierdie aannames: Beleggers neem uit die aard van die saak rasionele besluite; investeerders is onbevooroordeeld wat die neem van toekomstige finansiële besluite betref; portefeuljebestuurders maak gebruik van moderne portefeuljemodelle om maksimale opbrengste te bewerkstellig, insluitende kapitaalbateprysbepaling, arbitrasieprysbepalingsteorie en die optimale prysbepalingsmodel. Die finansiële beeld wat op hierdie wyse verkry word, bied voldoende insigte om verwagte risiko’s en moontlike winste op ’n rasionele wyse te hanteer.

Voorstaanders van die effektiewe-mark-hipotese (Mamun, Abu en Farida 2015) konstateer dat aandelepryse alle beskikbare markinligting reflekteer, gevolglik word die werklike prys van ’n aandeel as die intrinsieke waarde gesien. Nuwe markinligting arriveer op ’n toevallige wyse, gevolglik fluktueer aandeelpryse op ’n toevallige wyse. Sou dit moontlik wees dat nouer samewerking tussen die klassieke effektiewemarkbeskouingsmodel aan die een kant en ’n meer soepel gedragsbenadering aan die ander kant voortaan kon meewerk om rasionele finansiële besluitneming te bevorder?

Kenners op die gebied van die finansiële ekonomie gee egter toe dat onder sekere omstandighede investeerders wel tot irrasionele besluitneming in staat is. Dit blyk ook dat besluitnemingsfoute (Nofsinger 2011:3) die markte beduidend negatief kan beïnvloed. Gevolglik word pogings aangewend om deur die lens van “gedragsfinansies” investeerders se werklike beleggingsgedrag betroubaar te dokumenteer, pryspatrone te identifiseer wat teenstrydig is met data soos verkry deur middel van tradisionele modelle soos deur rasionele beleggers toegepas, en die ontwikkeling van nuwe teoretiese modelle om die impak van sielkundige faktore op beleggingsbestuur te konseptualiseer en aan te moedig.

Voortspruitend uit hierdie benaderings ontstaan pertinente vrae soos: Hoe akkuraat kan sielkundige prosesse soos ’n voorkeur vir kognitiewe sydigheid gemeet word? Wat behels die betroubaarheid en geldigheid van die meetinstrumente wat op hierdie gebied gebruik word? Wat sou die praktiese implikasies van navorsingbevindings oor irrasionaliteit, risikotoleransie en finansiële besluitneming wees?

Die doel2 van hierdie artikel is om kortliks (a) te verwys na enkele teoretiese konsepte wat met menslike gedrag en finansiële besluitneming geassosieer word; (b) voorbeelde te noem van praktiese navorsing wat onlangs oor die onderwerp uitgevoer is; en (c) kortliks kommentaar oor die navorsingsarea en metodologie van hierdie studies te lewer.

 

2. Wat sê die teorie?

Daar bestaan spesifieke sielkundige en psigofisiologiese konsepte wat die verband tussen finansiële besluitneming en menslike gedrag duidelik illustreer. ’n Seleksie daarvan word vervolgens hier kortliks bespreek. Hierdie afdeling word hoofsaaklik gebaseer op die werk van De Wit (2018) en Nofsinger (2011), tensy anders vermeld.

Oormatige selfvertroue by investeerders kan lei tot die oorskatting van eie kennis, onderskatting van risiko’s en oorskatting van eie vermoë om situasies doeltreffend te beheer. Die nuwe neiging om aanlyn makelaardienste te gebruik, werk ook oormatige selfvertroue in die hand. Die korrekte identifisering van winsgewende aandele is ’n moeilike taak en dit gebeur dan dat investeerders geneig is om oormatige selfvertroue (gebaseer op ’n illusie van volkome beheer) te openbaar. Oormatige selfvertroue kan tot oormatige verhandeling lei, wat portefeulje-opbrengste verlaag weens die koste van kommissie en die geneigdheid om aandele te koop wat onderpresteer in vergelyking met dié wat in die proses verkoop word. Oormatige selfvertroue lei ook soms tot hoër-risiko-geneigdheid as gevolg van onderdiversifikasie en ’n fokus om in kleiner maatskappye met minder bestendigheid, oftewel groter wisselvalligheid, te belê.

