Filosofiekafee-verslag: ANC het die WVK se aanbevelings gepootjie  

  • 4
.........
Hoewel die WVK nie oplossings of antwoorde kon gee op al die vrae nie, het dit volgens Du Toit wel ’n groot bydrae gelewer om die land te laat hoor wat werklik tydens apartheid gebeur het en is ’n groot deel van die waarheid vir die eerste keer ontbloot.
.........

Lamé Ebersöhn, Riaan de Villiers, André du Toit en Jaco Barnard-Naudé (fotograaf: Jean Oosthuizen)

............
Die meningsverskil onder Suid-Afrikaners oor die effektiwiteit van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK), en spesifiek die kwessie van amnestie, is in postapartheid Suid-Afrika steeds ’n diep verdelende en omstrede saak.
Die toestaan van amnestie aan mense wat growwe menseregteskendings gepleeg het en die gebrek aan vervolging van diegene wat nie amnestie ontvang het nie, laat ’n wrang smaak in baie Suid-Afrikaners se mond.
.............

Die meningsverskil onder Suid-Afrikaners oor die effektiwiteit van die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK), en spesifiek die kwessie van amnestie, is in postapartheid Suid-Afrika steeds ’n diep verdelende en omstrede saak.

Die toestaan van amnestie aan mense wat growwe menseregteskendings gepleeg het en die gebrek aan vervolging van diegene wat nie amnestie ontvang het nie, laat ’n wrang smaak in baie Suid-Afrikaners se mond.

Sommige mense beskou die WVK as ’n sukses, omdat dit Suid-Afrika gehelp het om vrede en stabiliteit te bereik in ’n tydperk van groot onsekerheid en spanning. Ander beskou die WVK as ’n mislukking, omdat dit nie in staat was om die behoeftes van alle slagoffers van menseregteskendings aan te spreek nie.

Volgens die WVK se eie statistieke was daar 7 112 aansoeke vir amnestie ingedien, waarvan 849 toegestaan en 5 392 geweier is. Die oorblywende aansoeke is nie afgehandel nie, omdat die aansoekers nie opgedaag het vir die verhoor nie, of hulle het die aansoek teruggetrek.

Mense aan beide kante van die apartheidstryd is skepties ten opsigte van die WVK se uitkomste. Die ANC het die WVK teen die einde van hulle werksaamhede heeltemal afgeskryf en wou niks verder daarmee te doen hê nie.

Die ANC was op die punt om die WVK se finale verslag te verwerp omdat dit die vryheidstryd volgens hulle gekriminaliseer het en ’n gevoel van ongelykheid tussen slagoffers en oortreders geskep het.

Sommige wit Suid-Afrikaners het weer gevoel dat dit onregverdig was teenoor diegene wat betrokke was by die apartheidsregering se dade, omdat hulle deel was van ’n politieke stelsel wat nie hulle toedoen was nie.

Van die begin af was daar besorgdheid oor die kwessie van amnestie vir misdadigers wat geweldsmisdade gepleeg het tydens die apartheidsera.

As gevolg van die ANC se uitval met die WVK het daar uiteindelik weinig gekom van die WVK se amnestie-aanbevelings. Die meeste van diegene wat daarin geïmpliseer word, is nooit vervolg nie.

Na jare se studie en ontleding van die ingewikkelde amnestieproses het die politieke filosoof André du Toit in ’n onlangse boek,  Amnesty chronicles, die proses haarfyn ontleed. Daarin lig hy die sluier vir die eerste keer oor daardie deel van die land se geskiedenis.

Du Toit was die afgelope Vrydag die gas van die Filosofiekafee by die Bôrdienghuis in die Breytenbach Sentrum op Wellington.

Amnestie was vir stryders aan albei kante van die apartheidstryd een van die grootste tergvrae tydens die onderhandelingsproses. Dit het uiteindelik op die WVK en sy omstrede voorwaardelike amnestieproses uitgeloop.

Jaco Barnard-Naudé, professor in jurisprudensie en mededirekteur van die Sentrum vir Retoriekstudies in die Regsfakulteit by die Universiteit van Kaapstad, het saam met Du Toit aan die gesprek deelgeneem.

