Film: Wolf Totem
Regisseur: Jean-Jacques Annaud
Spelers: Shaofeng Feng, Shawn Dou, Ankhnyam Ragchaa, Yin Zhusheng
Nie een van China se groot regisseurs het kans gesien vir ’n film met wolwe nie, maar die 72-jarige Jean-Jacques Annaud, veteraan van films met bere (The Bear, 1989) en tiere (Two Brothers, 2004), hét. Annaud het met Seven Years in Tibet (1997) die Chinese regering se nekhare laat rys, maar hierdie projek, China se Oscar-inskrywing vir die beste buitelandse film, was gelukkig belangriker. (Die staat het ook betaal dat die vervaardiger en filmspan drie jaar in Mongolië kon deurbring om ’n trop van 35 wolwe oor drie geslagte te versamel, met 16 van hulle spesiaal afgerig vir die film.)
Wolf Totem neem jou na ’n onbekende en grootliks verdwene wêreld, en as sulks is dit ’n rare voorreg. Op skool het ek geleer van die steppe se uitgestrekte grasvelde, maar geen gedagteprentjie kan vergelyk met die beelde van hierdie oneindige, ruwe en skynbaar leë landstreek nie. Van der eeue gelede het ’n Mongoolse stam, die mense van die wolftotem, ’n manier gevind om in ’n brose simbiose met die steppewolwe saam te leef – volgens oorlewering het die groot Mongoolse krygsheer, Ghenghis Khan, sy vegstrategieë by wolwe afgekyk.
| Lees ook: |
|---|
| • Abraham, 'n film deur Jans Rautenbach |
| • Necktie Youth hardebaard Suid-Afrikaans |
| • Dis ek, Anna: 'n Moet-sien film |
Maar vooruitgang bring sonder uitsondering ook vernietiging, soos gesien in hierdie verhaal wat in 1967 afspeel, in die tweede jaar van Mao se kulturele revolusie. Dis gegrond op die gelyknamige boek en handel oor die skrywer se ervarings as jong man toe hy en ’n medestudent uit Beijing die nomade in Mongolië moes gaan “opvoed” volgens die nuwe kommunistiese stelsel. Wat volg, is ’n bittere tweestryd tussen mens en dier, en tussen mens en mens – met (voorspelbaar) tragiese gevolge.
As diereliefhebber is ek seker bevooroordeeld, maar ek meen ’n Oscar vir hierdie film sou welverdiend wees.
Sterre: 5