Die meeste beleggingsbestuurders toon ’n vrees vir mislukking en ’n strewe na optimale prestasie wat voorgestel kan word as ’n veranderlike op ’n bipolêre skaal. Hierna word verwys as die disposisie-effek en is die onderliggende oorsaaklike rede waarom beleggers geneig is tot predisponeerde besluitneming, wanneer wenners te vinnig verkoop word en daar te lank aan verloorders vasgehou word.

Dit blyk ook dat toleransie vir risiko toeneem na afloop van groot winsneming en verliese indien daar ’n kans is om gelyk te speel. Andersins lei verliese gewoonlik tot verlaagde risikotoleransie.

Volgens hierdie skrywers gee die menslikegeheuefunksies dikwels voorkeur aan die berging van emosies en gevoelens bo die berging van feite. Dit gee aanleiding daartoe dat investeerders feite by tye nie akkuraat onthou nie en gevolglik deur middel van herroeping inhoude ignoreer wat negatiewe emosies aktiveer. Dié proses verwys na die beginsel van selektiewe seleksie van geheue-inhoude. Foutiewe interpretasies en oorskatting van vorige prestasie kan plaasvind, met die gevolg dat realistiese leer op grond van vorige ervaring in die wiele gery word.

Feite en logika teenoor kreatiwiteit en emosies

Spesifieke breinareas skep kortpaaie (heuristiese oplossings) om die kompleksiteit van inligtingontleding te verminder. Lamb (2019) beskou heuristiek as sinoniem met “gesonde verstand”. Kortikale kortpadskepping maak dit moontlik om ’n skatting van ’n antwoord op ’n komplekse kwessie te maak voordat alle inligting volledig verwerk is. Die geneigdheid tot kortpadskepping bemoeilik investeerders se taak om omvattende inligting korrek te vertolk en kan tot ongeldige gevolgtrekkings lei. Voorbeelde van twee tipiese heuristiese oplossings is verteenwoordiging en familiariteit. Die brein maak die aanname dat twee inhoude of konsepte wat op die oog af gemeenskaplike eienskappe het, werklik ooreenstemmende inhoude is. Stereotipiese denkpatrone ontstaan op hierdie wyse. Verteenwoordiging verwys na menings wat op stereotipering gebaseer is. Familiariteit beteken dat investeerders geneig is tot ’n voorkeur om aandele waarmee hul goed bekend is te verhandel. Die emosie van gerustheid kan voortspruit uit beleggings in bekende en deurwinterde opsies eerder as in onbekende moontlikhede.

Besluitneming is altyd ’n geïntegreerde proses en gevolglik behoort die impak van emosionaliteit op besluitneming nie onderskat te word nie. Dit geld veral vir besluitneming waar ’n groot mate van onsekerheid betrokke is, soos in die geval van beleggingsbestuur. Emosionele voorkeur sou selfs gewone logika in sekere omstandighede kon oorheers. Oormatige optimisme kan lei tot die onderskatting van risiko en terselfdertyd tot ’n oorskatting van die geantisipeerde prestasie van aandele. Optimistiese investeerders is daarom geneig om in “mooi storie”-aandele te belê en terselfdertyd minder krities te wees, terwyl pessimistiese investeerders aan die ander kant dikwels meer analities in hul benadering is.

Die breinaktiwiteit van ’n persoon wat goeie opbrengste op grond van sy beleggingsbesluite verdien, kan selfs ooreenstem met dié van ’n persoon wat onder die invloed van kokaïen of ander stimulante is. Dit is dus verstaanbaar dat ’n investeerder sal streef na die ervaring van hierdie tipiese euforiese bewussynstoestand en selfs in die proses risiko’s kan neem wat andersins vermy kon word met ’n berekende en rasionale kognitiewe styl. Aan die ander kant van die munt word finansiële verliese deur dieselfde breinareas geprosesseer wat reageer op prikkels wat gevaar impliseer. Indien ’n investeerder gevolglik deur opeenvolgende sikliese fases van winsneming (die euforiese sensasie) en verlies (die doodsgevaarsensasie) beweeg, word die ideale omstandighede vir die neem van irrasionele finansiële besluite geskep. Die proses verklaar onder andere hoekom die aandelemark ’n uitdagende omgewing vir die meeste investeerders is. Beleggers se rasionelebesluitnemingsvermoë word te alle tye vereis, terwyl sterk emosionele belewing terselfdertyd op grond van rasionele besluitneming kan ontstaan. Die situasie kan selfs ’n gevaarlike dubbelbindeffek skep.