Die WVK was ’n kontroversiële instelling wat in 1995 gestig is om die wreedhede van die apartheidsregering en die verset daarteen te ondersoek en te dokumenteer. Dit het ’n belangrike rol gespeel in die oorgang na demokrasie in Suid-Afrika. Dit wou onder andere die waarheid oor die verlede se onreg openbaar en help om die land te genees van die traumatiese erfenis van apartheid.

Of die WVK daarin kon slaag om die wonde van die verlede te genees is debatteerbaar en bly ’n ope vraag waaroor daar vandag nog gedebatteer en verskil word.

Die feit dat daar weinig of min gekom het van die WVK se aanbevelings oor amnestie kan volgens Du Toit tot ’n groot mate voor die ANC se eie deur gelê word.

Du Toit is van mening dat die WVK in beginsel ’n goeie ding was, omdat dit gehelp het om die waarheid oor die apartheidsera in Suid-Afrika te dokumenteer en te openbaar.

Hy het in sy gesprek die amnestiespoor so ver terug as 400 jaar vC gaan haal en dit deurgetrek tot by ons eie land se geskiedenis.

Die vraagstuk waarmee Suid-Afrika in die 1990’s gekonfronteer was, was dieselfde as dié van baie ander lande wat ontslae geraak het van diktature of militêre bewindhebbers.

Een van die bekendste voorbeelde is die Neurenberg-verhore na die Tweede Wêreldoorlog.

Tydens die Neurenberg-verhore is daar afgewyk van die algemene tradisie dat misdade teen die mensdom wat in opdrag gepleeg is, aanvaarbaar was. Neurenberg het vir die eerste keer ’n streep daardeur getrek en besluit selfs misdade wat in opdrag van ’n militêre bevelvoerder gepleeg sou wees, is ’n misdaad teen die mensdom.

Ander lande het ander antwoorde gehad vir soortgelyke probleme. Spanje het byvoorbeeld die roete gevolg van die sogenaamde Pacto del Olvido (pakt van die vergetelheid). Dit was ’n politieke besluit deur beide linkse en regse partye van Spanje om te verhoed dat die nalatenskap van die verlede direk gekonfronteer word omdat dit vir hulle net te erg was om weer oop te krap.

Oos-Europa is na die val van die kommunisme met dieselfde probleem gekonfronteer.  In hulle geval is mense in gekompromitteerde beroepe soos filosowe na demokratisering weer sonder enige ondersoek of ander prosedure eenvoudig van hulle poste onthef.

In Suid-Amerikaanse lande soos Argentinië, waar daar lank militêre diktature aan die bewind was, is groot getalle mense tydens die militêre bewind nie net onbepaald aangehou nie, maar het hulle eenvoudig verdwyn en niemand weet wat van hulle geword het nie.

Suid-Afrika het dus die voordeel gehad om uit ander lande se ervarings te kon leer, het Du Toit gesê.

Tydens die begin van die onderhandelingproses is werkswinkels gehou waaraan waarnemers van verskeie lande deelgeneem het om hulle ervarings te deel.

Uiteindelik was Suid-Afrika se oplossing ’n kompromis dat mense aan beide kante van die apartheidstryd aansoek moes doen om amnestie as hulle vrywaring wou hê. Dit het behels dat hulle voor die amnestiekomitee moes getuig oor hulle betrokkenheid en die waarheid moes vertel.

Die ongeskilde turksvy in die slaai was egter hoe om te bepaal wie op amnestie geregtig is en wie nie en wat ’n politieke gevangene is.

Die bomplanter Robert McBride en die Wit Wolf Barend Strydom was mense wat normaalweg nie vir amnestie in aanmerking sou kom nie. Toe die ANC egter daarop aandring dat McBride wel amnestie moet kry, het FW de Klerk gesê in daardie geval moet Barend Strydom ook amnestie kry.

Na Mandela se vrylating het die De Klerk-regering volgehou daar was geen politieke gevangenes in die tronke nie. Die Nasionale Party se aanvanklike houding was dat almal in die tronk daar was omdat hulle strafregtelike misdade gepleeg het en deur die howe verhoor en gevonnis is.

Daar was egter duisende mense in die tronk vir misdade wat uit politieke oorwegings gespruit het.

In die geledere van die ANC was daar groot ongelukkigheid, omdat misdade wat deur lede van die ANC gepleeg is om ’n politieke doelwit  te bereik, oor dieselfde kam geskeer is as die misdade wat deur lede van die veiligheidsmagte gepleeg is.

