Uitnodiging: FilosofieKafee in Wellington – Oorgangsregverdigheid en amnestie-onderhandelinge

  • 0

Hoe begryp ons vandag die idee van oorgangsregverdigheid in die lig van die 1990–1994 amnestie-onderhandelinge?

André du Toit in gesprek met Jaco Barnard-Naudé

Vrydagaand 17 Maart 2023 vanaf 18:30
Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington

Die kwessie van amnestie vir stryders aan albei kante tydens die SA konflik was een van die grootste tergvrae tydens die Suid-Afrikaanse oorgang. Dit het uiteindelik op die WVK en sy omstrede voorwaardelike amnestie-proses uitgeloop. Ná jare se studie en ontleding het die politieke filosoof André du Toit nou vir die eerste keer die komplekse onderhandelingsproses behoorlik uitgepluis. Volgens André pluk Suid-Afrika tot vandag toe die wrang vrugte van die lukrake, deels geheime en uiteindelik ontoereikende manier waarop hierdie kwessie beding is.

André se navorsing is vervat in sy boek Amnesty chronicles, wat by die geleentheid beskikbaar sal wees teen ’n spesiale afslagprys.

André du Toit is in Bethlehem in die Vrystaat gebore. Hy het op Stellenbosch gestudeer, en in Leiden gedoktoreer. Later het hy saam met Johan Degenaar klas gegee in die politieke filosofie. Hy was deel van die Afrikaanse groep wat ’n ANC-afvaardiging in Dakar ontmoet het, en was later lid van IDASA se bestuurskomitee. Voor sy aftrede was hy hoof van ’n program oor oorgangsgeregtighed aan die Universiteit van Kaapstad.

Jaco Barnard-Naude is tans professor in Jurisprudence en mede-direkteur van die Sentrum vir Retoriekstudies in die Regsfakulteit by die Universiteit van Kaapstad. Hy neem aktief deel aan die openbare debat en fokus deesdae op die Afrikaanse literatuur, kuns en films.

R250 pp sluit aandete en ’n glasie wyn/bier/sap in.

RSVP: +27828951139/oopgesprek@filosofiekafee.co.za

Betaal asb by hierdie portaal (verw W17/03 en jou naam): http://pay.yoco.com/filosofiekafee

 

Iedereen welkom by dié oop gesprek!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top