Lamb (2019) verduidelik verder die rol van vooroordele soos beskikbaarheidsydigheid (die neiging om staat te maak op inligting wat gereeld beskikbaar en maklik bekombaar is), bevestigingsydigheid (beleggingsbesluite wat berus op inligting wat ooreenstem met die belegger se vooropgesette idees), en ankeringsydigheid (besluite word geneem op grond van inligting soos verkry uit ’n enkele basisdokument).

 

3. Watter soort navorsing word gedoen?

Teoretiese perspektiewe oor gedragsfinansies is veral belangrik omdat hipotesevorming vir verdere objektiewe ondersoek normaalweg hieruit voortvloei. In Mangot (2007) se nuttige publikasie word die metodologie van eksperimentele navorsing oor finansiële gedrag deeglik geïllustreer. Wat hier onder volg, is ’n kernagtige bespreking van voorbeelde van enkele navorsingstudies wat op hierdie terrein in vaktydskrifte gepubliseer is. Die elektroniese platforms Ebsco Host Research Databasis en EconLit is gebruik om die artikels te identifiseer. Die treffrases “financial risk-taking behaviour”, “investor risk-taking behaviour” en “investor bias” is vir hierdie doel gebruik. Die meeste van die geselekteerde artikels het in bekende akademiese joernale verskyn en is voor publikasie aan portuurevaluering onderwerp.

3.1 Integrasie van analitiese-verslag-inligting

Keller en Pastusiak (2016) doen navorsing oor die invloed van deskundige analitiese verslae en aanbevelings in verband met effekte op die selfvertroue van ’n groep rekeningkundestudente (N=284) verbonde aan die Universiteit Lodz in Pole. Inligting oor die aandele is verkry deur middel van makelaarsverslae op die Warskouse Effektebeurs, sowel as inligting op gespesialiseerde webtuistes. Die hoofhipotese was dat die investeerders hierdie potensieel relevante inligting (ook genoem ghoeroeverslae) tydens ’n simulasiespel óf grootliks sal ignoreer óf onwillekeurig sal aanvaar weens die inherente snelheid van besluitneming wat vereis word tydens die proses van aandeelverhandeling. Beide opsies sou gevolglik die objektiwiteit van die investeerders se oordeel verwring en subjektiwiteit van besluitneming asook finansiële verliese tot gevolg hê. Die resultate van die studie toon duidelik dat die inhoud van die analitiese verslae nie noodwendig op ’n sinvolle wyse deur die investeerders verreken en geassimileer is nie. Dit was moontlik om die inhoud van die analitiese verslae op verskillende maniere te interpreteer en het gevolglik ’n persepsie van onbetroubaarheid of dubbelsinnigheid by investeerders laat posvat. In hierdie studie is die inhoud van analitiese verslae dus grootliks geïgnoreer tydens die neem van beleggingsbesluite.

3.2 Oormatige selfvertroue

Di (2019) gebruik ’n bekende maatskappy se prestasievoorspellingsverslae vir die Shenzhen-Sjanghai A-aandelemark as ’n steekproef. Inhoudsanalise is gebruik om die redes vir die veranderinge in prestasievooruitsigte te ontleed. Die toeskrywing van prestasie (attribusie) deur investeerders is as ’n addisionele veranderlike in berekening gebring. Toeskrywing van suksesse aan eie vernuf en toeskrywing van verliese aan eksterne faktore is ’n erkende metode om die mate van selfvertroue by investeerders te meet. Ontleding van die data lewer beduidende regressiekoëffisiënte wat daarop dui dat oormatige selfvertroue (interne attribusie) verband hou met die geneigdheid tot oorinvestering. Oorinvestering kom op ’n verkwisting van maatskappybronne neer wat op addisionele koste vir maatskappye neerkom.