Dit het veroorsaak dat die ANC later glad nie met die WVK wou saamwerk nie. Hulle het gevoel die WVK kriminaliseer die vryheidstryd. Aanvanklik wou feitlik geen ANC-lede aansoek doen om amnestie nie.

Eers nadat Desmond Tutu gesê het dit maak sy taak onmoontlik as die ANC weier om ook aanspreeklikheid te aanvaar vir menseregteskendings tydens apartheid, kon die proses voortgaan.

Thabo Mbeki was een van diegene wat baie afwysend was oor die WVK se bevindings en gesê het dit kriminaliseer die vryheidstryd. Die gevolg daarvan was dat die ANC later die kommissie in sy geheel afgeskryf het en hulle basies geheel en al van die verslag gedistansieer het.

Die spanning tussen die ANC en die WVK was so groot dat die ANC byna glad nie die finale verslag wou aanvaar het nie. Nelson Mandela kon egter ’n kompromis beding wat meegebring het dat die verslag op die ou end wel brom-brom aanvaar is.

Hierdie breekspul is volgens Du Toit die grootste rede waarom daar geen vervolgings was van diegene wat nie amnestie gekry het nie, selfs al is hulle deur die WVK uitgewys as growwe menseregteskenders.

Du Toit vertel hoe hy saans op TV saamgeleef het met die destydse kommissaris van polisie, generaal Johan van der Merwe, se “vroom ouderlinggesig” terwyl Van der Merwe geweet het al hierdie goed in die land is aan die gang en dat die polisie daarby betrokke was.

Ironies genoeg het Mandela ná die onderhandelingsproses vir Van der Merwe heraangestel as kommissaris van polisie. Hoewel Van der Merwe aanvanklik niks met die amnestieproses te doen wou hê nie, het hy later ’n belangrike rol agter die skerms gespeel om te sorg dat ’n groot aantal lede van die polisie wel aansoek gedoen het om amnestie.

Die realiteit is egter dat daar weinig of niks gebeur het met diegene wat nie amnestie gekry het of nie daarvoor aansoek gedoen het nie. Die rede daarvoor is volgens Du Toit dat die ANC niks meer met die WVK te doen wou hê nie.

Du Toit sê as dit nie vir Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa en hulle vermoëns was nie, weet hy nie hoe dinge vandag sou gelyk het nie. Hulle het dit reggekry dat dinge nie uitmekaarval nie en dat daar ’n onderhandelde skikking is en tussentydse grondwet tot stand gekom het.

Een van die metodes was om elke keer die moeilike kwessies soos amnestie uit te stel totdat die ander dinge eers in posisie was.

Du Toit het gesê dit het goed gewerk in die konteks van die onderhandelingsproses, maar hy is bevrees dit het deel geword van die land se politieke kultuur. Daarom het kommissies soos die Marikana- en Zondo-kommissies ook maar net geleenthede geskep dat dinge aan die lig kom en mense daaroor kan praat, maar op die ou end gebeur daar niks nie en word dit maar net weer toegekrap en hou dit aan en aan.

Hoewel die WVK nie oplossings of antwoorde kon gee op al die vrae nie, het dit volgens Du Toit wel ’n groot bydrae gelewer om die land te laat hoor wat werklik tydens apartheid gebeur het en is ’n groot deel van die waarheid vir die eerste keer ontbloot.

Vir wit Suid-Afrikaners was dit belangrik om dit te hoor, omdat baie van hulle onbewus was van wat gebeur het. Vir die slagoffers het dit geleentheid gebied om hulle stories te vertel en so ’n deel van hulle of hulle families se menswaardigheid te herwin, het Du Toit gesê.

