Draaiboek en regie: Noah Baumbach
Spelers: Ben Stiller, Naomi Watts, Amanda Seyfried, Adam Driver
Hierdie fliek se titel dui al op dubbelsinnigheid: we’re kan staan vir we were sowel as vir we are. Ons het hier te doen met die teenoor mekaar stel van generasies: die twintigplussers en die veertigplussers.
Josh (Ben Stiller) en Cornelia (Naomi Watts) is die veertigplussers met die middeljarekrisis, veral Josh. In sy twintigs was hy ’n belowende dokumentêre filmmaker; in sy veertigs sit hy in ’n diep groef. Hulle beste vriende is ’n dertigpluspaartjie, en die koms van Die Baba het hulle soos ’n geloofsbekering getref. Josh en Cornelia voel uit, om dit sagkens te stel.
Dan ontmoet hulle vir Jamie (Adam Driver) en Darby (Amanda Seyfried), en die jongelinge is net so ánders, so vry, so vol selfvertroue. Hulle weet presies wat hulle wil hê – en hulle weet ook presies hoe om dit te kry, kom jy later agter. Maar voor dan word Josh en Cornelia se lewe behoorlik omgekeer en uitgeskud.
Noah Baumbach bied ’n skerp blik op ouer neuroses en jonger toe-eiening. Hy ontleed en ontbloot al twee, en soms is dit vermaaklik en soms net ongemaklik. Vir my was die einde teleurstellend; ’n mens sou hoop dat die beswering van ’n middeljarekrisis meer op die innerlike as uiterlike vlak sou lê. Die fliek se oplossing is so ’n cliché – die oudste truuk in die boek, as’t ware.
Nietemin, dis ’n heel interessante fliek, met genoeg om jou te laat nadink, sodat jy darem nie voel jy het jou swaarverdiende bokke gemors nie.
Sterre: 3



Kommentaar
Dit het my baie laat dink aan "Broadcast News" van dertig jaar gelede.