Hierteenoor vind Renu en Christie (2019) dat oormatige selfvertroue kenmerkend was van ’n groep Indiese beleggers (436 sekondêre-aandeel-verhandelaars in Chennai) wat hoër jaarlikse inkomste verdien in vergelyking met beleggers wat laer jaarlikse inkomste genereer.

3.3 Etiese oorwegings

Die navorsingsmetodologie van Lewis en Mackenzie (2000) maak voorsiening vir die gebruik van ’n navorsingsvraelys wat aan beleggingsbestuurders (N=1146) uitgestuur is. Die steekproef het gemiddeld hoë tellings op moreel-etiese waardevoorkeure behaal. Die deelnemers is gewerf uit aandeelverhandelaars en makelaars wat beleggings hanteer by twee toonaangewende trustfondse in die Verenigde Koninkryk. Etiese investering beteken dat spesifieke maatskappy-aandele uitgesluit word uit beleggingsportefeuljes op grond van nie-ekonomiese faktore. Dit sluit in wapenvervaardigers, maatskappye wat chemikalieë in lewende-dier-eksperimente toets, en maatskappye met ’n bewese rekord van ’n negatiewe besoedelingsvoetspoor. Die navorsingsvraag van hierdie studie was of ekonomiese besluitneming deur morele oortuiging eerder as ekonomiese faktore gedryf word. Die bevindings dui aan dat etiese investeerders beide etiese en minder eties-gerigte beleggingsportefeuljes gelyktydig hou. Etiese investeerders was beslis bereid om fondse in ooreenstemming met hul morele oortuigings te belê. Etiese, nie-etiese en neutrale beleggings is meestal in portefeuljes gekombineer. 42% van die investeerders was van mening dat etiese beleggings laer opbrengste lewer en 19% meen etiese beleggings is meer riskant. 80% het gemengde portefeuljes bestuur en 20% het geen etiese beleggings in hul portefeuljes gehad nie.

3.4 Risikotoleransie

Risiko verwys na die mate van onsekerheid en/of potensiële finansiële verlies wat inherent deur ’n beleggingsbesluit meegebring word (Mohan en Singh, 2017). Hoe hoër die risiko styg, hoe hoër behoort die opbrengs te wees ten einde te vergoed vir die risiko wat geneem word. Risikotolerante investeerders is geneig om in potensieel hoëropbrengs-instrumente te belê, ten spyte daarvan dat ’n groter kans op verlies bestaan. Die risikotolerante verhandelaars is geneig om nie te verkoop tydens ’n tydelike markregstelling nie, terwyl risikovatbare verhandelaars as gevolg van stres op die verkeerde tydstip verkoop. ’n Diverse groep respondente (N=200) in Indië uit die bankwese, rekenmeestersberoepe en versekeringsektor, asook finansiële tussengangers, is vir die doeleindes van hierdie studie ingesluit. Die deelnemers het ’n risikotoleransievraelys (deur Finametrika ontwikkel) voltooi. Finansiële-risiko-toleransie is gemeet deur ’n telling vir elke deelnemer op die assesseringsinstrument te verkry. Dié risikotelling is as die afhanklike veranderlike gebruik. Die resultate toon aan dat verskeie biografiese faktore met risikovatbaarheid korreleer. Beter-opgeleide investeerders was meer risikotolerant as swakker-opgeleide investeerders; namate die kronologiese ouderdom van investeerders toeneem, neem hul risikotoleransie af; geslagsverskille het nie risikotoleransie beïnvloed nie; investeerders is meer risikotolerant indien hul in staat is om verbandhoudende belastingvoordele te eis; getroude investeerders is meer risikotolerant as ongetroude investeerders. (Omdat lg bevinding nie noodwendig strook met die algemene opvatting nie, word die bevinding soos op bl 51 gestel, hier aangehaal: “The correlation coefficient between marital status and financial risk tolerance is obtained as 0.33, which indicates that married people are more risk tolerant than the unmarried people.”)