  • 4

Kommentaar

  • My siening oor die onderliggende dryfvere van die opponerende partye destyds en hoe hulle uiteindelik by die resep vir 'n WVK gekom het, was dat dit van meet af kunsmatig en 'n rasionalisering was van die groot (sommige sou sê die grootste) sentrale tema: Geregtigheid en vervolging.
    In 'n neutedop: Die twee opponerende magte (NP en ANC) het 'n kompromis aangegaan dat amnestie uiteindelik die skuiwergat sou wees waardeur 'geïmpliseerdes' (lees: hoëposbekleërs in die veiligheidsmagte, polisie sowel as weermag, asook politici) gevrywaar sou kon word van vervolging.
    Dit is my oorwoë mening dat daardie kompromis 'gebackfire' het.
    Die destydse Nasionale Party was terdeë bewus van wat ná die Tweede Wêreldoorlog gebeur het met die Nuremberg-tipe tribunale waar 'n aantal Duitse politici en Nazi-leiers tronk-, sowel as die doodstraf gekry het vir vergrype tydens die oorlog.
    In hul eie gemoed was dit 'n moontlikheid, indien nie 'n waarskynlikheid nie, dat sommige van hulle dieselfde paadjie sou kon loop.
    Ook vir die ANC was hierdie alternatief nie aanvaarbaar nie, maar vir ander redes.
    Hulle sou voortaan (dit was die aanname) die nuwe leiers wees van 'n demokratiese bestel en sou kon saamleef met 'n kompromis en vergelding was van minder belang.
    En dis waar hulle die pot mis gesit het.
    Ek is op rekord dat versoening net volg as geregtigheid geskied, en met die WVK is die meeste kwaaddoeners nie vervolg nie en het geregtigheid beslis nie geskied nie.
    Tot vandag is daar bitterheid en 'n onvergenoegdheid onder baie dat verskeie moordenaars en hul 'hanteerders' nooit vervolg is nie.
    Van hulle is vandag oumense en baie is reeds oorlede.
    Vir die families en naasbestaandes van die slagoffers van apartheid is dit 'n bitter pil om te sluk.
    In my opinie bly versoening tot vandag vir baie 'n onbereikbare ideaal in Suid-Afrika en sien, hoor en lees ons steeds daagliks van die wye kloof tussen groepe.
    Die destydse onderhandelaars van beide die Nasionale Party en die ANC was kop-in-een-mus en het die land versaak.

  • Ollie Joubert

    Die hele WVK was 'n wolf-skaapwagter-maak-instelling wat nie op enige meriete gegrond was van wie daarop mag/moet dien nie. Dit was vir pak slae uitdeel geoormerk, wat rassisties links of regs geneuk het soos dit die samestellers behaag het in gegewe oomblike met sekere voorlegings op daardie tydstip. Sela.

  • Dat die WVK oor die breë ’n mislukking was, is duidelik. Daar is weinig optrede wat van versoening spreek op sosiale en op politieke vlak vandag. Die rede is nie die gebrek aan vervolging wat gespruit het uit die proses nie, maar die weiering aan beide kante om erkentlik te wees t.o.v. kriminele gedrag deur leiers aan beide kante. Verfoeilike en lafhartige gedrag van leiers ( aan beide kante) wat presies net daar hulle geloofwaardigheid verwoes het. Van daardie moment af het die man in die straat gevoel en geweet (aan beide kante) hy is op sy eie, sy leiers preek versoening, maar doen dit nie self nie; hy gaan kanonvoer word, weer ’n keer (aan beide kante).

  • Frans Geldenhuys

    Hierdie kommentator is glad nie 'n sakemens nie. Tog het hy amper 'n bemarker geword. Wat die smouse hom tydens daardie kortstondigheid geleer het, is: 'As jy wil hê dat daar niks van 'n saak kom nie, dan verwys jy dit na 'n komitee.' Met voorbeelde soos die ondersoeke na die waarheid oor apartheid met die oog op versoening, die wapenskandaal, staatskaping en die parlementêre komiteestelsel, sou 'n mens wou glo dat almal dit teen hierdie tyd sou besef en daarmee sou wou wegdoen. Dit kos die volkskas eenvoudig te veel, terwyl mense honger ly.
    Al wat hierdie kommentator nog gesien of gehoor werk het, op 'n manier, was die Skerpioene en pa en seun Murrray, maar hulle is verwyder. En deur wie en hoe? Joernaliste weet nie meer wat hulle hulle moet noem nie: Boewestaat, Mafiastaat, Biljoenêrs, Saboteurs, Terroriste? Almal sagkense woorde vir hoogverraaiers.
    Een van die objektiewer stukke van Jean Oosthuizen wat ek nog gelees het.
    Ons moet darem ook besef dat WVK dui op waarheid en versoening, en NIE waarheid en vergelding NIE.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top