Deb en Singh (2016) ondersoek die risikopersepsie van investeerders in onderlinge fondse met relatief lae risiko in Tripura, Indië. Hul maak gebruik van ’n vraelys wat uit 18 items bestaan wat risikopersepsie meet. Die item-inhoude het gewissel van kennis van die betrokke fondse, sekerheid oor inkomstegenerering en konstantheid van inkomste tot integriteit van plaaslike agente en of die investeerder voorheen ’n slagoffer van finansiële bedrog was. As steekproef is 262 bankamptenare wat in onderlinge fondse belê, op ’n toevallige wyse uit ’n universum van 815 amptenare getrek. Die bevindings dui daarop dat die steekproef oor gemiddelde, of matige (“moderate”), risikotoleransie beskik het en dat investeerders met hoë risikotoleransie óf geensins in onderlinge fondse belê nie, óf verkies om in kleiner volumes te investeer.

Kannadhasan, Aramvalarthan, Mitra, en Goyal (2016) gebruik 951 investeerders met ervaring van beleggings in die kapitaalmarkte tydens ’n enkelopname-dwarssnitstudie met behulp van ’n gestruktureerde vraelys in Raipoer, Indië. Drie persoonlikheidseienskappe, naamlik selfagting, mededingendheid/prestasiegeneigdheid en soeke na sensasie het statisties beduidend met risikotoleransie gekorreleer. Investeerders met hoë selfvertroue volg ’n twee-stadia-assesseringsproses tydens die investeringbesluitnemingsproses. Eerstens word bepaal of die besluit positiewe of negatiewe gevolge kan inhou. Tweedens vind integrasie van hul kennis en relevante finansiële inligting genoegsaam en effektief plaas. Selfvertroue, mededingendheid en soeke na sensasie word geassosieer met die geneigdheid van investeerders om alle tersaaklike inligting te benut, en om ’n strategie te ontwikkel om ’n bepaalde investeringsdoel te bereik. Selfvertroue om ’n realistiese beleggingsbesluit te neem verminder die vrees vir mislukking en verhoog terselfdertyd die toleransie vir risiko.

3.5 Persoonlikheidseienskappe

Bashir ea (2013) ondersoek die verband tussen demografie, persoonlikheidstruktuur (soos gemeet deur die Groot Vyf-persoonlikheidsvraelys), kognitiewe sydigheid en risikotoleransie by beleggers en verhandelaars. Dosente en studente in beleggingsbestuur, bankiers, aandeelverhandelaars en makelaars is as steekproef gebruik (N=225). Slegs enkele statisties beduidende korrelasies het na vore gekom: (a) Die verband tussen ekstraversie met oormatige selfvertroue en risikogeneigdheid was beduidend en positief. (b) Neurotisisme korreleer positief en beduidend met konformering (“herding”). (c) Konsensieusheid korreleer positief met oormatige selfvertoue.

Konserwatiewe sydigheid verwys na die geneigdheid om voorkeur te gee aan vorige sienings of voorspellings ten koste van die erkenning van nuwe inligting. Beskikbaarheidsydigheid is ’n kognitiewe kortpad om toevlug te neem tot voorbeelde wat onmiddellik in die geheue opduik wanneer ’n spesifieke onderwerp, konsep, metode of besluit bespreek word (Moradia, Meshkiband en Mostafaeic 2013). Mense is geneig om hul menings op meer onlangse inligting te bou. Hul menings is dus sydig tov die mees onlangse gegewens. Die Myers-Briggs Type Indicator is gebruik om die verband tussen persoonlikheidsdimensies en sydigheid van ’n groep investeerders wat op die Tehranse aandelebeurs werksaam is te meet. Hulle vind ’n beduidende negatiewe verband tussen soeke na sensasie en konserwatiewe sydigheid. Geen ander beduidende korrelasies is gerapporteer nie.

Patterson en Daigler (2014) ondersoek die verwantskap tussen persoonlikheidseienskappe en investeringsprestasie. Die Clinical Analysis Questionnaire (CAQ) is gebruik om die persoonlikheidsprofiele van 221 hoofsaaklik voorgraadse studente in beleggingsbestuur aan die Florida Internasionale Universiteit te assesseer. Die studente moes oor ’n periode van 13 weke ’n beleggingsopdrag met papiergeld uitvoer. Die kwaliteit van hul finansiële besluitneming is gemeet in terme van portefeuljediversifikasie, opbrengs, risikoblootstelling en risiko-aangepaste opbrengs. Die resultate dui in die algemeen daarop dat geestesgesondheidseienskappe verband hou met beleggingsbesluite en finansiële prestasie.

 

4. Gevolgtrekking en aanbevelings

Koppel (2011:254) wys tereg daarop dat finansiële investering ’n mikrokosmos van die werklike lewe is. Investeerders is dus self verantwoordelik om die dinamika van hul eie finansiële prestasielewering te verstaan en te bevorder. Selfinsig sluit in ’n deeglike en volhoubare begrip van eie onderliggende motiewe of dryfvere wat met finansiële besluitneming gepaardgaan. Investeerders behoort byvoorbeeld te weet of hulle tot hoë of lae selfmonitering geneig is. Deur hierdie selfkennis toe te pas behoort ’n voorsprong opgebou te word relatief tot eweknieë wat dit nalaat. Die investeerder met selfinsig sit  spesifieke tye opsy om die marktendense te bestudeer en is dus proaktief. Hulle besef ook dat raadpleging van te veel menings van ander beleggers kontraproduktief kan wees. Hulle beskik oor die insig dat die beste beleggingsbesluite in isolasie geneem word, asook dat geen verhandelaar of belegger perfek is nie en die strewe na perfeksionisme deur realistiese selfinsig getemper moet word.

Toekomstige navorsing, veral waar verskillende kategorieë investeerders (makelaars, verhandelaars, beleggers en ontleders) onderling met mekaar vergelyk word deur middel van tussengroepfaktorontleding met ’n reeks finansiële prestasies (byvoorbeeld inkomste verdien) en gedragsveranderlikes, behoort meer lig op hierdie komplekse navorsingterrein te gooi. Die interaksie tussen risikopersepsie, die geneigdheid tot beleggingsydigheid en die aard van persoonlikheidseienskappe behoort ook in groter besonderhede nagevors te word (Patterson en Daigler 2014).

 

5. Samevatting

Die belangstellende leser besef dat navorsingstudies soos hier aangehaal word, verkieslik in terme van die navorsingsmetodologie krities geëvalueer moet word. Keller en Pastusiak (2016) het byvoorbeeld slegs studente in hul studie gebruik, en indien studente die inhoud van analitiese verslae grootlik ignoreer tydens hul finansiële besluitneming wil dit nie sê dat meer ervare investeerders ook hierdie gedragspatroon sal openbaar nie. Deb en Singh (2016) dui byvoorbeeld nie aan wat die faktoriale en itemgeldigheid van hul navorsingsvraelys is nie.

Ten spyte van opvallende metodologiese tekortkominge in die navorsing is daar oorkoepelend gesproke sterk getuienis dat ’n wye spektrum sielkundige en psigofisiologiese faktore wel deurslaggewende faktore is waarmee deurlopend rekening gehou moet word tydens die proses van finansiële besluitneming.

Sommige van die genoemde studies sou in Suid-Afrika gedupliseer (selfs met strenger metodologiese kontrole) kon word om te bepaal of soortgelyke bevindings binne ’n andersoortige kultuurverband voorkom.

Die doeltreffende toepassing van teenwigte vir irrasionaliteit vereis dat investeerders (a) ’n langtermynstrategie handhaaf, (b) irrasionele besluitneming op grond van korttermynmarkveranderlikheid vermy, en (c) bereid moet wees om met hul aanvanklike beleggingsplan of strategie te volstaan. Daarbenewens is die rol van sielkundige prosesse soos selfmontering en die ontwikkeling van selfinsig beslis ook van deurslaggewende belang. ’n Deurlopende openheid en sensitiwiteit deur beleggers ten opsigte van eie selfvertroue, ’n bewustheid van die slaggate van kognitiewe sydigheid, die implikasies van risikotoleransie en die effek van persoonlikheidstruktuur op finansiële besluitneming behoort goeie dividende in die hand te werk. Op hierdie wyse word ongegronde vooroordeel en ’n geneigdheid tot konformering beperk en ’n strewe na objektiwiteit en rasionaliteit bevorder.

Zahera en Basal (2018:210) se standpunt in hul onlangse oorsigartikel is gepas:

A new era of understanding of human emotions, behavior and sentiments has been started which was earlier dominated by the study of financial markets. Moreover, this area is not only attracting the attention of academicians but also of the various corporates, financial intermediaries and entrepreneurs, thus adding to its importance.

 

Bibliografie

Bashir, T, N Azam, AA Butt, A Javed en A Tanvir. 2013. Are behavioral biases influenced by demographic characteristics and personality traits? Evidence from Pakistan. European Scientific Journal, 9(29):277–93.

Bernstein, J. 1980. The investor’s quotient. New York: Wiley.

Deb, S en R Singh. 2016. Impact of risk perception on investors towards their investment in mutual funds. Pacific Business Review International, 1(2):16–23.

De Wit, JJD. 2018. The psychology of investing. Money Marketing, 13 November, bl 12.

Di, Z. 2019. Research on the influence of managers’ self-serving attributive behaviour on enterprise investment efficiency. Open Journal of Social Sciences, 7:362–78. DOI: 10.4236/jss.2019.74029.

Doellman, TW, J Itzkowitz, S Itzkowitz en SH Sardarli. 2019. Alphabeticity bias in 401(k) investing. The Financial Review, 54(4):643–77.

Jacobs H en A Hillert. 2016. Alphabetic bias, investor recognition and trading behaviour. Review of Finance, 20(2):693–723.

Kannadhasan, M, S Aramvalarthan, SK Mitra en V Goyal. 2016. Relationship between biopsychosocial factors and financial risk tolerance: An empirical study. The Journal for Decision Makers, 41(2), 117–31.

Keller, J en R Pastusiak. 2016. The psychology of investing: Stock market recommendations and their impact on investors’ decisions (the example of the Polish stock market). Acta Oeconomica, 66(3):419–37. DOI: 10.1556/032.2016.66.3.3, http://real.mtak.hu/41691/1/032.2016.66.3.3.pdf.

Koppel, R. 2011. Investing and the irrational mind. New York: McGraw-Hill.

Lamb, T. 2019. How bias can sink your investment success. Alan Gray Personal Investing. 25 September. https://www.allangray.co.za/latest-insights/personal-investing/how-bias-can-sink-your-investment-success.

Lewis, A en C Mackenzie. 2000. Morals, money, ethical investing and economic psychology. Human Relations, 53(2), 179-91.

Louw, S. 2019. Ken jou perke. Finweek, 7 November, bl 17.

Mamun, A, SM Abu en Y Farida. 2015. Are investors rational, irrational or normal? Journal of Economic and Financial Studies, 3(4):1–5.

Mangot, M. 2007. 50 psychological experiments for investors. Singapoer: Wiley.

Mohan, R en S Singh. 2017. An empirical study on financial risk tolerance of investors in India. The IUP Journal of Financial Risk Management, 14(3):40–58.

Moradia, M, M Meshkiband en Z Mostafaeic. 2013. A study on investors’ personality characteristics and behavioral biases: Conservatism bias and availability bias in the Tehran Stock Exchange. Management Science Letters, 3:1191–6.

Nofsinger, JR. 2011. The psychology of investing. Boston: Prentice Hall.

Patterson, FM en RT Daigler. 2014. The abnormal psychology of investment performance. Review of Financial Economics, 23:55–63.

Renu, IR en P Christie. 2019. The relationship between income and behavioural biases. Journal of Economics, Finance and Administrative Science, 27(47):127–44. https://www.emerald.com/insight/content/doi/10.1108/JEFAS-10-2018-0111/full/pdf?title=the-relationship-between-the-income-and-behavioural-biases.

Wiener, E. 2005. The psychology of money. Money Newsletter, Maart 7–8.

Zahera SA en R Bansal. 2018. Do investors exhibit behavioral biases in investment decision making? A systematic review. Qualitative Research in Financial Markets, 10(2):2010–51.

 

Eindnotas

1 Peter-John Smitsdorff, uitvoerende hoofbeampte, RSA Beleggings- en Versekeringsmakelaars, en Johan Kirsten (onafhanklike aandeleverhandelaar, Stellenbosch) word bedank vir hul bereidwilligheid om die artikel voor publikasie deur te lees en kommentaar te lewer.

2 Vanweë die wyse waarop hierdie artikel afgebaken is, word nie aandag gegee aan die aard en rol van sielkundige faktore by die hantering van persoonlike finansies (byvoorbeeld privaat persoonlike beleggings, die opstel van begrotings), en die kommunikasiestyle van makelaars en hul kliënte nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top